76. Pak als wat jy NODIG het in 10 minute!

Die eerste week van die nuwe werksjaar was ‘n bietjie maller as wat ek dit verwag het. Ek het by ‘n nuwe skool begin werk en Lisa is na ‘n nuwe speelskooltjie toe. Ek is oorweldig met nuwe informasie en arme Lisa huil histeries elke oggend as ek haar aflaai. Woensdag was so erg dat die juffrou Lisa om my nek moes aftrek en ek kon nie lekker onderskei tussen haar trane en myne op my wang nie. Ek het my brawe “ek is in beheer”-gesiggie opgesit en my 6 nuwe klasse by my nuwe skool trotseer.

Teen 12h30 sien ek my foon se blou liggie op my lesenaar flikker. Ek kyk gou vinnig aan die einde van die les wie my soek en ek sien 6 missed calls en 8 watsapps. Wat gaan nou aan? Die eerste een wat ek oopmaak lees: “Laat weet net as julle hulp nodig het. Julle kan die bakkie gebruik en ons het slaapplek.” Huh?! Ek lees nog ‘n paar, almal met min of meer dieselfde inhoud. En toe een van my man: “Die brand is glo naby, maar ons is almal op standby so ek kan nie kom nie.” Brand?! Daar was dan nie eens ‘n rokie toe ek by die huis weg is nie. Ek lees vinnig op ons Facebook groep en sien dat ons area besig is om te ontruim.  Ek is vinnig by die hoof in om te verduidelik en eers in my kar sien ek die wolk rook wat agter die berg uitborrel.

15965074_10154040624916604_3360516684115514579_n

In die kar beplan ek hierdie “ontruim”-ing. Ons het 2 groot honde (45 kg elk), ‘n kat, ‘n haas en visse. Die visse is seker ok, want hulle het darem baie water, so ek skuif my fokus op die res. Naby die huis, tussen al die rook, brandweerwaens en mense sien ek net die vlamme en vir die eerste keer voel ek die erns van die oomblik.

Ek is vinnig in die huis in en alles is vol rook. Binne sekondes brand my oë en my keel krap. Ek kry die hygende honde, kat en haas binne en gee vir hulle water. En toe begin ek pak. Dis ongelooflik hoe jy skielik besef hoeveel gemors jy het. As jy net ‘n paar minute het en ‘n kar vol plek, het jy regtig skielik nie veel wat jy MOET hê nie. Ek het ons ou familie Bybel gegryp en ‘n handsakkie wat ek by my ouma geerf het. Ek die silwer botterbakkie (wat ek nooit gebruik nie, maar dis vir my man belangrik) ingegooi. Ons ID’s en dokumente is saam met albums en die rekenaarboks in die kar gelaai. Die res is skielik net nie meer belangrik nie.

Met 2 honde, ‘n kat wat nie in haar boksie wil sit nie, ‘n haas en ‘n paar belangrike goedjies is ek daar uit. In die ry besef ek dat ek moontlik nie weer huis toe gaan gaan nie en ek huil heelpad. Ek gaan tel vir Lisa op met al die diere in die kar en  toe sy haar hande om my nek gooi en my soen kom ek agter dat die ander goed eintlik nie saak maak nie. Want net daar besef ek wat ek regtig NODIG het en wat belangrik in my lewe is.

15941406_10158423436145179_7385610605504842995_n

 

 

11 thoughts on “76. Pak als wat jy NODIG het in 10 minute!

  1. Terug pieng: Lees gou hier | Die Wit Hasie

  2. Reblogged this on Awethentiq® and commented:
    Tsunamis is nie altyd van water gemaak nie. Een of ander tyd word omtrent elke mens gekonfronteer met nare werklikheid. Been there, done that. Dis soms moeilik om te verwerk wat buite jou beheer plaasvind. Sterkte.

    Like

  3. Terug pieng: 76. Pak als wat jy NODIG het in 10 minute! – Wag 'n Bietjie

Lewer kommentaar op AWETHENTIQ Kanselleer antwoord