Die tweede week by die huis het iets baie spesiaal met my gebeur. My buurvrou oor die pad (wat ek nog nie so goed ken nie, maar wel vriendelik groet as ons mekaar in die pad kry) het my uit die bloute gebel. Sy het ‘n tweeling wat ook prem was en haar man was ook in die vloot…so sy ken die hele hospitaalstorie. Sy het my vertel dat hulle ‘n gebedsgroepie het wat bestaan uit vroue uit verskillende kerke wat elke Woensdag bymekaarkom om te bid. Dis almal mammas (en een ouma) wat of glad nie werk nie of net deeltyds werk. Sy sê toe dat hulle heeltyd terwyl ons in die hospitaal was vir my en vir klein Lisa gebid het (ek weet van niks). Sy vra toe of dit enigsins moontlik is vir hulle om die Woensdag by my te kom inloer, want hulle wil so graag vir ons bid.
Ek was stomgeslaan. Weereens was hierdie ‘n groep vroue wat ek nie geken het nie. Mense wat net vir ons omgegee het omdat hulle engelmense is. Ek hoor vandag nog elke nou en dan van mense wat vir ons gebid het. Mense oorsee…of die gebedsgroep by die skool…of ‘n ma van een van my leerders…of ‘n vriendin se ma se sussie in die Karoo se kerk…of ‘n ou skoolmaaitjie wat per ongeluk op Facebook van ons storie gehoor het…of ‘n tannie wat by ‘n ander tannie se vriendin gehoor het van ons storie en in hulle selgroep vir ons gebid het. Dit is nogsteeds vir my oorweldigend om te dink dat daar soveel mense was wat vir ons omgegee het en dat God soveel mense bymekaar gebring het deur Lisa se storie. As ek kyk hoe ongelooflik geseënd ons tydens die krisistyd was, kan ek net DANKIE sê.
En so het ek daardie Woensdag ‘n groep ongelooflike mense ontmoet. Hulle het met warm, oop glimlagte by die voordeur ingestap en my huis was skielik gevul met soveel liefde. Party van hulle het selfs presente gebring…..weereens was ek oorweldig met hulle goedheid en het ek die trane wat in my oë gevorm het weggesteek en koffie gemaak. Min het ek toe geweet hoe hulle my lewe sou verander.
Elkeen het ‘n beurt gekry om Lisa vas te hou en die ‘ouma’ tussen ons het haar rustig aan die slaap gekry. Ek het met hulle van die hospitaalstories gedeel en ons was almal op ‘n stadium in trane. Dit was vir hulle wonderlik om vir ‘n slag die resultate van gebede en God se handewerk in lewende lywe te sien. Mens bid soveel keer vir mense wat jy nie ken nie en mens sien partykeer nooit hoe dinge uitwerk nie.
Hulle het my gevra of ek nie tydens my kraamverlof saam met hulle wil bid nie. Dit was vir my wonderlik om elke Woensdag vir amper 3 maande saam met die wonderlike mense te bid. Behalwe vir almal se lekker koffie (almal behalwe ek het een of ander ‘fancy’ koffiemasjien…met melk-froth-dingetjie en al) het ek ook in ‘n mate my weeklikse harts-kaffiene gekry. Hulle het my normaal laat voel as ek wil afpak en net wil huil. Hulle het my bemoedig en hulle wysheid (wat net ervare mammas het) het my hoop gegee.
Dit was vir my ongelooflik om elkeen van die vrouens te leer ken en om saam met hulle weer vir ander mense (wat ek meestal nie ken nie) te bid. Dit het my ook die geleentheid gegee om uit my pajamas te kom en uit die huis te kom, maar om dit in ‘n beskutte, veilige omgewing vir Lisa te doen. Dit was heerlik om uit my maag uit te lag vir van hulle stories en om saam te kan giggel oor van die ervarings wat ons almal deel.
Maar meer belangrik was dit vir my siel goed om weer ordentlik te bid. Nie net ‘n vinnige gebedjie nou en dan nie, maar ordentlik te bid. Dit het weer my hart oopgemaak vir soveel dinge en ek het gevoel hoe die Here my weer toerus om met vrymoedigheid voor mense te bid. Nie omdat ek goed bid nie…maar omdat ek bid. Dit het my weer opnuut geleer dat gebede nie groot woorde en gestop vol bybelversies hoef te wees nie, maar dat ‘n maklike eenvoudige gebed wat uit jou hart kom perfek is.
Ek mis hierdie oggende vreeslik vandat ek weer by die werk is en elke Woensdagoggend bid my hart saam met hulle. Dis heerlik om elke nou en dan van hulle raak te loop en om die paar wat in ons kerk is Sondae te sien. Ek is so bly dat ek by die een van my “nuwe” vriendinne se selgroep aangesluit het en dat ek nou elke Sondagaand saam kan deel. Ek waardeer hierdie mense so baie en is elke dag dankbaar vir God se groot plan en hoe hy keer op keer die regte mense op ons pad stuur.
Dit was vir ons n reuse voorreg om jou en Lisa by ons groepie te kon hê.Ons mis julle baie xxxx
LikeLiked by 1 person
Prys die Here want Hy is goes!!! ‘Die gebed van die regverdiges het groot krag ‘
LikeLiked by 1 person
So ‘n mooi post ♥ Liiiiiiiiiiiiiefde vir jou
LikeLiked by 1 person
Ek lees nou eers en wil huil… God se planne is amazing!! So ook vir jul proagtige dogtertjie. Ek het ook n pragtige vrou (dis nou jy!!) gedurende daardie gebedsoggende ontmoet!xxxx
LikeLike