80. Liefde is…

images

Vandag is ek weer alleen vir Valentynsdag en ek dink terug aan die afgelope 10 jaar se Valentynsdae saam met Sweis. Vir ‘n hele paar was hy op see, maar ek sit en dink met ‘n glimlag aan al die kere wat hy wel hier was.

Ons eerste Valentynsdag was op Noordbaai se strand in Saldanha. Ek was op ‘n dieet en hy het gesê hy sal iets gesonds vir ons kry. Ons het piekniek gaan hou op ons gunsteling plek langs die weskus met die mooiste uitsig. Sy idee van “iets gesonds” was ‘n slaai, maar nie enige slaai nie; een van daardie Meat Salads wat mens oor die counter by spar koop. Die een met opgesnyde polonie en ham met baie mayo. En ‘n witrolletjie (bun) met saadjies op, want die saadjies is wat dit gesond maak.

Ons tweede Valentynsdag het hy my verras met SUSHI! Dit was net toe die hele sushi-craze begin het en ek het gewonder waar hy sushi gekry het in Vredenburg van alle plekke. Op daardie stadium het net Langebaan ‘n sushi plekkie gehad. Toe hy die “sushi” uit die sak haal, was dit al die tyd rolmops, daai opgerolde rou vis stukke (klink soos sushi, maar is SO nie sushi nie).

Ons derde Valentynsdag was in die Kaap. Hy het gevra dat ek mooi aantrek, want ons gaan na ‘n ‘nice’ plek toe in die stad. Ek het my mooiste rooi kort rokkie aangetrek en my hare geblaas en make up aangesit. Toe ons by die Waterfront stop, het ek steeds gedink ons gaan na een van die ‘nice’ restaurante daar. Nooit het ek gedink dat ek Valentynsdag in Mitchell’s pub saam met ou grillerige single ooms sal spandeer nie, maar dit was my man se idee van ‘n ‘nice’ restaurant. So het ons bier gedrink en  heelaand om gelag.

V-dag 4 & 5 was op hy op see.

Jaar 6 het hy saam met 2 pelle in ‘n huis gebly. Ons was op pad uit om te gaan eet by Francois’ (die ou Barracudas) in Vishoek. Ek het gedink dis oulik, want die restaurant het dieselfde naam as my man. Toe ons reg is om te ry, sien Sweis een van sy pelle (toe single) op die bank lê en vra wat hy vir Valentynsdag doen. Toe hy antwoord dat hy sommer maar ‘n broodjie gaan eet, nooi Sweis hom uit jammer-kry saam met ons. En daar gaan ons DRIE op ‘n romantiese ete. Al die kelnerinne het vlerkies aangehad vir Valentynsdag en ek moes heelaan derde wiel speel terwyl hulle twee simpel grappies soos “Did it hurt…When you fell out of heaven” maak.

Jaar 7 het hy gesê hy kook vir ons. Hy het met ‘n winkelsak vol goed by my woonstel aangekom. Toe hy begin uitpak, sien ek hy haal twee boksies lasagne sheets uit. En ‘n bottel wyn. En dis al. Toe ek vra waar die mince is, toe kyk hy my vreemd aan. Hy het gedink die lasagne sheets is klaargemaakte lasagne. Ek kon maar net lag terwyl ek bel vir ‘n pizza.

Jaar 8 & 9 was ook op see.

Verlede jaar het ons darem nadat hy teruggekom het, iets spesiaals gedoen. Die eerste jaar wat ons werklik iets romanties gedoen het (miskien omdat ek dit gereël het). Ons het Lisa by ‘n tannie gelos en lekker gaan uiteet en roomys op die strand gaan eet na die tyd. Ons was ernstig en het oor diep dinge gepraat en dit was lekker om net ‘ons’ te wees.

images-1

Valentynsdag en romanse is nou maar een maal nie my man se ‘ding’ nie. Maar weet jy wat, dis ook nie myne nie. Ek raak ongemaklik as iemand vir my rose bring en gedigte voordra. Ek was mal oor die feit dat hy my nie met ‘n groot hoe-ha gevra het om te trou nie, maar dat hy net een Sondagoggend op sy knieë gesak het terwyl ons met die honde op die strand stap. Ons maak baie grappies oor al die stories en ek spot baie met hom, maar eintlik is dit dié goed wat my liewer vir hom maak: sy kinderlike omgee hart en sy klein-dorpie denkwyse.

Liefde is baie dinge en dis verskillend vir elke mens. Vandag wanneer almal om jou soppy kaartjies en duur rose (wat in elk geval dood gaan) en tjoklits wat 3 keer duurder as gewoonlik is die week kry, dink bietjie aan wat Liefde regtig vir jou beteken.

Gelukkige Valentynsdag! Al is dit nie soos in ‘n fliek nie!

v1

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s