82. Eksieperfeksie

juggling_momIn Gr. 9 doen ek elke jaar met my klasse die gedig Eksieperfeksie, wat gaan oor ‘n gesin wat perfek is in alles wat hulle doen. Hulle lyk perfek, hulle oefen daagliks, hulle eet gesond, hulle presteer en is populêr en gelowig. In die laaste strofe vind mens dat hierdie druk om so perfek te wees die dogtertjie eintlik lei tot ‘n lae selfbeeld en eetversteuring en sien mens dat hulle eintlik glad nie so perfek is nie.

{Ek haat die woord PERFEK! Dit herinner my aan die woord prefek en dit het my nog altyd gepla dat die leiers van ‘n skool so na aan perfek moet wees. }

Die wêreld plaas soveel druk op ons om perfek te wees. Die media doen dit daagliks en almal streef na hierdie “perfekte” illusie. Hoe op dees aarde kan een mens in alles perfek wees?

Ons moet die perfekte ma wees. Dit sluit dus in dat jy die perfekte kok, perfekte dissiplineerder, perfekte speelterapeut, perfekte hanswors, perfekte sielkundige, perfekte vermaker, perfekte luisteraar, en, en, en, moet wees.

Dan moet jy natuurlik die perfekte vrou wees. Dit sluit weer in om perfek in die nuutste styl aan te trek, om perfekte hare te hê, om die perfekte huis te hê (skoon natuurlik), om die perfekte balans tussen werk, familie en vriende te handhaaf, om die perfekte lyf te hê, en, en, en.

Iewers hierin moet jy ook natuurlik die perfekte dogter wees vir jou ouers , die perfekte vrou vir jou man, die perfekte vriendin, die perfekte bestuurder, die perfekte kleindogter vir jou ouma en ouma, die perfekte kollega vir jou kollegas, die perfekte troeteldiereineaar vir jou diere, die perfekte kerkganger,  en, en, en.

Ek is nou so moeg net van dink aan al die druk wat daar op ons geplaas word, dat ek voel ek wil liewers nooit perfek wees nie. NIEMAND is tog perfek nie, maar om te laat gaan is nie so maklik nie.

Ek het nou die aand vir die hoeveelste keer Lisa se naels geknip. Toe ek steeds (vanaf haar gebore) nie bloed sien nie, was ek trots. Ek het toe vir myself gelag en gewonder watter belaglike ander standaarde ons nie ook vir onsself stel nie. Vir my voel dit elke keer wat ek nie daardie klein vingertjies wat wriemel en baklei teen die knippery raakknip nie asof ek Kilimanjaro geklim het. Ek bedoel dis nogals pretty perfek in my oë. images

So, van vandag af gooi ek  vir die soveelste keer die ideale vir perfek-wees by die venster uit. En ek gaan opreg net probeer om my kind aan die lewe te hou en ten minste een keer die week my hare te was. Ek gaan probeer om ‘n maksimum van 2 keer take aways te kry en ek gaan probeer om ten minste een item per dag van die vloer af op te tel. Dan gaan ek probeer om een super-perfekte-ninja-mens ding ‘n week te doen…net een. En dan gaan ek kyk hoe perfek my lewe werklik is.

Eksieperfeksie.

 

 

57. NUWE jaar, NUWE jy…nuwe MA!

imagesCADS1AIN Dis die 31ste Desember. Die laaste dag van die jaar. Môre is dit NUWE jaar! Die eerste dag van 2016!

NUWE is so ‘n mooi woord. Dit beteken so baie. As jy ‘n nuwe rok gekoop het, kan jy nie wag vir ‘n geleentheid om dit te dra nie. As jy ‘n nuwe resep raakgelees het, hoop jy dat iemand kom kuier sodat jy dit kan uitprobeer. As jy ‘n nuwe baba het, wil jy hom/haar vir die wêreld wys. NUWE is lekker, want dis ‘n ekstra toevoeging tot ons normale, vervelige lewe. Dit is ietsie spesiaals wat net vir ‘n kort tydjie NUUT kan wees…en voordat jy jou oë uitvee, is die nuut nie meer nuut nie en is dit ook maar vervelig en normaal.

Verlede jaar was vir ons ekstra NUUT. Dit was die eerste Nuwe jaar met ‘n NUWE baba. Dit was spesiaal en anders. Ons het glad nie ‘n groot dronkword-partytjie gehou nie. Ek het geborsvoed en Lisa was min lus vir vroeg gaan slaap. Ons was by ons vriende se VEGAS-poker partytjie en het opgedress en saamgespeel. Maar ons was nie lus vir kuier nie. Ons was lus vir rustig dink oor al die dinge van die afgelope jaar. Al die slegte en die goeie goed en ons wou rustig daaroor gesels en in dankbaarheid stilraak. En ons het op die 1ste tyd gehad om net te reflekteer oor die jaar. 10603729_10155172391385179_4413860247148855240_n

Elke jaar maak ons maar almal nuwejaarsvoornemens. Al sê ons ons doen nie, maak ons maar almal saggies in ons hart ‘n paar: “Hierdie jaar gaan ek minder soetgoed eet”, “Hierdie jaar gaan ek meer tyd aan oefening spandeer”, “Hierdie jaar gaan ek minder vloek”, “Hierdie jaar gaan ek meer tyd maak vir goeie vriende”, “Hierdie jaar gaan ek meer kerk toe gaan” en so gaan dit aan. Elke voorneme het gewoontlik ‘n meer of ‘n minder gekoppel daaraan. Meer tyd, minder eet, meer oefen, minder praat, meer glo, minder werk.

Dit is tog lekker om ‘n paar kilos te verloor en goed te lyk in jou klere. Dit is lekker om al daai feel-good-oefen-hormone te voel. Dit is lekker om gesond te eet en goed te voel. Almal hou daarvan om meer te kuier en minder te vloek. Ons WIL almal al hierdie goed doen…maar dit nie altyd so maklik nie.

En net soos die nuwe rok in die kas of soos die lekker resep, is die voornemens ook net vir ‘n tydjie nuut. Kort voor lank hang hulle saam met die ou rokke in die kas en wag ons vir die 31ste Desember om weer nuwes te maak. Ons eet gesond vir ‘n maand of twee (of soos ek en vele ander vir ‘n dag of twee). Ons vloek vir Januarie glad nie, in Februarie sê ons per ongeluk weer “fok” en teen Maart is dit weer die normale ou storie. Ons gaan draf of stap elke aand totdat die eerste reën val en dan is dit veels te koud om uit die huis te gaan en daar gaan die fiksheidsroetine ook. En dan sit ons en gee op omdat dit nog so ver is tot 31 Desember. En so gaan dit jaar na jaar. VOORnemens word binne ‘n paar weke AGTERnemens en ons vergeet daarvan en beweeg aan met ons lewens.

Hierdie jaar het ek besluit om geen voornemens vir myself te maak nie, want dit hou tog in elke geval nie. Iemand (sonder kinders) het my nou die dag gevra wanneer mens weer jou lyf terugkry nadat jy ‘n kind gehad het. En my antwoord aan haar was: “Mens is óf maer óf jy is ‘n ma…en mens kan nie albei kies nie.” En ek weet sy het gedink ek is mal en sy het gewonder wat dan van al die ander maer mammas. En miskien sal sy eendag verstaan. Verstaan dat dit lekkerder is om met jou dogtertjie in die tuin te speel as om te gaan draf. Dat dit lekkerder is om saam met haar ‘n roomys te eet as wat dit is om slaaiblare saam te eet. Dat dit lekkerder is om vir ‘n uur te kyk hoe mooi jou dogtertjie is as sy slaap as om situps langs jou bed te doen. Verstaan dat die gesprekke wat jy met vriende het skielik nie meer oor gewig gaan nie, maar oor mylpale, en hoe oulik jou kind is, en wat sy als aanvang. Dat ma wees al jou tyd op vat en dat jy dalk eendag weer sal dink aan jouself en jou lyf en jou hare.

Gelukkig is ‘n nuwe jaar ook tyd vir terugdink en reflekteer. Tyd om as ma stil te raak en te dink aan watter foute jy dalk deur die jaar gemaak het. En nie om jouself daaroor skuldig te laat voel nie, maar om nuut oor jou houding en “approach” te dink. So hierdie jaar maak ek net voornemens vir Lisa. Nuwe-ma-voornemens…en hier is hulle:

  1. Lisa gaan meer tyd buite in die modder en sand spandeer.
  2. Lisa gaan minder haar ma op haar selfoon sien.
  3. Lisa gaan meer uit haar maag uit lag vir haar ma se simpelgeid.
  4. Lisa gaan minder die woord NEE hoor.
  5. Lisa gaan meer toegelaat word om baba te wees.

En volgende jaar, miskien (groot miskien), sal ek weer aan myself dink. Maar vir nou is dit eers anders, want vir eers is ek net ‘n ma.As jy beplan vir 'n jaar