Die ding met ‘n prem baba is dat tyd ‘n hele nuwe vorm aanvat. Mens leer bitter vinnig hoe belangrik 5 gram is en mens leer ook bitter vinnig hoe om geduldig te wees. Daar is geen nut daarin om jou baba te probeer aanjaag nie, want hulle doen alles op hulle eie tyd…of seker in ‘n mate op God se tyd.
Lisa was so gelukkig en geseënd. Sy het nie operasies nodig gehad nie…’n wonderwerk in prem-wêreld. Ek hoor daagliks van babas wat selfs groter as Lisa was met geboorte, wat ernstige lewensgevaarlike operasies ondergaan….goed soos ingewandes wat nie geheg is nie, kleppies in die hart wat nie reg toemaak nie, longetjies wat water op het en allerhande rowwe goed. Ek kan myself nie vir ‘n oomblik indink hoe dit moet voel om te weet hulle gaan met messe en toerusting aan daardie piepklein lyfies werk nie. Ek is ewig dankbaar vir die Here se genade, want ek is nie seker hoe hierdie mammas dit hanteer nie…Ek dink nie ek kon nie.
Alhoewel haar HP levels laag was en hulle haar ekstra ysteraanvulling gegee het, het dit nooit laag genoeg gedaal om ‘n bloedoortapping nodig te hê nie…nog ‘n wonderwerk in prem-wêreld. Bloedoortappings is iets wat met sommige babas tot en met een keer ‘n week gebeur. Dit is nodig om hulle te help oorleef, maar kom ook met sy eie stel gevare en komplikasies. Ons moes 3 keer hoor dat haar bloedtelling so laag is, dat hulle die volgende dag weer gaan toets en as dit nie op is nie, kry sy ‘n bloedoortapping. Dan het ons maar gebid en sowaar die volgende dag is haar tellings op. Net genoeg om ‘n bloedoortapping te vermy. Hiervoor was ons net so dankbaar.
Lisa was net vir twee dae op suurstof….nog ‘n wonderwerk. Sy het ook nooit ekstra suurstof nodig gehad nie. Alhoewel sy aan die begin van die Kangaroo Mother Care (KMC) ophou asem haal het, het sy self daardeur gewerk en het nie weer suurstof gekort nie. Ek sien en hoor ook gereeld van babas wat op 28 weke gebore is, wat selfs met suurstof huis toe gaan. Wat ‘n absolute wonderwerk.
Die dokter het gesê ons moet ‘n breinscan doen net om te seker te maak dat daar nie bloeding op die brein is nie…iets wat gereeld en redelik baie met prem-babas gebeur. Dit het my op my senuwees gemaak om te dink dat daar moontlik iets fout kan wees, maar weereens het haar scan geen bloeding getoon nie. Weereens was ons net dankbaar.
Ons Lisa het so ‘n “maklike” prem-pad gestap. Dit kon soveel erger wees. Ons Lisatjie was net klein. En al wat sy moes doen was groei. Elke oggend is sy geweeg. Hulle het haar uit die incubator uitgetel en verdwyn in ‘n ander vertrek. Ek onthou hoe ek elke oggend my asem opgehou het wanneer hulle terug instap met haar. En dan…het ons die dag se “verdict” gehoor. “Sy weeg 1.125, Sy weeg 1.130. Sy weeg 1.4, Sy weeg 1.38, Sy weeg 1.41…en so aan”.
Ek het soms gewens daar was ‘n formule waarmee mens kon uitwerk hoe lank ons nog gaan vat om by 1.8kg uit te kom. 1.8kg was die gewig waarop sy ontslaan kon word. Daar was ook geen spesifieke patroon in haar gewig nie. Soms was dit 5g op, soms 20g op, soms 10 g af, soms niks nie. Ek het soveel dae gesit en wonder wat ek verkeerd gedoen het as sy gewig verloor het. En ek het probeer dink wat ons anders gedoen het as sy baie opgetel het.
Ek is gereeld daaraan herinner dat ek nie in beheer kan wees nie (iets waarvan ek nogal gewoonlik hou). Dat haar vordering en groei en die spoed waarmee sy dit doen nie in my hande is nie. Dat sy op haar eie tyd groei en ontwikkel. Ek het geweet die Here het sy hand op haar en dat ons moet vertrou dat Sy tyd die regte tyd is. En stadig maar seker…gram vir gram…het Lisatjie gegroei.