21. Eerste wêreld

2milOns is die saterdag oggend terug hospitaal toe met my tassie gepak. Toe ons by die saal instap het dit gevoel asof ek op ‘n toneel uit Grey’s Anatomy is. Hulle is besig om die hospitaal op te gradeer en alles word oorgedoen. Vloer 5 (waar ek was) is eerste oorgedoen en dit lyk fantasties. Alles is wit en grys en skoon en op sy plek. Dit het gevoel asof ek in ‘n 5 ster hotel instap.

Ek het my eie kamer gekry. Ja, net ek…alleen! En die gordyne was so mooi met prentjies van proteas in so funky moderne ontwerp. Die bed was mooi oorgetrek en als was skoon. In die hoek van die kamer was ‘n leerstoel en reg langs die bed was Lisa in haar incubator. In die dak bo die bed was n televisie. Wat ‘n verskil van publieke hospitale. Daar was daar 12 incubators in ‘n klein kamertjie met 2 of 3 plastiek stoele wat tussen die incubators rondstaan. Ek het skielik ekstra jammer gevoel vir al die mammas wat ek agtergelaat het by Grootte Schuur.

Lisa se incubator het heeltemal anders gelyk as by Grootte Schuur. In die plek van die staatsbeddegoed (met property of Western Cape oral geskryf) was sagte kleurvolle baba beddegoed. Die kombersie wat oor die incubator matrassie was, was oud, maar mooi en al sag gewas. Ek het die prentjie van die hasies en die kaboutertjie uit my eie baba-tyd onthou. Dit het my laat rustig voel en ek het gevoel asof Lisa hier soveel gemakliker gaan wees. Oor die incubator was ‘n kleurvolle lappie gegooi sodat die skerp ligte van die kamer haar nie pla nie. Soveel meer moederlik en baba-vriendelik…en dus ook seker meer mamma-vriendelik.

Soos mens by die deur inkom, is daar ‘n skuifdeur. Toe ek dit oopskuif, het ek begin giggel van pure ongeloof. ‘n Stunning badkamer. Met ‘n groot glas stortdeur wat lui na ‘n stort groter as die een wat ons by die huis het. En ‘n mooi groot spieel bo die wasbak. En ‘n skoon wit toilet. Daar was 2 drommetjies…een vir nappies en een vir algemene vullis. Oral was lekker D-Germ seep en als was perfek. Ek kon nie glo dat ek my eie en-suite badkamer ook het nie en ek was so dankbaar vir ons medies.

Nes ek begin om my goed in die kas (o-ja…daar was ‘n dubbeldeur hangkas ook) uit te pak, kom die suster in en vra watter maaltyd ek verkies en of ek enige kosvoorkeure het. Die kostannie kom toe in met sap en ‘n paar koekies. Ek het begin lag, want ek het teruggedink aan die slegte kos sonder geur en die sterk koffie met die baie suiker. En ek was net dankbaar. Baie baie dankbaar.

11059782_10155767962315179_6324549031817916590_n

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s