Die Vrydag, 1 dag en 1 week nadat Lisa gebore is, kon ek haar vir die eerste keer vashou. Vir ander mammas is die oomblik waar jy jou babatjie op jou bors voel (gewoonlik sekondes na geboorte) ‘n ongelooflike oomblik waar julle onmiddellik ‘n band vorm en dit stel hormone vry wat help met allerhande lekker dinge. Vir my, was daardie oomblik bietjie anders.
My man was nogsteeds siek so ons het sy tannie gevra om saam met my hospitaal toe te gaan. Ons het gejok en gesê sy is my skoonma (skoonma bly in Montagu en kan nie so gereeld kom nie. Die tannie was so betrokke van die begin af (dit was sy wat op D-dag kom kuier het tydens besoektyd) en sy wou so graag vir Lisa sien, maar net oumas en oupas was toegelaat. Soos meeste goed in die hospitaal, is ons nie voor die tyd voorberei dat ek haar juis op hierdie spesifieke dag sou mag vashou nie. Ons het dus net gaan kuier.
Weereens is sy geskuif (sonder dat ons daarvan weet) na ‘n kamer nog nader aan die deur. Nou was sy glad nie meer in die NICU kamers nie, maar slegs in High Risk. Dit het beteken sy doen baie goed en is heeltemal stabiel, maar sy is nog net baie klein en moet net groei. Sy was steeds onder die blou ligte vir die geelsug, maar dit was ook onder beheer. Ons het ‘n bietjie daar rondgehang en ek het vir die tannie verduidelik hoe alles werk. Ek onthou hoe geskok haar gesig gelyk het en hoe sy gesê het dat die foto’s nie enigsins “justice” doen aan hoe klein sy is nie.
Die volgende oomblik kom ‘n verpleegster in en vra of ek haar wil vashou. Van dag een af is dit al iets waaroor ek gedroom het, iets waarna ek so uitgesien het. Ek wou dadelik JA sê, maar was so skrikkerig. Hierdie klein breekbare lyfie met al die drade. Ek kon nie indink hoe ek haar juis gaan ‘vashou’ nie…waar vat ek? Hoe tel ek haar op?
Die suster het vir my verduidelik om my bra uit te trek sodat sy direk op my vel kan wees (van toe af gaan ek sommer elke dag sonder ‘n bra in…net vir ingeval). Sy het ‘n paar knoppies op die incubator gedruk en die deurtjie oopgemaak en woeps waps tel sy haar met een hand op en druk haar onder my hemp in totdat sy tussen my borste op my bors lê. Ek onthou hoe ek probeer kyk en notas vat van hoe sy dit doen, maar dit was so vinnig dat ek als vergeet het.
Dit was die onaardste gevoel. Sy het so bietjie gewriemel en toe rustig geraak. Ek kon hoor hoe haar hartjie vinnig klop en hoe sy asem haal. Sy het haar baie klein handjie opwaarts uitgestrek en haar vingertjies het die hele tyd my lyf gekielie. Haar warm lyfie het gevoel soos ‘n klein hasie wat ek vashou. Haar ogies was toegeplak vir die geelsug. Haar beentjies het in die gleuf onder my borste ingeglip en haar lyfie het net mooi tussen my borste ingepas.
Ek het vir ‘n hele tydjie net gesit, sonder om te praat of te dink of te droom…net gesit. Ek wou heeldag so sit. Maar ‘n paar minute later kom die verpleegster en sit haar weer terug. Sy mag nie vir meer as 10 minute op ‘n slag uit die incubator wees nie, want sy moet onder die ligte bly vir die geelsug. Net so vinnig soos sy uitgehaal is, is sy weer terug gesit.
Ek het soos ‘n nuwe mens gevoel toe ek daar uitstap. Ek kon nie ophou glimlag nie. My arme man het die groot oomblik gemis. Hy kon eers omtrent ‘n week later dieselfde oomblik beleef, toe hy haar mag vashou. Hulle maak haar stelselmatig gewoond aan kieme. So eers mag net die ma Kangaroo Care doen, en dan na so week, mag die pa, en so aan. Toe dit wel gebeur, was hy die trotste pa in die wêreld.