Tande kry is een van die goed (eintlik een van baie) wat ek nie heeltemal verstaan nie. Hoekom op dees aarde moet dit so vrek seer wees om tande kry? Watter les leer dit vir babatjies en hoekom kan dit nie sommer net makliker gebeur nie?
Tande kry kom met ‘n hele lys komplikasies…diaree, koors, pyn, snot-neusie en ‘drooling’ om net ‘n paar te noem. En elke baba is ook anders. Party huil histeries en is vir weke siek voor ‘n tand deurkom en ander makeer niks nie. Die ergste is ook dat nes jy dink jy is die gelukkige een wie se kind se tande sommer net oornag uitpop, kom jy agter dat elke tand met sy eie spesifieke komplikasies kom. Net omdat die eerste twee maklik gesny het, is glad nie ‘n direkte aanduiding van hoe die ander gaan kom nie.
Wel aangesien Lisa mos altyd anders wil wees en niks normaal doen nie, het sy selfs tande sny anders gedoen. Sy het na ‘n jaar eers haar eerste twee tande gesny. En al sê al die boeke dis ‘normaal’ om die onderste twee eerste te sny, het haar boonste twee uitgekom. Sy het soos ‘n regte konyntjie gelyk en was te oulik met haar twee tandjies. Toe na so twee maande kom die onderste twee uit en toe wag ons in spanning vir die res.
Dis vreemd. Elke moontlike simptoom word altyd eerste aan tande toegedien. As ‘n kind bietjie knieserig is, dan MOET dit mos tande wees. As jou kind bietjie hoes, dan MOET dit verseker tande wees. As sy skielik meer ‘drool’, MOET dit ook ‘n teken van tande wees. Lisa het al hierdie simptome vir 8 maande gehad…ja 8! En toe was die hoes, eintlik griep en die knieserigheid eintlik oorontsteking en al die tande simptome het toe nooit tot tande gelei nie.
En so op ‘n jaar en 8 maande, met net 4 tandjies in haar mond, het Lisa ordentlik begin tande kry. Sommer 8 binne 8 weke…elke week ‘n nuwe knop op ‘n nuwe plek. En soos met alles, was haar simptome ook vreemd. In plaas van diaree, was sy vreeslik hardlywig. Daar was nie ‘n teken van ‘drool’ nie en sy was net saans lekker moeilik en ‘moanerig’. Sy wou nie eet nie en het min geslaap. En toe…8 tande later, glimlag sy met ‘n mondjie wat darem al ietwat meer soos ‘n TV-glimlag lyk.
Terwyl ek nou die dag so vir haar ‘selfies’ lag, toe dink ek daaraan dat tande kry eintlik meer vir ouers moeilik is. Dat ons bitter min slaap en deur die gekarring en gekerm moet sterkstaan. Dat ons die mense is wat sukkel deur tande kry. En toe tref dit my…HOEKOM kan die tandemuis nie maar vir ons ook ‘n ou geldjie los nie?