43. ‘Baby’moon…letterlik

10346197_10154773956570179_6023356388116934342_nTerwyl dit nou deesdae die ‘in’-ding is vir almal om op ‘n BABYmoon te gaan, het ons ook inderdaad op so ‘n vakansie gegaan. ‘n Babymoon is ‘n vakansie waarop mens gaan terwyl jy swanger is. Om so vir oulaas net man en vrou te wees. Gewoonlik is hierdie “trippies” oorsee (as mens geld het), maar kan ook net vir ‘n naweek weg wees (as mens minder geld het) of ‘n mini-roadtrip met die opslaanmatras in die bakkie om die blok (as mens arm is). Die idee daarvan is maar net om iewers oor te slaap en om die kinderlose bestaan vir een laaste keertjie te geniet.

Ons babymoon was ongelukkig nie terwyl ek nog swanger was nie…so ons babymoon het verander in ‘n regte ‘baby’moon…want ons ‘baby’ was saam met ons daar…letterlik. Nadat al die chaos van hospitale en al die vrese en skok van ‘n vroeggebore baba bietjie bedaar het, het ek en my man besluit ons kort ook bietjie ‘n breek. ‘n Breek van ALLES en ALMAL…insluitende die bedagsame boodskappe wat ons op ons fone gekry het om te hoor hoe dit gaan. Ons wou net vir ‘n bietjie WEES…net normaal kuier en wegkom van die gejaagdheid. Ons het besluit om te soek na ‘n plek wat nie selfoonontvangs het nie, want ons wou regtig net bietjie alleen wees. En ons kon nie oorsee gaan nie (al het ons in elk geval nie geld gehad nie)…so ons het ons soektog beperk tot 2 uur buite Kaapstad.

Ons het die perfekte plekkie gevind: Somerset Gift net buite Swellendam/Buffeljags. Daar was ‘n dam en ‘n rivier sodat my man kon visvang. Daar was geen tv of selfoonopvangs nie. Daar is 3 pragtige klein selfsorg-eenhede en dit is asemrowend mooi. En om alles te top…dis net R550 ‘n nag. Sonder om te lank daaroor te dink, het ons dadelik vir ons die Rose cottage bespreek. g36478

Vir die eerste keer in ons lewe het dit nogal lank gevat om die kar te pak. Gewoonlik gooi ons net elkeen vinnig ‘n sak in en siedaar, maar nou moet ons skielik dink aan pak. Het ek genoeg doeke? Het ek die bad? Het ek genoeg klere? Het ek als onthou? Wat as sy op al 3 kombersies opgooi? Hoe ver is dit na die winkel toe vir as ek iets vergeet het? Maar toe ons uiteindelik in die kar is, en Lisa salig in haar stoeltjie slaap…het ons babymoon begin.

Somerset Gift was perfek. Ons huisie was eenkant en afgesonder. Daar het koeie en twee perde rustig in die kampie voor ons huis gestaan en wei. Mens kon niemand anders hoor nie en die geluide van die voëltjies en insekte was hard hoorbaar. My hart het sommer dadelik rustig en reg gevoel. Geen radio in die agtergrond nie, geen karre, geen stemme, geen stres, net ons 2 (en ‘n baba).

10501675_10154773956045179_471209787497835958_n

Die naweek wat ons gekies het was ook spesiaal omdat dit volmaan was. Aangesien Lisa op ‘n volmaan gebore is (en sy vir ‘n week of so bekend was as Full Moon Kriel) was dit vir ons ekstra spesiaal om elke aand rondom die vuur te sit en na die ongelooflike maan te staar. Ons het teruggedink aan die 2 volmane wat al verby was en het met dankbaarheid en “in awe” gestaan vir alles wat al gebeur het. Lisa was net oor die 3 maande oud en die dinge wat ons in 3 maande geleer het, was fenominaal. Die Here was bitter goed vir ons en dit het my ietwat klein laat voel in die lig van al die GROOT goed wat ons in die 3 maande beleef het. Al die wonderwerke en seëninge was effens oorweldigend. libra-full-moon-331-20110413-57

Die weer was perfek (alhoewel hulle ‘n storm voorspel het – nog ‘n wonderwerk?). Ons het lekker gaan stap (met Lisa styf teen my bors ge’wrap’) en my man het heerlik in die kano’s wat by die dam lê gaan visvang terwyl ek en Lisa op die wal sit en boeklees. Dit was heerlik om nie te veel te dink nie…om nie grimering (wat die donkerkringe van veels te min slaap en veels te veel stres wegsteek) aan te sit nie…om nie te dink aan wat ons volgende gaan eet nie…om te stap as jy wil stap en te lê as jy wil lê…om die vuur al teen 9:00 die oggend aan te steek omdat dit lekker is (nie om te braai nie). Ons het ure op die stoep gesit en net gesit. Ons hoef nie heeltyd met mekaar te gepraat het nie, want ons was ok. Ons het die ergste 3 maande van ons lewens oorleef.10670264_10154773955380179_5294737160814808043_nLisa was meeste van die tyd stroopsoet, maar toe dit op die eerste aand kom by slaaptyd wou sy nie ophou skree nie. Maak nie saak wat ons doen nie, sy skree. Ek het gesus en melk gegee en gesing en gestap en lunges gedoen en geswaai en gehop…en Lisa het net geskree. Toe ek uit pure desperaatheid my selfoon op haar carrycot neersit met ‘Joshua na die Reën’ se ‘Lig op die horison’-liedjie…het sy skielik ophou huil. Sy was tjoepstil en elke keer as die liedjie ophou, begin Lisa weer skree. Ek het die liedjie op repeat gesit en rustig gebraai terwyl Lisa bietjie haar Afrikaanse musiekkennis opbou. Die res van die naweek was sy rustig en kalm en het heerlik saam met mamma en pappa gekuier.

10696389_10154773955580179_4374406828523878266_n

Alhoewel ons aande nie gevul was met passie en romanse nie, was ons babymoon perfek…perfek vir ons. Ons het ons bed gedeel met ‘n derde persoon…’n bondeltjie mens. Ek moes die plek op my man se bors (my gunsteling-veiligvoel-plekkie) weggee sodat Lisa daar kon lê. Maar dit was ok, want sy is tog die skepping van ons liefde vir mekaar. Om hande vas te hou terwyl ons stap en om mekaar ‘n piksoentjie te gee vir nagsê was genoeg vir eers, want ons liefde het tussen ons gelê. Om diep in mekaar se oë te staar en net eenvoudig te weet…net te weet, was genoeg.

10352570_10154773956730179_3640420875928752899_n

Die naweek was net wat ons nodig gehad het. My hart en gees het weer heel gevoel. Ek kon alles wat gebeur het rustig inneem en terugdink en reflekteer. Somerset Gift sal ALTYD ‘n bitter spesiale plekkie vir ons wees en ek kan nie wag om terug te gaan nie…die keer net met ‘n dogtertjie wat op die trampoline spring, op die swaai sit ry en saam met pappa op die kano gaan visvang.

10689893_10154773956920179_6125022140806289696_n

1 thoughts on “43. ‘Baby’moon…letterlik

  1. So ‘n wegbreek is goed… vir die res van julle lewe. Dit doen ‘n mens so goed. Selfs ons, wie se kinders al almal uit die huis is, baat by so ‘n naweek weg van almal, wat ons daar is vir mekaar, al gesels ons nie die hele tyd nie. Die stil saamwees.

    Like

Lewer kommentaar