39. Gebede word beantwoord

11024400_817992101601839_1001758383_nDie tweede week by die huis het iets baie spesiaal met my gebeur. My buurvrou oor die pad (wat ek nog nie so goed ken nie, maar wel vriendelik groet as ons mekaar in die pad kry) het my uit die bloute gebel. Sy het ‘n tweeling wat ook prem was en haar man was ook in die vloot…so sy ken die hele hospitaalstorie. Sy het my vertel dat hulle ‘n gebedsgroepie het wat bestaan uit vroue uit verskillende kerke wat elke Woensdag bymekaarkom om te bid. Dis almal mammas (en een ouma) wat of glad nie werk nie of net deeltyds werk. Sy sê toe dat hulle heeltyd terwyl ons in die hospitaal was vir my en vir klein Lisa gebid het (ek weet van niks). Sy vra toe of dit enigsins moontlik is vir hulle om die Woensdag by my te kom inloer, want hulle wil so graag vir ons bid.

Ek was stomgeslaan. Weereens was hierdie ‘n groep vroue wat ek nie geken het nie. Mense wat net vir ons omgegee het omdat hulle engelmense is. Ek hoor vandag nog elke nou en dan van mense wat vir ons gebid het. Mense oorsee…of die gebedsgroep by die skool…of ‘n ma van een van my leerders…of ‘n vriendin se ma se sussie in die Karoo se kerk…of ‘n ou skoolmaaitjie wat per ongeluk op Facebook van ons storie gehoor het…of ‘n tannie wat by ‘n ander tannie se vriendin gehoor het van ons storie en in hulle selgroep vir ons gebid het.  Dit is nogsteeds vir my oorweldigend om te dink dat daar soveel mense was wat vir ons omgegee het en dat God soveel mense bymekaar gebring het deur Lisa se storie. As ek kyk hoe ongelooflik geseënd ons tydens die krisistyd was, kan ek net DANKIE sê.   imagesCAQUNPKP

En so het ek daardie Woensdag ‘n groep ongelooflike mense ontmoet. Hulle het met warm, oop glimlagte by die voordeur ingestap en my huis was skielik gevul met soveel liefde. Party van hulle het selfs presente gebring…..weereens was ek oorweldig met hulle goedheid en het ek die trane wat in my oë gevorm het weggesteek en koffie gemaak. Min het ek toe geweet hoe hulle my lewe sou verander.

Elkeen het ‘n beurt gekry om Lisa vas te hou en die ‘ouma’ tussen ons het haar rustig aan die slaap gekry. Ek het met hulle van die hospitaalstories gedeel en ons was almal op ‘n stadium in trane. Dit was vir hulle wonderlik om vir ‘n slag die resultate van gebede en God se handewerk in lewende lywe te sien. Mens bid soveel keer vir mense wat jy nie ken nie en mens sien partykeer nooit hoe dinge uitwerk nie.

Hulle het my gevra of ek nie tydens my kraamverlof saam met hulle wil bid nie. Dit was vir my wonderlik om elke Woensdag vir amper 3 maande saam met die wonderlike mense te bid. Behalwe vir almal se lekker koffie (almal behalwe ek het een of ander ‘fancy’ koffiemasjien…met melk-froth-dingetjie en al) het ek ook in ‘n mate my weeklikse harts-kaffiene gekry. Hulle het my normaal laat voel as ek wil afpak en net wil huil. Hulle het my bemoedig en hulle wysheid (wat net ervare mammas het) het my hoop gegee.

Dit was vir my ongelooflik om elkeen van die vrouens te leer ken en om saam met hulle weer vir ander mense (wat ek meestal nie ken nie) te bid. Dit het my ook die geleentheid gegee om uit my pajamas te kom en uit die huis te kom, maar om dit in ‘n beskutte, veilige omgewing vir Lisa te doen. Dit was heerlik om uit my maag uit te lag vir van hulle stories en om saam te kan giggel oor van die ervarings wat ons almal deel.

Maar meer belangrik was dit vir my siel goed om weer ordentlik te bid. Nie net ‘n vinnige gebedjie nou en dan nie, maar ordentlik te bid. Dit het weer my hart oopgemaak vir soveel dinge en ek het gevoel hoe die Here my weer toerus om met vrymoedigheid voor mense te bid. Nie omdat ek goed bid nie…maar omdat ek bid. Dit het my weer opnuut geleer dat gebede nie groot woorde en gestop vol bybelversies hoef te wees nie, maar dat ‘n maklike eenvoudige gebed wat uit jou hart kom perfek is.

Ek mis hierdie oggende vreeslik vandat ek weer by die werk is en elke Woensdagoggend bid my hart saam met hulle. Dis heerlik om elke nou en dan van hulle raak te loop en om die paar wat in ons kerk is Sondae te sien. Ek is so bly dat ek by die een van my “nuwe” vriendinne se selgroep aangesluit het en dat ek nou elke Sondagaand saam kan deel. Ek waardeer hierdie mense so baie en is elke dag dankbaar vir God se groot plan en hoe hy keer op keer die regte mense op ons pad stuur.

imagesCA3NNJJF

38. Die eerste week van ordentlike “ma” wees

cold 2

Die eerste week met Lisa by die huis was…uhm…wel…interessant. Die hospitaal het ons baie mooi laat verstaan dat sy NOG nie ontslaan is nie. Dat hierdie net ‘n toets is (nog een) om te kyk of ons sonder die hulp van die hospitaal na haar kan kyk. Ons moes die Donderdag weer terug wees sodat hulle haar kan weeg. Dus was ons eerste parooltydjie maar eintlik net 3 naggies. As sy mooi gewig opgetel het in ons sorg, kan ons weer op “parool” uitkom totdat sy eindelik by 1.8kg kom.

In ‘n huis waar ons gewoonlik net in die badkamer seep gehad het vir handewas, was daar nou skielik seep in elke vertrek. En nie eers lekker-ruik seep nie, maar die een wat nes Dettol ruik…die een wat sê “99% germ free”. Ek was so bang sy raak siek en ons en enige iemand wat eers in Lisa se rigting loer, moes hulle hande was. Gelukkig het daardie intense handewasproses net vir so paar maande geduur en ons is nou weer heeltemal ‘normaal’ wat die kiemfobie betref (sjoe…want ek is nogal eintlik in my hart ‘n ‘vuil’-kind) Ek wou ook nie hê mense moet vir ons kom kuier nie, want ek wou wag totdat sy liewer ordentlik ontslaan is voordat hulle kom. Netnou raak sy siek en dan wat? Maar natuurlik het ‘n paar “moet-sien” gesiggies kom inloer en gelukkig was almal gesond.

was

Ons het ‘n koue huis (en dis wonderlik in die somer), maar in die winter is ons huis ekstra koud. Ek en my man hou albei nogal daarvan so en doen nie die hele “heater” ding nie. Ons het elkeen maar net ‘n ekstra kombersie op die bank en siedaar. Maar die ding met die koue is dat ek Lisa moes warm hou anders verloor sy gewig en dan moet ons terug gaan hospitaal toe.

Ons was skielik meer bewus van die koue en moes allerhande DIY planne beraam om die kamer so warm as moontlik te hou. Ons het ‘n lekker kaggel wat gewoonlik heelaand brand in die winter, maar ek was te bang die rook affekteer Lisa se longetjies en asemhaling. Ons het ‘n stokou verwarmer uit die dak gaan afhaal om die kamer warm te hou. Ek dink dis een van daai onwettige asbes-verwarmers, maar in elk geval (dit het die kamer warm gemaak, ok!?). Ons het ook ons boontjiesakkies warm gemaak en in die bed gepak en ons het die ander kamers se komberse bygemaak en bo-op en onder die duvet gepak. Saans was ek sopnat gesweet van die hitte, maar Lisa was warm en dis al wat saakmaak.

cold

Die suster in die hospitaal het aanbeveel dat ek Lisa permanent in Kangaroo Care hou. Dus sal sy heeltyd van my liggaamshitte ook hou. Ek was so bang dat sy gaan koud kry. Ek wou so graag bewys dat ek ‘n “goeie” ma is, wat na my babatjie kan omsien sonder die hulp van susters en verpleegster. Ek was vasberade dat sy nie gewig sal verloor nie. Dus het ek Lisa onder my hemp gehou en dan ‘n kombersie bo-oor haar en dan my dik wol kamerjas bo-oor als.  En net so het ek soos ‘n opgestopte Kangaroo teddiebeertjie met my baba kangarootjie in die huis rondbeweeg.

Ek weet nie hoekom ek enigsins gedink het die wasgoed gaan als netjies gewas wees as ek by die huis kom nie. Maar mens kan seker maar droom. My man (shame…hy was ook deur hel) het nie een keer vandat ek in die hospitaal was, by die wasgoed uitgekom nie. Behalwe vir die wasgoed wat sy ma gewas het terwyl sy daar gekuier en uitgehelp het, was daar weke en weke se werksuniforms, stink sokkies en onderbroeke. Ek het net vir ‘n oomblik na die 2 groot, oorlopende wasgoedmandjies gestaar toe ek by die kamer instap en het besluit om nie op die eerste dag al kwaad te raak oor simpel goedjies nie.

Ek onthou wel hoe ek gewonder het hoe ek dit gaan was en ophang as ek Lisa heeltyd op my bors moet hou. Maar op een of ander manier met my rug so half agtertoe sodat Lisa nie uitval nie…en met my een arm op haar en die ander arm in die wasmasjien (g’n wonder my rug is nou nog seer nie) het ek dit reggekry om die wasgoed weer op datum …of liewer soort van op datum te bring.

Saans was ‘n ander storie. Ons het haar gebad (met meer selfvertroue en handigheid as in die hospitaal) en ek het haar so vinnig as moontlik weer op my bors gesit sodat sy nie koud word nie. Lisa moes bo-op my slaap. Ek het kussings gepak om my regop, in ‘n sittende posisie, te hou en sy het op my bors geslaap terwyl ek so soortvan elke paar minute vir ‘n paar minute weggesluimer het (weereens briljant vir ‘n seer rug). Ek was so bang ek rol oor haar, maar ek was banger dat my man oor haar sal rol (ek slaap mos al vir ‘n tydjie so, maar vir hom is dit ‘n nuwe ding om ‘n baba in die bed te hê).

10576936_10154606179430179_257538202158920537_n

Lisa het vreeslik gehuil saans. Dit was asof sy net nie wou slaap nie. Sy was so vaak, maar sy weier en baklei teen die slaap. Toe ons die Donderdag terug gaan hospitaal toe en ek hulle vertel van haar vreeslike gehuilery, het die suster net vir my geglimlag en haar kop geskud. Sy sê toe vir my dat sommige NICU babas ‘n skerperige lig in die kamer moet hê wanneer die baba slaap. Dat hulle so gewoond geraak het aan die ligte en geluide van die hospitaal dat hulle glad nie in ‘n stil, donker kamer kan slaap nie. Ek onthou hoe ek gewonder het hoekom sy my nie vroeër vertel het nie, maar in elk geval. En van daardie aand af slaap Lisa vir die eerste paar maande van haar lewe met die lig aan soos ‘n …wel…soos ‘n baba.

Ek onthou hoe ek gebid het oppad hospitaal toe. Ek het my sakkie gepak gehad vir ingeval ons moes bly, maar dit was toe nie nodig nie. Ons het die eerste parooltyd met lof geslaag en Lisa het gewig opgetel! Ons is weer op parool huis toe en die keer was dit vir ‘n week. Ons moes die volgende Donderdag weer terug wees vir weeg en hopelik is sy dan 1.8kg sodat ons permanent kan huis toe gaan.

37. Lisa ontmoet haar ouer boetie en 2 sussies

   10628057_10154721237390179_8358977863743227484_n

Ek is mal oor diere. Ek wou as kind nooit my eie kinders hê nie, maar baie honde en katte. My ideale het intussen bietjie verander, maar ons het wel 2 honde en ‘n kat. Van die begin van my swangerskap af het ek baie opgelees oor hoe om jou babatjie aan die troeteldiere in jou huis voor te stel. Hoe jy eers ‘n kombersie met die baba se reuk huis toe moet bring en dan stadig maar seker die baba aan die diere voorstel. Aangesien ons nooit regtig geweet het wanneer Lisa huis toe kom nie, was die hele stadig-maar-seker proses dus nie so maklik nie.

Een ding wat julle moet verstaan is dat my honde nou nie juis as skoothondjies gesien kan word nie (alhoewel hulle soms so dink). Mac en Macy is albei van dieselfde ma en pa. Hulle is kruisings van ‘n St Bernard en ‘n Bull Mastiff. Dus is hulle redelik groot, maar baie liefdevol. Ons is bitter lief vir hulle, maar hulle is nog redelik jonk en hou nog vreeslik van speel. Hulle is so groot dat Mac se poot so groot was soos Lisa se hele lyfie. Ek wou so graag dat hulle haar ontmoet, maar ek was so bang dat hulle per ongeluk te rof met haar speel. Een ligte happie en Lisa is daarmee heen.

Dan het ons ook ‘n kat genaamd Katrina of eintlik net Kat vir kort. Sy is ‘n ‘rescue’ wat ons as ‘n volwasse kat by TEARS gekry het. Sy is maar redelik skrikkerig vir nuwe goed en het vandat ek swanger geraak het baie vreemd geraak. Sy het op my maag gelê en slaap en het alles wat ons vir Lisa gekoop het, as haar eie aangeneem. Sy het elke aand in Lisa se kot geslaap en deur die dag op Lisa se “changing mat” geslaap. Terwyl ek by die huis was, het ek haar afgejaag, maar vandat ek in die hospitaal was, was ek seker pappa het nie daaraan gedink nie. So ek was ook nie heeltemal seker hoe Kat oor die nuweling gaan voel nie.

‘n Ander probleem was dat Lisa se immuunstelseltjie bitter onderontwikkel was. Hulle het ons so baie gewaarsku teen kieme en vuilgoed. Ons moes so baie ons hande was en ek was skrikkerig vir die diere. Party mense het selfs aangeraai dat ons van ons diere ontlae moet raak. Hulle het gesê Lisa gaan te veel siek raak en dat preemies en troeteldiere nie saamwerk nie. Die hare is glo bitter sleg vir haar longe en ons sou volgens hulle altyd sukkel met Lisa en asma. Dit was vir ons nie eers ‘n opsie nie. Hulle is mos ook ons kinders.

Ons het eers na so dag of wat die diere aan Lisa voorgestel. En Katrina het als maar net van ‘n afstand af dopgehou. Sy was baie nuuskierig en wou als sien wat ons met Lisa doen. Sy het vir ‘n paar weke nie op ons bed gelê nie. Sy was vreeslik skrikkerig en het elke keer as Lisa net wriemel of ‘n geluidjie maak, weggehol

14176_10154591829925179_3422164300387572287_nDie honde wou net lek. Hulle wou regtig IN haar gesig wees om te ruik. As ek hulle nie toegelaat het nie, het hulle glad nie rustig geraak nie. Hulle wou elke oggend in haar gesig ruik en het dan baie beskermend by my voete gaan lê. Die twee honde was ook heeltemal anders met haar. Mac (die seuntjie) was beskermend en het geblaf as sy huil. Macy (die dogtertjie) was liefdevol en wou teen haar lê en heeltyd naby haar wees.  Ek was bietjie versigtig, maar Lisa het glad nie omgegee nie. Sy het dit inteendeel geniet en selfs haar klein handjie uitgesteek om hulle te voel. 1601244_10154689414155179_4235302444682778762_nSoos sy ouer geraak het, het hierdie verhouding net versterk. Hulle het met haar gespeel toe sy begin kruip en haar gelek as sy haarself teen die tralies optrek. Hulle is vreeslik lief vir haar en sy vir hulle. As ons die agterdeur oopmaak vir hulle om in te kom, lag sy kliphard uit haar maag uit. Katrina laat toe dat Lisa haar hare trek en sy trek speel-speel met haar stert deur haar gesig sodat Lisa kan lag. Lisa hardloop vandag al agter Kat aan en Kat laat haar verbasend toe. En as dinge te rof raak, spring sy net op ‘n hoogte wat Lisa nie kan bykom nie. 10940422_10155335663195179_4458823571460615052_nWat die kieme aanbetref, het hierdie mamma maar net ‘n bietjie LET GO! Ons het maar net besluit dat dit haar immuunstelsel opbou en dat ons maar net daarmee moet saamleef. Ek glo tot vandag toe dat die diere een van die groot redes is hoekom Lisa eintlik so min siek was. En wat is ‘n huis sonder ‘n hond en wat is ‘n vensterbank sonder ‘n kat?

36. Huis toe…regtig…die keer.

untitled 1

Uiteindelik het die dag aangebreek…dis Maandag, 4 Augustus, en ons gaan huis toe! Lisa het 1.58kg geweeg en dit was ‘n volle 7 weke en 4 dae nadat sy gebore is. 7 weke en 4 dae van hel… 7 weke en 4 dae van genade… 7 weke en 4 dae van hoop… 7 weke en 4 dae van toetse… 7 weke en 4 dae van vrees… 7 weke en 4 dae van frustrasie… 7 weke en 4 dae van wonderwerke en 7 weke en 4 dae van gebede…nie net deur ons nie, maar deur letterlik duisende mense wat ons nie eens ken nie.

Ek het die babakamer al maande in my kop beplan en het presies geweet wat ek wil hê en waar als moet gaan. Ek en my ma het self, terwyl ek nog swanger was, ‘n ligskerm gemaak en my pa het ure lank spandeer om ons ou familiekot (wat vir jare wit was) weer vir my af te skuur na die natuurlike mooi bruin hout. My ma en haar vriendinne het saamgespan om die beddegoed vir die kot asook vir die bed tussen hulle te maak of bymekaar te maak. Ons het oorweeg om die kamer te verf terwyl my man op see was, maar het besluit om dit te los totdat hy terug is. So kan hy ook deel voel van die proses. Ongelukkig was daar toe nooit tyd om dit so te doen nie.

Vir my man was dit moeilik. Hy het nie kans gehad om in my idees en planne te deel nie. Hy moes maar net op my instruksies vanuit die hospitaalkamer werk. Hy en sy broer het die kamer mooi uitgeverf en gordyne opgehang. Hy het self ‘n kompaktum gebou terwyl ons in die hospitaal was en hy het self mandjies gaan soek wat inpas by als. Dit was vreeslik snaaks, want hy wou alles perfek hê. Een van die vele oomblikke wat ek onthou was dat ek ons tafelnommers van die troue (wat ons destyds self gemaak het) gehou het en wou dit teen die muur opsit. Hy wou presies weet waar dit moet kom: “Hoe hoog moet dit wees? Wat presies is ooghoogte? want my ooghoogte en jou ooghoogte verskil. Hoeveel sentimeters tussen elke nommer?” Hoe meer ek sê: “Sit dit net op”, hoe meer wou hy presiese berekeninge hê.

10676150_10155264977850179_2192598907722090105_n

Dis so spesiaal vir my dat hy so hard gewerk het, want dit was sy manier om my “normaal” te laat voel. Hy weet hoe lief ek vir dekor is en hoe mal ek daaroor is as ons self goed kan maak. Vir my was dit egter die keer glad nie nodig om alles perfek te hê nie, want ek wou net by die huis wees. En ek het geweet dat Lisa nie sommer gou in haar eie kamer gelos kan mag word nie, maar vir hom was dit ‘n prioriteit. Asof hy wou opmaak vir die feit dat hy nie hier was nie. En asof dit sy manier was om my te ondersteun terwyl ek in die hospitaal was.

My skoonma en haar suster het vir my Lisa se kaste uitgepak en al die kleertjies en kombersies wat sy gekry het gewas en volgens groottes uitgesorteer. Dit was vir my so spesiaal toe ons by die huis kom en die kaste is netjies uitgepak. En my man se niggie het ‘n mooi fotoraam met een van die hospitaalfoto’s vir my op die rakkie neergesit. Dit het my sommer tranerig gemaak toe ek by die kamer instap. Ek het hulle ook gevra om vir my die klere wat nou vir Lisa sal pas, hospitaal toe te bring. Hulle het ook ‘n carrycot vir ons gewas en ‘n nuwe matrassie gekoop en laat oortrek…engelmense…ek sê mos.

Dis snaaks. Ek onthou hoe ek die hele naweek beplan het wat Lisa gaan aantrek die dag wat ons uit die hospitaal ontslaan raak…asof dit ENIGSINS saak maak wat sy gaan aanhê. Sy het tot en met daardie dag glad nie klere gedra nie, want sy was of in die incubator of in Kangaroo Care. Ek het gewonder of haar klere gaan pas. My keuse was redelik beperk tot die heel kleinste klere wat ons het. Dit moes ook warm wees, want dit was vrek koud. Ek het besluit op ‘n langmou prem vessie en ‘n pepstores broekie…en bo-oor ‘n beertjie pakkie van Ackerman’s se tiny baby reeks. Ek het dit vooraf bekyk en gedink dit sal verseker pas. Dit was by verre die kleinste klere in haar kas, maar toe dit kom dat ons Lisa moet aantrek…was als nog veels te groot. Sy het verdrink in haar klere en ek moes die broekie optrek tot onder haar arms en die moue van als moes 3 keer omgerol word.

Ons het vir almal totsiens gesê. Gemengde gevoelens het vir my ‘n nuwe betekenis aangeneem. Ek was so opgewonde en bly om by die kamer uit te stap, maar ter selfde tyd het ek so lief geraak vir die personeel en het gevoel asof ek goeie vriende moet groet. Ons moes die Donderdag terugkom vir weeg (onthou ons is nog net op parool huis toe) so dit was half asof ons groet, maar nie vir altyd nie…net vir nou.

Ons het Lisa in haar karstoeltjie gelaai en ons hoef glad nie die bande van die karstoeltjie te verstel het nie. Sy was veels te klein en het soos ‘n verlore klein beertjie gelyk. Sy het dit ook glad nie verstaan nie en het verward na my gekyk. Voor ons by die deur uit is, het ons haar toegepak met komberse. Dit was vrek koud en wou verseker nie hê sy moet sommer op ons eerste “parool”-uitstappie koud kry en dus gewig verloor nie.

10570286_10154570706465179_6311245802419814995_n

In die kar, het ek agter by haar gesit. Ek was nie seker wat sy in die kar sou doen nie. Ek het gehoor mens moet versigtig wees in die kar, want premies kan maklik ophou asem haal in die stoeltjie. Ek het haar soos ‘n valk dopgehou en elke kort-kort gevoel of sy nog asem haal. Sy het die hele pad geslaap en het glad nie gedeel in my opgewondenheid nie. Ek en my man het oor niks anders as haar toestand gepraat nie. “Wat doen sy? Haal sy nog asem? Is sy ok?” ens. Toe ons by die huis stop, was dit skielik vreemd. Hier staan ons nou ewe skielik met ‘n baba in die oprit. En nou? Hoe nou? Is ons gereed vir dit? Sal ons dit kan doen? Op ons eie? Net ons 3?

35. Hurry up and wait

untitled1Ek dink een van die mees frustrerende dinge van die NICU is tyd. Dit voel vir mens asof sekondes minute is…en minute ure…en ure dae…en dae weke…en weke maande…en maande jare. Dit voel asof mens vir EWIG moet wag vir die dag om aan te breek dat jy jou baba kan huis toe vat. Dis al waaroor jy heeltyd dink en alhoewel daar ander goed gebeur, bly dit iets waarna jou hart smag…soos in aanhoudend smag.

Alles wat in die hospitaal gebeur is ok…want jy weet dat eendag (hopelik nie meer lank nie) dan kan jy jou babatjie in jou eie huis gaan grootmaak. Dit maak die toetse, die stres, die min slaap, die irritasies met die verpleegpersoneel, die deurmekaar mediese terme en die ongelooflike, konstante vrees die moeite werd. En dit is ook iets waaroor almal heeltyd praat. Die dokters sê gereeld: “Maar wanneer jy haar huis toe vat” en die susters sê elke nou en dan: “Dis nie meer lank nie.” Maar hoe lank is “nie meer lank nie”? En wanneer is daardie “wanneer”?

Die probleem is egter dat daardie dag nêrens opgeskryf staan nie. Dat jy jouself nie kan voorberei vir daardie spesifieke dag nie. Jy berei jou voor vir D-dag, maar die datum is onbekend. Jy hoop elke dag dat dit more gaan wees, en elke Vrydag hoop jy dat dit die volgende Maandag gaan wees. En so hardloop jou emosies heeltyd op HOOP.

Na ons dag van toetse was ons seker dat ons daardie Vrydag huis toe gaan gaan. Alles was in plek. Ek het myself emosioneel voorberei om totsiens te sê en seker gemaak alles by die huis was in plek (of liewer ek het gedink ek het seker gemaak als was in plek). My sakke was gepak en ek het net my klere vir die volgende dag uitgehou. Maar, soos meeste goed in die lewe…gebeur dinge nie volgens plan nie…want ons planne is nie altyd God se planne nie.

Die Vrydagoggend met weegtyd het Lisa net 10g opgetel. Dit was nie eens amper genoeg nie. My hart het op die vloer geval en nie soos ‘n rubberballetjie weer teruggebons nie, maar sommer net met ‘n groot DOEF op die grond bly lê. Dit was vir my vreeslik erg. Hoekom nou? Hoekom na alles wat ons deur is? Hoekom nog ‘n naweek? Kan dit nie nou maar entkry nie?

Ek het die arme suster wat die oggend aan diens gekom het se arme kop afgebyt toe sy sê: “Agh…well done…I see Lisa picked up another 10 grams!” Ek het dit sommer verloor en geskree dat 10 gram nie ‘n “Well Done!” verdien nie. Dat ek net wil huistoe gaan. Dat ek klaar is. Dat ek gatvol is. Dat ek op is. Nie net bietjie op nie…maar op soos in oppela op. Sy het verward na my gekyk, want ek het en sy het so ‘n goeie verhouding gehad. Sy het stilgebly en uitgestap en by die deur omgedraai en terug gestap en vir my ‘n drukkie gegee (nog ‘n engelmens). Ek het sommer weer gehuil. Ag flip…die huilery was teen die tyd al sommer so ‘n natuurlike ding vir my dat ek nie eens meer skaam was daaroor nie.

En toe het ek maar weer my sak uitgepak en weer my kamerjas aangetrek en vir Lisa opgetel en met trane in my oë het ek die Common Wealth Games op die TV gekyk. En my aandag was vir ‘n slag by die pragtige synchronized swemmers van Rusland. En ek het skielik besef dat ons ‘n span is wat besig is om iets moois te maak om met die wêreld te deel. Dat daardie swemmers nie maar net so perfek is nie…dat hulle baie lank moes oefen en baie gehuil het en baie moeg was en dat hulle bene baie moes kramp, maar dat hulle nou perfek is. Hulle tydsberekening is op die sekonde perfek bereken. En ek het maar weer my asem opgehou en weer onder die water ingeduik vir nog ‘n oefensessie. imagesCAQNYEIJ

34. En ons word geTOETS!

10408791_551016535010447_1316324493566524017_n

Om ontslaan te raak moes ons ‘n paar goedjies doen. Eerstens moes ons inspuitings kry. Aangesien Lisa so vroeg gebore is, het sy nog glad nie enige inentings gekry nie. ‘n Suster het vir Lisa als wat sy nodig gehad het om op datum te kom, gegee. En sy het aan ons verduidelik dat sy altyd ‘n bietjie agter gaan wees met al die inentings…byvoorbeeld sy het haar 6 maande inspuitings eers op 8 maande gekry, ens.

Tweedens moes sy ‘n Synagis inspuiting kry. Dit is ‘n baie duur inspuiting wat Premies kry om hulle teen die RSV virus te beskerm. Gewonde mense se verkoue en griep is lewensgevaarlik vir die klein babatjies. Dit sou beteken terug hospitaal toe en terug op suurstof. So om daarteen te keer kry hulle hierdie inspuiting (een keer ‘n maand) wat glo vreeslik brand. Die naald van die inspuiting is te groot om in haar been te druk so sy moes die dosis opdeel en in elke been inspuit. Lisa het net so bietjie gehuil en toe weer rustig geraak. Tawwe koekie.

Derdens het ons ‘n CPR kursus gekry. Hulle het ‘n pop (wat groter was as Lisa) by die kamer ingebring en net aan my verduidelik wat om te doen as ons by die huis is en Lisa hou op asem haal. Ek het aandagtig geluister en Mnr. Van Dyk se noodhulpklasse het deur my kop gespeel. Ek het so hard gebid dat dit tog asb nooit met my moet gebeur dat Lisa op hou asem haal nie. Ek weet nie of ek enige iets sal onthou nie…en ek het mooi gevra dat die Here my daarvan moet spaar.

Laastens moes haar ogies getoets word. Ek het altyd gedink ‘n oogtoets is maklik. Mens lees mos maar net ‘n paar lettertjies op ‘n plakkaat en hulle kyk met ‘n vergrootglas-instrument in jou oë…Reg?!? Maar hoe doen mens dit op ‘n baba? Niemand kon my voorberei vir wat op ons gewag het nie. Ek wens iemand het ten minste probeer om ons voor te berei…maar weereens is ons sonder enige kennis of verwagtinge af na die oogkliniek op ‘n ander vloer in die hospitaal.

Daar aangekom, het die oogarts aan my verduidelik wat gaan gebeur. Hy het vir my oogdruppels gegee wat ek elke 10 minute vir ‘n uur in haar ogies moet drup. Dit vergroot glo die pupille. Dan na die uur, moet ons terug kom sodat hulle die oogtoets kan doen. Ons is daar weg met die oogdruppels en dit was nogals ‘n moeilike storie om so tussen deur Kangaroo Care elke 10 minute oogdruppels in haar ogies te drup. Sy het geskree as ek net naby haar oë kom en het met haar klein armpies my hande weggeklap.

Maar na die uur, was ons terug in die wagkamer. Die “normale” mense in die wagkamer se reaksie op my klein babatjie het my vir die eerste keer blootgestel aan die reaksie van “gewone” mense. Die “OH MY WORD! Is dit ‘n regte baba?” “Sjoe maar sy’s klein?” “Is sy normaal?” “Ek dog dis ‘n pop?” het ek van alle kante in die wagkamer gehoor en moes weer (nie die eerste keer nie en verseker nie die laaste keer nie) die storie vertel van hoekom en hoe sy so vroeg gebore is.

Die oogarts het ons ingeroep en hy was regtig amazing. So sagte, vriendelike, rustige man. Hy het aan my gesê dat die toets nogals traumaties is vir die ouers en as ek nie wil by wees nie, sal hy die ontvangsdame vra om haar vas te hou terwyl hy die toets doen. Ek het gedink oor als wat sy al deur is en als wat ek al gesien het en het besluit om te bly en haar self vas te hou. Min het ek geweet hoe erg traumaties dit regtig is.

Hulle gebruik sulke metaal “clamps” om haar ooglid oop te hou. Natuurlik skree Lisa vreeslik erg asof ons besig is om haar dood te maak. En ek moet haar so stil as moontlik hou en haar arms vasdruk. Dan moet hulle ‘n instumentjie gebruik om die bal van die oog weg te druk sodat mens kan sien of die aartjies wat om die oogbal groei vorentoe groei. Aangesien daar nie sulke klein instrumente is nie, gebruik hulle sommer die ronde kant van ‘n paperclip…ja…’n paperclip! Dan skyn die dokter met sy baie skerp lig in die oog en kyk deur sy vergrootglasbril (wat lyk soos iets uit transformers) na die oog. Sodra die een oog klaar is, dan doen mens dieselfde met die ander oog.

rop pic

Waarvoor hulle kyk is iets genaamd ROP (Retinopathy of prematurity). In allermanstaal is dit maar net om te kyk of die aartjies vorentoe groei en nie buitentoe nie. Aangesien prem babas suurstof moet kry om te lewe, gebeur dit gereeld dat die aartjies uitweg groei as gevolg van die hoë vlakke van suurstof. Baie premies kry dit, en dus is die toets noodsaaklik vir alle premies.

Ek onthou hoe ek gevoel het toe sy so skree. Ek wou haar beskerm en dit vir haar makliker maak en het maar net heeltyd in my “kalmste” stem gesê: “Dis ok…toemaar, toemaar…dis amper klaar.” Maar o hel…binne in my hart het ek gevoel asof ek aggressiewe bollemakies maak. Dit was die ergste toets wat hulle met haar gedoen het, en alhoewel ek weet hoe belangrik dit is, wou ek dit net klaar hê. Ek kon nie wag dat die dokter sê ek kan haar maar optel nie. Sy het sulke ruk-bewegings gemaak soos sy huil…heeltemal histeries. Ek het soos ‘n verraaier-ma gevoel. Hoe kan ek toelaat dat iemand haar so seermaak. My werk is dan om haar te beskerm.

Die Here het my daardie oggend weer bewus gemaak van Sy groot plan. Dat ons partykeer moet seerkry om iets groter en beter te ervaar. Lisa kan sien en haar ogies is perfek! Maar om seker te maak daarvan, moes ons eers deur daardie toets gaan. Die toets was aaklig, maar die einde was wonderlik. So word ons vandag nog baie getoets, maar ons weet die einde is altyd iets spesiaal en die les wat ons leer is so die moeite werd.

Blend 2172

33. Opgeskorte Vonnis

imagesCA4Z035GDie Donderdagoggend na my verjaarsdag, uit die bloute, het die dokters gesê hulle dink ons kan amper huis toe gaan. Ek onthou hoe ek ge”HUH” het…kliphard die keer en nie net soos gewoonlik in my kop nie. Lisa het 1.53kg geweeg. Die dokters het dan gesê sy mag nie voor 1.8kg ontslaan raak nie….Hoe nou?

Die dokters het aan my verduidelik hoe dinge werk. Hulle het gesê dat staatshospitale jou laat gaan sodra baba 1.6kg is. Dan is dit veilig en solank baba als kan doen, is daar geen rede om baba langer daar te hou nie. Hulle het ook gesê dat privaathospitale babas tot 2kg hou . Volgens hulle is dit maar net ‘n geldmaakstorie en is dit nie werklik nodig tensy baba siek is of probleme het nie. Hier is hulle beleid iewers in die middel. Hulle hou baba tot 1.8kg. Maar Lisa was nog nie eens 1.6kg nie. Hoe werk dit dan nou?

Die dokters het verduidelik dat sy so goed doen, dat hulle nie ‘n rede vir ons sien om heeltyd in die hospitaal te wees nie. Sy voed goed direk van die bors af en sy tel konstant gewig op. Sy doen goed uit die incubator en is oor die algemeen gesond en sterk. Hulle voel dat ek self goed “cope” en sien geen rede vir ons om te bly nie. Sodra sy 1.6kg is, voel hulle dat sy ok is om self verder by die huis groter te word.

Ongelukkig mag hulle ons nie volgens hulle beleid voor 1.8kg ontslaan nie. Dus sou ons OP PAROOL huis toe gaan. Parool het beteken dat ons vir ‘n paar dae kan huis toe gaan, maar elke nou en dan moet terug kom om geweeg en ondersoek te word. En as sy uiteindelik 1.8kg is, word ons offisieel en permanent ontslaan. Die woord “parool” was vir my so gepas….want die hospitaal was amper soos ‘n tronk. ‘n Kamer met 4 mure waar jy elke dag getoets word, maar ook ter selfde tyd mooi na gekyk word.

Volgens haar groeikurwe, was die kanse groot dat sy die volgende dag 1.6kg sou wees en hulle wou dus graag al die “discharge” goed regkry indien ons die naweek by die huis gaan spandeer.Dit het my heeltemal omkant gevang. Ek het heeltyd in my kop berekeninge gedoen vir ‘n ontslaan datum op 1.8kg. En 200g maak vir die klein lyfies ‘n groot verskil. Ek het ook by soveel mense gehoor dat jy jouself moet voorberei om rondom haar due date huis toe te kom. Dit was nou maar eers die 31ste Julie…haar due date was 3 September! Ek moes skielik myself meer voorberei vir ‘n lewe buite ‘n hospitaalkamer. Vir ‘n koue huis sonder “climate control”. Vir ‘n lewe sonder susters en verpleegsters wat elke 2 ure inloer vir rondtes. Vir self kook en self…wel…self ALS.

Dit was ‘n aangename maar ook effens skrikkerige verrassing. Dit het so vinnig gebeur en soos alles anders in die hospitaal, het dit net aangebreek. Sonder om ons ordentlik voor te berei. Net…”TA DA, julle gaan more huis toe.” Miskien is dit beter so, want anders hardloop jou kop met jou weg. En google jy te veel. En werk jou kop oortyd.

Ek was so trots op Lisa. Dat sy ‘n super baba is…wat super dinge doen. En ek was dankbaar dat sy in onder 2 maande so ongelooflik gegroei het. Ek was dankbaar vir al ons seëninge en vir almal se gebede en dat ons so ALMAGTIGE God dien wat so ongelooflik lief is vir ons. En ek was so opgewonde oor die feit dat hierdie aaklige tyd in die hospitaal…wat vir my soos ‘n jaar gevoel het, amper verby is.

Al die papierwerk is deur die dokters ingesit en die Vrydag moet ons vir ‘n oogtoets gaan, een of ander inspuiting kry en ‘n CPR kursus doen. Indien sy dan die 70g opgetel het…gaan ons HUIS TOE!

32. Wees versigtig waarvoor jy wens

10492368_10154527281590179_1579215419004003666_nEk het my hele lewe lank gewens dat ek my eerste kind sal hê voordat ek 30 is. Ek het geen idee hoekom ek dit gewens het nie… en ook geen idee waar daardie idee van die “perfekte” ma vandaan gekom het nie. Maar iewers in my lewe het ek begin glo dat dit “normaal” is om jou eerste kind te hê voor 30.

Ek verjaar die 28ste Julie. Lisa sou die 3de September gebore word…dus net nadat ek 30 geword het. Ek onthou hoe ek nog in my kop vir myself gesê het dat sy ten minste in die jaar wat ek 30 word gebore sal word. Vader alleen weet hoekom dit ‘n issue was, maar in elk geval. Die probleem kom toe in…dat my wens waar geword het…en Lisa is 7 weke voor my 30ste verjaarsdag gebore. Hoe het ek gewens dat ek dit nooit gewens het nie.

Wie sou nou ooit kon dink dat ek my 30ste verjaarsdag in ‘n hospitaalkamer sou begin. Geen groot partytjies en lekker kuiers nie…net ek, my klein babatjie en hospitaalpersoneel. Lisa het so goed begin gewig optel dat ek in die week voor my verjaarsdag amper hoopvol geraak het dat ek my verjaarsdag by die huis gaan deurbring. Maar weereens het God my herinner dat Hy in beheer is en dat Lisa op Sy tyd ontslaan sal raak.

Ek onthou hoe hartseer en amper teleurgesteld ek was toe hulle my op die 27ste Julie sê dat Lisa 1.5kg weeg. Ek het so gehoop dat sy al nader aan 1.8kg sou wees. Dit was asof my verjaarsdag my depressief gemaak het. Ek het ewe skielik gefokus op al die negatiewe dinge. Ek het vergeet dat Lisa twee dae na mekaar 40g opgetel het, dat sy kan asem haal, dat sy uit die incubator is, dat sy kan borsvoed…en al waarop ek my gedagtes kon fokus was die feit dat ek 30 word en alleen en verveeld in ‘n hospitaalkamer gaan sit.

Weereens het die Here net geweet wat ek nodig gehad het. Ek is 12uur die aand wakker gemaak deur die hele nagskof personeel. In hulle hande was ‘n koek, ‘n bak cheesecurls, ‘n bottel koeldrank en ‘n kersie. Hulle het vir my gesing en ek het weereens begin huil. Dieselfde suster waarmee ek so ‘n uitval gehad het aan die begin het met haar eie geld goed gaan koop om my spesiaal te laat voel. Skielik het die donker wolk van die vorige dag weggeskuif en my lewe en hart is gevul met liefde en omgee…en weereens die omgee van mense wat my eintlik nie ken nie. Mense wat nie omgee omdat dit hulle werk is nie, maar net omdat hulle omgee. Nog engelmense! 10547476_10154527282590179_1983869836075420503_nOns het lekker partytjie gehou…sommer so in die middel van die nag. My man het die vorige middag tydens besoektyd vir hulle geskenke gegee om vir my te gee. Ek het glad nie daarvan geweet nie en dit glad nie verwag nie en was sommer weer opnuut lief vir my man. Hy het nie net vir my iets van hom af gegee nie, maar ook ‘n present en ‘n kaartjie van Lisa af. Hy het die mooiste woorde daar geskryf en my harts-“emmertjie” het oorgeloop. Ek het weereens net besef hoe gelukkig en geseend ek is om ‘n man soos hy te hê.

Die volgende middag is ek bederf deur vriendinne wat presente bring en net kom kuier. Aangesien dit my verjaarsdag is, kon hulle enige tyd (besoektyd of nie) kom en dit was so lekker om met almal te kuier. Een van my hartsvriendinne het selfs vir my take-away sushi gebring! Ons het lekker partytjie gehou…sommer so op die hospitaalbed. En daardie aand toe ek gaan slaap…het ek opnuut gewens, maar die keer was my wens nie so oppervlakkig soos voorheen nie. Die keer was my wens diep, en uit die hart.10502306_10204120213787602_8586035904504603036_n

31. Tata Incubator!

11698599_10156065643220179_7392395348090653361_nOp 6 weke en 2 daggies is Lisa (toe 1.47kg) uit die incubator gehaal. Wat ‘n wonderlike gevoel! Om vir die eerste keer bietjie meer soos ‘n normale baba te lyk. Geen glaskas, geen monitors, net Lisa.

Die susters het vir my verduidelik hoe sy nog nie heeltemal haar eie liggaamshitte kan reguleer nie en dat ek haar natuurlike incubator moet wees. Ek mag haar in die bassinet neersit wanneer ek eet en wanneer ek stort of toilet toe gaan, maar alle ander tye moet sy op my (skin to skin) in Kangaroo Care wees. As sy enigsins gewig verloor, sit hulle haar weer terug in die incubator.

Ek onthou hoe ek daardie eerste paar dae my bes gedoen het om haar so min as moontlik neer te sit. Ek het my lekker warm kamerjas oor haar gevou en ek en sy was een. Ek het met haar op my bors gesit/lê eet…sy was by my terwyl ek my tande borsel…sy was die hele tyd by my.

Elke twee ure wanneer die susters hulle rondtes doen en haar SATS kom meet en haar koors kom neem, het ek my asem opgehou. Sy moet net nie te koud wees nie, asb! En sowaar…Lisa was 36.5 grade…elke keer. Dit was vir my asof sy nou net begin loop en mamma sê het op een dag. Ek kon op en af spring en het heeltyd met ‘n groot trotse glimlag na haar gesit en kyk. Snaaks hoe anders Premie-mylpale is. Die Incubator-mylpaal was vir my BAIE groot!

My heel gunsteling suster het daardie aand, toe sy aan diens, kom vir my gesê dat ons vanaand vir Lisa gaan bad. In die 7 weke vandat sy uit my maag is, is Lisa nog nooit gebad nie. Sy word met watte en water afgevee, maar sy is nooit ordentlik gebad nie. Sy het die bassinet vol water gemaak en sy het my gewys hoe om haar te bad. Lisa het nie gehuil nie…sy was in skok. Haar oë was wa-wyd oop en sy het met haar groot blou oë na die suster gestaar.

Toe is dit my beurt. Sy het my gewys hoe om Lisa vas te hou en hoe om te keer dat die water in haar oortjies kom. Ek was so bang om self te probeer, want sy was glibberig van die seep en ek was bang sy glip uit my hande uit. Ek het nie geweet hoe om te vat nie en het uit senuweeagtigheid begin giggel. Ek het altyd gedink dis iets wat meer natuurlik sou kom. Dat mammas maar net weet hoe om hulle babas te bad. Ek het gesê dat ek die volgende aand weer sal probeer.

Dit was vir my vreemd om so te voel. Ek is dan ‘n tawwe meisie wat die bul by die horings pak. Hoekom is ek dan nou so bang om my eie baba te bad. Ek onthou hoe ek die volgende aand gebid het dat ons haar nie daardie aand weer gaan bad nie. Dat ek nog ‘n dag kon hê om myself voor te berei. Nou dat ek terug dink, lag ek vir myself. Met die tyd het die selfvertroue gekom en ek was elke keer meer handig. Ek het onthou hoe ek gevoel het…toe ek weer ‘n paar weke later vir my man moes wys hoe om haar te bad. En ek het soveel meer meegevoel en sensitiwiteit gehad met hom.

30. 6 weke post op

baby-gaspDaar is ‘n paar goed waarvan ek in my krisistyd, bietjie vergeet het. Een van hulle was om die kar se lisensie te hernu en ‘n ander een was dat mens vir ‘n 6 weke post op check-up moet gaan. Met groot skok en verbasing het die suster my een oggend gevra wanneer my 6 weke afspraak is. Ek onthou hoe ek so half gedink het dat dit nie meer belangrik is nie. Ek het hierdie piepklein babatjie gehad wat elke dag baklei vir haar lewe en hier moet ek ewe skielik aan myself dink. Hoe werk dit? HUH?!

Ek het op my foon gekyk en onthou dat ek klaar ‘n afspraak het (waarvan ek heeltemal vergeet het). Dit was die vreemdste ding om dokter toe te gaan, wanneer jy alreeds in die hospitaal is. Ek het letterlik opgestaan en net by die deur uitgestap en regs gedraai en by ‘n ander deur ingestap…en siedaar…by die gynies.

In my onkunde en “survival”-mode het ek ook vir ‘n oomblik vergeet wat gynies by ‘n afspraak doen. Dat ek myself moet uittrek en my bene moet oopmaak sodat hulle kan kyk wat daar onder in my diepste binnekant aangaan. EEEKKKKK!!!!! Nog een van my “most embarrassing” oomblikke! Teen die tyd is julle seker al heeltemal bewus van hoe min ek geslaap het…en hoe min ek gestort het, wanneer laas ek my beenhare geskeer het, ens. Die LAASTE ding op my “to-do”-lysie was om enigsins na my persoonlike woop-woop-area om te sien. Dus, het ek met groot skaamte my klere uitgetrek en myself op die gynie se bed ingeneem. Ek onthou hoe ek vining onder my arm geruik het of ek stink…asof hulle onder my arms gaan kyk! Tot my skok, kom my gynie toe in en stel my voor aan sy “intern” wat graag wil kom sien wat mens by ‘n 6 weke check-up doen. Die arme jong “seun”…om nou so in die wêreld van ‘n gynie in te stap. Shame.

Die gynie het gedoen wat gynies maar doen, en het my toe bietjie vertel oor my toestand en hoe my toekoms lyk. Eerstens het hy my vertel hoe ernstig my pre-eklampsia was. Volgens hom het hulle nog nooit in hierdie hospitaal so ‘n ernstige vlak van pre-eklampsia ervaar nie. Dat dit ook een van die redes was dat dinge so vining gebeur het. Hy het my ook vertel dat gewone pre-eklampsia gewoonlik net in die eerste swangerskap gevind word. Ongelukkig word “severe” pre-eklampsia gereeld in die tweede en derde swangerskappe ook opgetel. Dus is die kanse dat dit weer met my gebeur redelik groot.

Indien ons weer wil swanger raak, sal dinge bietjie anders werk. Ek sal voor die swangerskap reeds op medikasie moet gaan en sal van die begin af weekliks gemonitor moet word. Ons wou altyd vining op mekaar 2 kinders hê, maar nou dink mens skielik bietjie anders oor dinge. Vir die eerste keer in my lewe het ons werklik dit ernstig oorweeg om maar net een kind te hê. En gedink oor hoe dit sou wees en hoe sy so alleen sou grootword. Nooit in my lewe sou ek dit eers as ‘n kans gesien het nie…Ek is ‘n groot voorstaander van meer as een kind hê…maar weereens is my manier van dink en manier van wees aangetas en ge-“challenge”.

Tweedens het hy my gevra wat ons nou as voorbehoedmiddel wil gebruik. Ek onthou hoe ek gedink het…seks?! Is jy simpel? Wie dink nou aan seks? Ek het rooi vlekke in my nek uitgeslaan, van skaamwees…en stres…en…en….en. Maar hy het vir my die Implanon inplanting aanbeveel en sommer woeps-waps het ek ‘n inplanting in my arm. Dit was nie seer nie, maar het baie blou geraak. Dit het gelyk asof iemand my bietjie hardhandig hanteer het. My man dink dis die coolste ding ooit en vertel vir ALMAL dat ek soos ‘n alien ‘n implant in my arm het…snaaks hoe mans en vrouens HEELTEMAL anders dink oor hierdie tipe goed.

Sover, doen die implant nog wat dit veronderstel is om te doen. Dit bly vir 3 jaar in my arm. Alhoewel mens dit vroeer kan uithaal, is dit nie iets waaraan ons nou al dink nie. Lisa sal eers groot genoeg moet wees om vir ‘n maand of twee by ouma te gaan bly as dit moet…en op die oomblik is dit nog nie eers ‘n moontlikheid nie.