34. En ons word geTOETS!

10408791_551016535010447_1316324493566524017_n

Om ontslaan te raak moes ons ‘n paar goedjies doen. Eerstens moes ons inspuitings kry. Aangesien Lisa so vroeg gebore is, het sy nog glad nie enige inentings gekry nie. ‘n Suster het vir Lisa als wat sy nodig gehad het om op datum te kom, gegee. En sy het aan ons verduidelik dat sy altyd ‘n bietjie agter gaan wees met al die inentings…byvoorbeeld sy het haar 6 maande inspuitings eers op 8 maande gekry, ens.

Tweedens moes sy ‘n Synagis inspuiting kry. Dit is ‘n baie duur inspuiting wat Premies kry om hulle teen die RSV virus te beskerm. Gewonde mense se verkoue en griep is lewensgevaarlik vir die klein babatjies. Dit sou beteken terug hospitaal toe en terug op suurstof. So om daarteen te keer kry hulle hierdie inspuiting (een keer ‘n maand) wat glo vreeslik brand. Die naald van die inspuiting is te groot om in haar been te druk so sy moes die dosis opdeel en in elke been inspuit. Lisa het net so bietjie gehuil en toe weer rustig geraak. Tawwe koekie.

Derdens het ons ‘n CPR kursus gekry. Hulle het ‘n pop (wat groter was as Lisa) by die kamer ingebring en net aan my verduidelik wat om te doen as ons by die huis is en Lisa hou op asem haal. Ek het aandagtig geluister en Mnr. Van Dyk se noodhulpklasse het deur my kop gespeel. Ek het so hard gebid dat dit tog asb nooit met my moet gebeur dat Lisa op hou asem haal nie. Ek weet nie of ek enige iets sal onthou nie…en ek het mooi gevra dat die Here my daarvan moet spaar.

Laastens moes haar ogies getoets word. Ek het altyd gedink ‘n oogtoets is maklik. Mens lees mos maar net ‘n paar lettertjies op ‘n plakkaat en hulle kyk met ‘n vergrootglas-instrument in jou oë…Reg?!? Maar hoe doen mens dit op ‘n baba? Niemand kon my voorberei vir wat op ons gewag het nie. Ek wens iemand het ten minste probeer om ons voor te berei…maar weereens is ons sonder enige kennis of verwagtinge af na die oogkliniek op ‘n ander vloer in die hospitaal.

Daar aangekom, het die oogarts aan my verduidelik wat gaan gebeur. Hy het vir my oogdruppels gegee wat ek elke 10 minute vir ‘n uur in haar ogies moet drup. Dit vergroot glo die pupille. Dan na die uur, moet ons terug kom sodat hulle die oogtoets kan doen. Ons is daar weg met die oogdruppels en dit was nogals ‘n moeilike storie om so tussen deur Kangaroo Care elke 10 minute oogdruppels in haar ogies te drup. Sy het geskree as ek net naby haar oë kom en het met haar klein armpies my hande weggeklap.

Maar na die uur, was ons terug in die wagkamer. Die “normale” mense in die wagkamer se reaksie op my klein babatjie het my vir die eerste keer blootgestel aan die reaksie van “gewone” mense. Die “OH MY WORD! Is dit ‘n regte baba?” “Sjoe maar sy’s klein?” “Is sy normaal?” “Ek dog dis ‘n pop?” het ek van alle kante in die wagkamer gehoor en moes weer (nie die eerste keer nie en verseker nie die laaste keer nie) die storie vertel van hoekom en hoe sy so vroeg gebore is.

Die oogarts het ons ingeroep en hy was regtig amazing. So sagte, vriendelike, rustige man. Hy het aan my gesê dat die toets nogals traumaties is vir die ouers en as ek nie wil by wees nie, sal hy die ontvangsdame vra om haar vas te hou terwyl hy die toets doen. Ek het gedink oor als wat sy al deur is en als wat ek al gesien het en het besluit om te bly en haar self vas te hou. Min het ek geweet hoe erg traumaties dit regtig is.

Hulle gebruik sulke metaal “clamps” om haar ooglid oop te hou. Natuurlik skree Lisa vreeslik erg asof ons besig is om haar dood te maak. En ek moet haar so stil as moontlik hou en haar arms vasdruk. Dan moet hulle ‘n instumentjie gebruik om die bal van die oog weg te druk sodat mens kan sien of die aartjies wat om die oogbal groei vorentoe groei. Aangesien daar nie sulke klein instrumente is nie, gebruik hulle sommer die ronde kant van ‘n paperclip…ja…’n paperclip! Dan skyn die dokter met sy baie skerp lig in die oog en kyk deur sy vergrootglasbril (wat lyk soos iets uit transformers) na die oog. Sodra die een oog klaar is, dan doen mens dieselfde met die ander oog.

rop pic

Waarvoor hulle kyk is iets genaamd ROP (Retinopathy of prematurity). In allermanstaal is dit maar net om te kyk of die aartjies vorentoe groei en nie buitentoe nie. Aangesien prem babas suurstof moet kry om te lewe, gebeur dit gereeld dat die aartjies uitweg groei as gevolg van die hoë vlakke van suurstof. Baie premies kry dit, en dus is die toets noodsaaklik vir alle premies.

Ek onthou hoe ek gevoel het toe sy so skree. Ek wou haar beskerm en dit vir haar makliker maak en het maar net heeltyd in my “kalmste” stem gesê: “Dis ok…toemaar, toemaar…dis amper klaar.” Maar o hel…binne in my hart het ek gevoel asof ek aggressiewe bollemakies maak. Dit was die ergste toets wat hulle met haar gedoen het, en alhoewel ek weet hoe belangrik dit is, wou ek dit net klaar hê. Ek kon nie wag dat die dokter sê ek kan haar maar optel nie. Sy het sulke ruk-bewegings gemaak soos sy huil…heeltemal histeries. Ek het soos ‘n verraaier-ma gevoel. Hoe kan ek toelaat dat iemand haar so seermaak. My werk is dan om haar te beskerm.

Die Here het my daardie oggend weer bewus gemaak van Sy groot plan. Dat ons partykeer moet seerkry om iets groter en beter te ervaar. Lisa kan sien en haar ogies is perfek! Maar om seker te maak daarvan, moes ons eers deur daardie toets gaan. Die toets was aaklig, maar die einde was wonderlik. So word ons vandag nog baie getoets, maar ons weet die einde is altyd iets spesiaal en die les wat ons leer is so die moeite werd.

Blend 2172

2 thoughts on “34. En ons word geTOETS!

  1. Dis so erg, ek kon nie alles lees nie!
    Dankie dat jy dit vir ons vertel. Dit moes VERSKRIKLIK wees. So bly julle is veilig deur die dinge.
    Baie mooi opsomming aan die einde. Ons word sterker as ons die toets deurstaan.

    Like

  2. Eks het PRESIES SO gevoel toe hulle destyds daai pypie in my baba se neus en keel afgedruk het om die slym uit te suig. Syt die rsv virus gehad. Ek het elke oomblik gehaat.

    Like

Lewer kommentaar