Ek bevind myself tans in my WILDE jare. Nie wild soos “kuier tot 4:00 in die oggend”-wild nie; dit was so 20 jaar terug. Ook nie wild soos “toer deur Afrika met klein vlegseltjies in die hare”-wild nie; dit was so 15 jaar terug. Definitief ook nie wild soos “kry ‘n onverwagse prembaba en veg vir jou lewe”-wild nie; dit was 10 jaar terug. Hierdie wild is ook nie die “kry tattoes en knip jou hare kort”-wild nie; dit was so 5 jaar terug. As dit nie wild is nie, hoe wild kan dit dan tans wees?
WILD beteken volgens die Wiktionary woordeboek:
- Ongetem. Iets wat nie deur mense mak gemaak kan word nie.
- Iets woes, nie kalm nie
- Iets met ‘n skerp geur
As kind (eintlik tot op 17) was my droom om ‘n dieretemmer te word. Ek wou vir diere toertjies leer en sou wat gee om wilde diere in die sirkus te kon tem. Vandag wil ek die wildheid van die diere aanskou. Ek wil hulle toelaat om net hulle self te wees. Wild en volmaak. Ek sien nou ‘n leeu en ek dink net WOW! Hoe cool en kreatief God moes wees om hierdie unieke dier te vorm met maanhare wat woes regop staan en met ‘n skurwe tong om die vel van sy prooi te kan afskeur. Niks in my wil hom meer op die kop vryf en hom vra om op ‘n stoeltjie te sit nie.
Ons het hierdie week ‘n nuwe bobbejaanbabatjie in ons area se trop. Om hom af te neem was ‘n fees. Perfek gevorm, perfekte handjies en hare waar hulle moet wees. ‘n Lelike-mooi skepseltjie wat veronderstel is om wild te wees. Een wat gebore is op die perfekte tyd en een wat nooit moet mak word nie.
Vir jare lank probeer ek al my eie wildheid tem. Ek skaaf en verander en probeer om my unieke Godgevormde menswees in iemand ander se mensgemaakte boksie te laat pas. Ek worry oor hoe ek lyk en wat ek aantrek. Ek worry oor wat ander mense van my gaan dink en sê.
Hierdie week is ek herinner daaraan dat God ons wild geskape het. Ongetem vir die wêreld en net mak by Hom. Ons is nie veronderstel om mak te wees en toe te laat dat die wêreld ons met ‘n stukkie vleis lok nie. Hy het ons gemaak om wild en ongetem te bly. ‘n Wilde geur af te gee wat anders en uniek is. Iets wat waardeer word en nie iets wat presies soos iemand anders is nie.
Wanneer ek aan wild dink, dink ek ook aan die wilde veldblomme van die Namakwaland wat elke jaar net op die regte tyd begin blom. Elke jaar lyk anders en die unieke kleure lok duisende mense na ‘n dorre rooisand wêreld. In Matt 6:28 leer ons dat God die wilde blomme perfek geskape het en dat Hy vir hulle sorg. Soveel meer sorg Hy vir ons. Ons mag wild wees. Ons mag uniek wees. Ons mag anders as die wêreld wees, want dieselfde God wat vir die wilde blomme sorg, is ook die God wat jou liefhet.
Vandag daag ek weer myself uit om wild te wees. Wees jouself. Embrace jou geite en maak jouself weer mak by die een wat jou geskape het. Luister na Sy stem en lê by Sy voete. Los maar die wêreld se treats en wees weer WILD!



