111. Wanneer die bad guys nie net die wolwe in storieboeke is nie.

wolwe.jpg

Ons woon in Suid-Afrika. Die land met ‘n skrikwekkende misdaadsyfer. Waar plaasmoorde ‘n realiteit is, verkragting ‘n allerdaagse vrees is; waar bendegeweld seevier  en waar elke liewe mens wat ek ken al direk deur misdaad geraak is.

Ek is so ongelooflik lief vir ons land en het ‘n onblusbare brand in my hart vir die land se mense. Ek loop met sakke vol hoop vir ons toekoms en raak kinderlik opgewonde wanneer ek sien wat die jeug alles in ons land bereik. Ons land het baie wilde diere, maar wolwe nogal nie. Dit beteken egter nie dat die bad guys nie hier is nie.

Nou die dag was ons gou vinnig winkel toe om vir my man draftekkies te gaan koop. Toe ons 20 minute voor die deure oopmaak daar opdaag, stap ons rustig met albei kinders  Mc Donalds toe. Dit is net oor die pad van die skoenwinkel en by die ingang van ‘n groot inkopiesentrum. Ons is rustig, die son skyn, die kinders is gelukkig en ons voel ontspanne.

Nes ons voor die toonbank by Mc Donalds intree, hol ‘n sekuriteitswag gespanne met sy radio by ons verby. Die volgende oomblik begin hy in een van ons vele kleurvolle tale oor die radio skree en Pa-Pa-Pa hoor ons die geweerskote, letterlik meters van ons weg. Dadelik moet jy iets doen. Jy het twee kinders by jou en jou instink skop in. Jy moet  iets tussen jou en die skote te kry, want jy wil nie ‘n wegholkoël in een van jou kinders hê nie.

Nes ons teen die muur staan, hol ‘n klomp gillende mense by die trappe voor ons op direk in ons rigting by die hoofdeur uit. Ons druk albei ons kinders stywer teen ons vas en my man trek ons by die naaste winkel in (Queenspark nogal) en ons soek skuiling totdat dinge bedaar het. Om ons maak die winkels almal hulle deure toe en ‘n paar nuuskieriges loer uit om te sien wat aangaan. Lisa sê sy’s honger en vra of sy nou nie meer ‘n sappie gaan kry nie. Ek sien tussendeur alles ‘n mooi baadjie en na ‘n paar minute sê iemand die iStore is beroof. Niemand is beseer nie en almal gaan weer soos gewoonlik aan.

Lisa vra wat aangaan en ons verduidelik vir haar dat daar bad guys is wat iets kom steel het. Ek is nie seker of sy lekker verstaan nie, maar toe ons uiteindelik by die skoenwinkel instap,  leopardcrawl sy die hele winkel deur, want sy kruip vir die bad guys weg . Ons lag vir haar en alhoewel die adrenalien nog bietjie vloei koop ons skoene en gaan aan met ons dag. Ons praat weer in die kar oor die bad guys, want Lisa is erg op die Hoekom-fase en sy het baie vrae. Later praat ek en my man weer deur die situasie en dink aan wat ons anders sou doen en al die wat as-se.

Ons is nie beseer nie en niemand is vermoor nie. Maar ons kon wees. ‘n Onskuldige kind word so gereeld doodgeskiet. ‘n Bystaander word gewond. Iemand word so gereeld net deel van ‘n statistiek in ons land. Ek het heeldag geGoogle wanneer die artikel van ‘n gewapende roof op die internet gaan verskyn, maar vandag, 2 weke later, wag ek steeds. Want hierdie goed in ons land maak nie hoofnuus nie. Dit haal nie eers die plaaslike koerantjie nie. Nie eers ‘n vinnige artikel op die net nie. Niks. Dis amper asof dit net nie gebeur het nie.

Die gevoel van onveiligheid is daagliks om ons, maar ons beweeg gewoonlik in sirkels waar ons veilig voel. Wanneer daardie sirkels skielik onveilig word, is daar onmiddellik onsekerheid en vrae. Ek is dankbaar dat ons net so ‘n klein deeltjie ervaar het en nog nie die volle hartseer van misdaad in SA beleef het nie. Ek voel onrustig dat daar soveel mense se seer is wat nie die nuus haal nie. Mense wat geliefdes verloor en erge trauma ervaar. Ek is kwaad vir Eva wat die appel by die simpel slang moes vat en ek is hartseer dat ek my kinders moet grootmaak in ‘n wêreld waar die bad guys nie net in storieboeke en flieks is nie.

Nee, ons gaan nie ons tassies pak en na groener weivelde soek nie. Ek glo dat elke mens met ‘n doel geplaas is waar hulle is. Dat ons ‘n rol het om te speel. Ek glo ook dat elke mens ‘n keuse het en dié wat gaan, maak net ‘n ander keuse as ons en ek neem niemand daarvoor kwalik nie.

Ek, aan die ander kant,  wil nog hier wees. Ek wil nog bou aan Suid-Afrika. Ek het nog hoop vir ons land. Ek sien nog meer goed as sleg. Ek het nog iets om hier te doen. Ek kan wel nie soos ‘n ninja voor ‘n geweer inspring nie, maar ek KAN my kinders leer van reg en verkeerd. Ek KAN my kinders grootmaak deur daagliks te baklei teen die verlede se foute en hulle bewus maak van ons ongelooflike voorregte en die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Ek KAN my gesin so veel moontlik beskerm. Ek KAN my kinders leer van die honderde good guys daar buite, want in elke storie wat ek vir hulle lees, wen die wolwe nie.

1 thoughts on “111. Wanneer die bad guys nie net die wolwe in storieboeke is nie.

Lewer kommentaar