49. Rof, rowwer, rofste

20150829_123829

Terwyl ek swanger was het ek baie na ander ma’s gekyk en het myself as ‘n ma probeer indink. Gaan ek een van daardie ma’s wees wat soos ‘n helikopter om hulle babas is? Gaan ek een van daardie ma’s wees wat oorbeskermend is? Gaan ek omgee as ander mense my kind sommer net optel? Gaan dit my pla as mense my kind sommer net enige kos voer? Ek het toe al besluit dat ek my baba nie wil op piep nie en dat sy ‘n tawwe, rowwe meisie moet wees. Maar in my kop was ek skrikkerig, want was as dit anders is as ek eers actually ‘n ma is.

Toe Lisa so klein gebore is, het ek in die hospitaal ook weer baie daaraan gedink. Nou, dat haar immuunstelsel vreeslik swak is…nou, dat sy so higienies behandel moet word…nou, dat sy so broos is…nou, dat sy so klein is. Gaan ek nou anders met haar moet wees? Gaan ons haar nou in watte toedraai? En gaan ons haar heeltyd probeer beskerm?

Iets wat ek seker al ‘n miljoen keer gehoor het, is: “Jis, maar julle is rof met haar!” Aan die begin het ek sleg gevoel as mense dit sê. Ek en my man het mekaar later afgevra of ons regtig SO rof met haar is? Aan die begin, het ons nie gedink ons is ROF met haar nie. Ons was net ouers. Dit is asof ons gesien het hoe sterk sy in die hospitaal was en ons het gesien dat sy nie sommer gaan breek nie. En ons was so gewoond aan haar “klein”-heid…wat toe al eintlik vir ons “groot” was. Maar vir ander mense was sy bitter klein en hulle kon nie verstaan  hoe ons haar so gemaklik hanteer nie.

Sy was lig en ons het haar sommer soos ‘n rugbybal (met een hand) vir mekaar aangepass. Ons het haar partykeer sommer so oor die tafel vir mekaar aangepass. As ek nou daaraan dink, verstaan ek 100% hoekom ons “rowwe” ouers is.  Maar sy was ook nie meer ‘n pap baba nie (alhoewel haar gewig kleiner as ‘n normale newborn was). Haar nekkie was al lankal sterk en sy kon al haar kop mooi beheer. En vir ons was sy al regtig groot.

20150801_112243

Ek is dankbaar dat ons op die ou ent nie verander het in helikopter ouers nie en dat ons ROWWE ouers is. Want Lisa is soveel sterker as gevolg daarvan. Sy is mal oor sand eet. Mmmm. lekker mamma. Sy val haar self disnis en dan staan sy op en giggel en hardloop weer voort. Sy kap haar kop dat daar ‘n blou kol sit en dan huil sy so vir ‘n sekonde en dan gaan sy maar weer aan. As sy op haar siekste is, lag sy nogsteeds en hol nogsteeds die hele huis vol.

20150712_071432

Lisa se gunsteling tyd van die dag is as papa Rough House met haar speel. Sy is mal daaroor om op die bed gegooi (letterlik) te word. Sy lag uit haar maag uit as mens haar onderstebo tuimel of aan haar voete optel. Sy speel so rof met haar speelgoed dat sy hulle sommer vinnig breek. Sy klim en klouter orals en soms weet ek regtig nie hoe sy boop goed kom nie. Ek is so dankbaar vir al die engeltjies wat haar beskerm. Maar Lisa is mal oor haar ‘rowwe’ ouers, want sy is ook rof. Baie rowwer as ons.

20150819_172400

Nou die dag toe sê iemand weer iets vir my. Hy het gesien hoe sy op die rugbyveld by die skool agter ‘n bal rondhol, terwyl ek met my cheerleaders praat. Sy woorde het my laat dink. Hy het gesê: “She is so confident. The way she is not scared and just believes that she can do anything. I love your parenting style because it reflects in her.” En daar is dit. Deur sogenaamde ‘rowwe’ ouers te wees, het ons haar meer selfvertroue gegee. Dit het my so trots laat voel. Trots dat ons (alhoewel ons aan die begin getwyfel het of ons die regte ding doen) die regte tipe ouers vir ons baba dogtertjie is. Sy is nie bang nie, sy staan nie terug nie…want sy is die ROFSTE!

48. Selfs ‘n celebrity kort dokters

wp6cdffc32_06

Ons was baie gelukkig om by 2 militêre hospitaal te wees, want hulle het iets genaamd HIGH RISK CLINIC. Dit gebeur een keer ‘n maand op ‘n Vrydag en dit is ‘n groep dokters uit verskillende spesialiteitsvelde wat saam na jou babatjie se ontwikkeling kyk. Dit sluit ‘n pediater, spraakterapeut, speelterapeut, arbeitsterapeut en fisioterapeut in…so al die fundi-peute!

Die hospitaal verwag dat alle babas wat deel van ‘n twee- of drieling is, asook alle prem babas vir hierdie ondersoek moet kom. Gewoonlik kom mens elke 3 of 6 maande vir ‘n ondersoek totdat die baba 2 jaar oud is. Op 2 is hulle veronderstel om heeltemal met hulle ouderdom se ontwikkeling op te gevang het. Tydens hierdie ondersoeke kan die dokters vroegtydig probleme optel en moontlike intervensies doen om te keer dat dit vererger.

Prem mylpale is heeltemal anders as gewone mylpale. Daar word gepraat van ‘Corrected vs Actual age’. Actual age verwys na haar regte ouderdom…soos van die dag wat sy gebore is. Corrected age word bepaal vanaf haar due date. Mylpale gaan tot op 2 volgens hulle Corrected age. Byvoorbeeld as ‘n baba op 6 maande moet sit…moet Lisa teen 9 maande kan sit. Dit was een van die moeilikste goed as ma, want mense verstaan nie altyd nie. En as ‘n ma wil jy so graag hê jou baba moet al haar mylpale behaal dat dit soms bietjie van ‘n obsessie raak.

images3G8BZ09H

Ons eerste High Risk was toe Lisa 3 maande oud was. Op 3 maande was Lisa maar nog redelik ‘n blob en het nog nie vreeslik verder ontwikkel nie. As ek daaraan dink moes sy eintlik eers op 3 maande gebore gewees het, so dis seker maar reg so. Ek was vreeslik senuweeagtig vir die ondersoek. Wat as hulle iets agterkom wat met haar verkeerd is? Wat as hulle sien sy is nie normaal nie? Wat as sy nie ontwikkel nie?

Voor jy na die kamertjie gaan waar hulle die ondersoek doen, word jou baba eers geweeg, gemeet en ook die omtrek van die kop word gemeet. Als het ok gelyk en ek het op die stoel in die gang voor die high risk kamertjie gewag. Die volgende oomblik het ‘n verpleegster in die gang af gekom. Sy het gevra of dit nou Lisa Kriel is. HUH?! het ek gedink…wie is jy? en hoe ken jy ons? Sy het my vertel dat ALMAL van hierdie wonderbabatjie weet en dat haar storie die hele hospitaal vol lê. ‘n Storie van hierdie groot wonderwerk en dat sy die eerste micro-prem baba was wat hulle al gehad het, wat geen probleme gehad het nie. ‘n Storie van hoop en ‘n storie van lewe. Ek het skielik ‘n bietjie regopper gesit en my skouers was terug, want hierdie mamma was so trots.

1897712_10154881814245179_9164969569286801913_n

Tydens die eerste ondersoek kon hulle nie veel sê nie, want op 3 maande moet babatjies nog nie kan rol of sit of staan nie. So hulle het meer gekyk na haar nekkie en die beweging van haar ogies. En alles het normaal gelyk. Die pediater het egter iets opgetel wat haar bekommer het. Die omtrek van haar kop het volgens hulle grafieke gewys dat haar kop veels te vining groei. Dit kan moontlik bloeding op die brein wees (iets wat algemeen by premies voorkom) of dit kon net wees dat die eerste omtrekmeeting (wat in Grootte Schuur gebeur het) verkeerd was. Die ding is dat prem babatjies maar gekenmerk word met hulle effens groter koppies en uitpeulerig ogies. Die pediater het ons dadelik vir ‘n brein scan gestuur net om liewer seker te maak.

10178044_10154782051455179_2437032516549483170_n

Ons was al voorheen vir so scan, maar die keer was ek meer senuweeagtig. Dit was asof ek tydens ons tyd in die hospitaal meer voorbereid was vir al hierdie toetse en goeters. En nou dat sy al vir ‘n maand by die huis is…moet alles mos net reg wees. So die scan was vir my nogal erg. Ek moes haar vashou terwyl hulle die scan op haar koppie doen. Weereens was daar niks fout nie en Lisa se brein lyk perfek…klein, maar perfek…soos sy. En die pediaters het dit afgeskryf as ‘n fout op die geboorte rekords. Om te dink dat iemand se verkeerde afmeting veroorsaak dat daar so gestres word en dat breinscans gedoen moet word.

Vir ons tweede High Risk afspraak op 6 maande was ek meer gereed. Ek het presies geweet hoe dinge werk en ek het geweet wat om te verwag. Lisa kon al omrol…albei kante toe en sit vir ‘n paar sekondes. So ek was opgewonde om te hoor wat die dokters te sê het. Terwyl ek weer buite die kamertjie wag, het daar nog ‘n vrou langs my kom sit en wag met haar tweeling wat op 38 weke gebore is. Die dogtertjie het ‘n vreeslike lelike vlek op haar gesig en die seuntjie het ‘n abses op sy kop. Hulle was 7 maande oud, maar kon nog nie sit of omrol nie. Ek was skielik onsagtlik dankbaar. ‘n Gevoel wat ek so baie ervaar het dat dit nou ‘n spesiale plekkie in my hart het…net langs liefde en hoop.

1513180_10155087981255179_7489384850272380912_nDie dokters was baie tevrede en haar koppie het selfs minder groot gelyk. Lisa het soos altyd ‘n vreeslike ‘show’ opgesit en omtrent ‘perform’. Sy aard mos maar bietjie na my en is mal oor aandag. Sy was so oulik dat die pediater gou ‘n paar ander dokters en verpleegsters gebel het. Haar woorde was: “Lisa Kriel is here…you must come see this!” en so het my Celebrity baba se aanhangers opgedaag. En ge-oooo en ge-aaaa oor hoe ongelooflik dit is dat sy ‘corrected’ mylpale op haar ‘actual’ ouderdom haal. Hulle het foto’s gevat van haar en saam met haar…en Lisa se FANBASE het van toe af net gegroei. As sy maar net weet…hierdie mamma is haar grootste FAN!

47. Playdates met groter, tog jonger maatjies

Dit is heerlik om saam met vriende swanger te wees. Dit is lekker om saam te kan gesels oor ons probleme en om te lag oor al die stories. Nog lekkerder is die idee om saam kinders te hê. Kinders wat maatjies sal wees omdat hulle mammas maats is. Terwyl ek met Lisa swanger was, was daar baie van my vriendinne swanger. Ongelukkig was dit al my ver-bly vriendinne en ons kon nie so gereeld as wat ons wou saam kuier nie, maar dit was regtig spesiaal om die swangerskapreis met hulle te kon deel.

Toe my swangerskap so bietjie vroeër eindig, het hulle my ongelooflik ondersteun…engelmense. Ek het daagliks op watsapp met hulle gepraat en hulle was so bemoedigend en ondersteunend. Nadat alles bedaar het en almal se kinders gebore is, kon ons nie wag om mekaar se babatjies te ontmoet nie en die “playdates”-stadium het sommer gou begin. Die playdates is mos maar meer vir die mammas, maar in elk geval. 10615974_10152652413136815_2248963542294178448_n

Playdate nommer een was in September saam met my universiteits-troufotograaf-hartsvriendin en haar pragtige klein dogtertjie. Sy was so ‘n maand na Lisa gebore. Ek het vreeslik uitgesien om te sien hoe sy lyk, want op Facebook was sy opvreetbaar oulik. Snaaks hoe baie ek gedink het aan hoe groot sy gaan wees. Ek het nie veel ander babas (van Lisa se ouderdom) gehad om haar mee te vergelyk nie, en wou vreeslik graag sien hoeveel kleiner of groter sy gaan wees.

Dit was heerlik om bietjie uit te kom en ons het in Mugg n Bean ontmoet. Haar dogtertjie het rustig geslaap terwyl Lisa (soos altyd)  met groot wakker ogies na almal gestaar het. Ek kon eers ordentlik sien hoe groot haar (heeltemal normale grootte) dogtertjie was, toe sy wakker word. Lisa het soos ‘n sieklike kind teenoor haar gelyk. Dit het gelyk asof Lisa veel jonger as sy is en asof sy ernstig ondervoed word. 10614280_10152652413336815_4068905343329022577_n

Skielik was ek, vir die heel eerste keer, ietwat skaam. Skaam vir wat mense van my dink. Dink hulle ek gee haar nie genoeg melk nie? Skaam vir my kind wat lyk asof sy siek is. Skaam omdat my baba nie normaal lyk nie. Skaam om vir mense te sê hoe oud sy is. Ek kon dit nie heeltemal verstaan nie, want ek was so trots op haar. Maar dit was asof ek skielik die oë van die buite wêreld op my voel brand het. Asof ek nou…omdat daar iemand was om haar mee te vergelyk…skaam gevoel het. Ek wou vir almal verduidelik dat sy vroeg gebore is en dat ek haar genoeg voer en dat sy heeltemal gesond is. Ek het gevoel asof ek ‘n groot bordjie aan haar pram wil hang wat net verduidelik dat sy erg prem was. En die gevoelens was vir my vreemd, want ek het glad nie verwag ek gaan so voel nie.

Tog was dit so lekker om uit te gaan saam met iemand wat ook borsvoed en wat verstaan hoeveel moeite dit is om daai bottel vol kosbare melkies te pomp. Dit het so normaal gevoel om te eet…elkeen met ‘n kind op die arm en om direk na ete vining te betaal, want ons het ‘n skedule om by te hou. Ons was nie een 100% gewoond aan ons babas se roetine nie en was versigtig vir wanneer hulle gaan huil, of wil slaap, of poef…ens.

10378946_10204686803872000_5183625848616548558_n

Lisa se tweede playdate was saam met ‘n kollega se babatjie. Haar babatjie is ook so 4 weke vroeg gebore in September, maar het gelukkig geen komplikasies gehad nie en was nie te klein nie. Ons het haar in Oktober…toe sy omtrent ‘n maand oud was, gaan ontmoet. Ek het gehoop dat Lisa die keer groter gaan wees as haar veel jonger maatjie…3 maande om presies te wees. Maar weereens was Lisa veel kleiner. Maar waar die babatjie die heeltyd net geslaap het, was Lisa aktief en woelig en het heerlik met haar slapende maaitjie gesels. En ek was OK daarmee dat sy klein was, want sy was so besig en oulik.

10801692_10154983312635179_6815647373875513338_n

Ons derde playdate was vir my baie spesiaal. My beste vriendin bly ver en ek sien haar veels te min. Maar sy is regtig ‘n ongelooflike mens en ek wou so graag haar babatjie ontmoet. Haar dogtertjie is net ‘n week na Lisa gebore, maar ons kon mekaar die eerste keer  in November gesien het. Dit was wonderlik om te sien hoe oulik en rustig sy met haar dogtertjie was. Sy het net haar eie kop gevolg en waar ek oor alles opgelees en geworry het, was sy net ‘n ma. En ‘n baie goeie ma daarby. Sy het my inspireer om net te doen wat ek goed dink. As ek vir Lisa pap wil gee…gee vir haar pap. As ek haar nie wil sleep-train nie…moenie. Dit was heerlik om op te vang, maar ek wens ons kon elke week koffie drink. En ek verstaan nie hoekom niemand nog ‘n teleport masjien kon uitdink nie…waar is die Ingenieurs en Wetenskaplikes?!

Na elke playdate het ek myself uitgevang waar ek besig was om Lisa met haar maatjies te vergelyk. Ek kon myself nie help nie en het gewonder of ek ooit gaan ophou om te worry oor haar gewig of oor die mylpale wat sy veronderstel is om te haal. Ek was soms hartseer oor hoe klein en broos sy gelyk het teen haar veel vetter, ronde maatjies. Maar meestal was ek trots dat sy, alhoewel sy kleiner is, kan doen wat hulle doen. Dat sy ‘n tawwe koekie is wat vir niemand terug staan nie.

Ek sien nou vreeslik uit na elke playdate. Want deesdae pla die gewig my nie meer nie. Nou moet ek rondstaan en keer en optel en sê NEE, want nou SPEEL hulle actually tydens hulle playdates.

46. Daar is niks erger as die dood van ‘n kind nie

51f40df98ce883263efc7b071a826401As ‘n onderwyser het ek met baie jongmense te doen. En in my jare van skoolgee, het ek al ‘n paar leerders gehad wat gesterf het…of in ‘n ongeluk of selfmoord of aan kanker. Dit was altyd vir my ontstellend en ek raak altyd bitter emosioneel as ek hoor van so ‘n geval. Dit is vir my vreeslik hartseer, want hulle is nog so jonk.

Tydens my kraamverlof is een van my Gr. 11 leerders, Savannah, oorlede. Sy was een van daardie funky, vol-lewe, gryp-die-bul-by-die-horings tipe meisies. Iemand wat altyd vriendelik was en wat altyd dankbaar was en iemand wat altyd haar huiswerk gedoen het en vir haar toetse geleer het, maar tog populêr en vonkig was. Iemand soos wie ek graag eendag sal wil hê, Lisa moet wees.10665320_10154733512285179_4517365228552499741_n

Haar dood het my skielik meer as gewoonlik getref. Ek kon nie ophou dink hoe dit moet wees om ‘n kind te verloor nie. Dis vreemd…want tydens Lisa se eerste 3 maande het ek baie gedink aan die dood. En ek het baie gedink aan hoe ek sou voel en hoe ek sou optree as sy sou doodgaan (iets wat op ‘n stadium redelik moontlik was). Ek kon nie begryp hoe dit moet wees om iemand wat jy vir 3 maande (en die tyd in jou maag) lief gehad het en vir wie jy alles gegee het, te moet groet nie.

En toe probeer ek myself indink hoe ‘n ma van iemand wat in Gr.11 is, moet voel. En ek kon nie. Dit het my kop letterlik seergemaak om te probeer dink hoe mens eers moontlik begin om met so iets vrede te maak. Al die drome wat ‘n mens vir jou kind het. Al die liefde, al die herinneringe, al die baklei, al die opmaak, al die drukkies, al die oomblikke. Ek het gewonder hoe ‘n mens weer of miskien selfs steeds in God glo as so iets met jou gebeur het. Hoe maak mens vrede? Hoe gaan jy aan met die lewe?images

Ek het probeer sin maak van als. En het besef dat nou dat ek self ‘n ma is en self ‘n stukkie van my hart buite my lyf sien rondbeweeg, verstaan ek hierdie moederlike liefde skielik soveel meer. ‘n Liefde wat alles sal opoffer om die geluk en vooruitgang van jou kind te verseker. ‘n Liefde wat wil huil as jou baba siek is of pyn het. ‘n Liefde wat enige iets sal doen om die pyn en lyding van jou kind te verruil vir dié van jou eie. ‘n Onbeskryflike liefde wat mens nie vir enige iemand kan verduidelik nie.

En toe skielik besef ek dat dit is hoe my eie ma oor my voel…en al die jare gevoel het. En ek besef dat dit is hoe God oor ons voel. En dit het my oorweldigend hartseer gemaak. En weereens het ek gehuil…nie vir Savannah nie, maar vir Savannah se ma. En vir my ma wat ek soveel keer teleurgestel het in my lewe. En vir God, wat ek soveel keer op die agtersitplek in my lewe geplaas het.

ac77b36610991d991d6ade724acea4fdNet daar het ek ‘n besluit gemaak. Om nie toe te laat dat die klein negatiewe dingetjies die hele lewe onsmaaklik maak nie. Om volheid te lewe in alles wat ek doen. Ek het besluit om seker te maak my verhouding met die Here is wat dit moet wees…dat Hy weer agter die stuur van my kar moet wees. En ek gaan my bes probeer om die al negatiewe woorde wat ek al oor my eie ma gespreek het, te probeer regmaak.

Ek het besef dat die lewe werklik te kort is om oor alles kwaad te raak. Dat ons soveel slegte goed net moet “Let GO!” en dat ons moet positief wees oor alles. Ek het besluit om te lewe. NOU terwyl ek nog fisies LEWE. En ek weet dit klink simpel, maar mens kort elke nou en dan so ‘wake-up call’. Ek weet ek kry dit nie altyd reg nie en ek weet ek gaan nog baie foute maak, maar van daardie dag af…leef ek, want ek wil nie nou al dood wees nie.

untitled

45. Ooo…I think that I’ve found myself a CheerBABY!

10450789_10154867497400179_1231768543649306627_n

By die skool waar ek werk rig ek die Cheerleaders af. Dit is nie soos die Stormers Girls wat rondhop in mooi lyfies en kort broekies nie, maar soos in FULL ON American Cheerleading met toertjies en tuimelwerk en stunts. Hulle het uitstekend gevaar gedurende die jaar en het gekwalifiseer om aan die Nasionale kompetisie in Oktober deel te neem. Gelukkig vir my was dit die jaar in Kaapstad gehou en kon ons gaan. Maar dit het beteken dat hulle tydens my kraamverlof moet oefen en dat ek vir hulle ‘n hele nuwe roetine moet uitwerk.

10731188_299846910208449_5490061284341300601_n

Dus het Lisa sommer vinnig ‘n Cheer’baby’ geword. Sy moes maar net saam gaan as ek hulle afrig en het dit tot my verbasing vreeslik geniet. Sy het of rustig gelê en slaap in haar karstoeltjie of sy was teen my bors vasge’wrap’ of sy wou heeltyd net drink. Indien die laaste die geval is, het ek maar net van die pawiljoen af instruksies geskree terwyl ek met ‘n kombersie oor my kaal borste voed. Ek het altyd gewonder of die seuns wat verbyloop ooit eers bewus was, maar ek dink tog nie so nie. Hulle het gedink ek maak haar aan die slaap.

1013992_794080627305432_7685547436430879023_n

Ek het lank gewig en weeg of ek haar op die dag van die kompetisie moet saamvat. Gaan die musiek vir haar te hard wees? Gaan sy ok wees met al die geraas? Gaan sy heeltyd skree? Gaan almal aan haar wil vat? Maar ek het tog besluit dat sy maar moet saam. Een van die onderwysers by die skool het vir haar ‘n presiese replika van my meisies se uniforms gemaak en alhoewel dit nog veels te groot vir haar was, was sy reg vir die dag.

1012416_10154836483940179_1577135980175569586_n10404309_10204693638882871_2051151888073811691_n10622761_10204693638282856_392539034210761256_n

My meisies was puik! Ek was so trots op hoe hard hulle gewerk het en hoe ver hulle gekom het. Hulle het deurgedring na die finale dag toe en het uiteindelik 6de in die land geeindig. Lisa was hulle gelukbringer en hulle het hulle beste gedoen. Dit was vir my so mooi toe die kaptein op die dag met die span praat. Sy het gesê dat Lisa so klein is en so hard baklei het vir haar lewe…en dat dit nou hulle beurt is om te baklei vir wat hulle wil hê. Dit was vir my bitter spesiaal dat hulle inspirasie gevind het in my klein poppie se lewe.

10678637_299847056875101_8834976861076690831_n - CopyDaar was natuurlik ‘n paar snaakse kyke vir die klein babatjie (sy was 2.8kg) en ‘n hele paar mense het gevra of sy ‘n “regte” baba was. Ek was so trots op haar dat sy net “go with the flow”. Sy het floreer met die geraas om haar en het rustig gelê en slaap in die Trainers Room. Sy was min gepla met die chaos en die stres en die musiek wat om haar gepomp het en sy was net Lisa…die cheer’baby’.

10614150_299846870208453_4122469487529762531_n

Ek het vroeg besef dat sy maar een van daai babatjies gaan wees wat maar net wil saam. Of ek nou netbal afrig, cheerleading doen of werk. Sy is op haar gelukkigste wanneer sy saam met mamma kan gaan en sy kan enige plek slaap en enige plek eet. Sy is so ‘n maklike baba wat dit aan betref. Vandag nog is sy by elke kompetisie of optrede. Die meisies is so lief vir haar en kyk so mooi na haar. Sy is so deel van almal se lewens en dit maak my bitter trots om haar ma te wees.

Vir my was sy van die begin af al ‘n mini-cheerleader. Sy is bang vir niks. Sy klim en klouter en staan nie terug vir enige ouer of groter maatjie nie. Sy is mal oor rofspeel en geniet dit om onderstebo getuimel te word. Sy is ‘loud’ en sosiaal…so wie weet…miskien word sy eendag so deur die lug gegooi. Een ding wat ek verseker weet: Indien sy ooit sal val…is daar baie mense wat haar sal optel en sal help om weer tot bo te klim. 11223643_10156251866070179_4891772620024196817_n

Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir die klein lyfie inhou nie. Gaan sy Mount Everest uitklim? Of gaan sy ook die 400m rekord in atletiek breek (soos Wayde…’n trotse 1.1kg premie)? Gaan sy ‘n boek skryf of gaan sy haarself op die verhoog uitleef? Maak nie saak wat sy eendag gaan doen nie…hierdie mamma sal altyd vir haar CHEER!

44. La Leche League kuiertjie

images

Aangesien ek dit my mamma-missie gemaak het om Lisa te kan borsvoed, het ek vreeslik baie op die internet opgelees oor alles aangaande borsvoeding. Een groep op Facebook wat my bitter baie gehelp het (en steeds doen) was La Leche League. Nou meeste mammas ken hulle, maar vir die van julle wat in die donker is hieroor…dit is ‘n groep vrouens wat borsvoeding bemark en hulle gee advies en moedig mammas maar net in die algemeen aan om te borsvoed.

Dit was vir my wonderlik om suksesstories te lees en om ander mammas se vrae en advies te lees. Dit het my meer normaal laat voel, want ek was nie al een in die wêreld wat sukkel nie. Hier was baie vrouens wat openlik oor hulle probleme gepraat het en dit was vir my wonderlik om te sien dat borsvoeding vir baie ander vrouens ook nie net “natuurlik” en “maklik” gebeur nie.

Ek was ongelooflik opgewonde toe ek een dag afkom op ‘n uitnodiging na ‘n kuiersessie by een van die La Leche leiers se huis. En ek was nog meer opgewonde toe ek sien dat dit omtrent ‘n kilometer van my huis af plaasvind. Ek het uitgesien om ander mammas in my area te ontmoet. Ek het gesien hoe ons almal met ons babatjies kuier en gesels oor als wat pla. En hoe ons in die verre toekoms op Saterdae in die parkie ontmoet sodat ons kinders kan saam speel. Ek was so bly dat ek blootgestel gaan word aan ander mammas met soortgelyke idees en met babas wat omtrent so oud soos Lisa is. Weereens was ek GLAD nie voorbereid vir wat op my wag nie.

Toe ek by die huis aankom was daar 6 ander vrouens, maar almal was redelik ouer as ek. Ek het rondgekyk om te sien waar almal hulle babas wegsteek en of ek iets gemis het. Maar nee, ek het nie. Niemand, behalwe ek, het ‘n baba gehad nie. Die ander se kinders (wat van 2 tot 7 jaar oud gewissel het) het almal buite in die tuin gespeel. Ek het aangeneem hulle het moontlik…of liewer HOPELIK…hulle babatjies by die huis gelos.

Toe ons begin gesels, het dit duidelik geraak dat ek bietjie die verkeerde idee gehad het waaroor so kuiertjie gaan. Die mammas was almal regte borsvoed-Nazi’s. Hulle was vreeslik aggressief oor mense wat formule melk gee en mense wat hulle snaaks aankyk wanneer hulle hulle 7 jarige seun in die publiek borsvoed. Ek moes self my mond toemaak toe die een seuntjie (omtrent 5) tydens die gesprek instap, sy ma se hemp oopknoop en self haar bors uithaal en rustig staan en drink terwyl sy ma net aan gesels asof daar niks vreemds aan die gebeur is nie. Hulle dra almal net organiese materiaal en is regte hippies. Ek het daar gesit en dink…wat maak ek hier?!

Ek is 100% vir borsvoed, maar ek probeer glad nie ander mammas wat besluit het om nie te borsvoed nie, te oordeel nie. Dit is tog elkeen se eie persoonlike keuse. En ek ken baie mammas wat formule gee omdat dit vir hulle werk. Net omdat ek sterk voel oor borsvoeding beteken tog nie almal moet so voel nie. Ook het ek beplan om Lisa te borsvoed tot op 6 maande (wat toe ‘n jaar geraak het), maar ek was glad nie gewoond daaraan dat mense groot kinders voed nie. Dit was vir my “weird” en regtig vreemd.

imagesCAXZ1869

Alhoewel ek ongemaklik was, het ek die praatjie regtig geniet en so baie geleer oor borsvoeding wat ek nie geweet het nie. Goed soos dat ‘n ma wat geborsvoed het, ‘n kleiner kans het om kanker te ontwikkel. Ek het ook geleer hoe om seker te maak dat ek genoeg eet en drink om die beste melk”koei” te wees. Dit was regtig lekker om bemoedig te word vir die feit dat ek dit kon regkry om Lisa wel te voed. En almal het vreeslik ge-oooh en ge-aaah oor hoe klein en oulik sy is.

In die kar oppad huis toe het ek sit en wonder hoekom ek so vreemd gevoel het. Wie is ek om te sê wat normaal is of nie? Die groep vrouens was net anders as ek, maar dit maak hulle tog nie verkeerd nie. Ek het besef dat ek moet leer om tussen die sleg, al die goed raak te sien. Ek het weggestap sonder vriende en sonder lewenslange kennisse, maar ek het ook weggestap met kennis en ook ‘n idee van wat ek as reg sien.

imagesCAD0YT05

As ek Lisa in die publiek voed, maak ek nogsteeds my borste met ‘n lappie toe. As ek by die huis voed, nie. Ek glo steeds wat ek glo en ek doen steeds wat ek dink reg is. Ek lees steeds daagliks die nuwe stories op die La Leche groep en geniet dit nogsteeds net so baie. Maar hierdie groepie was net nie vir my nie. (Alhoewel ek steeds elke maand uitgenooi word)

Ek het egter gedurende my kraamverlof baie ander mammas ontmoet. Mammas met wie ek wel kon assossieer. Mammas wat soos ek dink, en soos ek doen. Ek het gereeld teruggedink aan my ontmoeting met die Nazi’s. En ek het net weer besef dat daar baie verskillende blomme in die veld is. En elkeen gee sy eie geur en kleur aan die wêreld. En nou…as ek ‘n ma sien wat haar borste uithaal en ‘n kind (baba of nie) in die winkels voed OF as ek ‘n ma sien wat vir haar baba ‘n bottel aanmaak…sien ek ‘n blom. ‘n Mooi blom met ‘n heerlike, vars geur.

imagesCAG3PF8P

43. ‘Baby’moon…letterlik

10346197_10154773956570179_6023356388116934342_nTerwyl dit nou deesdae die ‘in’-ding is vir almal om op ‘n BABYmoon te gaan, het ons ook inderdaad op so ‘n vakansie gegaan. ‘n Babymoon is ‘n vakansie waarop mens gaan terwyl jy swanger is. Om so vir oulaas net man en vrou te wees. Gewoonlik is hierdie “trippies” oorsee (as mens geld het), maar kan ook net vir ‘n naweek weg wees (as mens minder geld het) of ‘n mini-roadtrip met die opslaanmatras in die bakkie om die blok (as mens arm is). Die idee daarvan is maar net om iewers oor te slaap en om die kinderlose bestaan vir een laaste keertjie te geniet.

Ons babymoon was ongelukkig nie terwyl ek nog swanger was nie…so ons babymoon het verander in ‘n regte ‘baby’moon…want ons ‘baby’ was saam met ons daar…letterlik. Nadat al die chaos van hospitale en al die vrese en skok van ‘n vroeggebore baba bietjie bedaar het, het ek en my man besluit ons kort ook bietjie ‘n breek. ‘n Breek van ALLES en ALMAL…insluitende die bedagsame boodskappe wat ons op ons fone gekry het om te hoor hoe dit gaan. Ons wou net vir ‘n bietjie WEES…net normaal kuier en wegkom van die gejaagdheid. Ons het besluit om te soek na ‘n plek wat nie selfoonontvangs het nie, want ons wou regtig net bietjie alleen wees. En ons kon nie oorsee gaan nie (al het ons in elk geval nie geld gehad nie)…so ons het ons soektog beperk tot 2 uur buite Kaapstad.

Ons het die perfekte plekkie gevind: Somerset Gift net buite Swellendam/Buffeljags. Daar was ‘n dam en ‘n rivier sodat my man kon visvang. Daar was geen tv of selfoonopvangs nie. Daar is 3 pragtige klein selfsorg-eenhede en dit is asemrowend mooi. En om alles te top…dis net R550 ‘n nag. Sonder om te lank daaroor te dink, het ons dadelik vir ons die Rose cottage bespreek. g36478

Vir die eerste keer in ons lewe het dit nogal lank gevat om die kar te pak. Gewoonlik gooi ons net elkeen vinnig ‘n sak in en siedaar, maar nou moet ons skielik dink aan pak. Het ek genoeg doeke? Het ek die bad? Het ek genoeg klere? Het ek als onthou? Wat as sy op al 3 kombersies opgooi? Hoe ver is dit na die winkel toe vir as ek iets vergeet het? Maar toe ons uiteindelik in die kar is, en Lisa salig in haar stoeltjie slaap…het ons babymoon begin.

Somerset Gift was perfek. Ons huisie was eenkant en afgesonder. Daar het koeie en twee perde rustig in die kampie voor ons huis gestaan en wei. Mens kon niemand anders hoor nie en die geluide van die voëltjies en insekte was hard hoorbaar. My hart het sommer dadelik rustig en reg gevoel. Geen radio in die agtergrond nie, geen karre, geen stemme, geen stres, net ons 2 (en ‘n baba).

10501675_10154773956045179_471209787497835958_n

Die naweek wat ons gekies het was ook spesiaal omdat dit volmaan was. Aangesien Lisa op ‘n volmaan gebore is (en sy vir ‘n week of so bekend was as Full Moon Kriel) was dit vir ons ekstra spesiaal om elke aand rondom die vuur te sit en na die ongelooflike maan te staar. Ons het teruggedink aan die 2 volmane wat al verby was en het met dankbaarheid en “in awe” gestaan vir alles wat al gebeur het. Lisa was net oor die 3 maande oud en die dinge wat ons in 3 maande geleer het, was fenominaal. Die Here was bitter goed vir ons en dit het my ietwat klein laat voel in die lig van al die GROOT goed wat ons in die 3 maande beleef het. Al die wonderwerke en seëninge was effens oorweldigend. libra-full-moon-331-20110413-57

Die weer was perfek (alhoewel hulle ‘n storm voorspel het – nog ‘n wonderwerk?). Ons het lekker gaan stap (met Lisa styf teen my bors ge’wrap’) en my man het heerlik in die kano’s wat by die dam lê gaan visvang terwyl ek en Lisa op die wal sit en boeklees. Dit was heerlik om nie te veel te dink nie…om nie grimering (wat die donkerkringe van veels te min slaap en veels te veel stres wegsteek) aan te sit nie…om nie te dink aan wat ons volgende gaan eet nie…om te stap as jy wil stap en te lê as jy wil lê…om die vuur al teen 9:00 die oggend aan te steek omdat dit lekker is (nie om te braai nie). Ons het ure op die stoep gesit en net gesit. Ons hoef nie heeltyd met mekaar te gepraat het nie, want ons was ok. Ons het die ergste 3 maande van ons lewens oorleef.10670264_10154773955380179_5294737160814808043_nLisa was meeste van die tyd stroopsoet, maar toe dit op die eerste aand kom by slaaptyd wou sy nie ophou skree nie. Maak nie saak wat ons doen nie, sy skree. Ek het gesus en melk gegee en gesing en gestap en lunges gedoen en geswaai en gehop…en Lisa het net geskree. Toe ek uit pure desperaatheid my selfoon op haar carrycot neersit met ‘Joshua na die Reën’ se ‘Lig op die horison’-liedjie…het sy skielik ophou huil. Sy was tjoepstil en elke keer as die liedjie ophou, begin Lisa weer skree. Ek het die liedjie op repeat gesit en rustig gebraai terwyl Lisa bietjie haar Afrikaanse musiekkennis opbou. Die res van die naweek was sy rustig en kalm en het heerlik saam met mamma en pappa gekuier.

10696389_10154773955580179_4374406828523878266_n

Alhoewel ons aande nie gevul was met passie en romanse nie, was ons babymoon perfek…perfek vir ons. Ons het ons bed gedeel met ‘n derde persoon…’n bondeltjie mens. Ek moes die plek op my man se bors (my gunsteling-veiligvoel-plekkie) weggee sodat Lisa daar kon lê. Maar dit was ok, want sy is tog die skepping van ons liefde vir mekaar. Om hande vas te hou terwyl ons stap en om mekaar ‘n piksoentjie te gee vir nagsê was genoeg vir eers, want ons liefde het tussen ons gelê. Om diep in mekaar se oë te staar en net eenvoudig te weet…net te weet, was genoeg.

10352570_10154773956730179_3640420875928752899_n

Die naweek was net wat ons nodig gehad het. My hart en gees het weer heel gevoel. Ek kon alles wat gebeur het rustig inneem en terugdink en reflekteer. Somerset Gift sal ALTYD ‘n bitter spesiale plekkie vir ons wees en ek kan nie wag om terug te gaan nie…die keer net met ‘n dogtertjie wat op die trampoline spring, op die swaai sit ry en saam met pappa op die kano gaan visvang.

10689893_10154773956920179_6125022140806289696_n

42. Baby showers en Due Date Partytjie

10659225_10152736176995159_3180914853248595138_nIets waarna ek nog altyd baie uitgesien het, was my ooievaarstee. Ek het altyd gekyk na ander mense se foto’s (met hulle mooi ronde magies en al die mooi babygrowtjies wat met gedrukte name of prentjies aan ‘n wasgoedlyn hang) en in my hart het ek myself daar gesien. Ek… wat met my hoogswanger-maag en opgeswelde enkels saam met my vriende en familie in ‘n tuin iewers staan en tee drink en lag en gesels oor die lekker en sleg van ma-wees. Ek het gedroom oor al die raad wat mense my gaan gee. Die stories oor hoe mens weet jy is in kraam…hoe hulle die hele huis wou skoonmaak voor die baba kom…hoe almal hospitaal toe gejaag het…hoe hulle water gebreek het…hoe hulle geskree het van pyn in die kraamsaal…hoe hulle gevoel het toe hulle hulle bondeltjies vir die eerste keer vasgehou het…al die borsvoedingsadvies…en…en…en.

Ek was nog nooit by ‘n ooievaarstee van enige iemand wat ‘n prem-babatjie gehad het nie. En dit was ook nooit iets waaraan ek eers gedink het nie. In my kop was dit maar net iets wat natuurlik met almal gebeur. Almal wat swanger is…het ‘n ooievaarstee. Dis net hoe dit werk. Is dit nie?

10641222_10152736176300159_3708617820218933182_n

My beste vriendin het al van die oomblik wat ek haar gesê het ek is swanger aan my ooievaarstee begin beplan. Sy is net so…engelmens. Sy wou weet of ek dit stylvol of grapperig wou hê. Of ek wil speletjies speel? Of ek simpel goed wil aantrek en nappies ruil? Of ek net wil kuier by iemand se huis en of ek wil uitgaan? Sy wou weet wie sy moet nooi en waar sy dit moet hou. Elke keer wat ons gaan koffie drink het, wou sy weet wanneer sy dit moet hou en in my kop was daar nog BAIE tyd. Ons het beplan om dit aan die begin van Augustus te doen. Dan is daar nog ‘n maand oor vir my en dit sou net perfek wees.

10599189_10152736176735159_5173645278144293527_n

Toe Lisa aan die begin van JUNIE gebore is…was daar dus nog nie eers sprake van die “beplande” baby shower nie. Ek het nie veel gehad nie, want almal het altyd vir my gesê mens moet niks koop tot na jou baby shower nie…want mens kry soveel goed. Maar in die tyd wat ek in die hospitaal met Lisa was, het al my vriendinne en familie geskenkies en klere en allerhande lekker goedjies tog by die huis kom aflaai.

Die skool het my gevra om eendag my UIF vorms te kom optel en hulle (of liewer ongelooflike kollega-maaitjies) het my HEELTEMAL verras met ‘n baby shower. Sommer ‘n driedubbele een (want daar was twee ander swanger juffrouens ook). Dit was so spesiaal, maar tog so oorweldigend. Dit was toe Lisa net 2 weke oud was en sy het op daardie stadium nog vir haar lewe baklei. Ek onthou hoe ek gevoel het toe ek in die saal instap en al die kinders en onderwysers daar staan. Ek het my trane wegbaklei en het in verwondering gestaar na al die versierings, bosse blomme, koekies en mooi toegedraaide geskenke. Ek het so spesiaal gevoel en het soveel geskenke gekry…van die personeel en van die kinders. Ek het na elke stukkie klere gekyk en gewonder wanneer Lisa dit ooit gaan dra. Vandag is sy 14 maande oud en sy pas nogsteeds nie in meeste daarvan nie. Maar ons was so geseënd met tonne geskenke (van ‘n koekie seep tot ‘n hele medisyne tassie) en skielik was die nut vir ‘n baby shower nie meer daar nie.

10463923_500500283416721_2959160947477201672_n

Tog het ons besluit dat Lisa (en in ‘n mate mamma) se lewe gevier moet word. Dat ons ‘n baby shower MOET hou. Ons het besluit om liewer ‘n Due Date Partytjie te hou. My vriendin het steeds als gereël en dit was so spesiaal. Almal wat vir my belangrik was, was daar. En dit was vreeslik snaaks om my baba by my baby shower te kon hê. Sy was maar nog klein…net oor die 2kg…maar sy was daar (alhoewel sy regdeur die kuier geslaap het).

10592680_10152736177735159_5494859319212141448_n

Ek wou nie hê mense moes weer vir my presente koop nie (want almal het al teen die tyd iets gebring) en ek wou net hê ons moet lekker rustig kuier en gesels en lag en normaal wees. En dit was presies wat ek altyd wou hê. Als was so mooi en daar is soveel moeite gedoen. Dit was heerlik om te kon dankie sê vir almal se ondersteuning en liefde. Dit was ook lekker, want die ergste stres was verby en ons kon werklikwaar feesvier. Ek het dit so geniet om met almal te gesels en op te vang. Dit was regtig spesiaal.

10372512_10152736177410159_3221115571236102122_n

Nou beteken baby showers skielik vir my iets anders. Baie van ons vriendinne is nou swanger en dit is vir my so vreemd (en in ‘n mate moeilik) om na hulle baby showers te gaan. Ek voel asof ek hulle wil skud en vra of hulle weet hoe gelukkig en geseënd hulle is om nog op 32 weke ‘n baby shower te kan hê. Of hulle weet hoe bly hulle moet wees dat hulle moontlik normaal kan kraam? Of hulle elke dag dankie sê dat hulle babatjie groei? Of hulle elke dag besef hoe dankbaar hulle moet wees dat hulle nog ‘n babatjie in hulle maag het? Of hulle besef hoe gelukkig hulle kan wees dat hulle kan kla oor seer voete en ‘n seer rug?

Maar ek het besef dat ek dit tog nie vir hulle kan vra nie…want dit is belangrik dat hulle voel soos hulle voel. Dat hulle opgewonde moet wees. Dat hulle moet kla oor hulle voete en hulle rug. Dat hulle moet glo dat hulle babatjie normaal sal kom. Dat hulle mag stres oor die feit dat hulle babatjie reeds 2.6kg weeg. Dat hulle moet dink alles gaan perfek wees. Dat hulle moet verwag dat alles 100% soos plan gaan verloop. Want dit is wat vir hulle reg is. En in plaas van die doemsprofeet speel, glimlag ek maar en bid ek elke aand dat hulle drome sal waar word en dat hulle planne sal uitwerk.

41. Die “perfekte” kraamverlof

wondermom

Ek wonder soms waar al die ideale wat mens vir mensself stel vandaan kom. Waar kom ons aan als wat “normaal” vir ons is. Is dit die TV se skuld met hulle valse idee van swangerskap en huwelik en ma-wees, of is dit maar ook deur ons eie doen en late. Is ons nie maar altyd besig om ons met mekaar te vergelyk nie? Is dit omdat ons op Facebook en Instagram al die “perfekte” mammas met hulle “perfekte” lywe en hulle “perfekte” babas sien? Mammas wat besig is om joga te doen met ‘n baba op die rug, ‘n stofsuier in die hand en ‘n glimlag op haar gesig. Mammas wat nooit donker kringe onder hulle oë het nie en besig is om ‘n baba te borsvoed terwyl hulle vir ‘n pedicure te gaan.

images

Ek het gedurende my swangerskap die idee van kraamverlof verwelkom. Ek het baie dae gedink hoe ek die 4 maande gaan benut. Ek sou elke dag met my babatjie in ‘n pram om die blok of langs die see stap (om my “lyf” weer terug te kry). Ek sou saam met my ander nuwe-mamma-maaitjies gaan koffie drink en oo en aa oor ons oulike babatjies. Ek het gedink om die eerste 2 maande so min as moontlik te doen en heeldag in my pragtige volmaakte babatjie se oë te kyk. Ek sou lekker in die winkels rondloop en by Kauai ‘n smoothie koop (om my “lyf” nog meer terug te kry). Ek sou elke dag vir my man lekker kos kook. En as my baba slaap sal ek elke dag probeer om iets in die huis uit te sorteer (soos die kaste of so iets).

Min het ek geweet dat ek die eerste twee maande in die hospitaal gaan wees. En dat ek nie die woord “kraam”-verlof wou gebruik nie, want ek het nie ge”kraam” nie. Maar my baba is onder abnormale omstandighede uit my maag gesny. Ek het ook gevoel hoe onregverdig dit is dat prem mammas nie die volle 4 maande kraamverlof kry om SAAM met hulle babatjie by die huis te wees nie. Dat hulle baie van daardie tyd in die hospitaal moet deurbring. En dat hulle babatjies na 4 maande nog fisies veels te klein is om by enige dagsorg in te teken.

Maar min het ek ook geweet dat die tweede twee maande ook GLAD nie soos plan sou verloop nie. Eerstens het my UIF nie uitbetaal nie…so ek was tydens my hele kraamverlof arm. Ons het ekstra geld weggesit vir die eerste tyd, maar het nie ingereken dat ons elke dag hospitaal toe gaan moet ry nie. Die petrol het stadig maar seker ons spaargeldjies weggevreet en die wegneemetes wat daarmee gepaard gegaan het, het ook nie gehelp nie. Ons het ook nie ingereken dat dit so lank sou vat vir UIF om uit te betaal nie. My man het uitgehelp met geld sodat my debietorders ten minste afgaan, maar daar gaan die idee van koffie drink en smoothies koop en winkels toe gaan. Ek het soveel probleme met UIF gehad dat my geld eers nadat ek weer begin werk het, uitbetaal is. Ons het ons leefwyse ernstig aangepas en glad nie bederf kos geëet nie. Ons het NET by Shoprite inkopies gaan doen en moes ernstig beplan. Die ‘lekker’ kos wat ek elke aand wou maak het verander in tuna mate en groentesop.

Tweedens het dit meeste van die tyd gereën en dit was vrek koud. En daar vlieg die idee van oefening ook by die venster uit. Ek het 2 keer in 4 maande om die blok gestap. En ek was so uitasem dat dit glad nie vir my lekker was nie. Ek het ‘n klomp ou Parenting-tydskrifte by ‘n vriendin gekry en het heerlik gelees en gekyk hoe die “perfekte” ma met haar geblaasde hare in die prentjie oefeninge doen. Ek onthou hoe ek gewonder het waar haar baba is terwyl sy besig is om met haar pers gewigte op die blou joga-matjie te lê en haar maagspieroefeninge te doen. En hoe ek gewonder het of ek kan onthou hoe my maagspiere nou weer lyk? Dit alles terwyl ek in my pajamas op die bank sit met TLC op die TV in die agtergrond en Lisa wat op my bors lê. Ek moes maar vrede maak met my “lyf” en het besluit om die idee van ‘n bikini of selfs ‘n volswembroek vir eers te laat vaar.

Derdens was my lekker uitstappies baie anders as wat ek gedink het. Ek het een keer ‘n week saam met my nuwe vriendinne gebid en moes elke Woensdag vir Lisa by die kliniek laat weeg. Ons het besluit om nie ‘paranoid’ te raak oor Lisa se gewig nie. Baie prem mammas weeg hulle babas elke dag op ‘n kombuisskaal, maar ons het besluit om maar te hou by wat die dokters aanbeveel het…om een keer ‘n week by die kliniek te laat weeg. Daar is net 2 susters wat daar werk en na die tweede keer het ek die roetine goed geken. Elke Woensdag na die weegsessie het ek in die kar gesit en vir my man, die oumas en oupas en een of twee ander wat belangstel die gewig van die week deurgestuur. Elke week was anders, maar na so paar weke kon ons bevestig dat sy min of meer so 100g ‘n week optel. Ek het een week daar gekom en sy het net 40g opgetel. Die suster was baie bekommerd (sy het my allerhande rowwe goed vertel) en het aanbeveel dat ek dadelik die pediater bel.  Ek het so gestres en vreeslike gedagtes het deur my kop gemaal. Ek het in die kar sit en senuweeagtig die foon opgetel en die nommer geskakel. Die pediater het my so gemaklik laat voel en gesê dat dit heeltemal normaal is vir ‘n prem. En dat ENIGE gewig wat hulle optel goed is, solank hulle net nie verloor nie.

Laastens wou ek nie veel doen nie. Ek wou net sit of lê en net wees. Ek wou nie uitgaan nie. Ek wou nie mense sien nie (veral nie mense met vet normale babas wat al kan sit op 3 maande nie). Ek wou seker maak Lisa is warm en ek wou seker maak ek kan haar genoeg melkies gee. Ek het ure lank in haar oorgroot, uit-proporsie-uit, perfekte ogies gestaar. En honderde ge-‘blur’-de foto’s geneem van elke moontlike gesigsuitdrukking. Ek het nie een kas reggepak of een kamer uitsorteer nie. Ek was net ‘n ma. ‘n Ma wat GLAD nie die ma, wat ek in my kop beplan het om te wees, was nie. ‘n Ma wat net vir ‘n oomblik vergeet het wat die wêreld van haar wil hê. ‘n Ma wat nie perfek is nie. ‘n Ma wat vir dae nie gestort het nie. ‘n Ma wat met ‘n hart vol liefde en dankbaarheid op kraamverlof is. Net eenvoudig ‘n MA.

10600409_10154721231690179_2990896721979383813_n

40. Dis ok om uit die huis uit te gaan…belowe.

10537827_10154590735505179_6857005975433033835_nEk weet nie of dit vir ‘normale’ mammas ook so is nie, maar vir my was dit regtig moeilik om te besluit wanneer dit ok is om uit te gaan met Lisa. Nie uit… soos in hospitaal toe of uit…soos in om geweeg te word nie, maar uit…soos in allerdaagse, normale uitgaan. Ek en my man het besluit dat ons gaan wag totdat sy 2kg is en dan gaan ons haar aan die realiteite van die ‘regte’ wêreld blootstel. Wie weet hoekom ons op 2kg besluit het, maar ek dink ons moes net een of ander merker hê wat ons idee van ‘norm’ bepaal.

Ons eerste UITstappie was regtig eenvoudig. Ons het met die honde in die berg gaan stap. Dit was ‘n mooi dag en ek het Lisa in ‘n wrap op my bors vasgemaak. En ek het ‘n fleeze top bo-oor haar toe-gezip en het seker gemaak sy is nie koud nie. Sy was so klein dat mens haar amper nie kon sien nie. Dit het net gelyk of ek regtig groot borste het (bonus!). Ons het ‘n plek gekies waar daar min mense sal wees en ons het die honde in die bakkie gelaai. Dit was heerlik en dit het so normaal gevoel. So asof dit net reg is…ons ou klein familietjie. Die honde was mal daaroor en het nooit verder as 5 meter voor ons uitgehardloop nie…en dan net gou kom seker maak ons is ok voordat hulle weer hol. Lisa het die hele tyd geslaap en dit was makliker as wat ek gedink het dit gaan wees.

10470598_10154573752830179_2088239788269849627_n

Stadig maar seker het ek agtergekom dat dit ok is om met ‘n baie klein babatjie in die baie groot wêreld uit te gaan. Ek het in ‘n mate gevoel asof die samelewing wou hê dat ons moes wag totdat sy die grootte van ‘n “normale” baba is. Maar wat is “normaal”? Is dit 2.5kg? of 3.5kg? Is dit ‘normaal’ om dan jou baba vir die eerste 6 maande van haar lewe by die huis te hou?

Ek het geweet dat daar kieme ‘daar buite’ is en dat mense (met kieme) aan haar gaan wil vat. Ek was bewus dat die temperatuur van die huis en die temperatuur van die kar en die temperatuur van die winkel verskil en dat sy moontlik kan siek raak. Ek het verstaan dat as sy siek raak, gaan ons dalk weer in die hospitaal opeindig. Ek het geweet dat mense (familie, vriende sowel as vreemdelinge) my gaan oordeel oor my besluit en ek was self nie seker of ek bereid was om daardie kans te vat nie.

Maar aan die ander kant het ek geweet dat Lisa sterk is. Ek het gesien hoe sy in die hospitaal baklei…baklei teen pype, baklei om asem te haal, baklei teen die incubator, baklei met die verpleegsters elke keer wat hulle haar seermaak, baklei om te lewe. Hoe sy ‘n wil vir die lewe het wat ek nie aan enige iemand kan beskryf nie. Ek het geweet dat God Sy hand oor haar hou en ek het geweet Hy beskerm haar. Ek het ook geweet dat ek haar nie vir altyd in watte kan toedraai nie. Ek het verstaan dat ek haar uiteindelik moet toelaat om haar immuunstelsel op te bou en maar daardie gevreesde kieme in die gesig moet staar. Ek het myself oortuig (en dit was nie so maklik nie) dat dit ok is….en ek bedoel werklik OK is om met haar uit te gaan.

So is ons dus op ons eerste uitstappie MALL toe. Ek en my baie goeie vriendin het in Cavendish ontmoet. Ek het so gesukkel om vir Lisa ‘uitgaan’-klere aan te trek, want so min van haar klere het gepas. Teen al my ANTI-pienk pogings, was haar pienkgoed van die eerste klere wat gepas het. Haar pienk (ja…ja) hospitaal mussie en booties het nog gepas en verder het ek haar die kleinste broekie en hempie in haar kas aangetrek. 10568823_10154707663900179_33615017428436945_n

Ek het alles haarfyn beplan. Wanneer sy gaan moet drink, wanneer sy moet slaap, hoe lank ek kan bly, wat sy als gaan nodig hê. Ek het nog nooit so lank gevat om ‘n sak te pak nie. En ek dink ek het moontlik 3 of 4 keer seker gemaak of ek alles het wat ek moontlik nodig gaan hê. Ek het gestres oor hoe sy gaan wees. Gaan die mense en die ligte haar oorstimuleer? Gaan sy heeltyd skree? Gaan sy geslaap kry? Gaan ek kan ‘cope’?

Dit was heerlik om te probeer om net ‘n normale mamma te wees wat saam met haar normale vriendin op ‘n normale koffie-date gaan. En als was ok totdat sy in haar karstoeltjie wakker geraak het en ek haar voor mense moes uittel…en skielik was dit SO nie normaal nie. Ek dink nie ons kon twee tree stap sonder om gestop te raak nie. Mense kon nie glo dat sy so klein kan wees nie. Hulle wou weet hoekom? en hoe? en hoe lank? en hoeveel? Die mense wat nie vrymoedigheid gehad het om te vra nie, het gestaar…en saggies vir mekaar gefluister…en met hulle vingers gewys…en hulle nekke afgedraai om vir ons te kyk.

Ek het so hard probeer om dit nie te sien nie. Om net aan te gaan. Om nie moeg te lyk nie. Om te fokus op die feit dat my beste vriendin besig is om my te vertel dat sy swanger is. Om bly te lyk. Om te glimlag asof als ok is. Om opgewonde te lyk (en nie my eie vrese oor swanger wees aan haar oor te dra nie). Om te maak asof ek nie bang is dat Lisa enige oomblik gaan breek nie. Om te maak asof ek ‘n ‘cool’ ma is wat heeltemal ontspanne is om met ‘n 2kg baba in Woolies se restaurant te sit. Om te doen wat ek op skool op die verhoog so goed gedoen het…om te ACT.

Ek onthou hoe ek heeltyd gedink het: “Fake it till you make it” en ek het presies dit gedoen. Alhoewel ek in my hart wou weghardloop en my dogtertjie in ‘n spesiale bubble wrap boksie wou sit en haar net veilig hou. Maar ek het dit ook gemaak. Ek het dit oorleef (net net, maar ja) en Lisa het dit oorleef. Sy het nie gebreek nie en sy het nie siek geraak nie. Sy het dit werklik eintlik geniet. Sy het daarvan gehou om uit te gaan en het beter geslaap en minder gehuil as by die huis. En met die tyd het ek geleer om my eie instinkte te vertrou en te doen wat ek voel reg is. En wat die res van die samelewing betref? Wel…wie gee om?