48. Selfs ‘n celebrity kort dokters

wp6cdffc32_06

Ons was baie gelukkig om by 2 militêre hospitaal te wees, want hulle het iets genaamd HIGH RISK CLINIC. Dit gebeur een keer ‘n maand op ‘n Vrydag en dit is ‘n groep dokters uit verskillende spesialiteitsvelde wat saam na jou babatjie se ontwikkeling kyk. Dit sluit ‘n pediater, spraakterapeut, speelterapeut, arbeitsterapeut en fisioterapeut in…so al die fundi-peute!

Die hospitaal verwag dat alle babas wat deel van ‘n twee- of drieling is, asook alle prem babas vir hierdie ondersoek moet kom. Gewoonlik kom mens elke 3 of 6 maande vir ‘n ondersoek totdat die baba 2 jaar oud is. Op 2 is hulle veronderstel om heeltemal met hulle ouderdom se ontwikkeling op te gevang het. Tydens hierdie ondersoeke kan die dokters vroegtydig probleme optel en moontlike intervensies doen om te keer dat dit vererger.

Prem mylpale is heeltemal anders as gewone mylpale. Daar word gepraat van ‘Corrected vs Actual age’. Actual age verwys na haar regte ouderdom…soos van die dag wat sy gebore is. Corrected age word bepaal vanaf haar due date. Mylpale gaan tot op 2 volgens hulle Corrected age. Byvoorbeeld as ‘n baba op 6 maande moet sit…moet Lisa teen 9 maande kan sit. Dit was een van die moeilikste goed as ma, want mense verstaan nie altyd nie. En as ‘n ma wil jy so graag hê jou baba moet al haar mylpale behaal dat dit soms bietjie van ‘n obsessie raak.

images3G8BZ09H

Ons eerste High Risk was toe Lisa 3 maande oud was. Op 3 maande was Lisa maar nog redelik ‘n blob en het nog nie vreeslik verder ontwikkel nie. As ek daaraan dink moes sy eintlik eers op 3 maande gebore gewees het, so dis seker maar reg so. Ek was vreeslik senuweeagtig vir die ondersoek. Wat as hulle iets agterkom wat met haar verkeerd is? Wat as hulle sien sy is nie normaal nie? Wat as sy nie ontwikkel nie?

Voor jy na die kamertjie gaan waar hulle die ondersoek doen, word jou baba eers geweeg, gemeet en ook die omtrek van die kop word gemeet. Als het ok gelyk en ek het op die stoel in die gang voor die high risk kamertjie gewag. Die volgende oomblik het ‘n verpleegster in die gang af gekom. Sy het gevra of dit nou Lisa Kriel is. HUH?! het ek gedink…wie is jy? en hoe ken jy ons? Sy het my vertel dat ALMAL van hierdie wonderbabatjie weet en dat haar storie die hele hospitaal vol lê. ‘n Storie van hierdie groot wonderwerk en dat sy die eerste micro-prem baba was wat hulle al gehad het, wat geen probleme gehad het nie. ‘n Storie van hoop en ‘n storie van lewe. Ek het skielik ‘n bietjie regopper gesit en my skouers was terug, want hierdie mamma was so trots.

1897712_10154881814245179_9164969569286801913_n

Tydens die eerste ondersoek kon hulle nie veel sê nie, want op 3 maande moet babatjies nog nie kan rol of sit of staan nie. So hulle het meer gekyk na haar nekkie en die beweging van haar ogies. En alles het normaal gelyk. Die pediater het egter iets opgetel wat haar bekommer het. Die omtrek van haar kop het volgens hulle grafieke gewys dat haar kop veels te vining groei. Dit kan moontlik bloeding op die brein wees (iets wat algemeen by premies voorkom) of dit kon net wees dat die eerste omtrekmeeting (wat in Grootte Schuur gebeur het) verkeerd was. Die ding is dat prem babatjies maar gekenmerk word met hulle effens groter koppies en uitpeulerig ogies. Die pediater het ons dadelik vir ‘n brein scan gestuur net om liewer seker te maak.

10178044_10154782051455179_2437032516549483170_n

Ons was al voorheen vir so scan, maar die keer was ek meer senuweeagtig. Dit was asof ek tydens ons tyd in die hospitaal meer voorbereid was vir al hierdie toetse en goeters. En nou dat sy al vir ‘n maand by die huis is…moet alles mos net reg wees. So die scan was vir my nogal erg. Ek moes haar vashou terwyl hulle die scan op haar koppie doen. Weereens was daar niks fout nie en Lisa se brein lyk perfek…klein, maar perfek…soos sy. En die pediaters het dit afgeskryf as ‘n fout op die geboorte rekords. Om te dink dat iemand se verkeerde afmeting veroorsaak dat daar so gestres word en dat breinscans gedoen moet word.

Vir ons tweede High Risk afspraak op 6 maande was ek meer gereed. Ek het presies geweet hoe dinge werk en ek het geweet wat om te verwag. Lisa kon al omrol…albei kante toe en sit vir ‘n paar sekondes. So ek was opgewonde om te hoor wat die dokters te sê het. Terwyl ek weer buite die kamertjie wag, het daar nog ‘n vrou langs my kom sit en wag met haar tweeling wat op 38 weke gebore is. Die dogtertjie het ‘n vreeslike lelike vlek op haar gesig en die seuntjie het ‘n abses op sy kop. Hulle was 7 maande oud, maar kon nog nie sit of omrol nie. Ek was skielik onsagtlik dankbaar. ‘n Gevoel wat ek so baie ervaar het dat dit nou ‘n spesiale plekkie in my hart het…net langs liefde en hoop.

1513180_10155087981255179_7489384850272380912_nDie dokters was baie tevrede en haar koppie het selfs minder groot gelyk. Lisa het soos altyd ‘n vreeslike ‘show’ opgesit en omtrent ‘perform’. Sy aard mos maar bietjie na my en is mal oor aandag. Sy was so oulik dat die pediater gou ‘n paar ander dokters en verpleegsters gebel het. Haar woorde was: “Lisa Kriel is here…you must come see this!” en so het my Celebrity baba se aanhangers opgedaag. En ge-oooo en ge-aaaa oor hoe ongelooflik dit is dat sy ‘corrected’ mylpale op haar ‘actual’ ouderdom haal. Hulle het foto’s gevat van haar en saam met haar…en Lisa se FANBASE het van toe af net gegroei. As sy maar net weet…hierdie mamma is haar grootste FAN!

47. Playdates met groter, tog jonger maatjies

Dit is heerlik om saam met vriende swanger te wees. Dit is lekker om saam te kan gesels oor ons probleme en om te lag oor al die stories. Nog lekkerder is die idee om saam kinders te hê. Kinders wat maatjies sal wees omdat hulle mammas maats is. Terwyl ek met Lisa swanger was, was daar baie van my vriendinne swanger. Ongelukkig was dit al my ver-bly vriendinne en ons kon nie so gereeld as wat ons wou saam kuier nie, maar dit was regtig spesiaal om die swangerskapreis met hulle te kon deel.

Toe my swangerskap so bietjie vroeër eindig, het hulle my ongelooflik ondersteun…engelmense. Ek het daagliks op watsapp met hulle gepraat en hulle was so bemoedigend en ondersteunend. Nadat alles bedaar het en almal se kinders gebore is, kon ons nie wag om mekaar se babatjies te ontmoet nie en die “playdates”-stadium het sommer gou begin. Die playdates is mos maar meer vir die mammas, maar in elk geval. 10615974_10152652413136815_2248963542294178448_n

Playdate nommer een was in September saam met my universiteits-troufotograaf-hartsvriendin en haar pragtige klein dogtertjie. Sy was so ‘n maand na Lisa gebore. Ek het vreeslik uitgesien om te sien hoe sy lyk, want op Facebook was sy opvreetbaar oulik. Snaaks hoe baie ek gedink het aan hoe groot sy gaan wees. Ek het nie veel ander babas (van Lisa se ouderdom) gehad om haar mee te vergelyk nie, en wou vreeslik graag sien hoeveel kleiner of groter sy gaan wees.

Dit was heerlik om bietjie uit te kom en ons het in Mugg n Bean ontmoet. Haar dogtertjie het rustig geslaap terwyl Lisa (soos altyd)  met groot wakker ogies na almal gestaar het. Ek kon eers ordentlik sien hoe groot haar (heeltemal normale grootte) dogtertjie was, toe sy wakker word. Lisa het soos ‘n sieklike kind teenoor haar gelyk. Dit het gelyk asof Lisa veel jonger as sy is en asof sy ernstig ondervoed word. 10614280_10152652413336815_4068905343329022577_n

Skielik was ek, vir die heel eerste keer, ietwat skaam. Skaam vir wat mense van my dink. Dink hulle ek gee haar nie genoeg melk nie? Skaam vir my kind wat lyk asof sy siek is. Skaam omdat my baba nie normaal lyk nie. Skaam om vir mense te sê hoe oud sy is. Ek kon dit nie heeltemal verstaan nie, want ek was so trots op haar. Maar dit was asof ek skielik die oë van die buite wêreld op my voel brand het. Asof ek nou…omdat daar iemand was om haar mee te vergelyk…skaam gevoel het. Ek wou vir almal verduidelik dat sy vroeg gebore is en dat ek haar genoeg voer en dat sy heeltemal gesond is. Ek het gevoel asof ek ‘n groot bordjie aan haar pram wil hang wat net verduidelik dat sy erg prem was. En die gevoelens was vir my vreemd, want ek het glad nie verwag ek gaan so voel nie.

Tog was dit so lekker om uit te gaan saam met iemand wat ook borsvoed en wat verstaan hoeveel moeite dit is om daai bottel vol kosbare melkies te pomp. Dit het so normaal gevoel om te eet…elkeen met ‘n kind op die arm en om direk na ete vining te betaal, want ons het ‘n skedule om by te hou. Ons was nie een 100% gewoond aan ons babas se roetine nie en was versigtig vir wanneer hulle gaan huil, of wil slaap, of poef…ens.

10378946_10204686803872000_5183625848616548558_n

Lisa se tweede playdate was saam met ‘n kollega se babatjie. Haar babatjie is ook so 4 weke vroeg gebore in September, maar het gelukkig geen komplikasies gehad nie en was nie te klein nie. Ons het haar in Oktober…toe sy omtrent ‘n maand oud was, gaan ontmoet. Ek het gehoop dat Lisa die keer groter gaan wees as haar veel jonger maatjie…3 maande om presies te wees. Maar weereens was Lisa veel kleiner. Maar waar die babatjie die heeltyd net geslaap het, was Lisa aktief en woelig en het heerlik met haar slapende maaitjie gesels. En ek was OK daarmee dat sy klein was, want sy was so besig en oulik.

10801692_10154983312635179_6815647373875513338_n

Ons derde playdate was vir my baie spesiaal. My beste vriendin bly ver en ek sien haar veels te min. Maar sy is regtig ‘n ongelooflike mens en ek wou so graag haar babatjie ontmoet. Haar dogtertjie is net ‘n week na Lisa gebore, maar ons kon mekaar die eerste keer  in November gesien het. Dit was wonderlik om te sien hoe oulik en rustig sy met haar dogtertjie was. Sy het net haar eie kop gevolg en waar ek oor alles opgelees en geworry het, was sy net ‘n ma. En ‘n baie goeie ma daarby. Sy het my inspireer om net te doen wat ek goed dink. As ek vir Lisa pap wil gee…gee vir haar pap. As ek haar nie wil sleep-train nie…moenie. Dit was heerlik om op te vang, maar ek wens ons kon elke week koffie drink. En ek verstaan nie hoekom niemand nog ‘n teleport masjien kon uitdink nie…waar is die Ingenieurs en Wetenskaplikes?!

Na elke playdate het ek myself uitgevang waar ek besig was om Lisa met haar maatjies te vergelyk. Ek kon myself nie help nie en het gewonder of ek ooit gaan ophou om te worry oor haar gewig of oor die mylpale wat sy veronderstel is om te haal. Ek was soms hartseer oor hoe klein en broos sy gelyk het teen haar veel vetter, ronde maatjies. Maar meestal was ek trots dat sy, alhoewel sy kleiner is, kan doen wat hulle doen. Dat sy ‘n tawwe koekie is wat vir niemand terug staan nie.

Ek sien nou vreeslik uit na elke playdate. Want deesdae pla die gewig my nie meer nie. Nou moet ek rondstaan en keer en optel en sê NEE, want nou SPEEL hulle actually tydens hulle playdates.