50. Oordompel met liefde, genade en water

1902081_10155053331440179_8954996182213347266_nDie doop van ‘n baba was nog altyd vir my iets waarmee ek geworstel het. Ek is as ‘n babatjie gedoop en toe ek ouer was en ek self kon kies (en dit was vir my eng NG Kerk brein…’n GROOT dag) was ek grootgedoop in die nuwe “happy-clappy” kerk waar ek myself bevind het. Ek is mal oor die idee om ‘n babatjie in te seën en dan as sy groot is, kan sy self besluit.

10801617_10155053331130179_9216834728078087928_n

Toe ek my man ontmoet, het dinge bietjie verander. Hy ken nie charismatiese kerke nie en is redelik konserwatief as dit by kerk kom. Hy hou van die formele NG kerkdienste en ek is weer mal oor die informele dienste met ‘n orkes en ‘n ontspanne atmosfeer. Ek glo sterk daaraan dat mens as ‘n familie na dieselfde kerk moet gaan en na vele gesprekke, argumente, navorsing, afsprake en besoeke, het ons tog besluit om by die NG kerk in Vishoek aan te sluit.

10847969_10155053333630179_5889328797241713802_n

Dit is ‘n wonderlike gemeente en daar is formele en informele dienste…dus ietsie vir ons albei. Dit is nie die stywe NG kerk waarmee ek grootgeword het nie en ek voel tog asof my hart daar hoort. Hulle het omgee groepe en dit is maklik om vinnig in te skakel. Met Lisa se koms het ons besluit om haar te doop en haar groot te maak volgens die Christelike waardes wat ons albei ken.

Die ding wat ‘n doop bietjie moeilik maak…is wanneer doop jy jou baba? Meeste mense glo binne die eerste 3 maande. Wel…dit was bietjie onmoontlik met klein Lisa. Ons het met die dominee gepraat en op die ou ent besluit om dit voor die einde van die jaar te doen…en op 30 November 2014 is Lisa gedoop.

10801585_10155053336245179_3787390321386285780_n

Wat ‘n affêre! Die eerste probleem het gekom by die dooprok. Ek wou baie graag hê dat ons Lisa in ons gebreide familierokkie moes doop. Maar op amper 6 maande het die rokkie steeds nie vir Lisa gepas nie en het sy omtrent verdrink in die rok. My wonderlike kreatiewe ma maak toe ‘n ander plan. Sy kry ‘n pop dooprok en koop dit onmiddellik. Dit het perfek gepas… my poppie in ‘n poprok. En daar breek ons klein Lisa (alweer) ‘n tradisie.

1526636_10155072465455179_4510852975234978871_n

Die tweede probleem het gekom by die nooi van gaste. Natuurlik was daar die familie, maar daar was soveel ander mense wat so geestelik deel was van ons ondersteuningsraamwerk, dat dit bitter moeilik geraak het om mense te nooi. Ons het besluit op die familie en direkte vriende. My broer en suster bly altwee oorsee en dit was vir my vreeslik hartseer om te dink dat hulle nie by die doop gaan wees nie. Ek mis hulle daagliks, maar op spesiale dae soos Kersfees, Paasfees, verjaarsdae, doop en so aan, mis ek hulle ekstra meer.

Ek was so verras toe my broer my bel en sê hulle wil graag kom. Al die pad uit Mauritius. Ek was super opgewonde en kon sy twee pragtige dogtertjies en my skoonsussie ook weer sien. Dit was heerlik om hulle hier te hê en ek was sommer emosioneel daaroor dat Lisa haar niggies kon ontmoet. Ons het lekker voor die doop gekuier en alhoewel die huis vol mense was, het dit so reg gevoel. Ons het op die opblaasmatras geslaap en dit het my laat terugdink aan die krismisbed by ouma en oupa op die plaas.  10441051_10155053330530179_2842331730438775420_n10802039_10155049681940179_4504569873626117836_nDie diens self was vir ons baie spesiaal. Dit was ‘n kinderdiens, so die kerk was vol kinders en daar was ‘n poppekas en lekkertjies is uitgedeel. Dit was lekker ontspanne en vol bedrywighede. Die dominee het dit vir ons baie spesiaal gemaak. Hy het ‘n foto van Lisa toe sy gebore is op die projektor gesit en die hele gemeente het dadelik deelgeword van ons storie. Hy het vir ons die mooiste rooi kers gegee (sodat ons elke jaar sal onthou) en so mooi gepraat.

10805724_10155053331750179_3168215156642125502_n

Hy het ons albei se ouers ook vorentoe geroep om deel te wees van die doop. So mooi idee om erkenning te gee vir hulle bydrae in ons en Lisa se lewe. Lisa was stroopsoet en het met haar groot ogies vir die mense geloer. My swaer (Lisa se peetpa) het haar vir ons aangegee en dit was regtig vir ons so ‘n wonderwerk dat ons tot hier gekom het. Elke gebed se antwoord het hier voor ons oë in ons arms gelê. En ons kon met dankbaarheid voor ons vriende en familie ‘n belofte maak om hierdie perfekte geskenk van God tot die beste van ons vermoeëns groot te maak.

1536421_10155053332650179_812135637341526205_n

Lisa is 100% ‘n wonderwerk. En Lisa is 100% ‘n geskenk van God. En Lisa is 100% ‘n werklike bewys dat Jesus lewe en dat God soveel groter is as wat ons menslik kan dink. Hoe anders as om haar nie 100% groot te maak volgens wat die Bybel ons leer nie. Doop of nie…Maar een ding is seker: Ek is ewig dankbaar dat ons ‘n lewende God het wat nog wonderwerke doen en wat gebede verhoor.

10629620_10155053707915179_8303705819487324587_n

18. Die dinge wat mense sê

imagesCAXAWZ7PIets wat my baie getref het, is hoe min mense regtig ‘n idee het waardeur ons gaan. Mense (sommiges vir wie ek baie lief is) het soms vir my goed gesê wat my regtig ontstel het. Dit was so moeilik, want ek het geweet dat hulle dit nie so bedoel nie…en dat hulle nie regtig daaroor gedink het nie. Maar steeds het dit my soms kwaad gemaak en soms selfs seer gemaak. En as een van julle dit nou lees…en jy kom agter dat dit jy was wat dit gesê het…wees tog asseblief genadig. Ek is nogsteeds baie lief vir elkeen van julle en het julle ondersteuning baie waardeer.

Hier is ‘n lys van die mees algemene goed wat gesê is:

“Waar is jou babatjie? Kan ek haar gaan vashou”  [terwyl ek nog in die hospitaal was]

(nee, jy kan nie…want ek het haar nog nie eens vasgehou nie)

“Ag ek is so bly vir jou dat julle babatjie vroeg gebore is. Dus het jy nooit soos ‘n walvis gevoel nie.”

(ek wou graag soos ‘n walvis voel..en ek wou rerig graag die hele swanger proses deurmaak, dankie.)

“Ag great! Dis eintlik great dat jou babatjie nog in die hospitaal is. Dan kan jy van jou keiser herstel terwyl jy nie na ‘n baba hoef om te sien nie.”

(ja…want gewone keiser mammas herstel mos deur self hospitaal toe te ry en te pomp en te stap hospitaal toe en trappe te klim.)

“Gelukkig hoef jy nie nou elke aand op te staan en jou baba te voed nie…rus nou lekker”

(want as mens elke 2 ure opstaan om te pomp, rus mens vreeslik lekker)

“Dis so nice hoe jy nie hoef te worry oor enige iets nie. Sy is in die hospitaal en jy kan net by die huis ontspan”

(want wanneer mens se babatjie elke dag vir hulle lewe veg, is ontspan presies wat op jou brein is.)

“O…wow. My babatjie was ook prem so ek weet presies waardeur jy gaan. Sy was 3 weke vroeg gebore.”

(nee…seriously?)

Ek het geweet dat hierdie mense dit nie uit kwaaddoen gesê het nie en ek het geweet dit was meestal omdat hulle nie iets anders het om te sê nie. En ek het die geselsies waardeer. En ek was dankbaar vir die omgee…Maar sjoe…dit was moeilik om tussen hakies te dink en dit nie te sê nie. Ek wou soms net skree. Maar dis moeilik om altyd als te verstaan. Ek het ook geweet dat as ek aan die ander kant was…sou ek tien teen een die persoon gewees het wat iets verkeerd gesê het. Want ek’s lief vir praat en sê gereeld verkeerde goed. So in ‘n mate as ek terug dink kan ek wel verstaan.

Wat vir my ongelooflik was, was dat ons soveel mense gehad het wat wel geweet het wat om te sê. Wat elke oggend vir my net ‘n “moed-inpraat”-foto gestuur het. Mense wat net gesê het “Ons dink aan julle.” Mense wat net uit hulle eie uit vir ons goed gedoen het. Mense wat toe, en nou nog net ‘n bybelversie sal stuur. Mense wat nie altyd uitvra en antwoorde terug verwag nie. Mense wat omgee sonder om te veel terug te verwag…engelmense.