9 jaar later

Vandag verjaar Lisa. NEGE jaar gelede het hierdie warboel van ‘n storie begin en vandag, soos elke jaar op die 12de Junie, sit ek en dink terug oor al die water wat onder, oor en deur die brug gevloei het. Vandag deel ek graag die 9 goed wat oorgebly het van ons prembaba.

  1. Herinneringe

Sal ons ooit die gebieppiep van die masjiene, die oorborrel van emosies of die vrees in mekaar se oë kan vergeet? Ja, dit raak wel minder, maar daar is steeds terugflitse en oomblikke waar elke klein dingetjie weer onthou word. Ek koester elkeen van hierdie oomblikke en kyk terug met ‘n vol hart na elke memory op Facebook.

2. Merkies op haar hak

Ek het altyd gewonder of die merkies op Lisa se hak oor tyd sal verdwyn. Elke oggend se bloedprik vir toetse op daai klein voetjie is steeds sigbaar. Ligweg en ook net as jy daarvoor kyk, maar dit is net ‘n wonderwerk dat ‘n klomp klein merkies op haar voetjies al is wat sy oorhet van haar prempad. Nie een litteken van ‘n operasie, nie een gehoortoestelletjie of bril nie. Net die wit 100’s and 1000’s op haar hak.

3. Ons huwelik

Trauma het ‘n manier om die mense naaste aan jou uitmekaar te trek. Daar was en is steeds tye wat ons mekaar wil verwurg, maar oor die algemeen het ons liefde net gegroei. Ons lag steeds wanneer ons eintlik moet huil en ons terg mekaar elke dag oor die klein goedjies. Hy vat steeds aan my boud terwyl ek kos maak en ons dans nog in die sitkamer as die kinders gaan slaap het.

4. Ouerskapstyl

Ons maak steeds ons kinders in ‘n huis vol liefde groot waar hulle nie in watte toegedraai word nie. Nou die dag toe Lisa met een voet op haar fiets se sitplek en die ander een in die lig soos ‘n ballerina op wiele by die bult afgevlieg kom, het ek my oë toegeknyp en gebid, maar ons kinders klim boom, speel rof en stof af as hulle geval het.

5. Geloof

God se ongelooflike genade en liefde, Jesus se nederige menswees en die Heilige Gees se teenwoordigheid is nog net so (indien nie meer nie) deel van ons lewens. Ek getuig steeds elke dag van die wonderwerke en seëninge wat ons ervaar en is so bly ons kinders het ook ‘n lewende verhouding met die Here.

6. Trots

Ek is seker die TROTSTE ma op aarde. Al doen Lisa net ‘n klein dingetjie reg, wil ek jubel en juig. Dinge kon soveel anders gewees het en ek is so trots op haar groei en op die mens wat sy besig is om te word. Saam met trots kom ook hardkoppigheid en dit het al ons Kriele ook steeds 🙂

7. Meegevoel

Die opregte meegevoel wat ek vir ander ouers wat moeilike swangerskappe/geboortes het, bestuur ‘n groot deel van my lewe. Ek wens almal kan verstaan dat die media en die mooi prentjies wat op sosiale media is, ‘n miljoen trane en deurmekaar huise wegsteek. Ek is ook dankbaar vir die handjie vol mense wat regtig verstaan en mekaar kan ondersteun.

8. My man se trauma

Ek wens ek kon beter vir my man daar wees toe ons deur hierdie trauma moes gaan. Soveel mense het my gehelp en ek het dinge uitgepraat/uitgeskryf/uitgehuil. Hy het egter soos alle mans maar volgens ons samelewing moet, net sterk gestaan en sy vrou ondersteun. Ek wonder of hy ooit regtig sy emosies met iemand gedeel het en ek hoop en bid dat nuwe pappas iemand het om mee te praat oor alles. Om die pa van ‘n prembabatjie te wees is baie traumaties en ek glo en vertrou dat my man se hart 100% sal herstel.

9. Dankbaarheid.

Die dankbaarheid wat ek in my voel elke keer voel wanneer ‘n mamma voltermyn swangerskap deurstap; of wanneer ‘n prembaba vir die eerste keer huis toe gaan; of wanneer ‘n nuwe gesin ondersteuning kry is net ‘n druppel in die emmer vir hoe dankbaar ek is elke keer as ek iemand sien wat dit nie kry nie. Ek is so dankbaar vir gesonde, lewende kinders. Ek is dankbaar vir ‘n ongelooflike ondersteuningsnetwerk. Ek is dankbaar vir wonderwerke en genade. Ek is dankbaar vir 9 jare van mamma wees.

4 thoughts on “9 jaar later

  1. Baie geluk met Lisa se verjaarsdag! Dankie dat jy jou kwesbaarheid en sterk geloof met ons deel. Ek het jou storie van Lisa van die begin af gevolg met baie knoppe in my keel, baie trane oor my wange en met die grootste respek vir jou en Francois! So trots op die wonderlike voorbeeld wat jy is vir almal wat in hul geloof twyfel!

    Like

Lewer kommentaar op elsabeskryf Kanselleer antwoord