Dis nog nie tyd nie

Dis nog nie tyd nie.

Ons Macy-woef raak elke dag ouer. Sy is nou 11 jaar en bietjie oor ‘n maand oud. Boetie Mac (dieselfde familielyn) moes ons presies ‘n maand na sy 11de verjaarsdag groet. Ek het altyd gevoel ek sal weet wanneer dit tyd is om veerarts toe te gaan, maar met Mac het ons te lank gewag. Sy heengaan was ‘n traumatiese gedoente waar ons ‘n 50kg hond op ‘n handdoek deur die huis moes sleep en onwaardig in die kar tel om weer uit te laai en te skarrel tot by die veearts. Ek onthou die geskokte gesiggie van die seuntjie met die nuwe puppie in die wagkamer toe ons met ons amper dood hond by die dokter inskuif. Die dokter het nie eers die hele dosis van die “groen mamba” toegedien nie en ons geliefde Mac was weg.

Net daar het ek besluit dat ek dit nooit aan Macy sal doen nie. Ek het haar belowe dat sy nog met waardigheid self aan ‘n leiband in sal stap en dat sy rustig en sonder paniek haar oorgang sal maak. Oor die afgelope maand raak sy swakker. Sy staan swaar op, stap ‘n paar tree en gaan lê kort-kort om te rus. Sy raak maerder en eet minder. Verlede week het sy heeltemal ophou eet en dit is toe wat ons besef, dis nou maar so.

Met ‘n groot tranedal neem ons gister afskeid van Macy-muis. Ek kanselleer al ons verpligtinge vir die middag en die kinders se emosies wissel van dik uitspoegtrane tot ‘n kalm verstaan van wat aan die gebeur is. Ons borsel haar vir oulaas. Voer vir oulaas lekkergoed. Sê vir oulaas hoe ‘n wonderlike hond sy is en vryf vir oulaas oor haar kop. Ons help haar vir oulaas in die kar en vir oulaas sit ek die leiband om haar nek. In die wagkamer is ‘n tannie wat vra waarvoor ons daar is en ek bars uit in trane, want dis nie maklik om vir oulaas enige iets te doen nie.

By die veearts in, vertel hy my dat sy eintlik net 8 – 10 jaar oud moet word en dat sy eintlik in baie goeie kondisie is. Ek wag vir hom om die finale roep te maak, maar toe hoor ons dat Macy eintlik ‘n Woolworths hond is. Haar ‘best before date’ is dalk 8 – 10 jaar, maar sy is nog heeltemal reg vir nog ‘n tydjie saam met ons. Met ‘n hand vol pille is ons daar uit met ‘n heeltemal kan-nie-meer spring-nie, maar lewendige hond. Dis net nog nie tyd nie.

Vir die afgelope week draai soveel van my gesprekke met vriende oor God se tyd. En ons het soveel vra oor tyd en “hoe lank nog” en “wanneer tog” en “ek kan nie meer wag nie, Here” dat God se tyd moeilik is om te verstaan. Gister het my net weer laat besef dat goed op die regte tyd sal gebeur. Al dink ons ons weet beter en al is ons hoe reg. En dalk moet jy vandag by God hoor dat dit ook nog nie tyd is vir watookal jy by God wag nie. Macy moet oor 6 maande teruggaan om te herevalueer waar ons met haar staan. En tot dan, gaan ons ‘n lewendige hond hê wat ons net gaan liefhê. Wie weet, dalk is dit oor 6 maande tyd. Dalk nog ‘n jaar. Maar God se tyd is altyd die regte tyd. Tot dan, wag ons in vreugde.

May be an image of 2 people and dog

Lewer kommentaar