109. Die swart kat

images (1)

Twee weke gelede het ek my kar geskraap. Ek het die taxi sien draai en ek moes binne ‘n sekonde ‘n besluit maak. Ek het LEWE gekies en met dié moes ek uitswaai om die taxi teen my deur te mis. Ek skraap toe my kar se hele linkerkant teen ‘n ou verkrokte Corsatjie wat salig by die stopstraat staan en wag het vir dinge om te gebeur.

Na saaknommers en versekering uitsorteer is, is ek vanoggend Auto Magic toe om my kar se Extreme make over (body edition) te begin. Dit is 25 minute van my huis af, maar gelukkig het hulle ‘n drywer wat my sal aflaai. Ek was 8:00 daar en hulle sê toe dat ek net ‘n oomblik moet wag, want daar is nog ‘n vrou wat van ons kant af kom. Dan laai hulle ons sommer so saam af.

Ek kyk rustig deur ‘n Country Living tydskrif en droom van ‘n stresvrye lewe op die groot stoep van ‘n Karoo-plaashuis toe die vrou by die deur instap. Ek herken haar dadelik. Sy is die Goth (vol tattoo’s, piercings in haar gesig, swart klere en lang swart hare) wat elke aand met haar honde verby my huis stap. Ek ken ook haar naam (Nerine)  want sy is baie aktief in gesprekke op ons area se watsapp groepie. Ek hou van haar, sonder dat ek haar ken, want haar woorde en manier wat sy kommunikeer pas vir my glad nie by haar uiterlike voorkoms nie. Daar is ‘n sagtheid en ‘n ongelooflike mooi hart wat skuil agter die donker gegrimeerde oë.

Toe sy opkyk sien ek sy is histeries. Sy huil onbeheers en kom sit op die bank langs my. Die mamma in my wil onmiddellik iets doen of sê en toe ek haar vra of sy ok is, skiet haar trane letterlik tot oor my skouer. Ek het my hand op haar arm gesit en maar net getroos.

Uiteindelik kom sy soort van tot bedaring. Haar kat wat 2 dae gelede spoorloos verdwyn het, is opgespoor. Maar ongelukkig nie waar sy dit verwag het nie. Terwyl hulle om haar kar loop om die vorms in te vul, sien die man iets onder die bakwerk uithang. Toe hulle nader kyk, is dit die stert van haar kat…nie meer lewend nie, wat seker daar ingekruip het en nie weer kon uit nie.

My hart breek vir haar en ek het soveel simpatie in my hart, maar hoe nou? Ek vra of ek kan help en of sy wil hê ek moet die kat gaan kry. Weereens ruk sy soos sy huil en ek maak ‘n kopknik tussen die huilende bewegings uit. Ek kyk rond vir iemand om te help, maar die hoogswanger ontvangsdame en 4 ander mense staan in uiterste hoeke van die vertrek en kyk met pieringoë na hierdie chaotiese situasie. Ek gaan toe tot by die kar, waar die twee mans my help om die kat in ‘n swart sak te laai. Ek kry toe maar ‘n boksie en nou staan ek met die onbekende-bekende vrou se dooie kat in ‘n boks sonder ‘n plan.

Die drywer laai ons uiteindelik op en ons twee (ek kleurvol in pers geklee en met ‘n huppel in my stap) en sy (pikswart, donker en depressief) klim met die dooie kat in die boks agter in die kar. Ek prober troos, maar my woorde raak na so 10 minute op en skielik kan ek myself nie help nie en bars ek uit van die lag. Hier sit ons…twee vreemdelinge wat eintlik net ‘n straat uitmekaar woon in die agterste sitplek van ‘n vreemde man, met ‘n dooie kat op my skoot en probeer sin maak van die lewe.

Terwyl sy na my kyk, begin sy ook giggel en die arme man saam met wie ons ry weet nie lekker wat kom of gaan nie, en hy fokus maar op die pad alhoewel sy oë elke paar sekondes in die spieëltjie kyk wat aangaan. En daar, sonder dat ons ooit seker sou ontmoet en sonder dat ons enigsins iets in gemeen het, maak ek ‘n vriendin. ‘n Donker vriendin met ‘n swaar hart omdat haar geliefde katjie van 16 jaar in ‘n boks op ‘n vreemde gegiggelende vrou se skoot lê terwyl die reën aanhoudend teen die venster slaan.

 

 

 

8 thoughts on “109. Die swart kat

Lewer kommentaar