71.”Stop & smell the roses”

smell-the-roses-1

Vir die afgelope drie dae is my neus toe. Nie daai bietjie toe wat met ‘n sinutab tabletjie reggemaak kan word nie…nee…toe-toe. Ek kan soos in niks ruik nie en ek haat dit. As ek  praat, voel ek sommer dommer en my arme man bly dink ek is kwaad vir hom omdat my stem heeltyd diep en kwaai klink. Al sê ek iets in ‘n opgebeurde manier klink dit asof ek brom.

‘n Toe neus het verseker darem ook positiewe gevolge. Ek ruik byvoorbeeld glad nie as daar ‘n klankie van Lisa se kant af kom nie. Ek ruil doeke sonder om my asem op te hou. Ek het ook al 2 kilos verloor omdat ek nie kos kan ruik nie (ek eet mos soos ‘n hond…eers met my neus en dan met my mond). Nog ‘n positiewe is dat almal heeltyd dink ek is vreeslik siek en ek is nie…my neus is net TOE.

Vanoggend toe ek werk toe ry en in druk verkeer sit en luister ek na die radio. Ek spring van een radiostasie na die volgende een, want al wat ek wil hê, is ‘n bietjie musiek. Maar nee, ek het eers ‘n uitgebreide bespreking gehoor van gister se parlementsirkus. Toe op die volgende stasie gehoor hoe die verkeer op die N1 lyk en dat daar voetgangers van die treine af spring en oor die pad hardloop. Toe ek aanskuif hoor ek van ons damme en hoe leeg hulle is en dat ons regtig moet dink voordat ons water sommer net gebruik. By die volgende stasie hoor ek van ons arme minister van finansies en die fees must fall protesoptog vandag. Ek sit toe maar met ‘n sug die radio af en loer rondom my na die mense wat werk toe stap.

Een man vang my oog. Hy is duidelik nie baie ryk nie. Hy loop met ‘n groot swaar rugsak en hy het ‘n verwersoorpak aan. Sy skoene is stukkend en sy hemp vuil. Maar dis nie sy klere wat my aandag trek nie, want elke mens wat verby my stap lyk omtrent soos hy. Wat wel my aandag trek, is wat hy doen!

Soos hy verby ‘n huis  met blomme in die tuin stap, stop hy.  Hy vat met sagte hande aan die blom asof hy dit liefkoos. Dan bring hy sy neus tot omtrent by die blom en haal diep asem en ruik. Sy gesig helder op en hy glimlag breed. Dan gee hy weer twee treë verder en doen  dieselfde met die volgende blom. Sy oog vang myne en ons glimlag vir mekaar. En toe stap hy verder.

stop-and-smell-3

Vir ‘n oomblik wens ek, ek kan hom persoonlik ken en met hom gesels, maar die karre beweeg en ek moet aanry. Ek gaan hom dalk nooit weer sien nie en ek ken nie eers sy naam nie, maar sy boodskap sal vir ewig by my bly.

Hierdie man met veel minder as ek. Hierdie man wat elke dag werk toe moet stap (en dit dalk na ‘n lang treinrit). Hierdie man wie se klere vuil en oud is. Hierdie man wat dalk net genoeg geld verdien om vir sy honger kinder kos te gee. Hierdie man met ‘n hart van goud. Iemand wat elke dag die mooi om hom raaksien. Iemand wat met ‘n lied in sy hart werk toe stap. ‘n Lied wat die radio hom nie gegee het nie, maar ‘n lied wat hy self sing.

Vandag is ek dankbaar vir hierdie man. Jy is ‘n inspirasie. Dankie.

smell-the-roses-2

 

Lewer kommentaar