124. Hoe ‘n prem baba my op Covid-19 voorberei het.

10428583_10154990117505179_4416678339036061921_n

Tydens hierdie inperkingstyd het ek baie gedink. As ek eerlik is, het ek heel moontlik veels te veel gedink. Maar hierdie naweek toe my klein 850g dogtertjie SES jaar oud word, het ek uiteindelik besluit om al dié gedinkery neer te pen.

Ek het nooit vir ‘n oomblik gedink dat ek die lesse wat ek tydens ons NICU en premtyd geleer het, ses jaar later weer gaan gebruik nie. Maar hier is ons weer. Niks met premature geboortes of babas te doen nie … maar hier is die lesse wat net weer vasgelê is tydens hierdie tyd:

  1. Handewas is belangrik. Ek onthou nog soos gister hoe my hande klein skeurtjies gekry het van al die handewas toe Lisa klein was. By die deur van die hospitaal, binne die NICU, by die kamer, by die broeikas, voor jy haar optel, en en en. Die reuk van die alkoholreiniger het my neus laat brand en ek het nooit ooit gedink ons gaan vandag, 6 jaar later weer dieselfde prosesse deurgaan nie. Voor die winkel, voor jy aan die trollie vat, in die kar, tussen klasse, by die huis. Elke keer bring die reuk van die alkohol soveel herinneringe terug.
  2. Immuunstelsels moet sterk wees. As jy 850g weeg het jy omtrent geen immuunstelsel nie. Dan kan alles waaraan jy blootgestel word, lewensgevaarlik wees. Ons moes ons babatjie in “watte” toedraai om te verseker dat sy eers sterk genoeg is voordat ons haar aan die buitelewe blootstel. Vandag is ons opnuut bewus van ons immuunstelsels. Is ek sterk genoeg om dit te oorleef as ek siek word? Is my familie sterk genoeg? Is geloof genoeg? En dan net vir ingeval, pop ons maar ‘n ekstra gummyvit of ‘n ekstra bruistablet om net bietjie te boost.
  3. Soms werk jou planne nie uit nie. Terwyl ek na mammas kyk wat treur oor hulle ‘n driveby babyshower moes hê of wat huil oor hulle nie maternity foto’s kon laat neem nie, het ek soveel meer meegevoel. Ek verstaan. Ek weet hoe dit voel. Ek was ook daar. Dit SUCK om nie jou baba met jou vriende en familie te kan deel nie. Dit SUCK om na ander mense se mooi foto’s te kyk en jy sit net met ‘n paar selfies. Dit SUCK dat jy nie ook ‘n mooi oggendtee vol liefde kon hê nie. Dit SUCK! En jy mag kwaad wees. Al sê almal “jy kan bly wees jy het ‘n baba” of “Ten minste het jy…”, mag jy hartseer wees. Ja, jy kan ook perspektief gebruik om jou beter te voel, maar laat jouself toe om te VOEL wat jy moet voel. Anders verander dit in bitter en dit proe bitterlank bittersleg.
  4. Mense is net mense. Ons sit baie keer ons vertroue in mense. En dan voel ons teleurgesteld wanneer mense net mense is. Almal se lewens is besig en almal ervaar verskillende vlakke van trauma. Soms wil ons hê mense moet daar wees vir ons en dan is hulle nie. Soms soek ons ‘n spesifieke respons op ‘n vraag en dan kry ons dit nie. Soms sê mense goed wat seermaak alhoewel hulle dit glad nie bedoel het nie. Soms is mense net mense en ons self is ook net mens. Soms moet ons net weer ons eie menslikheid in ag neem voordat ons mense kruisig oor hul eie menslikheid.
  5. Hospitale is vreesaanjaende geboue. Ek was nooit voor Lisa bang vir die hospitaal nie. Ek het geweet dis ‘n plek wat gesond maak en ‘n plek waar superhelde werk. Maar nadat Lisa vir die eerste keer ontslaan was, was ek so bang dat sy siek raak. Ek het geweet dat hospitalisering sou beteken dat sy weer vir haar lewe sal moet baklei. En ek het hospitale soos ‘n pes vermy. Nou, 6 jaar later, is ek so bang ons raak siek (nie Corona siek nie, net gewoon siek) of iemand breek ‘n been of iets. Ek is weer bang vir die hospitaal en ek bid en vertrou weer dat ons nie binnekort ‘n hospitaalbesoek gaan benodig nie.
  6. Dis ok om nie ok te wees nie. As jy enigsins soos ek is, moet ek hierdie sin gereeld vir myself sê. Ek haat dit om nie ok te voel nie. Ek haat dit om emosioneel en “vulnerable” te voel. Ek het tydens Lisa se reis baie so gevoel. Soms net heeldag gesit en huil. Nou vir die eerste keer na 6 jaar het ek weer sulke dae. Dae waar woorde nie kan verduidelik wat in jou hart aangaan nie. Waar onsekerheid jou hele lewe oorneem en jou glimlag kom steel. En keer op keer moet ek vir myself sê dat dit ok is om nie ok te wees nie. Jip, en herhaal.
  7. Gebed is magtig. Nooit het ek God se hand letterlik so beleef soos in ons 2 maande in die hospitaal nie. Tot nou. Al glo mense wat, sien ek vandag weer hoe baie krag daar in gebed is. Ek hoor van vriende wat wonderwerke in hulle besighede beleef. Ek sien God se hand van seën in my twee kinders. Ek ervaar die vrede van sy beloftes terwyl ek weer vir ander bid. Bemoedigende boodskappies tussen vriende (en selfs tussen vreemdelinge) bring weer hoop en lig in donkerte. Bid. Bid vir jou familie. Bid vir jou vriende. Bid vir jou omstandighede. Bid vir genade. Bid vir siekes. Bid vir armes. Bid net.
  8. Soms gebeur slegte goed vir ‘n goeie rede. Nooit ooit sou ek kon dink dat daar uit die trauma van Lisa se geboorte soveel goeie goed sou vloei nie. Ek kon net die sleg sien, maar nadat die stof gaan lê het, kon ek terugdink en besef hoe ongelooflik dit eintlik was. Tydens die inperking, het ons weer opnuut begin leef. Ons het saam gespeel. Saam geleer. Saam gebid. Saam gesels. Saam gebak. Saam gekook. Saam gelag. Saam gehuil. Die kleinste goedjies het ons genot gebring. Ons het nuwe waardering vir goed wat ons as vanselfsprekend ervaar het. Ons moes dinge nuut doen en aanpas en nuwe maniere vind om allerdaagse take te voltooi. Ons is in ‘n mate weergebore. En ons het weer ‘n kans om oor te begin. As dit nie ‘n goed genoeg rede is vir hierdie virus nie, dan weet ek nie.
  9. God is in beheer. Soveel keer probeer ons dinge self doen. Ons probeer sterk wees. Ons probeer ons lewens, ons werk, ons familie en ons gesondheid beheer en skielik moet ons dit laat gaan. Ek moes heeltemal laat gaan die middag toe my plasenta geskeur het en daar net bloed om my was. Covid 19 het die wêreld waarin ons so gemaklik klaarkom se plasenta geskeur en ons moet almal nou vir suurstof baklei. Ons kan dit nie alleen doen nie. En vandag leer ek weer volkome dat GOD in beheer is. Heeltemal.

Hierdie virus gaan maak dat sommige van ons nes prem babas op ventilators moet gaan. Van ons gaan ook suurstof nodig hê. Party van ons gaan lank in die hospitaal wees en van ons gaan harder moet baklei om ons longe te voel beweeg. Maar ek weet ook dat ons weer sal asem haal. Vars asem. Sonder maskers. Maar vir nou, moet ons eers wag, eers gehoorsaam wees en eers sterk staan.

images

4 thoughts on “124. Hoe ‘n prem baba my op Covid-19 voorberei het.

Lewer kommentaar