47. Playdates met groter, tog jonger maatjies

Dit is heerlik om saam met vriende swanger te wees. Dit is lekker om saam te kan gesels oor ons probleme en om te lag oor al die stories. Nog lekkerder is die idee om saam kinders te hê. Kinders wat maatjies sal wees omdat hulle mammas maats is. Terwyl ek met Lisa swanger was, was daar baie van my vriendinne swanger. Ongelukkig was dit al my ver-bly vriendinne en ons kon nie so gereeld as wat ons wou saam kuier nie, maar dit was regtig spesiaal om die swangerskapreis met hulle te kon deel.

Toe my swangerskap so bietjie vroeër eindig, het hulle my ongelooflik ondersteun…engelmense. Ek het daagliks op watsapp met hulle gepraat en hulle was so bemoedigend en ondersteunend. Nadat alles bedaar het en almal se kinders gebore is, kon ons nie wag om mekaar se babatjies te ontmoet nie en die “playdates”-stadium het sommer gou begin. Die playdates is mos maar meer vir die mammas, maar in elk geval. 10615974_10152652413136815_2248963542294178448_n

Playdate nommer een was in September saam met my universiteits-troufotograaf-hartsvriendin en haar pragtige klein dogtertjie. Sy was so ‘n maand na Lisa gebore. Ek het vreeslik uitgesien om te sien hoe sy lyk, want op Facebook was sy opvreetbaar oulik. Snaaks hoe baie ek gedink het aan hoe groot sy gaan wees. Ek het nie veel ander babas (van Lisa se ouderdom) gehad om haar mee te vergelyk nie, en wou vreeslik graag sien hoeveel kleiner of groter sy gaan wees.

Dit was heerlik om bietjie uit te kom en ons het in Mugg n Bean ontmoet. Haar dogtertjie het rustig geslaap terwyl Lisa (soos altyd)  met groot wakker ogies na almal gestaar het. Ek kon eers ordentlik sien hoe groot haar (heeltemal normale grootte) dogtertjie was, toe sy wakker word. Lisa het soos ‘n sieklike kind teenoor haar gelyk. Dit het gelyk asof Lisa veel jonger as sy is en asof sy ernstig ondervoed word. 10614280_10152652413336815_4068905343329022577_n

Skielik was ek, vir die heel eerste keer, ietwat skaam. Skaam vir wat mense van my dink. Dink hulle ek gee haar nie genoeg melk nie? Skaam vir my kind wat lyk asof sy siek is. Skaam omdat my baba nie normaal lyk nie. Skaam om vir mense te sê hoe oud sy is. Ek kon dit nie heeltemal verstaan nie, want ek was so trots op haar. Maar dit was asof ek skielik die oë van die buite wêreld op my voel brand het. Asof ek nou…omdat daar iemand was om haar mee te vergelyk…skaam gevoel het. Ek wou vir almal verduidelik dat sy vroeg gebore is en dat ek haar genoeg voer en dat sy heeltemal gesond is. Ek het gevoel asof ek ‘n groot bordjie aan haar pram wil hang wat net verduidelik dat sy erg prem was. En die gevoelens was vir my vreemd, want ek het glad nie verwag ek gaan so voel nie.

Tog was dit so lekker om uit te gaan saam met iemand wat ook borsvoed en wat verstaan hoeveel moeite dit is om daai bottel vol kosbare melkies te pomp. Dit het so normaal gevoel om te eet…elkeen met ‘n kind op die arm en om direk na ete vining te betaal, want ons het ‘n skedule om by te hou. Ons was nie een 100% gewoond aan ons babas se roetine nie en was versigtig vir wanneer hulle gaan huil, of wil slaap, of poef…ens.

10378946_10204686803872000_5183625848616548558_n

Lisa se tweede playdate was saam met ‘n kollega se babatjie. Haar babatjie is ook so 4 weke vroeg gebore in September, maar het gelukkig geen komplikasies gehad nie en was nie te klein nie. Ons het haar in Oktober…toe sy omtrent ‘n maand oud was, gaan ontmoet. Ek het gehoop dat Lisa die keer groter gaan wees as haar veel jonger maatjie…3 maande om presies te wees. Maar weereens was Lisa veel kleiner. Maar waar die babatjie die heeltyd net geslaap het, was Lisa aktief en woelig en het heerlik met haar slapende maaitjie gesels. En ek was OK daarmee dat sy klein was, want sy was so besig en oulik.

10801692_10154983312635179_6815647373875513338_n

Ons derde playdate was vir my baie spesiaal. My beste vriendin bly ver en ek sien haar veels te min. Maar sy is regtig ‘n ongelooflike mens en ek wou so graag haar babatjie ontmoet. Haar dogtertjie is net ‘n week na Lisa gebore, maar ons kon mekaar die eerste keer  in November gesien het. Dit was wonderlik om te sien hoe oulik en rustig sy met haar dogtertjie was. Sy het net haar eie kop gevolg en waar ek oor alles opgelees en geworry het, was sy net ‘n ma. En ‘n baie goeie ma daarby. Sy het my inspireer om net te doen wat ek goed dink. As ek vir Lisa pap wil gee…gee vir haar pap. As ek haar nie wil sleep-train nie…moenie. Dit was heerlik om op te vang, maar ek wens ons kon elke week koffie drink. En ek verstaan nie hoekom niemand nog ‘n teleport masjien kon uitdink nie…waar is die Ingenieurs en Wetenskaplikes?!

Na elke playdate het ek myself uitgevang waar ek besig was om Lisa met haar maatjies te vergelyk. Ek kon myself nie help nie en het gewonder of ek ooit gaan ophou om te worry oor haar gewig of oor die mylpale wat sy veronderstel is om te haal. Ek was soms hartseer oor hoe klein en broos sy gelyk het teen haar veel vetter, ronde maatjies. Maar meestal was ek trots dat sy, alhoewel sy kleiner is, kan doen wat hulle doen. Dat sy ‘n tawwe koekie is wat vir niemand terug staan nie.

Ek sien nou vreeslik uit na elke playdate. Want deesdae pla die gewig my nie meer nie. Nou moet ek rondstaan en keer en optel en sê NEE, want nou SPEEL hulle actually tydens hulle playdates.

1 thoughts on “47. Playdates met groter, tog jonger maatjies

Lewer kommentaar