69. En jy dink jou dag was erg

2

Gister was een van daardie dae. Daardie dae wat alles verkeerd loop. Daardie dae waar jy (voor kind) of ‘n bier moet drink of  terug in die bed moet klim. Maar nou (na kind) moet jy maar jou jammer-kry-gesiggie in jou oorgroot-nappy/handsak inpak en aangaan.

{NOTA: Lisa is gewoonlik baie oulik, maar soos elke mens het sy ook haar dae…hierdie was so een}

My man was gister diens so ek was alleen met Lisa. Sy raak 6:00 wakker en wil “Barney kyk, Mamma!” Terwyl ek vinnig deur die stort klim (want Barney hou haar gewoonlik vir so 5 minute stil) besluit sy dat Barney ewe skielik vervelig is. Sy voel dat dit veel lekkerder sal wees om met haar volle pakkie hasie pajamas en met Tony, die teddie en Apie saam met my in die stort te klim.

Na ons albei (en Apie en Tony) skoon gewas is, maak ek gou vir haar pap. Die soort wat mens actually moet maak. Soos in 5 minute langer as die kitspap wat sy gewoonlik kry (ja-ja, slegte ma…ek weet). Sy hang ongeduldig aan my broek en toe die pap uiteindelik reg is, gee sy dit een kyk en gooi die bakkie op die bank (leerbanke is ‘n MOET vir kinders) uit. 2 is ‘n lekker ouderdom 🙂

Gelukkig is daar ‘n mark in ons area en ek weet sy gaan daar lekker speel en besig gehou word, so ek trek haar gou aan en ons klim in die kar. Ek moet net eers gou winkel toe gaan om geld te trek. ‘Gou’ word toe effens stadiger omdat Lisa met haar hoë vlak van intelligensie haar ma se ongeduldigheid raaksien en ekstra stadig SELF wil stap. Sy groet elke oom en tannie in die winkel en sê “tata Mamma” as ek haar hand wil vat.

Geld getrek en ek dink miskien het ek net ‘n lekker koppie koffie nodig. Dit sal mos verseker alles beter maak. Ek staan in die ry by Woolies terwyl ek wag om te betaal en Lisa besig is om elke pakkie van die rak af te haal en dan met haar sjarmante cute-geid die mense te vermaak. Ewe skielik, sommer net uit die bloute, val die koppie koffie uit my hand uit. Die hele plek is vol koffie en almal staar na my. Ek probeer met wetwipes die vloer opvee (baie onsuksesvol, maar ek het te sleg gevoel om net te staan en wag vir die werker met die mop). Terselfdetyd sê Lisa vir elke bystaander (wat steeds staar) “Mamma Charmé mors koffie” en “Oepsedaisy, Mamma”.

In my haas, buk ek weer af en ek hoor net GIRTS! Sowaar, daar skeur my broek. Sommer lekker lank tussen my boude af. SERIOUSLY?!?! Die starende mense het steeds gestaar vir hierdie spektakel van ‘n ma, wat net-net dinge bymekaar hou. Ek het gewonder wat sal gebeur as ek net daar tussen die koffie op die grond gaan sit en huil, maar ek moes maar vir myself lag, my kop in skaamte laat sak, vir my koffie (wat nou oral op die grond lê) betaal en Mr Price toe gaan vir ‘n nuwe broek.

Terwyl ek uiteindelik mark toe ry dink ek aan my oggend en ek kry myself vreeslik jammer. En toe klim ek by die mark uit die kar en stap in ‘n vrou wat saam met haar vriendin sit, vas. Ek ken haar vriendin goed, maar het nog nooit die vrou ontmoet nie. Ek ken egter haar storie goed en ek dink vreeslik baie aan haar. Sy het haar babatjie wat ook op 28 weke gebore is na 2 maande in die hospitaal verloor. Sy moes in Mei huis toe kom sonder ‘n babatjie en hier staan sy voor my. Ek het soos ‘n hond gevoel omdat ek heeloggend moan oor my kind. My gesonde kind. My woelige kind. My lewendige kind. En hier staan sy nou, alleen.

Ek wens ek het woorde gehad om met haar te praat. En ek wens ek kon haar pyn deel. En ek wens sy het geweet dat ek haar hele storie ken sodat sy kan weet hoe my hart vir haar breek.. Maar sy doen nie…en ek het te sleg gevoel om iets te sê.

Ek het weggestap met perspektief. En toe Lisa later die middag deur ‘n by gesteek is en dit gewoonlik my rowwe dag sou kroon, het ek vrede in my hart en druk ek haar styf vas. Dank die Vader vir Lisa en vir die voorreg om ‘n ma te wees. Elke dag.

1

 

 

2 thoughts on “69. En jy dink jou dag was erg

  1. Charme, ek het nou so lekker gelag. Net wat ek nodig gehad het. Ek het gister so ‘n dag beleef en hierdie boodskap voel of dit vir my gegee is! PS. EK LOVE jou blog!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s