86. Is jy reg vir weer probeer?

traumaMin mense verstaan werklik hoe trauma werk. Sommige beleef trauma slegs deur meegevoel wanneer hulle byvoorbeeld ‘n rowwe video kyk. En party kan moordtonele skoonmaak sonder om die trauma daarvan te voel.

Met Lisa wat 3 maande vroeg gebore is, het ek soveel trauma ervaar. En baie mense het vir my gesê dat dit nie traumaties is nie, want sy lewe en sy is ok. Ook dat dit nie traumaties is nie, want sy het geen operasies gehad of geen ernstige probleme nie. Ander het weer gevoel dat dit die ergste ding ooit was, en gevoel dat hulle nie so iets sal kan hanteer nie.

Een ding is seker…dit was anders as om iemand aan die dood af te staan. Ek moes elke dag vir 2 maande voorbereid wees vir ‘n piepklein babatjie wat dalk kan doodgaan. Ek moes besluit of ek met haar wil “bond” of nie. Raak ek lief vir haar, is dit erger wanneer sy dit nie maak nie. Hou ek terug, is ek nie ‘n regte ma vir haar nie. Ek moes elke dag by die hospitaal instap en my hart voorberei vir die ergste. Ek moes elke dag weer uitstap en bid vir die beste. Ek moes elke keer my asem ophou wanneer sy ophou asem haal. Ek moes luister hoe alarms en masjiene heelnag piep en skree en kyk hoe my klein babatjie veg vir haar lewe.  Alhoewel ek baie voorgegee het dat ek ok is, was dit vir my erg traumaties.

Ek het vir 2 jaar en 10 maande nog trauma ervaar elke keer as ek ‘n ooievaarstee moes bywoon. Ek het my “ek-het-alles-onder-beheer-gesiggie” aangehad, maar in my kop was ek afgunstig en negatief oor alles. Ek wou die opgewonde mamma aan haar arms ruk en goed sê wat al die negatiewe realiteite van wat verkeerd kan gaan tydens die res van haar swangerskap vir haar uitspel. Ek wou skree elke keer as iemand praat van hoeveel weke sy nog oor het en ek wou uithol as almal praat oor die babatjie wat op die beplande datum sal kom. Ek het geglimlag en mooi goed gesê en na al 8 babyshowers het ek dit net-net tot by die kar gemaak. Daar het ek in trane uitgebars en weer gehuil soos die eerste dag in die hospitaal.

Baby-Shower

Dit was snaaks dat babyshowers my laat knak het. Vandag praat ek met ‘n vriendin wie se man 6 jaar terug oorlede is. Hulle was maar kort getroud en dit het vinnig gebeur. Toe sy my sê dat sy sukkel om by troues gelukkig te wees vir die paartjie, het ek haar pyn verstaan. Maar net soos alles in die lewe kan trauma nie vir altyd jou lewe oorheers nie en moet mens weer mens word…al vat dit hoe lank.

Na 2 jaar en 10 maande het ek verlede maand ‘n babyshower bygewoon van ‘n vriendin wat ‘n tweeling verwag. En vir die eerste keer, was ek werklik vir haar opgewonde en werklik gelukkig. Ek het nie een lelike of negatiewe ding gedink nie en toe ek haar gelukwens was dit opreg en uit die hart uit.

In die kar het ek nie gehuil nie, maar met ‘n glimlag besef dat ek weer reg is. Reg is vir weer probeer. Reg is vir die moontlikheid van nog meer trauma. Reg is vir lewe…vir lewe leef en vir lewe gee.

 

5 thoughts on “86. Is jy reg vir weer probeer?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s