Aerial wat?

Aerial wat?

Vertroue op iets of iemand buite myself is iets waarmee ek nog altyd sukkel. Ek dink jare se klein (en soms groot) teleurstellings of mense wat my in die steek laat, het veroorsaak dat ek alles net liewer self probeer doen. Ongelukkig is dit onmoontlik om sò al die balle in die lug te hou en kan mens dit nie volhou sonder om iewers bietjie (of heeltemal) uit te brand nie. Iewers moet mens iemand anders vertrou en hierdie jaar het God my bietjie uitgedaag om Hom weer opreg te vertrou. TRUST is so mooi woord, maar vertrou laat my voel dit is ver van trou en dan sit ek weer waar ek was.

Lang storie kort, het ek ‘n gratis Aerial Yoga klas by ‘n vriendin/instrukteur Hannelie Strydom gekry. Ek het gedink ek gaan dit haat, maar dit was verniet so ek kan mos nou nie ‘n gegewe perd so in die bek kyk nie. Ek hou nie van strek nie en stil wees pas nie by my nie. Ek hou nie van die idee van Yoga nie, want ek wil nie “mediteer” nie. Groot is my verbasing toe self, dat ek nou al op les 6 is en dat dit tans die hoogtepunt van my week is. Wat dit basies behels is dat jy jou hele liggaamsgewig (in my geval nogal baie) in ‘n pers silk lappie sit en jy swaai, draai, hang onderstebo en klim en klouter soos in die sirkus.

Die instrukteur kan 100 keer sê “Ek belowe, die lappie sal jou hou. Jy sal nie val nie,” maar jy moet self daai stukkie lap wat aan die dak hang vertrou. Dit klink alles maklik om die lappie om jou heupe te sit en terug te lê, maar dan begin sy onderstebo draai en jy moet hang met jou voete gehaak en met jou hande los. Dis werklik net genade wat die hele storie aanmekaar hou. Na die derde keer van nie “doodgaan” nie, begin jy meer en meer vertrou. Gister het ek met my hele lyf soos ‘n pendulum parallel met die grond gehang (kop ondertoe) en net ‘n stukkie van die lap oor my tone en ‘n ander stukkie aan my skouers. En ek het besef dat ek nou eers die lappie begin vertrou.

Na ‘n hele klomp akrobatiese ruspe-agtige bewegings, lekker lag en nuwe bloukolle eindig elke sessie met ‘n lekker rustige lê in die kokon sessie. Die instrukteur noem dit Shavasana en ek is seker dit het een of ander yoga-mediteer vibe besigheid as oorsprong, maar vir my is dit stilte tyd met God. Vir 10 minute raak ek rustig en vergeet van die gewarboel van buite. En ek hoor bietjie wat God vir my wil sê. Die pers sagte lappie laat my dink aan die Heilige Gees en ek swaai rustig en veilig in my hemelse kokon.

God het my nog nooit, en ek bedoel werklik nooit in die steek gelaat nie. Hy het my nog altyd met sy pers sagte lappie gevang en my lewendig gehou. Soms was die goed wat Hy my laat doen baie uitdagend en moes ek deur blou kolle en kneusplekke kom om dit reg te kry. Maar Sy pers lappie het nog altyd my gewig gedra. Vandag is ek dankbaar vir rusplekkies en stilte tye met God (waar jy dit ookal vind) en ek is dankbaar dat ek weekliks herinner word om net in my pers lappie te vertrou, want “Ek belowe, die lappie sal jou hou. Jy sal nie val nie.” Dalk, net dalk stap jy nog as ‘n skoenlapper daar uit.

One thought on “Aerial wat?

  1. So, so mooi! Jy het regtig ‘n gawe om ‘n prent en gevoel met woorde te skep! Ek geniet elkeen van jou skeppinge! Moet asb nooit ophou daarmee nie!

    Like

Lewer kommentaar op Anna-Marie Hulley Kanselleer antwoord