Wanneer die nood begin druk

Dis altyd vir my vreeslik interessant hoeveel inspirasie mens langs die sportveld vind. Vandag se netbalwedstryd het nie teleurgestel nie. 

Die een mamma stop in die middel van ons gesprek en spring tot redding toe sy sien hoe een van die graad 2 dogtertjies haar bene in ‘n koeksuster knoop en gaan wys haar waar die toilette by die skool is. Met haar terugkeer spot ons omdat sy seker met haar 3 dogters in die huis al die verskillende knypposisies myle ver kan uitken. En daar raak die paar van ons mammas en een van die juffrouens aan die giggel terwyl ons staaltjies oor knyp deel. 

Ons almal ken die bene toedraai in ‘n opgekrulde vadoek metode. Dit help gewoonlik vir ‘n medium-druk piepie. Maar as dit hoë-druk piepie raak, is daar die letterlike knyp metode. Hiermee moet jy daai lippies/koekie/snuifie/vagina styf met jou hand (vandag gehoor ‘n handsak, beursie of baadjie word ook allerdaags gebruik) vasdruk en soms met twee vingers knyp. Dan vir ‘n in in-die-kar-druk piepie help dit glo om jou knieë teen mekaar te druk of om vorentoe en agtertoe op die sitplek te skuif. Die juffrou sê die bene op en af wikkelmetode help ook glo vir ‘n soortgelyke in-die-klas-druk piepie. 

Die ek-is-nou-by-die-huis-piepie is onder ons klomp as die grootste probleem uitgewys. Dit is nou as jy so lank nie by die toilet was nie en uiteindelik by die huis stop. Dan is dit mos net die dag wat die veiligheidshek se sleutel nie wil draai nie of die deur nie vinnig genoeg wil oop nie. Ons het almal al ons broek in die kar begin losmaak om net betyds by die toilet te kom. Elkeen van ons langs die baan kon erken dat ons al ten minste een (maar meestal meer) die tydsbereking verkeerd gekry het. 

Ons kon almal identifiseer met die verandering in knypvermoë tydens swangerskap en na geboorte en twee kon saam praat oor die effek van ‘n histerektomie op die blaas. Een van die ma’s vertel ons toe dat haar man vir haar Got2Wee sakkies gekoop het toe sy met krukke en ‘n gebreekte voet rugby by die stadion gaan kyk het. Jy sit glo die sakkie (haar woord daarvoor was ‘n “piepie-kondoom” wat baie meer as ‘n gepaste visuele prikkel dien as “sakkie”) sommer net waar jy is tussen jou bene en siedaar. Dit werk soos ‘n nappy en jou piepie verander in kristalle en jy gooi die outjie net in die drom op pad uit. Dit klink soos ‘n great plan vir onder ‘n rokkie indruk, maar my brein sukkel om te sien hoe dit met ‘n jean sal werk. Ek probeer dink of ek dit sal kan doen om so voor/tussen mense skelmpies te LET GO en dink nie Dischem sal my nou al sien vir die vlak van verligting nie. 

Die histeriese ek-kan-nie-ophou-lag-nie piepie gaan gewoonlik gepaard met ‘n klop vrouens wat saam oor iets simpels lag. Jy weet jy moes al gaan piepie het, maar jy wil nie die laaste stukkie van die grappie/storie mis nie en voor jy jouself kry, hang jy aan mekaar en krul jou tone soos jy vooroor buig om net die drukking van jou blaas af te hou. Terwyl ek staan en wonder of ek gou moet toilet toe gaan voordat ons hierdie punt bereik, draai ons gesprek by metodes wat atlete tydens hulle langafstand maraton gebruik om te piepie en ek is weereens dankbaar dat hardloop nie my ding is nie.

Daar staan drie pa’s aan die ander kant van die baan en lag en ek wonder sommer waaroor hulle praat en of hulle ooit oor sulke belaglike goed sal staan en gesels.. Dieselfde mamma wat die hele trant van die storie begin het, eindig ons gesprek af met ‘n tip wat haar dogter op Tiktok gesien het. As jy jou kuit krap, help dit jou blaas om vir ‘n paar minute van jou piepie te vergeet. Volgens haar werk dit definitief, want sy het dit nou die dag in die ry in Checkers probeer en dit het werklik ‘n verskil gemaak. Kyk bietjie uit vir hierdie kuitvrywers of probeer dit self en rapporteer terug. 

Vandag is my wens vir elkeen van julle wat hierdie lees dat jy nooit te laat by die toilet sal uitkom nie; dat daar nie ‘n lang ry is wanneer jy nie meer kan knyp nie; dat jou dungaree en bodysuit maklik sal loskom; dat jy altyd sal weet dat ons almal al in die knyp was en dat dit hierdie ongemaklike goedjies in die lewe is waaroor mens die lekkerste langs die netbalbaan lag. 

9 jaar later

Vandag verjaar Lisa. NEGE jaar gelede het hierdie warboel van ‘n storie begin en vandag, soos elke jaar op die 12de Junie, sit ek en dink terug oor al die water wat onder, oor en deur die brug gevloei het. Vandag deel ek graag die 9 goed wat oorgebly het van ons prembaba.

  1. Herinneringe

Sal ons ooit die gebieppiep van die masjiene, die oorborrel van emosies of die vrees in mekaar se oë kan vergeet? Ja, dit raak wel minder, maar daar is steeds terugflitse en oomblikke waar elke klein dingetjie weer onthou word. Ek koester elkeen van hierdie oomblikke en kyk terug met ‘n vol hart na elke memory op Facebook.

2. Merkies op haar hak

Ek het altyd gewonder of die merkies op Lisa se hak oor tyd sal verdwyn. Elke oggend se bloedprik vir toetse op daai klein voetjie is steeds sigbaar. Ligweg en ook net as jy daarvoor kyk, maar dit is net ‘n wonderwerk dat ‘n klomp klein merkies op haar voetjies al is wat sy oorhet van haar prempad. Nie een litteken van ‘n operasie, nie een gehoortoestelletjie of bril nie. Net die wit 100’s and 1000’s op haar hak.

3. Ons huwelik

Trauma het ‘n manier om die mense naaste aan jou uitmekaar te trek. Daar was en is steeds tye wat ons mekaar wil verwurg, maar oor die algemeen het ons liefde net gegroei. Ons lag steeds wanneer ons eintlik moet huil en ons terg mekaar elke dag oor die klein goedjies. Hy vat steeds aan my boud terwyl ek kos maak en ons dans nog in die sitkamer as die kinders gaan slaap het.

4. Ouerskapstyl

Ons maak steeds ons kinders in ‘n huis vol liefde groot waar hulle nie in watte toegedraai word nie. Nou die dag toe Lisa met een voet op haar fiets se sitplek en die ander een in die lig soos ‘n ballerina op wiele by die bult afgevlieg kom, het ek my oë toegeknyp en gebid, maar ons kinders klim boom, speel rof en stof af as hulle geval het.

5. Geloof

God se ongelooflike genade en liefde, Jesus se nederige menswees en die Heilige Gees se teenwoordigheid is nog net so (indien nie meer nie) deel van ons lewens. Ek getuig steeds elke dag van die wonderwerke en seëninge wat ons ervaar en is so bly ons kinders het ook ‘n lewende verhouding met die Here.

6. Trots

Ek is seker die TROTSTE ma op aarde. Al doen Lisa net ‘n klein dingetjie reg, wil ek jubel en juig. Dinge kon soveel anders gewees het en ek is so trots op haar groei en op die mens wat sy besig is om te word. Saam met trots kom ook hardkoppigheid en dit het al ons Kriele ook steeds 🙂

7. Meegevoel

Die opregte meegevoel wat ek vir ander ouers wat moeilike swangerskappe/geboortes het, bestuur ‘n groot deel van my lewe. Ek wens almal kan verstaan dat die media en die mooi prentjies wat op sosiale media is, ‘n miljoen trane en deurmekaar huise wegsteek. Ek is ook dankbaar vir die handjie vol mense wat regtig verstaan en mekaar kan ondersteun.

8. My man se trauma

Ek wens ek kon beter vir my man daar wees toe ons deur hierdie trauma moes gaan. Soveel mense het my gehelp en ek het dinge uitgepraat/uitgeskryf/uitgehuil. Hy het egter soos alle mans maar volgens ons samelewing moet, net sterk gestaan en sy vrou ondersteun. Ek wonder of hy ooit regtig sy emosies met iemand gedeel het en ek hoop en bid dat nuwe pappas iemand het om mee te praat oor alles. Om die pa van ‘n prembabatjie te wees is baie traumaties en ek glo en vertrou dat my man se hart 100% sal herstel.

9. Dankbaarheid.

Die dankbaarheid wat ek in my voel elke keer voel wanneer ‘n mamma voltermyn swangerskap deurstap; of wanneer ‘n prembaba vir die eerste keer huis toe gaan; of wanneer ‘n nuwe gesin ondersteuning kry is net ‘n druppel in die emmer vir hoe dankbaar ek is elke keer as ek iemand sien wat dit nie kry nie. Ek is so dankbaar vir gesonde, lewende kinders. Ek is dankbaar vir ‘n ongelooflike ondersteuningsnetwerk. Ek is dankbaar vir wonderwerke en genade. Ek is dankbaar vir 9 jare van mamma wees.

As die koppies begin breek

Na my stukkie skryf oor my blou Le creuset koppie het my man vir my ‘n stel van 3 gekoop. Die groene is so vars en mooi vir tee, die rooie perfek vir hot tjôklit en die gele was my vroegoggend koffie vol sonskyn en positiwiteit gelaai.

Dian wou self tee maak en met ‘n hartseer “Sôrrie mamma, sôrrie, regtig sôrrie, mamma” lê daar nou drie stukkies geel en ‘n helse gemors op die kombuisvloer.

En alhoewel elke stukkie sonskyn uit my vloei terwyl ek die dam vol tee opvee, is daar ‘n liefde wat groter is as die kwaad. Ek troos my seuntjie en sê “Toemaar, dit was ‘n ongeluk… dis net ‘n koppie” met my woorde. In my kop klou ek vas aan die laaste bietjie positiwiteit wat nog uit die geel koppie lek soos sy vir oulaas uitasem.

“Ons kan dit regmaak” sê die seuntjiestemmetjie langs my en ek weet ons kan seker, maar sal ‘n ge-Genkem-de Le creuset koppie nog positiewe sonskyn kan huisves?

Alhoewel ek hoë waarde aan my sonskynkoppie geheg het, is dit werklik maar “net” ‘n koppie.
Wanneer ons eie lewens begin breek en uit mekaar val, kom plak God ons stukkies weer met sy towergom aanmekaar. My letsels vertel ‘n storie van “net” ‘n mens vol foute.

Vandag besef ek weer dat almal (selfs die wat jy van hoër waarde ag) se koppies soms breek. Meestal is dit net ‘n kraak, maar party dae is dit in-sy-moer-in oppela vlenters.

Vanaand plant ek ‘n vetplant in my geel “net” ‘n koppie en bid vir sonskyn positiwiteit om steeds my oggende te kom vul vanaf die vensterbank.

Deborah

Verlede week is ek opsoek na inspirasie. Ek voel so “bleh” en niks tasbaar kom na vore nie. Ek lees Rigters op die oomblik en lees van Deborah wat hierdie sterk vrou was wat besluite gemaak het wat nasies beinvloed het. Ek soek die Deborahs om my of dalk in my en sukkel om haar te vind.

Vrydagmiddag sit ek en Dian op ons weeklikse date terwyl Lisa perdry. Die restaurant is tjoepstil en die kelnerin begin met my gesels. Ons praat oor Dian se krulle en ek hoor dat sy ook ‘n seuntjie het. Sy kyk na Dian en haar glimlag is warm, maar sy knip vinniger haar oë. Haar seuntjie bly in Zimbabwe by haar suster.

Sy moes twee jaar terug namens die familie die besluit maak om haar kind te los om te gaan werk in ‘n ander land sodat sy haar geld kan terugstuur om almal te ondersteun. Sy sê dis dalk beter so, want haar suster is ‘n beter ma as sy. Ek troos haar met sagte woorde, maar sy sê sy is okei. Agter haar brawade skuil daar egter ‘n broosheid en in haar oë sien ek net ‘n goeie ma. Ek vra haar waar die pa van haar kind is en sy vertel my dat hy aan nierversaking dood is toe sy 3 maande swanger was. Hy was die liefde van haar lewe.

My hart is stukkend vir hierdie vrou en ek vra haar of sy in God glo? Sy sê dis net God wat haar sterk en “together” hou. Sy sê elke oggend as die son opkom en die lig pienk is, word sy herinner aan sy beloftes aan haar. En vir nou gee dit haar vrede. Ek vra of ek vir haar kan bid en die trane loop terwyl twee vreemdelinge mekaar in geloof ontmoet.

Ek kyk na Dian toe sy die rekening gaan haal en ek besef weer die voorreg wat dit is om elke dag wakker te kan word en ‘n drukkie te kan kry. Om te sien hoe hy groei en hoe hy sin maak van die wêreld om hom. Ek hou sy hand stywer vas toe hy sy laaste slukkie koeldrank kom vat.

Ek betaal dubbel my rekening en sy huil weer. Ek gee haar ‘n stywe drukkie en vra wat haar naam is.

Haar naam … haar naam is Deborah.

Wondervrou!

Dis vakansie en die kinders hol alweer in die huis rond met ‘n “Mamma, ek is honger” wat soos ‘n alarm bly afgaan al het jy reeds drie keer snooze gedruk. Ek sit in my pajamas wat ek al dra (darem nie aanhoudend nie) vandat ek swanger was met Lisa. Ek bly sê dis tyd om maar die navy en wit kolletjie pakkie te laat gaan, maar nee, hier sit ek nogsteeds in hom. My hare is vasgebind in die wildste bolla op my kop. Ek het al laas maand belowe om ‘n afpraak te maak om bietjie te knip en te kleur, maar ek het vergeet en hier bolla ons maar weer. Die puisie wat my vanoggend gesmeek het om hom te druk, sit en klop nog op my ken. Oral om my lê ‘n magdom skoon wasgoed wat weggepak moet word en al wat ek wil doen is in die bed klim met ‘n boek.

Die son skyn skielik op my spieël en reflekteer ‘n ligkol op my kop. Ek word herinner aan die Wonderlike Vrou praatjie wat ek net verlede maand op Internasionale Vrouedag gegee het. Waar ek vroue toesgespreek het oor hulle vrou wees en dat God se lig altyd by hulle moet sigbaar wees, want ons dra almal eintlik krone op ons koppe. Ek moes diep grawe terwyl ek voorberei het vir die toespraak, want hoe praat mens vir ‘n uur lank oor wat dit beteken om ‘n wonderlike vrou te wees wanneer jy self nie glo dat jy een is nie. Volgens wat ons dink ‘n wonderlike vrou is, in die wêreld se oë, is ek alles behalwe ‘n wonderlike vrou.   

Sien, ek was ‘n regte tomboy as kind. Ek het die hoogste bome geklim en met elke dier wat ek ontmoet  het, ‘n diep gesprek gevoer. Ek het nie met poppe gespeel nie en het vir die eerste keer in graad 11 vir ‘n dansoptrede maskara aangesit. Ek het nog my lewe lank sterk opinies en is glad nie versigtig om teen mans se standpunte op te staan nie. Ek kan nie bak nie en kan net kos maak as ek nie ‘n resep moet volg nie. Ek maak nie tee in ‘n pot nie en het eers van tannie Emsie Schoeman se etiekboeke gehoor toe ek al 30 was. Ek hou daarvan om saam met die mans om die vuur te kuier en dra graag my eie swaar meubels.

 Iemand het my eendag as ‘n grappie “halfman” genoem en dit was asof iets binne my breek. Ek is 100% vrou; volvrou; heeltemalvrou, maar hoekom baklei ek so teen my vroulikheid. Ek het gebid dat God my sal help om my vroulikheid uit te “figure” en Hy het my op ‘n lang pad vol uitdagings gevat om my te wys dat vroulikheid eintlik mooi is. Dat sagte blomrokkies jou nie swak maak nie en dat dit jou eintlik sterker maak as jy voor mense kan huil.

‘n Wonder is iets wat bonatuurliks gebeur. God het Eva op ‘n bonatuurlike manier uit Adam se ribbebeen geskape. Ons is dus, bloot net omdat ons ‘n vrou is, reeds wonderlik. Jy hoef niks te doen om wonderlik te wees nie. Want God het jou op ‘n bonatuurlike manier gemaak. Uniek, mooi en heeltemal sonder fout.  

Vandag daag ek jou uit om nie net wonderlik te wees nie, maar ook om te kies om wonderlik te voel. Of jou hare nou gedoen is en of jy twee dae laas gestort het. Of jy nou net soos ‘n mal heks op jou kinders geskree het en of jy nog nooit ‘n rok gedra het nie. Of jy elke dag lipstiffie aansit en of jy kaalvoet in die kafee stap. Jy is ‘n wonder …. ‘n wonderlike vrou! Net jy kan beheer hoe jy oor die lewe voel. Net jy kan kies hoe jy oor jou lyf, jou vel, jou hare, jou ou pajamas voel. Net jy kan net daar waar jy tussen die wasgoed sit sê: “Ek is ‘n wonderlike vrou.”

Skoolmamma gids

My vriendin by die werk se dogtertjie is vir die eerste keer die jaar skooltjie toe. Nog nie skool-skool nie, maar ‘n ordentlike kleuterskool met fondsinsamelings en “get togethers”. Vanaand is sy op pad na haar heel eerste mamma “get together”. Sy voice note my met ‘n giggel in haar stem en sy vertel my van haar gesonde snack platter en wat sy aantrek. Ek oo en aa en dink terug aan die eerste keer toe ek na ‘n “onskuldige” mamma-piekniek genooi is. Elke skool het verskillende mammas en jy leer hulle almal binne ‘n paar sekondes ken.

Die in-beheer-mamma  groet dadelik vriendelik en vol selfvertroue. Sy was of hoofmeisie of eerste span netbalkaptein of albei by haar eie skool. Sy neem natuurlik leiding en ken almal se name, want sy het die whatsapp-groepie se kontakte memoriseer. Sy gaan iewers in die aand vir jou vra waar jy betrokke wil raak en jy gaan sterk moet staan as jy moet nee sê.

Die sosiaal-wanaangepaste-mamma  vermy oogkontak en lag twee minute na die grappie. Sy werk nie saam met mense nie en maak dit duidelik dat sy nie regtig betrokke wil wees nie. Tog wil sy by elke vergadering in die hoekie bly sit en sy vra altyd een ontydige vraag wat reeds beantwoord is.

Die ek-het-nie-tyd-nie-mamma  het letterlik nooit tyd nie. Sy wil betrokke wees en het voor gestaan toe talente uitgedeel is, maar sy is altyd laat vir alles. Sy het reeds veertien balle aan die rol en die skool bal is definitief nie nommer een nie.

Die klakous-mamma weet net hoe om elke fout uit te wys. Sy dra nie regtig by tot die groei van enige iets nie, maar huiwer nie om die donker wolkie oor elke sonskyndag te trek nie. 

Die ek-dink-ek-kan-als-doen-mamma  bied aan om met alles te help. Sy is ‘n “pro” in alles, maar wanneer dit by die werk kom, lyk dit maar redelik amateur. Meeste van haar projekte realiseer nooit nie en sy word na die derde mislukte poging in beheer gesit van die hotdogstalletjie.  

Die whatsapp-groepie-skim-mamma praat nooit op enige groep nie. Sy ry self as dit reën met haar sonbril op en ken niemand se name nie. Haar kind hou nooit partytjies nie en jy sal haar nooit ooit by ‘n skoolvergadering sien nie.

Die ek-is-net-hier-vir-die-wyn-mamma is gewoonlik reeds een glas voor die res. Sy sê maklik JA en hou van enige werkie wat nie te veel verantwoordelikheid verg nie. Sy het altyd ‘n groepie mede “wyn-mammas” wat saam oor stout grappies lag.

Die gesonde-snack-mamma bring net vars of tuisgemaakte snappies. Haar kind is intolerant vir iets en kry groen smoothies vir pousekos ingepak. Hierdie mamma is gewoonlik in ‘n gymbroek en het geen grimering nodig nie.

Die ek-werk-nie-mamma is altyd bereid om briefies te vou of winkel toe te ry vir die laaste goedjies. Al haar gesprekke begin met “ek weet nie hoe jy dit doen nie…” en eindig met “ek werk eintlik baie harder as toe ek gewerk het.”

Die nie-my-eerste-rodeo-nie-mamma het reeds 2/3/4/5 kinders op skool of klaar deur skool. Hulle ken elke onderwyser op die naam, weet wat in elke kwartaal moet gebeur en weet waar die spesiale Ouer Verteenwoordiger voorskote in die klubhuis gebêre word.

Tussen al die klomp mammas, vind jy op een of ander vreemde manier jou plek. Jy leer om net genoeg JA te sê sodat die onderwysers darem weet wie se ma jy is. Maar jy leer ook om net genoeg NEE te sê om jou eie kop bo water te hou. Jy leer dat sonder mammas en pappas se bydrae (byde fisies en finansieel) daar nie veel by publieke skole gebeur nie. Jy leer dat om ‘n skoolmamma te wees veel rowwer is as wat jy gedink het en jy het skielik meer respek vir jou eie ma. Jy leer baie vinnig wie jou mense is en dat jou “tribe” jou deur alle krisisse sal kry. Dat dieselfde mamma wat jy gedink het glad nie jou soort mens is nie, juis is wat jy langs die krieketveld nodig het.  Jy gaan leer dat jy uniek is en dat elkeen van dié mammas nodig is om balans te bring in ‘n mal wêreld. Maar meeste van alles gaan jy leer hoekom jy die beste ma vir jou kind is.

So as jy vanaand jou eerste mamma-kuier het, gaan met jou snack platter (tuisgemaak of die pak gekoopte kolwyntjies) en gaan wees net JY! Want JY is wat jou kind nodig het en JY is wat jou kind se skool nodig het. Herken jy van die mammas en watter mamma is jy?

128. Genoeg


Die wêreld van vrou wees gons omtrent deesdae van die woordjie “genoeg”

“jy is goed genoeg”

“ma-genoeg”

“vrou-genoeg”

My pa het onlangs iemand anders se mooi storie van “genoeg” op Facebook gedeel. Dit gaan kortliks oor ‘n pa en dogter wat mekaar groet met die woorde “Ek wens vir jou genoeg.” Toe ‘n vrou langs hulle die pa daaroor uitvra, toe sê hy:

Ek wens jou genoeg son om jou lewe op te helder.

Ek wens jou genoeg donker om die son meer te waardeer.

Ek wens jou genoeg lag om die trane mee af te vee.

Ek wens jou genoeg trane om die vreugde mee te vier.

Ek wens jou genoeg voorspoed om jou lewe te verryk.

Ek wens jou genoeg teëspoed om jou lewe te begryp.

Ek wens jou genoeg liefde om haat weg te dryf, en so gaan dit aan.

Vir ‘n paar dae loop ek nou al rond met hierdie storie in my hart. Wat is genoeg vir my? En wanneer ons sê ons is “genoeg” gee ons regtig die korrekte waarde aan die woordjie. Maak ons seker dat wanneer ons GENOEG gebruik, dat ons ook die sleg deel? Dat ons ons kinders blootstel aan GENOEG van alles … die lekker en die bitter.
Vandag is my wens vir jou en vir my GENOEG.

Genoeg siekte om die gesonde dae te waardeer.

Genoeg gesondheid om die lewe ten volle aan te pak.

Genoeg armte om elke sent te vier.

Genoeg rande om nog ‘n vleisie te kan braai.

Genoeg verveeldheid om die opwinding te koester.

Genoeg pret om saam te kan lag.

Genoeg isolasie om die ware van opregte vriendskap te besef.

Genoeg tyd saam om mekaar werklik opnuut te leer ken.

Genoeg afstand om mekaar gesond te hou.

Genoeg drukkies om te wys jou hart het dit steeds nodig.

Genoeg.
En waar dit dalk voel dat jou ‘genoeg’ op die oomblik net aan die donker kant dip, wens ek vir jou ‘n gebalanseerde skaal van genoeg. Net genoeg … genoeg goed, maar ook genoeg sleg. En hoe lekker om te weet dat net God weet wat jou genoeg is en net Hy kan dit vir jou gee. Hou vas, want HY is genoeg. Vir my en vir jou.

127. Die blou Le Creuset koppie

Daar is twee goed wat jou as Afrikaanse vrou hoog op die styllys sit:

1. Carrol Boyes slaailepels

2. Le Creuset enige iets

Vir waar dit vandaan kom en hoe hierdie twee name op die lys gekom het, moet jy maar by Nataniel gaan aanklop, maar as jy wil lyk of jy dit “gemaak” het by jou Afrikaanse boekklub/tuinklub/wynklub/vrouediens is hierdie die 2 items wat jou daar sal kry. En party probeer jou flous met ‘n soortgelyke koppie of lepel van Checkers, maar daai klein skrif onder, is wat werklik jou waarde bepaal.

Ek self gee nie werklik om oor hoe hoog of liewer hoe laag ek op hierdie ranglys lê nie, maar tog iewers diep binne wens ek ook jare al vir R200 se ‘n blou Le Creuset koppie.Toe ek verlede maand dié einste blou koppie as geskenk by een van my matrieks kry, kon hulle glad nie verstaan hoekom ek skielik meer korrek praat en regopper loop nie, want sien… hulle is meestal Engels en sal moontlik nooit verstaan van vrouwees in Afrikaanse kultuur nie.

My man het my vreemd aangekyk toe ek tekere gaan oor hierdie amazing koppie wat hy nooit mag gebruik nie en mooi moet was. Hy het gelag vir die fêncy koppie tussen ons blikbekers op die rak. En toe ons verlede week by pelle gaan kuier met ‘n hele reënboog Le Creuset koppies het hy dadelik my oë gesoek vir ‘n steelglimlag.

En vandag toe ek met regop skouers uit my spesiale koppie drink, vang dit my. As God se stempel op jou hart is… al is dit hoe klein geskryf, is jy ook ‘n Le Creuset koppie. Jy gee waarde met jou woorde. Jy is kosbaar en smaakvol. Jy staan uit bo die blikbekers en al is jou funksie dieselfde, weet mense jy is anders, want jy is uitgekies en spesiaal. Nie almal verstaan jou doel nie, maar jy is die duur prys werd. Elke sent daarvan werd!

Mag jy vandag jou waarde besef. Mag jy jou kop oplig.

Want… Jy… Jy is Le Creuset!!

126. Die groot verlies!

Verlede naweek het ek ‘n groep 16-jarige meisies afgeneem vir ‘n “friendship-shoot”. Hulle was mal en sorgvry. Hulle het gelag en was laf. Hulle was mooi, sonder make-up en hulle was maer. Hulle was opreg en vol lewe…net soos dit hoort. En toe iewers in die middel van die alles, hoor ek dit: “Steek net my maag weg!” “Nee, my arms!” “Ek is te vet!”

In matriek het ek alles geëet wat ek wou, maar ek het elke dag gedans en elke dag geoefen. Ek het nooit gedink aan “carbs” of vette in my kos nie. By my matriekafskeid het die dominee my ma gevra of ek ‘n eetsteurnis het, want ek was SO maer. Borsbene wat uitsteek en my kop het groter gelyk as wat reg is. Tog het ek in ‘n boardshort geswem, want my “bene is HUGE”. Ek was gelukkig met my maag en arms, maar my bene. Nee.

Op Universiteit het ek ver ente klas toe geloop, maar ophou dans. My kop het stelselmatig meer in proporsie gelyk en teen my 4de jaar het ek al 10 kg opgetel. Steeds was ‘n bikini sonder ‘n kortbroek uit en terwyl ek in die spieël kyk, het ek net die foute gesien…ek het veral op my neus en ore gefokus, maar die bobene was steeds ‘n issue.

Toe begin ek werk. Ek was heeltyd besig, maar ek het meer bier gedrink en minder geloop. Binne ‘n jaar in ‘n half was ek op met nog 8kg. Toe ek hoor my sussie trou in Cyprus, het ek dadelik by Oom Leon, met sy pt broek en fluitjie om die nek, se gym gaan draai en hy en een of ander USN pilletjie het my gehelp om 7 van die 8 te verloor. Ek was hartseer oor daai 1 kg. Ek wou so graag weer lyk soos ek op universiteit gelyk het.

En so, deur die jare, het die gewig maar net bly kom. Ek het elke nou en dan ‘n sweetsessie, ‘n Zumbaklas, ‘n Taebo video of ‘n paar situps gedoen en hier en daar ‘n shake of ‘n pilletjie probeer. Maar ek geniet kos en ek hou nie van draf nie. Toe besluit ek dat ek sal wag tot na kinders. Want wat help dit ek kry my lyf reg en dan moet ek weer van voor af begin na die swangerskappe. Dit het goed geklink, maar tog sit ek vandag hier met my jongste al amper 3 en steeds het ek nog niks weer aan my lyf gedoen nie.

Vandag spring hierdie foto op my Facebook memories. Dis 12 jaar gelede in Cyprus op ‘n boot geneem net voor my sussie se troudag. Ek was so kwaad oor daardie 1 kg wat ek nie betyds kon verloor nie, dat ek nie sonder daai rompie wou loop nie. Nou kyk ek daarna ek lag kliphard oor daai EEN kilogram. Ek wens ek kon weer destyds sonder issues in daai mooi blou water spring. Ek wens ek het in matriek al die boardshort verbrand. En voor ek dit weet preek ek vir die 16 jarige meisies.

Jy is mooi! Nes jy is! Jou gewig maak nie van jou mooier nie. Jou gesondheid is belangrik, maar om jou kop te breek oor ‘n kilo hier of ‘n kilo daar is meer van ‘n VERLIES as die gewigsverlies waaroor jy jou so kommer. Dra daai bikini! Swem sonder ‘n kortbroek! Spring sodat jou maer maag wys! Let go! Dis nie ‘n kompetisie nie!

En toe, preek ek sommer vir myself ook. Wie gee werklik om? Wat help die 28 dae se uithonger nou eintlik? Wil ek gewig verloor? Ja! Sal ‘n maerder lyf my help om beter oor myself te voel? Nee! Want toe ek 30 kg ligter was, het ek ook net die foute gesien. So miskien is die skaal nie die probleem nie, maar die kop dalk.

So vanoggend toe ek in die spieël kyk en sien dat my bene uiteindelik nie meer ‘n issue is nie, want my hele lyf het nou bygekom, kan ek net glimlag. Gaan ek die jaar in my swembroek swem? JA! Gaan ek dink aan wat ander dink? JA! Gaan dit my pla? NEE! Want hey…ons is vrouens. Ons sal nooit tevrede wees met ons gewig nie en ons sal altyd worry oor wat ander van ons dink. Maar as ons toelaat dat dit ons van die lewe weghou, is dit die grootste verlies! 

125. Eerste dag terug.

IMG_20200630_073156

Volgende week begin my dogtertjie weer met skool en vandag het die skool ‘n oriëntasie sessie vir die gr. R’s gehad. Hulle het voor die tyd ‘n mooi video gestuur wat presies wys hoe dinge gaan werk. Ons het die afgelope paar weke gepraat oor hoe dinge verander het en hoe dit nou gaan wees. Ons het cute stories gekyk oor maskers en het ‘n boekie gelees wat baie eenvoudig vir die kleintjies op hulle vlak verduidelik hoe als werk. Ons het geoefen hoe om met die maskers te speel. Die skool was ongelooflik en het mooi kommunikeer en ons het geweet presies hoe dit gaan werk.

Vir die laaste week tel sy al die dae af om skool toe te gaan en is super opgewonde. Sy het gisteraand al haar klere gekies vir vanoggend en Snow (haar hond wat tydens lockdown “gerescue” is) moes ook ‘n masker hê, want hy sal haar beskerm.

Toe ons by die hek inry was sy nog borrelend. Maar toe sy die onderwysers met face shields en maskers by die ingang sien, het sy my hand skielik stywer vasgehou. Sy was tjoepstil terwyl ek dit “lekker” en “fun” laat klink om deur die stappe te gaan. Sy het omgekyk toe hulle instap, want dis waar mamma haar moet los. Ek kon die vrees voel en toe ek haar ek-is-bang-o-hel-mamma-help-my ogies sien, moes ek vinnig omdraai sodat sy nie my trane sien nie. Het ek haar nie genoeg voorberei nie? Gaan sy ok wees? Sal sy aanpas?

In die kar dink ek terug aan my eerste dag terug by die skool na inperking en ek herinner myself dat ek (as grootmens)2 keer gehuil het. Dis vrek scary. Dis oorweldigend.  Dis vreemd. Dis onnatuurlik. Dis nie hoe ons is nie. En die ergste van alles is dat mens nie kan drukkies gee nie. Ek kon sien dat my dogtertjie se juffrou haar net ‘n drukkie wou gee. Ek kon sien dat dit al was wat my dogtertjie wou doen. En dit suck!

‘n Paar uur later kry ek foto’tjies van haar juffrou. Sy het vir hulle monstertjies gemaak en almal het hulle eie plekkie met hulle eie goedjies. Ek weet hulle is veilig, maar ek is steeds bekommerd oor hulle hartjies. Ek hoop en glo dat hulle weer gaan huppel. Weer gaan kossies deel. Weer gaan drukkies uitdeel. Weer gaan speel.Ek troos myself dat kinders vinnig aanpas en dat sy seker al reeds ok is met die situasie. Ek weet dit gaan beter raak en ek weet dit gaan ok wees, maar vandag is hierdie mamma hart seer. En vanmiddag gaan ons ekstra drukkies gee. Sommer baie.

 

IMG-20200630-WA0003