102. “Mammas verjaar nie”

 

images

Daar is baie goed waarop ek voorbereid was toe ek ‘n ma geword het. Ek het geweet ek gaan 100 000 nappies moet omruil. Ek het geweet ek gaan nie sommer weer ‘n aand deurslaap nie. Ek het geweet ek en my man gaan nie meer net “ons” wees nie en ek het geweet ons gaan baie aanpassings moet maak. Maar daar is ‘n paar goed wat niemand my gesê het nie.

  1. Mammas mag nie siek word nie. Want wanneer jy siek voel, is daar altyd iemand anders in die huis (gewoonlik ‘n kind, maar soms ook jou man) wat “sieker” as jy is. Dus is daar nie ruskans vir jou nie, want die siek kind wil gewoonlik net by mamma wees. So as jy moontlik siek raak, moet jy maar net aangaan en jou pos as supervrou inneem. Ook het niemand my voorberei op die feit die borsvoedende mammas omtrent net panados en saline neussproei mag gebruik, waar die “sieker” pappa natuurlik kan voortgaan met med-lemon, corenza, sinutab ens.
  2. Mammas gaan nooit alleen winkel toe nie. Die oudergewoonte “vinnige” stop by die winkel op pad huis toe, raak nou ‘n “kom ons haal die karstoeltjie uit en sit dit in die pram wat vol nappies, kos en speelgoed moet wees en ons baklei met ‘n hardkoppige 4 jarige omdat sy nie jou hand wil vashou in die besige parkeerarea nie” stop. Pappas kan maklik na werk gou by die kafee inhardloop, maar nee…mammas nie. 🙂 Want wanneer jy sonder jou kinders by die winkel inhol voordat jy hulle na werk gaan optel, loop jy in elke liewe mens raak en almal vra met verwyte in hulle oë waar jou kinders is. Dan voel jy soos die slegste ma op aarde wat durf om nog eers winkel toe ook te gaan na werk terwyl jy jou kinders vir daai ekstra halfuur by die skool los.
  3. Mammas verjaar nie. Vrydag vra Lisa my wat ons die naweek doen. Toe ek antwoord dat ek Saterdag verjaar toe sê sy doodernstig: “Mammas verjaar nie. Net dogtertjies en seuntjies verjaar.” En dit is so waar. Wanneer dit enige iemand anders in die huis se verjaarsdag is, word die koek en partytjie weke voor die tyd uitgesorteer, maar mamma verjaar mos nie. Ons raak net ouer en kry meer plooie en gryser hare. Ons lyk net moeër en raak voor 20h00 aan die slaap. En alhoewel manlief probeer om te help en jou dag spesiaal te maak, moet mamma steeds mamma wees en seker maak die huis val nie om nie.

Daar is nog ‘n hele paar goedjies waaraan ek kan dink, maar aangesien ek nou siek is en die naweek verjaar het en gister moes winkel toe gaan, is hierdie 3’tjies wat ek vandag met julle wil deel. Maar bly hoop: Want daar is ‘n silwer randjie om elke donker wolk. Eendag (nie ver van nou af nie) is almal weer gesond. En is die kinders al weer uit die huis is. En hou ons weer groot partytjies op verjaarsdae.

Maar vir nou…vir vandag… is die wolk ‘n bietjie donker. En dis ok. Want vir vandag is ek steeds ‘n mamma…iets wat baie mense wens om te wees.

One thought on “102. “Mammas verjaar nie”

  1. So mooi geskryf, en baie waar. Maar hou moed … voor jy jou oë uitvee, is jou kinders groot, jou nes leeg, en jou hart seer van verlang na jou babas wat nou grootmense is. Dan maak hulle ‘n groot “fuss” van ma se verjaarsdag, en jy kan heeldag in die winkels dwaal as jy wil. Vasbyt … ek wou sê geniet dit, maar ek weet …

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s