Word lekker grys!
Die samelewing is lief daarvoor om vir ons die norm voor te skryf wanneer dit by ouderdom kom. En hoe ouer ek raak, hoe snaakser voel dit vir my dat ons hierdie simpel idees oor ouderdom het. Dit voel ook effens belaglik dat ons hierdie voorskrifte iewers deur die stelsel erf alhoewel ons dit nooit formeel geleer word nie.
Op 12 (volgens restaurante en speelplekke) is jy nie meer kind genoeg nie. Dan mag jy nie meer klim en klouter nie. Jy mag ook nie meer chicken nuggets en smileys bestel nie en jou roomys het nie meer 100s en 1000s nie. Dit suck!
Op 18 is jy veronderstel om klaar te wees met skool. Al is die skoolstelsel simpel en al is dit nie vir elke individu moontlik nie, maar om ouer as 18 te wees en op skool te wees beteken tannies met wenkbroue wat lig en stories oor waar jy tog eendag gaan opeindig.
Op 30 moet jy darem “sekerlik” in ‘n verhouding, verloof of getroud wees en op 40 moet jy klaar wees met kinders, want daarna raak dit “gevaarlik en onverantwoordelik”. Jy koop ‘n anti-age roompie en jou sponsored ads het gereeld iets oor botox of gewigsverlies in.
Op 50 is jy offisieel “oud” alhoewel almal onder 30 jou al as oud sien vanaf jy 35 is. Dan moet jy al darem “gevestig” in jou werk wees en weet waarheen jy op pad is.
Op 55 kry jy die pensionaris menu. Eers voel jy sleg wanneer die kelner vir jou die spyskaart aanbied omdat jou anti-age room en haarkleursel toe nou nie jou ouderdom verbloem nie. Maar na jy oor jou skok kom is dit nogal lekker om goedkoper pryse te betaal vir dieselfde lekker maaltyd.
Op 65 moet jy afgetree het en mag jy nie meer werk nie. Maak nie saak of jy nog ‘n vol funksionerende brein en lyf het nie. Jy moet net so stop en begin brei of hekel en 3 keer ‘n dag langs die see stap.
Op 70 moet jy begin dink aan ouetehuise, want “wie gaan tog na jou kyk”?
Op 80 is jy skielik heeltemal oor die mik en kom kuier die kleinkinders meer gereeld net “vir ingeval”.
Op 90 begin hulle by elke funksie van jou ‘n individuele foto neem sodat hulle nie te ver hoef te grawe vir ‘n begrafnisbriefie nie.
Op 100 word daar ‘n foto in die koerant geplaas, want hel, dan is jy nou werklik stokoud.
Ek word hierdie week 40 en almal bly my vra of ek nou oud voel. Om eerlik te wees voel ek steeds 26 en hoop dat ek altyd jonger van gees as vlees sal voel. Een van my gunsteling aktiwiteite is steeds om so hoog te swaai dat jou maag begin hol voel en 100s en 1000s met ‘n lepel net so uit die potjie te eet.
My 55 jarige vriendin is baie meer aktief as ek en my 85 jarige buurvrou werk nogsteeds by die Spar. Die 80 jarige tweeling wat ek nou die dag afgeneem het, het soveel lewe en oemf en lekkerte in hulle gehad dat ek nie kan wag om eendag te dans op my eie 80ste nie.
Mag jy vandag ‘n veer voel vir wat die norm is in jou ouderdomsgroep. Swem op 60 in jou bikini op Vishoek se strand en huppel saam op die ritme van die nuutste treffer op 70. Trou op 65 as jy wil en drink tee uit die piering saam met jou kleinkind.
Ouderdom is sommer ‘n mensgemaakte ding en ek hoop dat jou lyf jou solank as wat jou hart nog klop, jonk sal laat voel. Deel hierdie met ‘n maatjie wat nog jonk van gees is en lag saam oor al die wonderlike jare vol lekkerkry.
