79. Joost, die MAN

joost

Gister toe ek hoor van Joost se afsterwe, was ek dankbaar dat hy nou verlos is van al sy swaarkry, maar toe ek gisteraand die tributes lees en kyk, het ek gehuil. Vanoggend toe ek met my Springboktrui by die skool instap, vra een van die Engelse onderwysers (blond en bietjie in die wolke) vir my of Joost sy terugkeer na rugby maak? My mond val oop en ek wonder hoeveel mense geen idee het hoekom almal so ‘n groot HoeHa oor hom maak nie.

Ek besluit om in registerklas met my gr. 11’s oor sy lewe te praat (net ingeval hulle ook nie weet waarom ons sy lewe vier nie). Terwyl ek klas toe stap, dink ek oor wat ek vir hulle gaan sê, maar toe ek instap kom die woorde sommer vanself. Joost was nie ‘n god nie. Hy was nie Moeder Teresa of Lady Di nie. Hy het nie die wêreld verander nie. Hy was nie perfek nie. Hy was net ‘n MAN.

‘n MAN deur wie se lewe ons ‘n paar lesse kan leer:

  1. Gee elke dag jou beste.

Jy weet nooit wanneer dit jou laaste keer op die veld is nie. Sit jou hart in dit wat jou passie is en maak seker dat jy alles insit vir dit wat jy wil bereik.

  1. Moenie bang wees nie.

Al is daar ‘n Jonah Lomu in jou lewe wat op jou afstorm, staan jou man en tackle hom. Maak nie saak of jou probleem veel groter as jy is nie, staan sterk en vat dit aan.

  1. Mense maak foute.

Joost het baie kritiek gekry oor sy persoonlike lewe. Hy het foute gemaak en dit is deur die publiek veroordeel. Almal maak foute en almal kry tweede en self derde of vierde kanse.  Wees bereid om uit jou foute te leer en wees ook bereid om te vergewe.

  1. Familie kom eerste.

Al het Joost sy roem op die veld gekry, is dit sy familie wat op die ou ent vir hom belangrik was. Familie moet altyd eerste kom… bo roem, bo geld, bo sport, bo werk.

  1. Almal is broos.

Wie sou kon dink dat Joost van der Westhuizen jonk en sieklik sou doodgaan? Dit kan met enige mens gebeur en almal kan siek word en doodgaan. Koester die oomblikke wat jy gesond is. Gebruik die geleenthede wat jy vandag het,  want niemand kan die toekoms bepaal nie.

  1. Dis nooit te laat om ‘n verskil te maak nie.

Al was Joost siek en seer het hy nie op ‘n hopie gaan sit en huil nie. Hy het maniere gevind om selfs tot aan die einde ‘n verskil te maak.  Hou op sulk en doen iets wat ‘n verskil kan maak!

Vandag is ek dankbaar vir die lewe van Joost. Ek is dankbaar vir die foute wat hy gemaak het en ek is dankbaar dat ons sy lewe kan vier. Die lewe van ‘n MAN, ‘n doodgewone, ongelooflike MAN.

 

78. Inspirasie mamma 1: Delia Reinders

img-20150723-wa0047

Deur hierdie prempad wat ons gestap het (en ook deur hierdie skryfproses) het ek soveel ongelooflike stories van ander premmammas gehoor dat ek hulle bietjie met julle wil deel. Hulle het my inspireer en ek hoop dat hulle julle ook sal inspireer. Ek deel vandag met julle Delia Reinders se storie!

Delia en haar man, Felix bly en werk in Secunda. Felix is ‘n bekroonde wild fotograaf en het ‘n passie vir die landskappe en natuurskoon van Suider-Afrika. Delia en Felix was 6 jaar getroud voordat hulle swanger geraak het met ‘n dogtertjie. Delia se swangerskap was wonderlik en sy was glad nie naar of siek nie. Hulle het selfs nog vir oulaas in Botswana gaan vakansie hou voor hulle gesin van 2 na 3 verander.

Op 28 weke het Delia hoë bloeddruk ontwikkel. Die dokter het medikasie voorgeskryf en sy is verder gemonitor. ‘n Week later is sy met pre-eklamsië gediagnoseer en nadat haar toestand vinnig verder versleg het, het sy HELLP sindroom ontwikkel. Dit is ‘n lewensgevaarlike komplikasie vir ma en baba. Dit word gekenmerk deur hemolise waar jou rooibloedselle afgebreek word. Die baba kry nie genoeg suurstof en voeding nie en daar is ‘n lys komplikasies vir die ma.

Daar is besluit om dadelik ‘n noodkeiser te doen, maar daar was een probleem: die NICU was vol en hulle moes na ‘n hospitaal met vreemde dokters en nuwe gesigte in Pretoria oorgeplaas word. As gevolg van haar toestand, moes sy onder volle narkose gesit word en toe sy na die operasie wakker word, was klein Anke reeds in die NICU en sy self in die hoësorg eenheid.

Anke is op 30 weke gebore en het 1.065kg geweeg. Sy was vir 24 uur op die ventilator en vir ‘n week op suurstof. Gelukkig het Delia die NICU goed geken, want sy het as radiografis gereeld x-strale van babatjies daar geneem so dit was nie vir haar so intimiderend soos vir ander mammas nie. Sy was dankaar, want sy het geweet dat klein Anke die beste sorg ontvang en tydens die 72 dae in die NICU het die personeel later soos familie gevoel.

dsc_6704

Al was daar baie emosionele dae, veral omdat Felix weer moes gaan werk in Secunda en net naweke kon kom kuier, het Delia gevoel dat sy deur die week vir Anke moes sterk wees. Naweke het sy bietjie laat gaan en saam met haar man deur emosies gepraat en so was hy weer vir Delia sterk en het haar so deur als gedra.

Hulle het soveel ondersteuning en liefde ontvang, beide van familie en vreemdelinge en mense se gebede het hulle gedra. Anke het soveel mense geraak, dat sy nie anders kon as om mooi te groei nie. Felix het oor naweke mooi foto’s kom neem en almal op hoogte gehou van haar vordering. Die oop harte van vreemdelinge en mammas wat verstaan was vir hulle ongelooflik en baie het gegroei tot vriendskappe.

Delia se raad aan ander mammas wat hierdeur gaan is om eenkeer ‘n week ‘n bietjie af te skakel. Gaan doen iets lekker en gaan stap ‘n ent of gaan drink koffie. Al voel jy skuldig dat jy nie by die incubator sit nie, doen iets wat jou weer normaal laat voel. Wees ook elke dag positief al is jou omstandighede nie noodwendig positief nie. Al was jou swangerskap verkort en al het jy nooit daai XL hempie in die kas gedra nie; al het jy nie ‘n maternity shoot gehad nie en al was dit nie die perfekte geboorte nie; al is jou omstandighede nou deurmekaar… jy is die PERFEKTE en KOSBARE mamma vir jou babatjie en niemand kan jou plek in neem nie!

Vandag is klein Anke amper 2 en ‘n regte klein wonderwerk. Sy is gesond, slim, vreesloos en perfek. Hulle is onsagtelik dankbaar vir al die genade en is trots op hulle klein vegtertjie. Die Bybelversie wat die familie koester is Spreuke 31:25: “She is clothed with strength and dignity and laughs without fear of the future.”

Ek haal Delia se woorde aan om mee af te sluit: “Dis die diep waters wat ons leer swem. Die opdraandes wat ons fiks maak. Die vasklou wat ons sterk maak. Die uithou wat ons wenners maak. Maar dis ons geloof in die Almagtige God wat alles die moeite werd maak.”

img-20170115-wa0000

77. Strewe na ‘n Grootmenskind

15741316_10158329383875179_9115757052186581571_n

Lisa is gelukkig en bevoorreg om albei haar oumas en oupas te ken en deel van haar lewe te kan hê. Haar verhouding met die twee oumas is vir my werklik interessant, miskien omdat dit so vreeslik verskil. By my skoonma is sy stil en rustig en sy sal vir lank op haar skoot sit en luister na ‘n storie. Sy praat saggies en glimlag as ouma in haar oor fluister. Dit vir my so mooi, want my skoonma is so…sag en rustig. By my ma is sy presies die teenoorgestelde. Sy is wild en simpel. Sy spring van die hoogste goed af en lag kliphard uit haar maag uit. Sy maak grappies en hol die huis vol…presies soos my ma is.

Ek het nou die dag die mooiste uitdrukking gehoor. Vriende se dogtertjie wou gaan swem en niemand wou saam swem nie. Toe spring my ma saam in en speel en lag te lekker. Die dogtertjie vra  toe vir my ma of my ma ‘n GROOTMENSKIND is. Dit was vir my so mooi en so eg aan my ma, want dis presies wat sy is: ‘n grootmens met ‘n kinderhart. Sy het die vermoë om met kinders te kommunikeer en te speel wat min mense het. Sy wen binne sekondes ‘n kind se hart en almal wil altyd by haar kuier. Sy speel op hulle vlak, trek iets snaaks aan en raak saam met hulle vuil.

Om die rol van ‘n grootmens aan te neem en hard te werk aan die grootmensdinge in die lewe is belangrik. Maar om nooit die kindwees gedeelte heeltemal uit te sny nie, is amper vir my belangriker. Al stamp ek en my ma baie koppe (want ek is in baie opsigte nes sy), is dit iets waarna ek ook daagliks streef. Om altyd ‘n Grootmenskind te wees.

Mag jy vandag weer ‘n bietjie die kind in jou hart koester. Spring oor die kleinmuurtjie by jou werk;  huppel in die gang af; lag hard as iets snaaks gebeur; sien die klein goedjies raak; trek iets veelkleurig aan; loop kaalvoet; klim in ‘n boom; gaan swaai op daardie swaai in die parkie wat jou al heeljaar roep; spring in ‘n waterplas; gooi die hele bad vol borrels vanaand en maak ‘n baard  daarvan op jou ken. Maak nie saak waarna die kind in jou vandag smag nie…doen dit! Die lewe is te kort om ‘n Grootmens-grootmens te wees!

15741295_10158329381210179_2744367187607119889_n

76. Pak als wat jy NODIG het in 10 minute!

Die eerste week van die nuwe werksjaar was ‘n bietjie maller as wat ek dit verwag het. Ek het by ‘n nuwe skool begin werk en Lisa is na ‘n nuwe speelskooltjie toe. Ek is oorweldig met nuwe informasie en arme Lisa huil histeries elke oggend as ek haar aflaai. Woensdag was so erg dat die juffrou Lisa om my nek moes aftrek en ek kon nie lekker onderskei tussen haar trane en myne op my wang nie. Ek het my brawe “ek is in beheer”-gesiggie opgesit en my 6 nuwe klasse by my nuwe skool trotseer.

Teen 12h30 sien ek my foon se blou liggie op my lesenaar flikker. Ek kyk gou vinnig aan die einde van die les wie my soek en ek sien 6 missed calls en 8 watsapps. Wat gaan nou aan? Die eerste een wat ek oopmaak lees: “Laat weet net as julle hulp nodig het. Julle kan die bakkie gebruik en ons het slaapplek.” Huh?! Ek lees nog ‘n paar, almal met min of meer dieselfde inhoud. En toe een van my man: “Die brand is glo naby, maar ons is almal op standby so ek kan nie kom nie.” Brand?! Daar was dan nie eens ‘n rokie toe ek by die huis weg is nie. Ek lees vinnig op ons Facebook groep en sien dat ons area besig is om te ontruim.  Ek is vinnig by die hoof in om te verduidelik en eers in my kar sien ek die wolk rook wat agter die berg uitborrel.

15965074_10154040624916604_3360516684115514579_n

In die kar beplan ek hierdie “ontruim”-ing. Ons het 2 groot honde (45 kg elk), ‘n kat, ‘n haas en visse. Die visse is seker ok, want hulle het darem baie water, so ek skuif my fokus op die res. Naby die huis, tussen al die rook, brandweerwaens en mense sien ek net die vlamme en vir die eerste keer voel ek die erns van die oomblik.

Ek is vinnig in die huis in en alles is vol rook. Binne sekondes brand my oë en my keel krap. Ek kry die hygende honde, kat en haas binne en gee vir hulle water. En toe begin ek pak. Dis ongelooflik hoe jy skielik besef hoeveel gemors jy het. As jy net ‘n paar minute het en ‘n kar vol plek, het jy regtig skielik nie veel wat jy MOET hê nie. Ek het ons ou familie Bybel gegryp en ‘n handsakkie wat ek by my ouma geerf het. Ek die silwer botterbakkie (wat ek nooit gebruik nie, maar dis vir my man belangrik) ingegooi. Ons ID’s en dokumente is saam met albums en die rekenaarboks in die kar gelaai. Die res is skielik net nie meer belangrik nie.

Met 2 honde, ‘n kat wat nie in haar boksie wil sit nie, ‘n haas en ‘n paar belangrike goedjies is ek daar uit. In die ry besef ek dat ek moontlik nie weer huis toe gaan gaan nie en ek huil heelpad. Ek gaan tel vir Lisa op met al die diere in die kar en  toe sy haar hande om my nek gooi en my soen kom ek agter dat die ander goed eintlik nie saak maak nie. Want net daar besef ek wat ek regtig NODIG het en wat belangrik in my lewe is.

15941406_10158423436145179_7385610605504842995_n

 

 

75. Potty training vir dommies

img_20161223_123018
Ek het lankal beplan dat hierdie vakansie die een gaan wees vir potty training. Dis somer en lekker warm so glipsbroekies raak sommer gou droog en Lisa kan heeldag sommer kaalgat ook rondloop as sy wil. Ek het my leeswerk gedoen en ek was gewapen met sterretjies, ‘n sticker chart, ‘n potjie en so toiletseat-dingetjie wat jy op die toilet sit. Ek was REG!
Nes alles anders in hierdie warrelwind wat hulle “ouerskap”noem, was ek toe nou nie so “reg” nie. Ek weet eintlik glad nie hoekom ek enigsins nog oplees oor goed nie, want my kind pas nou maar net nie in die boekmold nie.
Dag 1 was wonderlik. Sy het dit vreeslik geniet om ‘n pantie te dra en het hande geklap vir elke toiletpiepie. Dag 2 weier sy om die pantie aan te trek. Dag 3 sweer sy die toilet gaan haar opeet.

Okkidokes…so die 3 dag potty train metode gaan duidelik nie vir ons werk nie.
Dag 4 is sy weer op die toilet. Mooi…back on track. Dag 5 het ons nie een glipsie gehad nie en pappa het huis toe gekom. Dag 6 gaan kuier ons by ouma en ons hou mooi aan.
Na ‘n week het ek dit goed gedink om haar nou sonder ‘n doek uit te vat. In die mall het sy mooi op die toilet gesit en nie een glipsie gehad nie. Op pad huis toe besluit ons om gou nog een stop te maak en’n lig te koop. Dis een van daai groot winkels met ligte orals en met ‘n mooi suede bank en matte.
Ek en manlief wik en weeg tussen 2 ligte en ooo wee…daar staan Lisa met haar bene oop en begin piepie! Ek het my man nog nooit so vinnig sien reageer nie. Hy het haar opgegaps en is met haar toilet toe. Ek het my handsak op die natgepiepiede kol op die mat gesit en gemaak asof als onder beheer is. Nadat ek goed rondgekyk het dat niemand kyk nie het ek my “skoen vasgemaak” en vinnig met wetwipes probeer red wat te redde was.
My man het teruggekom met ‘n nat pantie in sy broeksak en ons het toe maar die duurder lig gekoop (net om op te maak vir die kol op die mat).
In die kar kon ons ons lag nie meer hou nie. Tussen die histerie van die oomblik het ek gewonder hoeveel piepiekolle daar al op daai mat le en hoeveel ligte hulle nie al as gevolg hiervan verkoop het nie.
Ons is amper daar met die potty training storie, maar een ding is seker…ons ganglig is nie net ‘n ganglig nie. Dis ‘n lig met ‘n storie. ‘n Storie van menswees en glipsies ‘n Storie van ons reis hier op aarde. En as ek nou daardie lig aansit, sit ek hom nie net aan nie, maar ek glimlag breed en onthou hoe kosbaar ‘n glipsie kan wees.

74. Die Grinch steel my Kersfees

Om tydens Kerstyd sonder jou man alleen saam met ‘n twee jarige te moet wees, is nogal…wel…kom ons noem dit maar ‘interessant’. Dit is asof alles wat ek gewoonlik met Kersfees assossieer net heeltemal op sy kop gedraai is. Dit voel werklik vir my of my oulike dogtertjie bietjie in die Grinch verander het.

Elke jaar raak ek opgewonde om winkels toe te gaan en vir almal ietsie spesiaals te koop. Ek geniet dit om rustig deur die winkels te stap en my tyd te neem om iets unieks vir elkeen te soek. Die jaar moes my dogtertjie natuurlik saam winkel toe. In Pick n Pay se klerewinkel is waar ek die Grinch die eerste keer ontmoet het. Ek was seker so twee minute daar toe ek sien sy raak skielik stil en gaan kruip tussen die rakke weg. Ag nee.. dit beteken net een ding! Sy het net daar tussen die bikini’s (waar net nog-nie-mammas shop) besluit dis tyd om te druk. NEE!?!? Hoe nou? Ek probeer haar optel en in my trollie laai om so gou moontlik by die badkamer te kom, maar sy klap my hand weg en skree (soos net ‘n 2-jarige kan) “los, Mamma…Lisa poefie!” Aarde sluk my in. Ek het my kop in skaamte laat sak en maar gelag en gewag dat sy op haar eie tyd klaar maak.

Tydens die opsit van die Kersboom het ek die Grinch weer gesien. Ek is vreeslik trots op my Kersboom en voel dat dit ‘n uitlating van my kreatiwiteit is. Nie die jaar nie. Danksy die Grinch is die mooi hout engeltjie nie bo op die boom nie, maar liewer ‘n klein plastiek krokodilletjie. Ek het hard probeer dink of daar dalk moontlike Bybelse simboliek aan die krokodil kan wees, maar het steeds nie een gekry nie.

1482323209006-142772673

By gisteraand se Carols, het die Grinch natuurlik weer saamgekom. Ek het vreeslik uitgesien om daardie warm, Kerstyd gevoel te kry terwyl ons Stille Nag saam met die res van die buurt in die parkie sing. Maar, nee, geen “stille” nag vir my nie. Die Grinch het besluit die boom agter die orkes is die perfekte uitdaging en ek moes haar 5 keer van die hoogste takke gaan afhaal. Elke keer met ‘n geskree en ‘n geskop en natuurlik die “slegte ma”-kyke wat daarmee saam kom.fb_img_1482261504529

Hoe het dit gebeur dat ek kon toelaat dat die Grinch bietjie vir bietjie my Kersfees kom steel? Hoekom is Kersfees nie meer vir my lekker en spesiaal nie? Ek het heelaand daaroor getop en uiteindelik vanoggend besef dat my selfsugtige idee van Kersfees juis die probleem is. Kersfees gaan nie oor winkels en Kersbome of engeltjies en Stille Nag nie. Dit gaan oor familie en oor feesviering van liefde en ons Jesus storie. En net so, sommer skielik is die Grinch weg en in sy plek, is my wonderwerk van ‘n dogtertjie en ek is dankbaar dat die Grinch my Kersfees vir my teruggegee het.

73. Bang vir wat?

WEBPAGE_20161220_000516.jpg

Ek het vir lank gedink Lisa is die braafste klein dingetjie wat geen vrese het nie. Sy klim teen die hoogste tralies uit, sy speel met ons groot honde en is vol selfvertroue in alles wat sy aanpak. Maar ewe skielik het die”bang”-woordjie in haar woordeskat ingekruip.

Dit het alles begin by die akwarium toe sy haar gat afgeskrik het vir die lewensgrootte “Nemo”-outjie wat rondloop en al die kinders high 5’s gee. Lisa het vir weke daarna vir my gese: “Lisa is bang vir Nemo”. Sy het ‘n paar nagte wakker geword en selfs nagmerries gekry oor Nemo. 20160702_110718

Daarna was dit die swembad. Eers was sy mal oor water en wou nie uit die bad uitklim nie. En net skielik het dit verander in ‘n vrees. Na maande se vertroue bou, staan sy nou weer op die tweede trappie van die swembad, maar skree blou moord as jy haar wil laat swem.

En dit stop nie daar nie. My tawwe dogtertjie is deesdae bang vir alles. Sy was altyd mal oor die pikkewyne…nou nie meer nie. Sy was bitter lief vir by die see speel…nou ook nie meer nie. As sy iets nuuts moet doen…is sy sommer vir dit ook bang. Bang vir die toilet, bang vir die water, bang vir oupa, bang vir die vlieg… Bang, bang, bang.

Dit het my laat wonder hoe dit gebeur dat mens net een dag bang raak vir goed. En dit het my oor my eie vrese laat dink. Waarvoor is ek bang? En hoekom is ek bang? En hoekom is ek nie meer bang vir goed waarvoor ek wel kleintyd bang was nie? Dit het my ook herinner aan watter VREESlike ding vrees is. Dat dit jou terughou van soveel lekker dinge. As Lisa maar net vir Nemo wou high 5, kon ons langer na al die mooi vissies gekyk het. As sy maar net wil swem, sou sy ook heerlik koel gevoel het. As sy maar net iets nuuts wil probeer, kan sy dalk uitvind hoeveel lekker dinge daar buite is.

Maar hierdie kindervrese het ook tog sy plek. As sy nie bang vir die swembad is nie, verdrink sy dalk. As sy nie dink Nemo is vreemd nie, sal sy dalk nie eendag uit ‘n vreemde situasie kan vlug nie. So dit is ook seker maar net nog ‘n fase van ontwikkeling. Een wat vrek irriterend vir haar mamma is.

Maar hoekom is ek, as grootmens bang vir soveel goed as ek weet dat God self vir my se ek moenie bang wees nie? Hoekom is ek bang vir ‘n tweede swangerskap? Hoekom is ek bang om my eie passies voluit uit te leef? Hoekom laat ek toe dat vrees my ook terughou? Glo ek dan nie genoeg nie? As Lisa se pa by haar is, is sy veel brawer as wanneer dit net ek en sy is. Hoekom is ek dan nie altyd braaf as ek weet my Hemelse Pa is by my nie?

Vandag bid ek met my hele hart dat ons weer ons Pappa sal vertrou. Dat ons ons wereldse ‘ek kan alles self doen’ manier sal laat gaan, want as ons bang is vir goed, kan ons verseker dus nie als self beheer nie. Ek bid dat ons terug sal kom by kinderlike vertroue in ons Pa. ‘n Geloof wat bevestig dat Hy in beheer is. Dat Hy ons beskerm. Dat Hy na jou omsien.

Ek dink vanaand aan al die mammas wat ek ken met hulle eie vrese en ek dra julle vrese ook op. En ek moedig julle aan om weer in die swembad te swem of om die Nemo in jou lewe te high 5.

 

img-20150918-wa0003

 

 

72. Bitterboela boelie

boelie-1

Elke week hoor ek van een of ander kind wat geboelie word. As onderwyser is dit een van die groot probleme om te ontsyfer wanneer dit regtig ‘n geboeliery is en wanneer dit net ‘n bakleiery of tienerprobleem is. Ek is dus baie bewus van boelies en hoe hulle werk, maar vir een of ander rede het ek altyd gedink dat boelies eers op skool begin ‘boelie’.

Maandagaand was ons vir burgers (ja…dis weer ‘n koop-een-kry-een-verniet-maand in ons huis) by Spur. Lisa hol dadelik speelkamer toe en gewoonlik sien ek haar nie gou weer nie. Binne ‘n paar sekondes kom sy uitgehol en sê: “Mamma, Lisa bang.”  Ek dog sy is dalk bang om alleen te speel of dalk voel sy net bietjie onseker (beide wat nie gewoonlik gebeur nie, maar wie weet…dalk gaan sy deur ‘n stadium). Ek vat haar toe aan die hand en gaan stel haar voor aan.

Die gesin langsaan ons tafel het 5 kinders (ja…mense het nog 5 kinders) 3 seuns en 2 dogters. Ek het die ma by ‘n ma-groepie ontmoet en het nogal baie respek vir haar wat al 5 haar kinder geborsvoed het en nogsteeds so mooi en in beheer lyk. Ek let egter op dat hulle baie anders as ons oor kinders grootmaak dink. Hulle kinders word redelik op hulle eie groot en is rof en redelik gehard (wat seker ook verstaanbaar is met 5). Die pa is nogal kwaai. Toe die dogtertjie vra of sy nog ‘n tjippie kan kry het hy haar sommer uitgetrap en was redelik aggressief. Maar ek het vriendelik gegroet en toe aangegaan om ons bestelling te plaas.

Met dié dat Lisa bietjie bang is, hou ek toe maar meer van ‘n direkte ogie op haar net om seker te maak sy is ok. En ek kon my oë nie glo nie: Twee (van die 3) boeties stoot vir Lisa sommer uit die bloute teen die bank vas en druk haar plat. Die oppasser moes omtrent bontstaan en gelukkig het Lisa dadelik uitgehol na ons toe (alhoewel ek al amper by haar was). Vir ‘n oomblik het ek gewonder of ek besig was om in ‘n helikopter-ma te verander, want ek was sommer dadelik kwaad. Ek het dit nie gewys nie, maar dit het my vreemd laat voel dat 2 onder 5 jariges dink dis ok om sommer net ‘n dogtertjie te takel. Ek het besluit om nie te oorreageer nie, maar my binneste was omgekrap oor wat ek gesien het.

Lisa het vir ‘n tydjie by ons kom inkleur en toe weer braaf die paadjie aangedurf na die “maatjies” toe. Sy het ‘n ballon gaan haal en toe, nes sy op die perdjie klim, kom die een seuntjie dadelik weer en stoot haar van die perd. Lisa was deurmekaar en het nie eers gehuil nie, maar net met skok gekyk na die seuntjie. Dit was asof sy nie nou verstaan het wat gebeur het nie. Die seuntjie aan die anderkant het ‘n vreesaanjaende gesigsuitdrukking…amper ‘n mengsel tussen woede en boos. Weereens moes ek en die oppasser inmeng en die arme oulike jong meisie het net haar kop geskud en gesê dat hulle twee altyd probleme maak met die kleintjies.

Dit was vir my so vreemd. Ek weet dit gebeur en ek weet kinders baklei en is selfsugtig, ens. maar hierdie was vir my anders. Daar was 2 perdjies (een was oop) en die seuntjies was nie eens besig om daar te speel nie. Hulle het van bo van die glyplank af gekom toe hulle vir Lisa sien en haar ‘n teiken gemaak. Ek het niks gesê nie en toegelaat dat hulle verder ‘speel’. Gelukkig het die familie gou geloop en Lisa het lekker met die ander regte maatjies aangespeel. Ek het gedink ek sal ophou dink daaraan, maar dit het my heel week gepla. Hoekom is dit ok vir ons om toe te laat dat kinders op so ‘n jong stadium ‘boelies’ raak? En hoe maak ons seker dat ons nie self ‘n boelie grootmaak nie?

boelie-3

As ouers het ons so ‘n groot rol in hoe ons ons kinders grootmaak. Ek hoop en bid en glo met my hele hart dat Lisa nie ‘n boelie sal word nie en dat sy eendag die moed sal hê om teen boelies op te staan. Ek hoop dat ons haar selfbeeld genoeg opbou dat sy nie sal toelaat dat groter boelies haar afbreek nie. Ek bid en vertrou dat ons die krag en uithouvermoë sal hê om haar te dissiplineer wanneer sy verkeerde besluite maak en ek glo dat God ons sal help om die beste ouers te wees vir ons hardekwas bitterboela dogtertjie.

boelie-2

 

 

71.”Stop & smell the roses”

smell-the-roses-1

Vir die afgelope drie dae is my neus toe. Nie daai bietjie toe wat met ‘n sinutab tabletjie reggemaak kan word nie…nee…toe-toe. Ek kan soos in niks ruik nie en ek haat dit. As ek  praat, voel ek sommer dommer en my arme man bly dink ek is kwaad vir hom omdat my stem heeltyd diep en kwaai klink. Al sê ek iets in ‘n opgebeurde manier klink dit asof ek brom.

‘n Toe neus het verseker darem ook positiewe gevolge. Ek ruik byvoorbeeld glad nie as daar ‘n klankie van Lisa se kant af kom nie. Ek ruil doeke sonder om my asem op te hou. Ek het ook al 2 kilos verloor omdat ek nie kos kan ruik nie (ek eet mos soos ‘n hond…eers met my neus en dan met my mond). Nog ‘n positiewe is dat almal heeltyd dink ek is vreeslik siek en ek is nie…my neus is net TOE.

Vanoggend toe ek werk toe ry en in druk verkeer sit en luister ek na die radio. Ek spring van een radiostasie na die volgende een, want al wat ek wil hê, is ‘n bietjie musiek. Maar nee, ek het eers ‘n uitgebreide bespreking gehoor van gister se parlementsirkus. Toe op die volgende stasie gehoor hoe die verkeer op die N1 lyk en dat daar voetgangers van die treine af spring en oor die pad hardloop. Toe ek aanskuif hoor ek van ons damme en hoe leeg hulle is en dat ons regtig moet dink voordat ons water sommer net gebruik. By die volgende stasie hoor ek van ons arme minister van finansies en die fees must fall protesoptog vandag. Ek sit toe maar met ‘n sug die radio af en loer rondom my na die mense wat werk toe stap.

Een man vang my oog. Hy is duidelik nie baie ryk nie. Hy loop met ‘n groot swaar rugsak en hy het ‘n verwersoorpak aan. Sy skoene is stukkend en sy hemp vuil. Maar dis nie sy klere wat my aandag trek nie, want elke mens wat verby my stap lyk omtrent soos hy. Wat wel my aandag trek, is wat hy doen!

Soos hy verby ‘n huis  met blomme in die tuin stap, stop hy.  Hy vat met sagte hande aan die blom asof hy dit liefkoos. Dan bring hy sy neus tot omtrent by die blom en haal diep asem en ruik. Sy gesig helder op en hy glimlag breed. Dan gee hy weer twee treë verder en doen  dieselfde met die volgende blom. Sy oog vang myne en ons glimlag vir mekaar. En toe stap hy verder.

stop-and-smell-3

Vir ‘n oomblik wens ek, ek kan hom persoonlik ken en met hom gesels, maar die karre beweeg en ek moet aanry. Ek gaan hom dalk nooit weer sien nie en ek ken nie eers sy naam nie, maar sy boodskap sal vir ewig by my bly.

Hierdie man met veel minder as ek. Hierdie man wat elke dag werk toe moet stap (en dit dalk na ‘n lang treinrit). Hierdie man wie se klere vuil en oud is. Hierdie man wat dalk net genoeg geld verdien om vir sy honger kinder kos te gee. Hierdie man met ‘n hart van goud. Iemand wat elke dag die mooi om hom raaksien. Iemand wat met ‘n lied in sy hart werk toe stap. ‘n Lied wat die radio hom nie gegee het nie, maar ‘n lied wat hy self sing.

Vandag is ek dankbaar vir hierdie man. Jy is ‘n inspirasie. Dankie.

smell-the-roses-2

 

70. Lente in ‘n reënjas

lente 3.jpg
Lente was nog altyd my gunsteling seisoen en ek is absoluut gek oor bloeisels en die feit dat die son al skyn as ek werk toe ry. Ek raak kinderlik opgewonde as ek soggens in my bed lê en die voëltjies kwetter in die boom langs my ruit. Dis een van die groot redes hoekom ek beplan het dat Lisa in September gebore sou word…’n lekker lente-baba.

Maar soos die lewe maar vir ons “curveballs’ gooi, werk dinge mos nie altyd uit soos beplan nie. En dié naweek is ek weer daaraan herinner. Ek het gaan fliek (vir die eerste keer in 3 jaar!) en die titel van die nuwe Afrikaanse rolprent: Sy klink soos lente het dadelik my aandag getrek. Terwyl ek in die fliek sit, sak ‘n helse reënbui op die dak uit (daai middel van die winter tipe reën). Ek kon nie help om bietjie hardop te begin lag nie. Hoe ironies? Hier is ‘n fliek oor die lente wat uitgekom het in die hartjie van die lente en hier reën dit so hard dat mens skaars die akteurs kan hoor.

 

lente-1

Enter a caption

Maar is dit nie maar presies hoe dit is nie? Daardie bruid wat haar troue in Oktober beplan het om doodseker te maak dat dit nie reën nie, word wakker met ‘n donderstorm bo haar kop. Die paartjie wat met afwagting en opgewondenheid in gaan hospitaal toe, stap uit sonder ‘n baba. Die dag van die onderhoud vir jou droom werk, breek jou kar. Die ma wat haar babatjie in September beplan, se baba word in Junie gebore.

Soms wonder ek hoekom dinge met sekere mense gebeur. Daardie hoekom woordjie wat GELUKKIG nog nie in Lisa se woordeskat is nie, gebruik ons tog so baie. Hoekom moes dit met my gebeur? Hoekom kanker? Hoekom alweer? Hoekom het hy haar gelos? Hoekom so vroeg? Hoekom juis met haar? Hoekom kan dit nie beter gaan nie? Hoekom moet ons so sukkel? Hoekom juis nou? Hoekom Here? Hoekom?

En dan besef mens maar net weer. Die lewe het 4 seisoene. Soms gaan dit wonderlik en die son skyn, maar soms is dit koud en donker as mens soggens wakker word. En soms is die seisoene self ‘n bietjie deurmekaar soos nou…dit reën in die lente, of soos dié jaar selfs sneeu. En dan moet ons maar net vashou aan die bietjie son wat ons elke dag kry. Soms help dit ook om te dink dat as die son nie hier by jou skyn nie, dat dit wel iewers anders in die wêreld skyn en dat jou beurt sal kom.

God se plan is soveel groter as ons planne. Daar is ‘n rede vir die reën en daar is ‘n antwoord vir al jou hoekom-vra. Al kan jy hulle nie nou antwoord nie…hou vas, glo en vertrou dat die son wel weer sal skyn en dat jou vel lekker bruin gebak sal word in die hartjie van die somer. En as jou seisoene bietjie deurmekaar is, gaan haal maar weer daardie reënjas uit die kas uit en trek aan jou gumboots, want die keer dans ons in die reën.

 

lente-2