10. Geluk!

10364097_10154349032055179_4694019640332695884_n

Ek het vir 3 dae na die Keiser in die hospitaal gebly. Ek moes herstel, maar dit was rêrig moeilik om te rus as jy weet jou piepklein dogtertjie lê twee vloere ondertoe in die NICU. Dit was ongelooflik om enige tyd van die dag vir haar te kon gaan kuier, maar dit was ook rêrig moeilik. Mens voel jy wil die hele tyd daar wees en langs haar incubator sit, maar ter selfde tyd voel mens erg “useless”. Jy kan nie veel vir haar doen op daardie stadium nie. Die dokters en susters doen als en jy, as ma, is bloot net ‘n bystaander wat soos ‘n koei elke 2 ure gemelk moet word.

Ek het besluit om so veel moontlik by haar te gaan sit en ek het saggies met haar gepraat en vir haar gesing. Al liedjie waaraan ek kon dink op daardie oomblik was Amazing Grace en ek het dit oor en oor saggies vir haar gesing. Elke nou en dan het die dokters omgekom en gepraat oor haar toestand…woorde en terminologie wat ek toe nog nie verstaan het nie: Sats, Cpap, HP-levels, ens. Snaaks hoe daardie woorde nou deel is van my normale woordeskat. En tussen deur dit alles het ek probeer rus en slaap sodat ek ‘n beter melkkoei kan wees. Lisa het elke 2 ure 2ml melk nodig gehad. Dit was vir my vreeslik min, maar ek is gesê om net soveel as moontlik te pomp, want anders gaan mens se melk weg…so pomp het ek gepomp.

Iets wat my vreeslik ontstel het, was mense (vriende, familie en kollegas) se reaksie op haar geboorte. Ek het 100’de boodskappe op Facebook en watsapp gekry wat sê GELUK! Ek weet dis wat mens seker moet sê (en as ek nou terugdink waardeer ek elke boodskap en omgee), maar op daardie stadium was daar absoluut geen geluk nie. Ek het gevoel asof ek wil skree, want op daardie stadium was sy nog nie stabiel nie. Elke dag was ‘n uitdaging en die dokters het elke dag vir ons gesê om nie hoopvol te wees nie, want enige iets kan nog gebeur. Dit het vir my gevoel asof almal net dink sy is ok en dat die stres van haar geboorte nou verby is en dat haar geboorte iets was om te vier… En ek het alles behalwe so gevoel.

Ek het blomme gekry. Dit was mooi, maar ek kon nie daarna kyk nie. Ek het gevoel asof daar iets met my fout is dat ek nie geluk voel nie. Hoe kan almal dink dat ons Lisa se geboorte moet vier wanneer sy eintlik nog vir 3 maande in my maag moes wees. Ek was gelukkig dat sy lewe, maar wou dit nie vier nie, want die kanse was groot dat sy die volgende dag kon sterf.

9. NICU – And I get to C U

10428583_10154990117505179_4416678339036061921_nToe ek onder kom, staan my man en sy ma by die deur van die NICU. Hy mag my nie kom haal het nie, want hy word nie buite besoektyd toegelaat op die vloer waar ek was nie. Nog ‘n HUH?! gevoel, maar in elk geval.

Ek was onbewus van die vorige aand se eskapades. Dat sy ma deurgejaag het uit Montagu uit vir die geboorte van haar eerste kleinkind. Ek het ook nie geweet dat my ouers uit die Strand uit deurgejaag het nie. Ook het ek nie geweet dat my beste vriendin wat saam met my skoolgee hulle ook in die wagkamer by die sekuriteit ontmoet het nie. En dat dit is waar die tannie wat my tydens besoektyd kom help het almal ingewag het. Ook het ek nie geweet van my ma se facebook status wat vra dat almal moet bid nie. En dat daardie gebede verhoor is nie. Niemand van hulle was toegelaat om my te sien nie, maar het steeds gebly tot amper middernag om my man te ondersteun toe hy uitkom. Hulle het glo almal gesit en bid en hoop dat alles ok sal wees. Die sekuriteit het hulle telke male gevra om huis toe te gaan, maar my ma het net doodeenvoudig geweier… Nog engelmense.

10425186_10203802009952705_956683600616116642_n10390305_10203802010592721_7613816151433137062_n

My man het my toe verduidelik hoe dinge in die NICU werk. Hoe baie mens jou hande moet was (4 keer om presies te wees) voordat jy naby jou baba kan kom. Daar is 3 kamers met incubators en agter om die draai is ICU 1. Dis daar waar die nuutste, kleinste babatjies lê. Ek sien gesigte van al die verpleegsters en pediaters. Min het ek geweet hoe goed ek hulle nog gaan leer ken.

Dit is moeilik om te beskryf hoe ek gevoel het toe ek haar die eerste keer sien. Ek het altyd gedink dit gaan “liefde” wees, maar dit was nie. Ek dink dit was ‘n bietjie skok, bietjie vrees, bietjie onkende en bietjie onsekerheid.

Daar voor my in ICU 1 in ‘n kamer met 8 ander babatjies, op ‘n oop incubator met masjiene orals lê hierdie klein lewende dingetjie. Oopgevlek soos ‘n hoendertjie met pypies uit haar neus en mond. Haar vel was bloedrooi en vol klein wit droë velletjies. Om haar voet was ‘n monitor en die masjiene maak geluide en het allerhande grafieklyne op…en als voel net so verkeerd. So onnatuurlik. Vir ‘n kort oomblik het ek gedink ek wil huil, maar het toe net besef dat sy so broos en so klein is. Ek kan mos nie nou wil huil nie…ek moet sterk wees. En van toe af het ek sterk probeer wees.

Ons moes besluit op ‘n naam. Gelukkig het ons albei saamgestem dat ons dogtertjie eendag of Lisa of Inge gaan wees. Inge beteken vrugbaarheid en Lisa beteken Toegewy aan God. Dit het ons besluit toe eintlik heel maklik gemaak…en Blobina raak toe LISA…of Lisatjie soos wat sy vir lank genoem is.

Die eerste dag het ek haar net vinnig gesien. Ek mag nie aan haar gevat het nie, so ek het haar rêrig net gesien. Weereens is die erns van borsmelk aan my verduidelik, veral omdat haar immunstelsel so swak was en ek het teruggegaan kamer toe en my borste gedruk om elke moontlike druppeltjie uit te kry. Dit was rêrig seer, maar ek het elke 2 ure gedruk. Ek onthou hoe ek gehuil het soos ‘n baba toe ek per ongeluk ‘n druppel op die bed laat val het. Ek was toe nie so sterk nie. Die vrou wat die kamer met my deel se borste was groter as enige iets wat ek al ooit gesien het…soos groot rypoes waterlemoene. Haar melk het uit haar nipples gestroom. Sy het oral om haar bed geloop en die melkdruppels was oral op die vloer. Normaalweg sou ek gedink het sy is gross, maar nie nou nie…ek het haar bemin.

Ek moes so hard werk om 1ml melk op te vang en hare tap net uit. Ek het my wekker gestel en dwars deur die nag elke 2 ure opgestaan om te express. Die hospitaal gee nie pompe nie, so my hand het my borste later bloukolle gedruk. Dit was asof ek meer vasberade was om te borsvoed aangesien my droom vir natuurlik geboorte gee daarmee heen was. Ek wou en ek sou haar borsvoed. En vandag, 10 maande later borsvoed ons nog…nou gelukkig baie meer natuurlik en pynloos. En dit is die beste besluit wat ek kon maak.

Die naweek kon oumas en oupas ook vir Lisa ontmoet. En haar oupa het haar dadelik “konyntjie” gedoop. ‘n Naam wat toe haar kamer dekor tot gevolg gehad het, want van toe af is als net hasies. Dieselfde oupa het, nadat hy haar die eerste keer gesien het, gesê: “Daar is niks fout met haar nie, sy is net klein.” Iets wat ek van toe af al hoeveel maal gehoor het. Want tot vandag, op 10 maande, weeg sy maar net 6kg en dra nog 0-3 maande klere. Sy kan kruip en opstaan en loop amper. Sy sê pappa en baba en ontwikkel soos ‘n normale babatjie. So sy is maar nogsteeds net klein.