Nadat ek vir so dag huilerig was oor my melk wat weg was, het die matrone van die saal by my kom sit. Sy tree aan die einde van die jaar af en is ‘n absolute legende in die hospitaal. Almal ken haar en sy is regtig ongelooflik in haar werk. Sy het my hand gevat en vir my gesê: “Ek gaan nou huistoe. More as ek hier instap, gaan jou melk terug wees. Ek glo dit gaan so wees en nou moet jy net glo.” Nog ‘n engelmens.
My geloof op daardie stadium was nie so sterk nie en ek het uit my swak geloof seker gemaak ek het ‘n backup plan. Mens sal dink dat ek teen die tyd al geleer het om nie net op my eie vermoeëns staat te maak nie. Maar nee…ek moes nog ‘n paar lesse in geloof leer voordat ek regtig volkome kon vertrou en glo. Dis darem erg om partykeer so onafhanklik te probeer wees wanneer die Here net wil hê mens moet volkome afhanklik van Hom wees.
Die suster het vir my man die lys bestanddele vir Jungle Juice gestuur en hy het vir my als gaan koop. Ek het daardie aand net jungle juice gedrink…sommer heeltyd en baie. Dit het so bietjie gewerk en met elke pompsessie het ek so tussen 5 en 10 ml melk uitgekry. Gelukkig het Lisa toe nog net so 7ml gedrink en ek het nog ekstra melk in die vrieskas gehad vir ingeval, maar ek wou steeds seker maak dat my melk terugkom.
Die verpleegsters het gesê hulle sal my help om melk uit te kry. Binne ‘n paar minute is die 2 verpleegsters met ‘n kommetjie warm water en twee waslappe in die kamer. Ek is nie regtig ‘n skaam mens nie, maar na hierdie dag, het ek GEEN skaamte meer oor nie. Hulle het die waslappe op my borste gesit om die melkproduksie te stimuleer. En daar vir die eerste en hopelik laaste keer in my lewe, word ek soos ‘n koei gemelk. Een verpleegster op elke bors besig om my borste stelselmatig te melk. Ek onthou hoe ek gesit en huil het, en hoe hulle so sag en mooi met my gepraat het…nog engelmense. Hulle het my verseker dat ek nie ‘n freak is nie, en dat hulle dit al baie gedoen het…steeds het ek soos ‘n koei gevoel…vet, sonder melk en besig om gemelk te word. Ek het gedog dis erg genoeg, maar toe…net om seker te maak ek is nog nie verneder genoeg nie…stap die bitter aantreklike (hy dra altyd sulke bomber jackets…soos McDreamy in Greys), jong, manlike pediater by die kamer in om te hoor hoe dit met Lisa gaan. Aarde…sluk my in?!
My pediater het vir my Espiride (die generiese pil vir Eglynol) voorgeskryf. Toe ek dit kry en die papiertjie lees het ek bietjie geskrik. Dit was vir erge gevalle van wanaanpassing en sielkundige afwykings. Dit was vir mense met erge gevalle van skisofrenie. Ek het dadelik die dokter gaan vra of dit die regte pille is. Sy het my verseker dat dit help vir melk vermeerdering en dat die melk eintlik ‘n “side-effect” van die pil is. Ek was steeds skrikkerig om dit te drink, maar toe ons bietjie meer navorsing doen, sien ons dat dit op baie mamma-websites sê hoe goed dit is. En dat duisende mammas dit gebruik. En toe drink ek dit…vir melk (en nie vir my histeriese geskree op die nagsuster nie).
Die volgende oggend is my melk alreeds meer…so 20-30 ml op ‘n slag. Ek was so dankbaar en verlig, maar het steeds aanhou drink aan my Jungle Juice. My tannie het my kom optel om my UIF papierwerk te gaan ingee en ek is met ‘n bottel jungle juice en op baie sterk sielkundige medikasie in die kar. Ons het so 10 km gery en ek het begin duiselig voel. Ek het minder begin gesels en net konsentreer om nie op te gooi nie. My tannie gee my so een kyk en sy hol na die naaste winkel om ‘n plastieksak te kry. Ek het weer, soos die dag op die trap in Kalkbaai, yskoud geraak en kon voel hoe ek weer gaan uitpass. Na ‘n tydjie, voel ek weer ok en ons het aangegaan met ons UIF prosedure.
Terug by die hospitaal, het ek self besluit dat ek nou nie meer pille gaan drink vir my bloeddruk nie. Ek het geglo dat dit nou heeltemal reg is, en is nie bereid om een keer ‘n week om te kap as gevolg van lae bloeddruk nie. Ek het myself stadig van die bloeddrukpille afgekry en het nog nie weer probleme gehad nie. My melk het weer na so 3 dae teruggekom na normaal en ek is ook stadig van die sterk skisofrenie pille afge’wean’. En alles was weer ok. Ek het so 50 ml melk op ‘n slag produseer en ek het gevoel soos my ou self.
Die nagsuster van hel het kom jammer sê en ons het mekaar vergewe. Sy het besef dat sy partykeer hulp nodig het en ons het vrede gemaak met die vorige aand se eskapades. Tydens my tyd in die hospitaal het ons eintlik goeie vriende geraak en sy het een van my gunsteling susters geraak.
Pragrig charme!
Julle is darem so ‘n inspirasie! Het nou so lekker gelag.
LikeLike