21. Eerste wêreld

2milOns is die saterdag oggend terug hospitaal toe met my tassie gepak. Toe ons by die saal instap het dit gevoel asof ek op ‘n toneel uit Grey’s Anatomy is. Hulle is besig om die hospitaal op te gradeer en alles word oorgedoen. Vloer 5 (waar ek was) is eerste oorgedoen en dit lyk fantasties. Alles is wit en grys en skoon en op sy plek. Dit het gevoel asof ek in ‘n 5 ster hotel instap.

Ek het my eie kamer gekry. Ja, net ek…alleen! En die gordyne was so mooi met prentjies van proteas in so funky moderne ontwerp. Die bed was mooi oorgetrek en als was skoon. In die hoek van die kamer was ‘n leerstoel en reg langs die bed was Lisa in haar incubator. In die dak bo die bed was n televisie. Wat ‘n verskil van publieke hospitale. Daar was daar 12 incubators in ‘n klein kamertjie met 2 of 3 plastiek stoele wat tussen die incubators rondstaan. Ek het skielik ekstra jammer gevoel vir al die mammas wat ek agtergelaat het by Grootte Schuur.

Lisa se incubator het heeltemal anders gelyk as by Grootte Schuur. In die plek van die staatsbeddegoed (met property of Western Cape oral geskryf) was sagte kleurvolle baba beddegoed. Die kombersie wat oor die incubator matrassie was, was oud, maar mooi en al sag gewas. Ek het die prentjie van die hasies en die kaboutertjie uit my eie baba-tyd onthou. Dit het my laat rustig voel en ek het gevoel asof Lisa hier soveel gemakliker gaan wees. Oor die incubator was ‘n kleurvolle lappie gegooi sodat die skerp ligte van die kamer haar nie pla nie. Soveel meer moederlik en baba-vriendelik…en dus ook seker meer mamma-vriendelik.

Soos mens by die deur inkom, is daar ‘n skuifdeur. Toe ek dit oopskuif, het ek begin giggel van pure ongeloof. ‘n Stunning badkamer. Met ‘n groot glas stortdeur wat lui na ‘n stort groter as die een wat ons by die huis het. En ‘n mooi groot spieel bo die wasbak. En ‘n skoon wit toilet. Daar was 2 drommetjies…een vir nappies en een vir algemene vullis. Oral was lekker D-Germ seep en als was perfek. Ek kon nie glo dat ek my eie en-suite badkamer ook het nie en ek was so dankbaar vir ons medies.

Nes ek begin om my goed in die kas (o-ja…daar was ‘n dubbeldeur hangkas ook) uit te pak, kom die suster in en vra watter maaltyd ek verkies en of ek enige kosvoorkeure het. Die kostannie kom toe in met sap en ‘n paar koekies. Ek het begin lag, want ek het teruggedink aan die slegte kos sonder geur en die sterk koffie met die baie suiker. En ek was net dankbaar. Baie baie dankbaar.

11059782_10155767962315179_6324549031817916590_n

13. Home Affairs en siek wees

untitledNormale babatjies word geregistreer by die Departement van Binnelandse Sake en kry so hulle geboorte sertifikate. Prem babatjies het die voorreg om nie al die pad na die kantoor toe te gaan nie, want dis nie fisies moontlik nie. Great, het ek gedink. Minder hassle en die official kom na jou toe in die NICU.

Ek het nog nooit so gesukkel om iemand in die hande te kry nie. Die vrou van Home Affairs is veronderstel om een keer ‘n dag by die NICU om te kom en babas wat in incubators lê te registreer. Die res van die tyd het sy ‘n kantoor in die hoofgebou van die hospitaal langs ontvangs waar sy haar admin moet doen. Dit het vir my redelik eenvoudig geklink. As ek nie by die incubator is wanneer sy haar rondtes doen nie, moet ek net eenvoudig ‘n draai by haar kantoor gaan maak…reg? Nee…toe nie so maklik nie.

Dit het my meer as ‘n week gevat om haar in die hande te kry. Die nommer wat hulle my gee om te bel om te hoor of sy by die hospitaal is, is verkeerd. Die nuwe nommer wat ek toe kry, gaan na iemand wat nie meer daar werk nie. Die ontvangs sê net elke dag hulle het haar nog nie die dag gesien nie. Die Binnelandse Sake kantoor sê sy is definitief by die hospitaal. Ek het elke dag rondgehol om haar in die hande te probeer kry, met geen resultate. My pa was by my en ons twee het maar elke dag met nuwe hoop gaan soek en maar saam vir die situasie gelag. Uiteindelik het sy een dag non-chalant by die NICU ingeloop en gesê: “Where is baby Kriel? I hear I am needed.” Ek het net gedink…Seriously?!. Maar ter selfde tyd was ek bitter dankbaar dat ek haar gekry het of liewer dat sy my gekry het, want binne ‘n dag het ek Lisa se geboortesertifikaat gekry.

Die einde van die eerste week was vir my man baie moeilik. Hy het verkoue gekry en mag nie saam hospitaal toe gegaan het nie. Mens mag glad nie ingaan as jy enigsins siek is nie, want die babas se immuunstelsels is so laag. Dit het vreeslik aan hom geëet om vir 3 dae nie sy dogtertjie te kon sien nie. Hy het my omtrent uitgevra oor haar gewig en haar toetse en al wat ‘n ding. Ek was weer bang dat hy my aansteek, want dan is ons bietjie geskroef.

Die naweek het aangebreek en oumas en oupas het weer kom kuier. Dit was ongelooflik hoe hulle die verandering en groei binne ‘n week kon sien. Lisa was net vir 2 dae op CPAP (die suurstof masjien) [amazing as ek nou sien hoeveel babatjies wat op 28 weke gebore is selfs huistoe gaan met suurstof] en behalwe vir die geelsug, het sy bitter goed gedoen. Na die eerste afval na 740g het sy elke dag omtrent 5-10g opgetel.

Hulle trek elke dag bloed en die arme dingetjie se voetjie is vol gaatjies gesteek. Dit is al wanneer mens haar rerig hoor huil het. So histeriese geskree (klink amper soos ‘n muis wat seerkry…nie dat ek rerig weet hoe dit klink nie…maar anyway…so iets). Ek het nou die dag, toe ek haar skoentjies aantrek, gesien dat al die bloedtrek klein letseltekentjies op haar hakke gelos het. Wonder of dit vir altyd daar gaan bly en of dit ook met tyd saam met die herinneringe gaan verdwyn.

10. Geluk!

10364097_10154349032055179_4694019640332695884_n

Ek het vir 3 dae na die Keiser in die hospitaal gebly. Ek moes herstel, maar dit was rêrig moeilik om te rus as jy weet jou piepklein dogtertjie lê twee vloere ondertoe in die NICU. Dit was ongelooflik om enige tyd van die dag vir haar te kon gaan kuier, maar dit was ook rêrig moeilik. Mens voel jy wil die hele tyd daar wees en langs haar incubator sit, maar ter selfde tyd voel mens erg “useless”. Jy kan nie veel vir haar doen op daardie stadium nie. Die dokters en susters doen als en jy, as ma, is bloot net ‘n bystaander wat soos ‘n koei elke 2 ure gemelk moet word.

Ek het besluit om so veel moontlik by haar te gaan sit en ek het saggies met haar gepraat en vir haar gesing. Al liedjie waaraan ek kon dink op daardie oomblik was Amazing Grace en ek het dit oor en oor saggies vir haar gesing. Elke nou en dan het die dokters omgekom en gepraat oor haar toestand…woorde en terminologie wat ek toe nog nie verstaan het nie: Sats, Cpap, HP-levels, ens. Snaaks hoe daardie woorde nou deel is van my normale woordeskat. En tussen deur dit alles het ek probeer rus en slaap sodat ek ‘n beter melkkoei kan wees. Lisa het elke 2 ure 2ml melk nodig gehad. Dit was vir my vreeslik min, maar ek is gesê om net soveel as moontlik te pomp, want anders gaan mens se melk weg…so pomp het ek gepomp.

Iets wat my vreeslik ontstel het, was mense (vriende, familie en kollegas) se reaksie op haar geboorte. Ek het 100’de boodskappe op Facebook en watsapp gekry wat sê GELUK! Ek weet dis wat mens seker moet sê (en as ek nou terugdink waardeer ek elke boodskap en omgee), maar op daardie stadium was daar absoluut geen geluk nie. Ek het gevoel asof ek wil skree, want op daardie stadium was sy nog nie stabiel nie. Elke dag was ‘n uitdaging en die dokters het elke dag vir ons gesê om nie hoopvol te wees nie, want enige iets kan nog gebeur. Dit het vir my gevoel asof almal net dink sy is ok en dat die stres van haar geboorte nou verby is en dat haar geboorte iets was om te vier… En ek het alles behalwe so gevoel.

Ek het blomme gekry. Dit was mooi, maar ek kon nie daarna kyk nie. Ek het gevoel asof daar iets met my fout is dat ek nie geluk voel nie. Hoe kan almal dink dat ons Lisa se geboorte moet vier wanneer sy eintlik nog vir 3 maande in my maag moes wees. Ek was gelukkig dat sy lewe, maar wou dit nie vier nie, want die kanse was groot dat sy die volgende dag kon sterf.