My blomtuin

Ek het nie groen vingers nie. My vingers is nie eens geel nie. My vingers is heeltemal aan die ander kant van die kleurwiel en daarmee saam dra ek ook baie min kennis van blomme. Ek weet net iets is vir my mooi of nie en ek sien iets in my huis of nie. Maar in my lewe is ek geseënd met ‘n vrugbare tuin vol blommaatjies.

Ek het ‘n hele paar lavender maats. Hulle bring ‘n vars geur en het manier om net my hart te kom streel. Dan het ek ‘n paar wilde blomme. Dié wat ek nooit doelgerig geplant het nie. Hulle het net opgekom en my lewe kom verfraai. In my blomtuin is daar net een of twee poppies. Hulle is fyn en kleurvol, maar nie te sterk nie. Tog is hulle mooi en sag en vol liefde en omgee. Oor die jare het ek al ‘n paar orgideë gehad. Hulle vriendskap was pragtig en wonderlik. Maar na ‘n seisoen se blom, het hulle eers hulle glorie verloor. Die tyd en energie om hulle weer te laat blom was te veel en nou staan hulle op die vensterbank vir ingeval hulle weer vanself wil begin blom. Ek ‘n ‘n bolplant of twee wat elke seisoen net weer opkom. Soms vergeet ek so bietjie waar hulle geplant is, maar hulle bly in my tuin en elke nou en dan sien jy hulle weer kop uit steek. Die proteas wat oor my pad gekom het staan nog sterk en is diep gewortel. Na elke vuur waardeur ons is, blom hulle net nog mooier. Hulle is mooi alleen of in ‘n bos en hulle koester jou diepste geheime in die sagtheid van hulle fluweelblare. Ek het ‘n hele paar rose. Pragtige mense wat skerp dorings het. Hulle hou hulle harte veilig, maar as jy eers deur daai steke kom, is hulle ongelooflik delikaat met ‘n soet geur.Ek het ‘n varkoor of twee wat lief is vir water. Hulle groei maklik in my lewe en kort min moeite. Tog is hulle net so in hulle ‘normaal’wees vir my spesiaal.

En dan het ek EEN sonneblom maatjie. Sy is lank en het die mooiste bene nes ‘n sonneblomstingel. Ek weet sy sal verkies dat ek haar met ‘n meer delikate, fyner, fraaier blom vergelyk. Een wat honderde klein details het wat net sy met haar pen sal kan vasvang. Een met skakerings pastel kleure wat op ‘n palet gemeng moet word. Alhoewel sy al hierdie ook is, sal sy vir my altyd ‘n sonneblom wees.

Sy het haar saadjie hier kom plant op ‘n stukkie grond waar daar net drome was. En sy het gegroei en begin blom. Ek het nie geweet van haar aankoms nie, want vir my was sy eendag net daar; met ‘n groot glimlag en mooi blou rokkie. Haar helder menswees het my na haar aangetrek. Haar gesig is altyd na die son gedraai en sy het ‘n manier om almal om haar ook te wys waar haar lig vandaan kom. In donker tye, daag sy op met ‘n heilsame drukkie of ‘n bord kos en terwyl sy jou vasdruk sê sy: “Kom ons bid gou, my maat” Dan loop my trane, want sy wurm in waar die grond nog vars geploeg is en plant haarself daar tussen jou onkruid.

Haar huis is altyd oop en sy het my bewus kom maak van my eie geel kleur wat weggekruip het diep in my hartskamer. Haar kreatiwiteit inspireer my kreatiwiteit en saam tower sy met ‘n rowwe potloodsket ‘n vinnige idee tot ‘n tasbare droom. Haar kop staan altyd regop al is die wind besig om haar blare deurmekaar te waai. Haar aansteeklike vreugde verfraai jou huis, want niemand kan na ‘n sonneblom kyk en nie glimlag nie.

Haar saadjies skiet nou na ‘n ander stukkie grond. En alhoewel my hart seer is, is ek so opgewonde om te sien hoe my sonneblommaatjie ander mense se hartstuine gaan ophelder.

Vandag is ek dankbaar vir hierdie kosbare diverse blomtuin wat ek het. Maar vandag pik ‘n traan oor my sonneblommaatjie.

Wie is in jou blomtuin? En is jy so gelukkig om ‘n sonneblommaatjie te hê? Deel hierdie met jou blomtuin.