59. OUMAS en OUPAS

e844cb0f9a3a3e3f146e8ff4e9b26cfd

Een van my gunsteling herinneringe van my kinderdae was om saam met my Ouma Lalie van die Strand kreatiewe goedjies te doen. Oupa is dood toe ek nog baie klein was en ek kan hom glad nie onthou nie. Maar Ouma het altyd vir my ietsie gehad om te doen. Ons het klippies aanmekaargeplak en gesiggies op hulle geteken en so ‘n klein klipfamilie gemaak. Ons het prentjies geteken uit verskillende strepies en krulletjies wat sy sommer vinnig op ‘n papier getrek het. Ons het saam koekies gemaak en ‘n gewone kolwyntjie in ‘n vlinder laat verander. Om by Ouma Lalie te kuier was altyd lekker en sy het altyd iets gehad om my mee te bederf. Sy het ons fliek toe gevat of ons het gaan skulpies optel. Sy het ons sirkus toe gevat of ons leer Rummie speel. Ouma Lalie is warm, vol liefde en mal oor drukkies gee.

My ander Ouma het ‘n heel ander rol in my lewe vervul. Sy was streng en meer tradisioneel. Sy het reëls gehad en daar was meer formaliteite. Ouma Lot en Oupa Jim het ver gebly en ons het hulle maar min gesien. Oupa Jim was ‘n kwaai oupa met baie liefde in sy hart. Ouma Lot was ‘n hardwerkende vrou wat al deur baie in haar lewe was. Ek onthou hoe Ouma Lot elke jaar vir ons ‘n nagrokkie by Edgars op Vredenburg gaan koop het en dan het ons heel vakansie gespog met ons nuwe nagrok. Sy het met haar hande gewerk en het ons sokkies reggemaak of vir ons konfyt gekook. Ek onthou hoe sy ‘n voorbeeld was van spaarsamig lewe en hoe sy altyd ‘n plan gehad het as dinge skeef loop. Ek onthou ook hoe sy altyd vir ons ‘n opgekrummelde noot (die hoeveelheid het met ons ouderdomme vermeerder) in ons hand gedruk het as ons in pak om te ry en hoe sy altyd met trane in haar oë gewaai het as ons wegtrek.

Lisa is gelukkig om nog twee oumas en twee oupas te hê. Oupa André en Ouma Zet (my ouers) bly nader en Lisa sien hulle redelik gereeld. Oupa G en Nanna (my skoonouers) bly bietjie verder en dit verg bietjie meer beplanning om hulle gereeld te sien. Lisa is MAL oor haar oumas en oupas. Sy roep “ouma” en “oupa” as sy hulle sien en raak sommer opgewonde as ons op die foon praat. Soms stap sy sommer na die selfoon toe en sê: “ouma”. Dan wil sy hulle bel en hoor hoe dit met hulle gaan. Albei oumas en oupas is baie betrokke en ek weet hulle is altyd daar om te help en gee so baie vir ons en vir Lisa om.

 

Nes my verhouding met my twee oumas verskil het, is dit vir my so wonderlik om te sien hoe Lisa anders is as sy by haar oumas is. By my ma is Lisa ‘n grapmaker en omtrent laf. Sy lag hard en kyk met stoute ogies rond en soek iets om kwaad te doen. Sy speel rof en sy trek aandag. By my skoonma is sy rustig en kalm. Sy kan vir lank op haar skoot sit en boekie lees sonder om te probeer snaaks wees of om aandag te probeer trek. Dit is vir my so spesiaal om te sien hoe sy op so jong ouderdom reeds verskillende verhoudings met elkeen van hulle kan hê.

Dit is ook vir my baie oulik om te sien hoe haar twee oupas met haar is. Beide my pa en skoonpa is mans wat hard werk. Hulle hou van werk en hulle doen als self. Regte MacGyver manne. En dit is vir my wonderlik om te sien hoe hierdie sterk mans, putty in Lisa se hande is. Hoe hulle so sag en speels met haar kan werk. Oupa G is maar lekker stout en hy geniet dit vreeslik as Lisa stout is. Dan kan hy hom doodlag vir haar streke. Oupa André sal ook enige iets vir haar doen en hy neem altyd die mooiste foto’s van haar. Hy sal ure met haar in sy arms stap sodat sy kan slaap en dit maak my hart so warm.

Oupas en oumas help so baie. Hulle is altyd daar as ons na ‘n troue toe gaan of as ons iets aan het. Dit is so maklik om Lisa by hulle te los en te weet hulle sal haar met hulle lewens bewaar en oppas. Dit is ongelooflik om hulle nog deel te hê van ons dogtertjie se lewe en dit maak ons lewe net soveel makliker. Oupas en oumas is ‘n absolute BLESSING!

Lisa is ook bevoorreg om ‘n hele paar oumas en oupas te hê wat nie regte oupas en oumas is nie. Almal wat vir haar lief is en ouer as 50 is, is ook volgens Lisa oupa en ouma. Sy is van kleins af al so omring deur soveel oumas en oupas en ons waardeer elke aandeel wat hierdie wonderlike mense in haar lewe het. Die wysheid, die bystand, die gebede, die ondersteuning en die liefde beteken vir ons so baie. Ek hoop dat hierdie spesiale oumas en oupas nog lank in ons lewens sal wees. En ek glo dat Lisa net sulke spesiale herinneringe van haar oumas en oupas sal hê.

58. SIEK en sat vir siektes!

224d2ed6d4c884f9548ae1dc2be96277d1a552c72d6f668358c1373a580653c4

Ek het altyd geweet Lisa gaan siek word, maar ek het gebid en gehoop dat die siekgoggas vir so lank as moontlik weg sal bly. Aangesien haar immuunstelsel soveel laer is as gewone babatjies, was die hele SIEK-ding seker onvermybaar. Een van die groot redes hoekom ek so lank (al was dit glad nie maklik en lekker nie) geborsvoed het, was juis vir daardie rede…om haar immuunstelsel soveel as wat ek kan, kan aanhits.

Maar, soos dit seker maar moet werk, het Lisa (soos alle normale babatjies) siek geword. Dit is snaaks hoe mens optree as jou kind vir die eerste keer siek is. Mens voel skielik so dom en magteloos. Ek het al baie gehoor van ma’s wat net skielik in die middel van die nag wakker word met ‘n kind met ‘n koors van 40grade of hulle gooi op of hulle hoes heelaand.

Ons eerste siekwees was bietjie anders. Lisa het stelselmatig siek geword. Dit was nie oornag nie en dit was nie skielik nie. Sy het eers ‘n snotneusie gekry wat net so bietjie geloop het. Na ‘n paar dae het sy ‘n hoesie ontwikkel (seker van die snotterigheid). Na nog ‘n paar dae het sy met hoë koors begin. En toe een oggend word sy wakker met ‘n vreeslike veluitslag. En so, stadig maar seker, het hierdie bietjie siekerigheid verander in ‘n ernstige “O-hel-my-kind-is-nou-regtig-siek”-oomblik.

As werkende ma was dit vir my die ERGSTE ding ooit! Om ‘n siek kind wat skree en nie lekker is nie af te laai en te gaan werk was vir my veel erger as daardie eerste dag terug by die werk. Dit is al wanneer ek die HAAT om te werk.

3981239b8e15efa00a59b9d83795f07d

Die probleem met siek babas is daardie moeilike besluit: Wanneer gaan jy dokter toe? Volgens sekere artikels moet mens dadelik ER toe jaag as jou kind ‘n bietjie koors het. Vir sommiges moet jy weer wag tot die koors 2 of 3 dae aanhou. Maar tot vandag toe is daardie besluit nogsteeds vir my die moeilikste. Hou ek haar by die huis en sy gaan in skok of kry stuipaanvalle of sy hou op asemhaal of of of, sal ek myself nooit vergewe nie. Gaan ek elke keer hospitaal toe en kry later die omgerolde oë van die susters en pediaters wat saggies agter jou rug fluister en woorde soos “helikopter-ma” en “oorreageer” wat net-net hoorbaar is.

Ons het vinnig geleer hoe Lisa is wanneer sy siek is. Dit is ongelooflik hoe elke kind anders is. Party babas is dodelik siek wanneer hulle koors net bo 37.5 is. Ander het weer ‘n baie hoër vlak van toleransie. Lisa sal met ‘n koors van 39 grade rondhol in die huis en dans en grappies maak. Maar hier van 39.5 af begin haar koppie hang en haar ogies raak vaal. Dit is dan wat ons begin bekommerd raak. Want dis dan wat ons regtig weet: Lisa is nou siek. Lisa het ook nie “normale” simptome nie, so ons vind eers na bloedtoetse uit wat regtig met haar fout is.

20150622_143912

Ons het ook gou geleer dat die dokters baie meer tegemoedkomend is wanneer dit by prem babatjies kom. Ek was soveel keer by die hospitaal met haar en hulle het my nie een keer laat voel asof ek oorreageer of simpel is nie. Die dokters het my darem ook al teen die tyd op die naam gegroet en na twee maande in die hospitaal geweet dat ek nie sommer oorreageer nie. Die een dokter het eenmaal vir die suster gesê: “You have to understand…this is a mom that underreacts. So when she arrives here…you have to know that it is very very bad.” Dit was vreemd hoe mens sekere goed wat mense sê nooit vergeet nie. Ek onthou hoe ek vir ‘n tydjie gewonder het of ek dalk bietjie meer bekommerd moet wees as Lisa siek is. Miskien  moet ek net “react”…nie “under” of “over” nie… maar net gemiddeld. Maar hoe doen mens dit. Jy volg tog maar net jou hart en dit is moeilik om sulke veranderings te maak.

As kinders was ons nie sommer dokter toe nie. Jy het ook nie sommer net by die huis gebly as jy siek voel nie. Jy moes dit maar net vat en aangaan. En dit is iets wat ek op skool gehaat het, maar vandag heg ek baie waarde aan hierdie opbrengs. Ek was van vroeg af geleer dat mens nie sommer net ‘n ‘sussie’ moet wees nie, maar dat jy baie tawwer is as wat jy dink. En hiervoor is ek dankbaar. Maar met Lisa, moes ek leer om meer en meer dokters te vertrou en maar my tawwe-boere-trots te sluk en hospitaal toe te gaan.

Sy was teen die tyd wat sy 1 was, 4 keer erg siek. Elke keer iets anders, dubbeloorontsteking, sinusitis, griep, hand-voet-en-mond,  ens. Elke keer moes ons antibiotika kry. Antibiotika is glad nie my beste vriend nie, maar nadat jy alle moontlike krui/boere/homeopatiese raad gevolg het en nogsteeds met ‘n pap kind sit, was antibiotika maar daar. Elke keer het ons maar ‘n ander tipe antibiotika probeer sodat sy nie te veel skade lei nie.

En toe rondom haar eerste verjaarsdag was Lisa weer lelik siek. Siek-siek. Ek het haar ingevat en die dokters was baie bekommerd.  Sy het ‘n uitslag wat soos breinvliesontsteking lyk en hulle wou dadelik ‘n lumber puncture doen. My kop het in alle rigtings gehol en ek het sommer kliphard gebid. Die dokter het begin lag en toe maar net vir my ‘n drukkie gegee. 4 dokters se opinie later en ons is ingeboek vir obserwasie. Bloede is getrek en weggestuur en Lisa is op ‘n drip gesit.

Ek onthou hoe ek heeltyd gedink het dat dit presies ‘n jaar later was en hier sit ek weer. In dieselfde hospitaal. Ek hoop dat dit nie ernstig is nie, en ek hoop dat die net vir een aand is. Ek sien dieselfde gesigte en eet dieselfde kos en dit verbaas my hoeveel rou emosies ek nog aan die hospitaalgang en die masjiene se gebeep gekoppel het. En net daar huil ek, want skielik besef ek…ek is siek en sat vir siektes.

20150624_161137

57. NUWE jaar, NUWE jy…nuwe MA!

imagesCADS1AIN Dis die 31ste Desember. Die laaste dag van die jaar. Môre is dit NUWE jaar! Die eerste dag van 2016!

NUWE is so ‘n mooi woord. Dit beteken so baie. As jy ‘n nuwe rok gekoop het, kan jy nie wag vir ‘n geleentheid om dit te dra nie. As jy ‘n nuwe resep raakgelees het, hoop jy dat iemand kom kuier sodat jy dit kan uitprobeer. As jy ‘n nuwe baba het, wil jy hom/haar vir die wêreld wys. NUWE is lekker, want dis ‘n ekstra toevoeging tot ons normale, vervelige lewe. Dit is ietsie spesiaals wat net vir ‘n kort tydjie NUUT kan wees…en voordat jy jou oë uitvee, is die nuut nie meer nuut nie en is dit ook maar vervelig en normaal.

Verlede jaar was vir ons ekstra NUUT. Dit was die eerste Nuwe jaar met ‘n NUWE baba. Dit was spesiaal en anders. Ons het glad nie ‘n groot dronkword-partytjie gehou nie. Ek het geborsvoed en Lisa was min lus vir vroeg gaan slaap. Ons was by ons vriende se VEGAS-poker partytjie en het opgedress en saamgespeel. Maar ons was nie lus vir kuier nie. Ons was lus vir rustig dink oor al die dinge van die afgelope jaar. Al die slegte en die goeie goed en ons wou rustig daaroor gesels en in dankbaarheid stilraak. En ons het op die 1ste tyd gehad om net te reflekteer oor die jaar. 10603729_10155172391385179_4413860247148855240_n

Elke jaar maak ons maar almal nuwejaarsvoornemens. Al sê ons ons doen nie, maak ons maar almal saggies in ons hart ‘n paar: “Hierdie jaar gaan ek minder soetgoed eet”, “Hierdie jaar gaan ek meer tyd aan oefening spandeer”, “Hierdie jaar gaan ek minder vloek”, “Hierdie jaar gaan ek meer tyd maak vir goeie vriende”, “Hierdie jaar gaan ek meer kerk toe gaan” en so gaan dit aan. Elke voorneme het gewoontlik ‘n meer of ‘n minder gekoppel daaraan. Meer tyd, minder eet, meer oefen, minder praat, meer glo, minder werk.

Dit is tog lekker om ‘n paar kilos te verloor en goed te lyk in jou klere. Dit is lekker om al daai feel-good-oefen-hormone te voel. Dit is lekker om gesond te eet en goed te voel. Almal hou daarvan om meer te kuier en minder te vloek. Ons WIL almal al hierdie goed doen…maar dit nie altyd so maklik nie.

En net soos die nuwe rok in die kas of soos die lekker resep, is die voornemens ook net vir ‘n tydjie nuut. Kort voor lank hang hulle saam met die ou rokke in die kas en wag ons vir die 31ste Desember om weer nuwes te maak. Ons eet gesond vir ‘n maand of twee (of soos ek en vele ander vir ‘n dag of twee). Ons vloek vir Januarie glad nie, in Februarie sê ons per ongeluk weer “fok” en teen Maart is dit weer die normale ou storie. Ons gaan draf of stap elke aand totdat die eerste reën val en dan is dit veels te koud om uit die huis te gaan en daar gaan die fiksheidsroetine ook. En dan sit ons en gee op omdat dit nog so ver is tot 31 Desember. En so gaan dit jaar na jaar. VOORnemens word binne ‘n paar weke AGTERnemens en ons vergeet daarvan en beweeg aan met ons lewens.

Hierdie jaar het ek besluit om geen voornemens vir myself te maak nie, want dit hou tog in elke geval nie. Iemand (sonder kinders) het my nou die dag gevra wanneer mens weer jou lyf terugkry nadat jy ‘n kind gehad het. En my antwoord aan haar was: “Mens is óf maer óf jy is ‘n ma…en mens kan nie albei kies nie.” En ek weet sy het gedink ek is mal en sy het gewonder wat dan van al die ander maer mammas. En miskien sal sy eendag verstaan. Verstaan dat dit lekkerder is om met jou dogtertjie in die tuin te speel as om te gaan draf. Dat dit lekkerder is om saam met haar ‘n roomys te eet as wat dit is om slaaiblare saam te eet. Dat dit lekkerder is om vir ‘n uur te kyk hoe mooi jou dogtertjie is as sy slaap as om situps langs jou bed te doen. Verstaan dat die gesprekke wat jy met vriende het skielik nie meer oor gewig gaan nie, maar oor mylpale, en hoe oulik jou kind is, en wat sy als aanvang. Dat ma wees al jou tyd op vat en dat jy dalk eendag weer sal dink aan jouself en jou lyf en jou hare.

Gelukkig is ‘n nuwe jaar ook tyd vir terugdink en reflekteer. Tyd om as ma stil te raak en te dink aan watter foute jy dalk deur die jaar gemaak het. En nie om jouself daaroor skuldig te laat voel nie, maar om nuut oor jou houding en “approach” te dink. So hierdie jaar maak ek net voornemens vir Lisa. Nuwe-ma-voornemens…en hier is hulle:

  1. Lisa gaan meer tyd buite in die modder en sand spandeer.
  2. Lisa gaan minder haar ma op haar selfoon sien.
  3. Lisa gaan meer uit haar maag uit lag vir haar ma se simpelgeid.
  4. Lisa gaan minder die woord NEE hoor.
  5. Lisa gaan meer toegelaat word om baba te wees.

En volgende jaar, miskien (groot miskien), sal ek weer aan myself dink. Maar vir nou is dit eers anders, want vir eers is ek net ‘n ma.As jy beplan vir 'n jaar

56. Dis KERSFEES!

IMG_1621

As ‘n klein dogtertjie was ek mal oor Kersfees. Ek kon nie wag dat my pa op die 1ste Desember die kersboom en versierings uit die garage gaan uithaal nie. Dan het ons die boom in die sitkamer opgeslaan en met moeite die liggies ontknoop en die boom versier. Ek onthou elke item…die liggies met die kersvaderkoppies, die doilie-engeltjies, die goue balle en elke keer as die presente onder die boom groei, het ons met opwinding gegiggel en skelm gaan voel wat binne toegedraai is.

My pa se werk het elke jaar ‘n groot kerspartytjie gehad. Almal moes geskenkies koop (waarvan ek toe nie geweet het nie, want ek het toe verseker nog geglo Kersvader maak die geskenke bymekaar) en voor die tyd vir Kersvader gee. Dan het hy met ‘n vreeslike gedoente met al die presente opgedaag. Een jaar was dit met ‘n brandweerwa en een jaar met ‘n hout sleë. Dié jaar was dit met ‘n helikopter. Al die kinders by die werk het nader gehol en opgewonde vir Vader Kersfees gewaai. Toe hy uit die helikopter klim, het hy iets in sy hand. Dit lyk soos ‘n houtkissie en soos hy stap roep hy heeltyd MY naam. Ek kon dit nie glo nie! Kersvader ken my naam?! Ek het skrikkerig nader gegaan en ek was geskok, senuweeagtig, bang en terselfde tyd opgewonde. In sy hande was my present…’n klein konyntjie!

Later (toe ek nie meer in Kersvader glo nie…en wanneer dit gebeur het,   kan ek glad nie onthou nie), het my ma my vertel hoe hulle gesukkel het. Ek wou niks anders vir Kersfees hê nie… net ‘n konyntjie. En wat ‘n probleem dit was om die lewendige hasie by my te kry. Hulle kon tog nie die hasie saam met die ander toegedraaide geskenke in die sak gooi nie. En hoe almal daardie dag niks met hulle duur Barbies en nuwe karretjies te doen wou hê nie, want almal wou ook skielik ‘n hasie hê. My ma het vertel hoe die hasie spotgoedkoop was, maar dit was die beste present OOIT!

Op die 25ste Desember 2013 het ons ‘n ander geskenk gekry. Ek het uitgevind ek is swanger. Dit was vreemd hoe my hart geklop het…amper nes die keer wat KersVader my naam geroep het. Ek was GESKOK. Alhoewel ek geweet het dat ons besig was om te probeer vir kinders…was dit die heel eerste maand. Ek het regtig nie verwag dat dit so vinnig gaan gebeur nie, en dit was bietjie van ‘n “o..koek, wat nou”-oomblik. Ek was ook SENUWEEAGTIG. Gaan ons dit kan doen? Hoe en wanneer sê ons vir ons ouers? Gaan almal om die tafel sien as ek nie my sjampanje drink nie? Daar was verseker ook ‘n tikkie VREES. Ek was bang vir die swangerskap. Bang vir wat die res van die familie gaan dink. Gaan hulle dink ons het te gou probeer? Gaan hulle bly vir ons wees? Wat as ons almal vertel en ons het ‘n miskraam? En dan natuurlik was daar OPWINDING. Ek en my man was vreeslik opgewonde. Ons is swanger! Ons gaan ‘n klein mensie hê!

En so is Lisa gebore en ons het die eerste 6 maande van haar lewe oorleef (hoe…weet ek nie, maar ons het dit gemaak). Vreemd dat my skoonpa wat glad nie van my kinderliefde (en dalk steeds grootmensliefde) vir hasies weet nie, Lisa se bynaam KONYNTJIE gegee het nie. En hoe ek dus vir die tweede Kersfees die beste present OOIT gekry het. Weereens ‘n klein ‘konyntjie’. En dit bring ons dan by Kersfees 2014…Lisa se eerste Kersfees.IMG_1642

‘n Goeie vriendin van my het Lisa se 3-6 maande Kersfees outfit al in Januarie by Woolies se uitverkoping gekoop. Min het ons geweet dat Lisa nog teen Kersfees nie eers in haar Newborn klere sal pas nie. Ons het maar net die bip van die pakkie gedra. Almal was skielik meer opgewonde oor Kersfees, want hierdie jaar was daar ‘n kleintjie in die familie. (In my skoonfamilie is dit die eerste kleinkind en by my familie is Lisa die eerste kleinkind wat in Suid-Afrika bly). Ons het Oukersaand by een familie spandeer en Kersdag by die ander. Nie dat Lisa dit sal onthou nie, maar sy het soveel presente gekry. Daar was weer by ons grootmense ook ‘n tipe opwinding en dit is ongelooflik hoe ‘n kind die hele gevoel rondom Kersfees weer terugbring.

Vir jare het Kersfees vir my net ‘n groot etery geraak. Ek het presente gekoop omdat ek moes en dit was nie vir my vreeslik lekker nie. Iemand het altyd baklei en dit was altyd ‘n ‘mission’ om ver te ry en in te pak en en en. Nou, met Lisa, was Kersfees weer Kersfees. Dit was weer ‘n tyd van dankbaarheid, ‘n tyd van feesvieringe, ‘n tyd van gee, ‘n tyd van hoop, ‘n tyd van liefde. Kersfees soos wat Kersfees moet wees.

Die Here het my met hierdie klein dogtertjie so geseën en ek het net weer opreg besef hoe ‘n groot opoffering dit vir God was om Jesus na die aarde toe te stuur. Dat dit die grootste geskenk moes wees. Hoe ongelooflik dit is dat daar ‘n klein babatjie in Bethlehem gebore is. In ‘n stal, sonder hospitale en mooi beddegoed. Dat daardie babatjie se pad vorentoe in baie detail beplan is en hoe daardie babatjie as ‘n grootmens vir ons aan die kruis gesterf het.

Ek hoor soveel keer dat Kersfees eintlik nie ‘n Christelike fees is nie en dat dit maar net ‘n geldmaakstorie is. En dit is dalk waar, maar Kersfees is soveel meer as net dit. Dit is ‘n tyd waar families bymekaar kom en saam kuier en lag. Dit is ‘n tyd waar mense vir mekaar geskenkies gee…en dit hoef nie duur te wees nie…dit gaan oor die gee.

Kersfees is ‘n gevoel. Dit is daardie “fuzzy” gevoel wat jou soms tranerig maak. Dit is daardie effens langer drukkie van ‘n ouma of oupa wat jy nie elke dag sien nie. Dit is die klank van Boney M in die winkels. Dit is daardie reuk van die boud in die oond. Dit is die smaak van die braaiaartappels en die trifle. Dit is die ontmoeting van sagte glimlaggende oë rondom die etenstafel. Dit is die onthou van die wat nie meer daar is nie. Dit is die aanvaarding van elkeen se gawes en persoonlikhede. Dit gaan oor die beloftes en seëninge wat ons elke dag ervaar. Dit gaan inderdaad oor ons geloof, en as dit nie Christelike waardes uitbeeld nie, dan weet ek nie.

Ek het myself daardie aand bevind waar ek in ons bed lê en bid dat Kersfees vir Lisa altyd ook so ‘n spesiale tyd met God sal wees. En dat sy dit eendag met haar kinders ook kan deel soos wat ons ouers met ons gedeel het. En ek het gebid dat ek eendag vir haar ook ‘n konyntjie sal kan gee.

Mag Kersfees 2015 vir julle almal ‘n opregte tyd wees. ‘n Geseënde Kersfees en nie net ‘n “Merry Christmas” soos die Engelse sê nie. Mag julle opnuut die Kersfeesgevoel ervaar en mag dit julle nader aan God bring.IMG_3347_resize

 

 

 

 

 

 

55. Tick tock tick tock…tyd!

6f9eb46f8cef6f8b39c7e37f05626de7

As daar een ding in die wêreld is wat ek seker is elke ma meer van wil hê,  is dit verseker TYD! Dit is asof daar net nie genoeg tyd in ‘n dag is om by alles uit te kom nie. Hoe is dit moontlik dat ek altyd my to-do lysie op datum kon hou en nou skielik net niks gedoen kry nie?

My dag begin 5:00 soggens (wanneer Lisa kiertsregop in die bed staan en my op die wang slaan en met ‘n glimlag vir my sê: “Mamma”). Let wel…as ek sê my dag BEGIN 5:00 dan bedoel ek eintlik dis wanneer ek die eerste keer ordentlik uit die bed uit opstaan en die lig aansit. Dit sluit dus nie die 2-3 kere wat ek tussen 12:00 en 5:00 wakker word omdat Lisa melk wil hê of omdat sy sommer net ‘n bietjie wil skree nie. Dit sluit ook nie die kere in wat ek nie kan slaap nie en waar ek wakker lê en dink aan als wat ek nie gedoen gekry het nie; alhoewel sy doodrustig langs my lê en snork nie. Dit sluit ook nie die 3 toilettrippies wat ek deur die nag inwerk in nie (vir een of ander rede piepie ek dubbel soveel as voordat ek ‘n kind gehad het…seker omdat ek nooit daai ‘pelvic floor’-oefeninge gedoen het nie…oops.)

Van die oomblik wat my voete die vloer slaan, is dit ‘n gejaag. Dit is ‘n gejaag om Lisa se sak te pak en seker te maak ek het vir haar gesonde kossies ingepak vir die dag. (Dit sal dalk minder van ‘n gejaag wees as Lisa nog vir so uurtjie wou slaap, want dan sou ek nie elke twee minute moet loer waarmee sy besig is nie…gewoonlik kry ek haar besig om die diewering van haar kamer uit te klim sodat sy vir die honde kan hallo sê….OF besig om met die tampons in die badkamerkassie te speel.

Dan is dit ‘n gejaag om myself aangetrek te kry. Hierdie proses word effens vermoeilik deur Lisa wat aan my been hang terwyl ek my grimering doen omdat sy eintlik met my krale wat langs die spieël hang wil speel. Dit is ook effens oneffektief omdat die wasgoed wat al vir twee weke op die bank in die waskamer lê, nogsteeds nie in my kas weggepak is nie. Dus bevind ek myself gereeld waar ek in my bra en pantie in die huis rondhol (seker dié dat my buurman deesdae meer gereeld oor die muur loer) opsoek na iets wat al lank terug gewas is.

Dan is dit ‘n gejaag om al my merkwerk, die vier sakke (babasak, handsak, boekesak en kossakkie vir Lisa) in die kar te kry. En dan jaag ek om Lisa af te laai, om betyds by die skool te wees en om nog tyd te hê vir ‘n vinnige koppie koffie voordat my werksdag begin. Skoolgee is altyd ook ‘n gejaag. Dit is ‘n gejaag om al die take gedoen te kry, ‘n gejaag om vraestelle op te stel, ‘n gejaag om als gemerk te kry en ‘n gejaag om seker te maak jy het alles onderrig wat in die leerplan is, ‘n gejaag om seker te maak jou span is voorberei vir die wedstryd, ‘n gejaag om al jou admin op datum te hou…en en en .

Dan na skool is dit natuurlik weer ‘n gejaag. Ek stop vinnig by die winkel en jaag deur die rakke opsoek na ‘n goedkoop-gesonde-vinnige aandeet-opsie. Dan is dit weer ‘n gejaag om Lisa op te tel sodat ek darem vir ‘n kort tydjie met haar kan speel voordat dit weer badtyd en bedtyd is. Dit alles terwyl jy ook die kos moet regkry sodat ons nie na 9:00 eet nie.

Teen die tyd wat Lisa in die bed is en ons geëet het, is ek oppela. So moeg dat ek lanklaas na 9:00 in die bed gekom het. Ek is so moeg dat ek niks anders gedoen kry nie.  Te moeg vir beenhare skeer, te moeg om nog daai watsapp vir my ma te stuur wat ek al vir dae in my kop het, te moeg vir huis skoonmaak, te moeg vir seks, te moeg vir hare was, te moeg vir praat, te moeg vir dink, te moeg om met vriende te kuier, net te moeg.

Verlede week staan ek in die kerk en ons begin met Praise en Worship. Toe ek my oë toemaak en rustig raak voor die Here (en ek kon dit ook net doen omdat Lisa op my skouer lê en slaap het, want as sy rondhol kan ek dit nie vir ‘n oomblik waag om my oë toe te maak nie) hoor ek die Here se stem so duidelik: WEES STIL! RAAK STIL! Sy woorde aan my was so duidelik dat ek sommer begin huil het. My arme man (wat glad nie my emosies verstaan as dit by kerk kom nie) het my vreemd aangekyk en gevra of als ok is. En dit was vreemd hoe ek met oorvloed kon sê: JA! Alles is ok.

En skielik besef ek net dat die lewe te kort is om die heeltyd te jaag. Vat ‘n oomblik, raak rustig…en wees stil! Sit musiek aan of sit net ‘n bietjie op die gras (indien jy nog gras oor het nadat die honde daar gespeel het) in die tuin. Haal net vir n oomblik diep asem en “connect” ‘n bietjie met die Here. En na jou oomblik…al is dit net vir ‘n paar minute…kan jy maar weer die wasmasjien aansit of die speelgoed optel, want hey…als is OK!9781432122379

54. World Prematurity Day 17 November

premie dag

Daar is deesdae soveel “Wêreld”-dae dat dit vir my partykeer ietwat afgewater raak. Daar is dae vir die bewusmaking van ALLES: Vigs, Vrouegeweld, Kindermishandeling, Dieremishandeling, Geweld en Borskanker, Prostaatkanker, Klierkanker…alle ander Kanker (om net ‘n paar te noem), maar daar is ook dae vir ander goed soos ‘n dag vir onderwysers, ‘n dag vir verpleegsters, ‘n dag waar jy nie ‘n bra dra nie (my persoonlike gunsteling), ‘n dag vir kaalvoet loop, ‘n dag vir swart dra…en en en.

Wel…volgende week, is dit World Prematurity Day…’n dag wat spesiaal uitgesit is vir die bewusmaking van premature geboortes en babas. En soos iemand wat ‘n sussie aan borskanker verloor het, iets oor borskanker sal bemark…en iemand wat ‘n hond aangeneem het, teen hondemishandeling sal opstaan…en iemand wat ‘n kind met ‘n leeragterstand het, ietsie sal deel oor die onderwerp, is ek natuurlik baie passievol oor hierdie saak.

In die afgelope jaar het ek baie agtergekom hoe min mense regtig weet oor iets waardeur soveel families gaan. Ek self het gesukkel om informasie op die internet te kry. Alles wat jy lees is van Amerika en daar is min inligting oor spesifiek Suid-Afrika beskikbaar. Dus het ek dit goed gedink om bietjie die statistieke vir Prem geboortes en babatjies spesifiek in Suid-Afrika met julle te deel.

Hier is dit dan:

  • ‘n Prem baba is enige baba wat voor 37 weke gebore word.
  • Prem babas se gewig word tot en met 2kg in gram gemeet (1060g vs 1.06kg)
  • Die kleinste baba wat al ooit in Suid-Afrika gebore is (en wat oorleef het), was Lei De Wet van Grassy Park. Dit was 10 jaar gelede en sy was 400g en op 26 weke gebore. Sy was vir 4 maande in die NICU by Kingsbury Hospitaal.
  • 80% van alle prem babas word tussen 32-37 weke gebore en slegs 16% word voor 30 weke gebore.
  • Die gemiddelde tyd wat ‘n prem baba in die hospitaal moet bly is 2-3 maande.
  • In Suid-Afrika word 1 uit elke 7 babas prem gebore (die res van die wêreld is 1 uit 10).
  • 90% van babas wat meer as 1kg op geboorte weeg, oorleef.
  • 74% van babas wat tussen 800g en 1kg wees, oorleef.
  • Slegs 25% van prematuur geboortes is natuurlik (die ander is almal volgens keisersneë)
  • Meisies is sterker as seuns en hulle kanse tot oorlewing is 25% hoër.
  • In 2011 is 15 miljoen prem babas in die wêreld gebore. 84 000 van hulle was in Suid-Afrika en 10% van al hierdie babatjies het dit nie gemaak nie.
  • 1 miljoen babas sterf jaarliks weens premature geboorte.
  • 10 jaar gelede was 28 weke die afsnypunt waarby dokters gemeet het of hulle mediese sorg aan die baba kan verskaf. Dit is bereken omdat so min van hierdie babas oorleef, al lewe hulle net na geboorte. Nou word lewe op 24 weke geklassifiseer. In Suid-Afrika is daar steeds hospitale wat geen lugtoevoer aan babas wat onder 1kg of voor 28 weke gebore word, verskaf nie.
  • Suid-Afrika is 24ste (uit 184 lande) as dit kom by die hoeveelheid prematuur geboortes. Mosambiek en Malawi is die twee hoogste Afrika lande as dit by hierdie statistieke kom.
  • Hier is ‘n grafiek met die ‘sterfte vs oorlewings’ syfers vir babas onder 1kg in die Wes-Kaap vir 2013:

stats vir 2013 birth deathSjoe…OK dis miskien bietjie informasie-overload, maar dit het my nogal laat terugstaan en (weereens) met ‘n groot dankbare hart daaroor laat dink. Dit het my weereens laat besef hoeveel dinge verkeerd kon gaan op ons reis en hoe verskriklik geseënd ons is met ons klein Lisatjie. Maar dit het my ook laat dink aan al die ander mammas wat nie so gelukkig was nie. Die wat in die negatiewe kant van al hierdie statistieke staan. Die wie sonder ‘n baba sit of met ‘n gestremde baba of kind sit en my hart gaan uit vir al hierdie mammas. Dit is my wens dat niemand hierdeur moet gaan nie.

Daar is soveel redes waarom babas vroeg gebore word. Baie van die kere gebeur dit net spontaan, maar hier is die topredes waarom dit gebeur:

  • Ma’s wat meer as een baba dra (tweelinge, drielinge, ens)
  • Ma’s wat jonger as 18 is of ouer as 35 is
  • Algehele gesondheid (diabetes, oorgewig, hoë bloeddruk, stres).
  • Pre-eklampsië (5-8 % van alle swangerskappe)
  • Infeksies
  • Abnormaliteite (soos probleem met plasenta of water, ens)

Ok…genoeg negatiwiteit! Wat is my punt nou eintlik? Wel, ek wens ek het vooraf meer geweet hieroor sodat ek dalk vroeër al die tekens (my pof voete en my bloeddruk) kon optel. So, my wens is dat meer mense bewus sal wees dat dit regtig met baie mense gebeur en dat jy heeltyd tydens jou swangerskap moet uitkyk vir goed. Maak seker jy gaan na al jou voorgeboorte afsprake. Maak seker hulle toets jou bloeddruk en jou uriene. So kan enige abnormaliteite vroegtydig opgetel word en jy kan gehelp word.

Vir die res, moedig ek elkeen van julle aan om met een mens te praat oor prematuur babas. Net een. Vertel hulle daarvan en wat in hospitale aangaan. Bid vir die 84 000 mammas en families wat in ons land hierdeur gaan. (Kyk wat het julle gebede in ons lewe beteken). Brei bietjie mussies en booties vir staatshospitale of help uit deur ‘n paar Tiny Baby goedjies by Ackermans te gaan koop. Gaan hoor wat die NICU by jou plaaslike hospitaal nodig het en kyk of jy dalk kan help. Soms is dit net ‘n potplant of ‘n ou stoel wat die wêreld se verskil maak. As jy ‘n ou borspomp het wat jy verseker nie weer gaan gebruik nie, skenk hom aan ‘n prem-mamma wat met haar hand sit en express by die NICU. Gaan koop en dra jou plakker by Toys R Us winkels. Dis R10 en dit gaan vir die Newborn Trust by Grootte Schuur. Dra iets pers op die 17de November en ondersteun die veldtog!

sticker

Bronne vir statistieke:

http://www.ngopulse.org/press-release/time-focus-84-000-preterm-births-south-africa

http://www.littlelife.co.za/lifemagazine.aspx?ID=1&ArticalID=22

Click to access MortalityStatisticsSA.pdf

http://www.who.int/mediacentre/factsheets/fs363/en/

http://www.health24.com/Parenting/Child/News/Preterm-birth-an-African-killer-20130210

53. Dis maar ‘n NARE storie!

11046622_10203456042502038_8323941076764519191_n

‘n Baba wat skree na elke voeding en dan vreeslik opgooi is iets wat met talle mammas gebeur. Babatjies sukkel baie met krampe en winde en daarvoor is daar mos Gripe Water en Telament drops. Vir duisende mammas werk dit perfek en hulle huilende babatjies word sommer vinnig rustiger. Die probleem kom egter wanneer jou babatjie te klein is. Al hierdie medikasie mag eers vir babas van 3.5kg gegee word en toe Lisa 3.5kg was (amper 6 maande later), het ons al so gewoond geraak daaraan dat sy krampe en winde het, dat ons dit maar gelos het. Hulle het in elk geval vir ons gesê dat dit net vir 6 maande aanhou.

Prem babatjies is ook meer geneig tot reflux omdat die kleppie wat alles in die maag hou nog nie heeltemal toegegroei het nie. En Lisa het (soos baie ander babatjies) redelik baie opgebring na elke voeding. Ons het met die dokter daaroor gepraat en ek was mal oor haar antwoord. Sy was seker dat Lisa refluks het, maar wou haar nie medikasie daarvoor gee nie. Sy het gevoel dat haar klein liggaampie nie die medikasie gaan verwelkom nie en dat die medikasie vir haar meer nadelig in die langtermyn gaan wees. Ons het besluit om nie enige medisyne te gee nie (ek haat in elk geval medisyne en gebruik dit net as dit absoluut nodig is). Die algehele gevoel was as ons dit nie meer kan hanteer nie, dat ons weer sal heroorweeg, maar dat ons sal probeer uithou vir solank as wat ons kan.

Dus, het ons redelik vinnig gewoond geraak aan opgooi. “Opgooi” is so mooi woord…soos ‘n bal wat spelend in die lug opgegooi word. Dit is glad nie hoe dit in die werklikheid is nie…daar is geen ‘speling’ of mooi ‘bal’ nie, maar inteendeel is daar ‘n onverwagse streep melk/buttenut/patat wat soos ‘n jet uit ‘n klein mondjie skiet in ‘n rigting wat nie vooraf bepaal kan word nie. Maar dis nogsteeds beter as die ander woordkeuses: “braak” is so harde, kras woord…so amper asof dit die klank is wat ‘n draak moet maak. “Kots” is weer so kommin woord…soos die dronk student in die strate van Stellenbosch na Jool. So opgooi is seker maar die beste woord.

Wel Lisa het opgegooi. Baie opgegooi. Heeltyd opgegooi. Orals opgegooi.

Ek het so baie dae na ander mammas gekyk met ‘n absolute verwondering in my oë. Veral as hulle so klein lappie-dingetjie van BabySense uithaal en oor hulle skouer plaas. Dit is klein en pas perfek tussen jou nek en jou skouer en dit is in mooi sagte kleure. Dan verstaan ek nie hoe hulle hulle babatjies net so ‘n ligte tikkie op die rug gee en dan spoeg hulle babatjie so perfekte R5-size spoegseltjie perfek in die middel van die lappie. HUH?! Flip.

Dan kyk ek na myself en sien ‘n hele ander prentjie. Ek, met die klere aan waarop daar nog vanoggend se opgooivlekke sigbaar is (alhoewel ek ‘n serp aanhet om dit te probeer verbloem), haal ‘n hele ou lapdoek uit (en dit was baie kere te min vir al die opgooi). Dit word dan oor my skouer, arm, rug, meubels rondom my en ‘n groot gedeelte van my hare gedrapeer. Dan tel ek my skreeuende klein babatjie (wat alreeds almal se aandag gehad het bloot net omdat sy so klein was of al die kyke klaar gekry het omdat ek haar in die publiek borsvoed) op en na so 15-20 minute se aanhoudende geskree kom daar soms (sonder enige tekens…en ook nie altyd nie…want dit sou dit te voorspelbaar gemaak het) ‘n lang streep opgooi uit. Die doek het meestal alles gekeer, maar ek moes baie kere  daarna ook die vloer skoonmaak en een keer ook die geskokte tannie langs my by Mugg n Bean se Green Cross sandale.

Ek wou soveel keer aan mense verduidelik. Ja, ek weet ek het kots (klink nou skielik beter as opgooi) op my rug, in my hare en oral op my bank. En dis ok…want ek het ‘n baba wat lewe. Die feit dat sy enigsins hier kan sit en KAN opgooi het dit snaaks genoeg makliker gemaak. Sy kon net sowel soos baie ander premies nooit natuurlik drink nie. Of sy kon nog in die hospital op suurstof wees. Of Of Of… So ons het half ‘n tipe dankbaarheid teenoor die opgooi begin kry. Snaaks wat ‘n bietjie perspektief in die lewe bring.

En so het ons maar uitgehou. Baie klere gewas en min in die openbaar uitgegaan, maar uitgehou. As iemand haar wou vashou het ons maar net ‘n waarskuwing gegee. Sommige mense het gedink ons oordryf en het haar steeds gevat sonder ‘n gedrapeerde doek. Een van my vriendinne en haar dogtertjie het kom kuier en Lisa het so baie op hulle opgegooi dat hulle moes skoon klere gaan aantrek het. Maar ons het uitgehou en ons vriende en familie het uitgehou.

En op 6 en ‘n half maande het dit skielik net opgehou. Klaar met opgooi. Klaar met die “mooi” spoegdoeke (selfs nie eens die mooi gehekelde rantjie of die prentjie op geborduur maak dit “mooi” nie). En raai wat…op 7 maande het ek ook ‘n Babysense lappie-dingetjie gaan koop en het met trots my babatjie op my skouer ‘n tikkie gegee en daar het ook ‘n klein R5-size blertsie in die middel van die lappie geval. EUREKA!

52. Asof ma’s nie genoeg het om oor te stres nie…kom ons praat oor KOS!

20150701_170711Ek en my man is albei mal oor kos en ons albei se pragtige “glad-nie-reg-vir-somer-lywe” spreek woorddele van ons daaglikse dieet . Ons hou van lekker vetmaakkos en eet graag uit. Dus het ek altyd geweet (of dalk gehoop) dat Lisa ook van kos gaan hou. Ek was egter bewus dat sy meer gesond as ons moet eet en ons het sommer vroeg al begin om ons eie dieet ook bietjie aan te pas.

Wanneer om met kos te begin was egter vir my ietwat moeiliker. Daar is soveel artikels en opinies oor kos vir babas dat dit mens ietwat verwar. Party artikels sê jy MOET op 4 maande begin anders gaan jy sukkel om jou baba aan verskillende teksture en smake gewoond te maak. Ander sê weer dat jy MOET wag tot op 6 maande, want jou baba se maag is nog nie reg vir kos nie. Dan is daar weer dié wat sê jy MOET wag dat jou baba self gereed is om kos te eet. Dit is wanneer jou baba se nek sterk genoeg is om haar kop regop te hou en wanneer jou baba self kan sit.

Al die ‘jy MOET dit so doen’-raad het my regtig deurmekaar gehad, want nêrens kon ek raad kry vir wat ek met ‘n prem babatjie MOET doen nie. Gee ek haar kos volgens haar Actual of Corrected age?Die laaste ding wat ek wou doen is om haar nog ‘n agterstand in die lewe te gee. Ek was bang ek begin te vinnig en beskadig haar maag (imagine daai skuldgevoelens!). Of ek wag te lank en sy wil niks eet nie. Te veel inligting is nogal partykeer nie ‘n goeie ding nie. Dit is moeilik en verwarrend. Veral met jou eerste kind. En waar mens gewoonlik na jou ma toe gaan vir raad, wys baie van die statistieke en nuwe informasie dat dit wat ons ouers gedoen het, juis nie reg was nie.

Ek het besluit om my hart (en ‘n bietjie van my kop te volg) en net te luister na ons pediater.  Ek het haar nou al op speeddial op my foon en ons is op eerste naam basis. Ek vertrou haar opinie verskriklik omdat sy nie net ‘n pediater is nie, maar ook ‘n ma van ‘n prem baba. So met al die informasie in my kop en die agtergrondkennis van ‘n Google-ma, het ek haar gevra. Haar advies was om op 6 maande te begin. Al kon Lisa nog nie sit nie omdat haar ontwikkeling anders is, moes ons begin, want haar maag ontwikkel vandat sy begin melk drink het. So op 6 maande het Lisa haar eerste kossies geëet.

Maar daar is natuurlik ook die enorme debat wat sosiale netwerke en kletsgroepe oorgeneem het oor pap as eerste kos. Weereens het ek my leeswerk gedoen. Soveel mense glo dat pap (soos Cerelac en Nestum) heeltemal ok is as eerste kos. Ander (en hulle is redelik aggressief as dit by hulle oortuigings kom) glo weer dat mens pap teen alle koste moet vermy. Dat dit vreeslik sleg vir jou baba is. Hulle glo dat dit te veel suiker bevat en dat dit beter is om meer natuurlike kos (soos piesang, butternut, ens) as eerste kos aan te bied.

20150209_171306

Weereens het ek my pediater geraadpleeg en sy het gelag toe ek haar oor die papdebat vra. Sy het my haar professionele en persoonlike opinie gegee dat pap ok is. Maar als in matigheid. Dus het ons begin met ‘n mengelmoes…so bietjie The best of both worlds. Lisa het pap en groente gekry. Die pap het ek met my melkies gemeng en die groente het ons sommer self gekook en sag gemaak.

Die metode van voer wat jy wil gebruik, is nog iets om oor te besluit. Ek het erg opgelees oor Baby Led Weaning (BLW). Die idee daarvan het nogal aanklank gevind by my. Dit is waar jy jou baba toe laat om self te eet. Jy gee dus nie met ‘n lepel kos nie, maar sommer stukkies kos. Dit is baie gesond en die baba raak sommer vroeg gewoond aan self eet en ook aan al die teksture en so aan. 20150209_165958

Aan die begin het ek besluit om 100% met BLW voort te gaan. Maar na die tweede dag van gemors, het ek my besluit bietjie aangepas. Die innerlike control freak het gesukkel met die idee dat ek nie weet hoeveel sy eet en hoeveel van die kos op die grond beland nie. En ek wou seker maak sy kry genoeg kos in. Nou doen ons meestal BLW, maar wanneer ons uitgaan is dit net makliker om met ‘n lepel te voer.

10590478_10152620300511322_5815086148215762660_n

Sy was dadelik mal oor eet en geniet elke oomblik daarvan. Sy het sommer so rukbeweging gemaak as ek die kos nader bring. Haar mond maak soos ‘n voëltjie oop en sy gryp nou nog met albei hande na iets en sit dit in die mond. Hoe morsiger hoe beter en hoe vuiler sy aan die einde van ete wegstap, hoe lekkerder. Ek het aan die begin ‘n borslappie gebruik, maar sommer gou agtergekom dat ALLES vuil raak, so ek het maar moed opgegee.

20150203_172802

Laastens moet jy besluit of jy self al die kos gaan maak en of jy die Squish/Purity/Umati roete gaan volg. Weereens is daar uiteenlopende opinies oor hierdie onderwerp. Purity is glo die anti-chris self, squish is ietwat toelaatbaar en Umatie is die “lui-maar-steeds-organiese”-manier van dinge doen. Daar is hierdie absolute verwagting dat ma’s alles self moet kook en net organiese kossies moet opdien. Geen suiker, geen koolhidrate, geen lekkers, geen koekies, geen flings, geen koeldrank, geen, geen, geen.

20150325_163852

Ek het vroeg al besluit dat ek net die beste gaan probeer wat ek kan. Ek het meeste van Lisa se kos self gekook, maar wanneer ons uitgaan het ek net ‘n Squish sakkie in my handsak gegooi. Sy eet partykeer bietjie soetgoed, maar ons probeer om so min as moontlik suiker en gagga-goed in te kry. Op die oomblik eet sy maar net wat ons eet, en sy floreer.

Ek dink my hele punt is om net op te hou stres. Lees genoeg om ‘n opgevoede besluit te maak, maar volg jou hart en doen wat jy dink reg is. Op die ou ent is daar ‘n sê-ding in Engels wat my baie gehelp het: “Food until ONE is just for FUN!”

10387697_10205797166190364_5791921431590461418_n

51. Die realiteite van ‘n werkende mamma

497b188a281cd13ef2b3aa1bdb9e834dOns is finansieël standvastig, maar verseker nie ryk nie. Ons kan (met twee salarisse) ‘n huis bekostig met ‘n swembad, ‘n kar en ‘n bakkie bestuur, troeteldiere bekostig, een keer ‘n maand lekker uiteet en elke nou en dan iets nuuts koop. Sonder my salaris sal ons nie in ons huis kan aanbly nie en sal ons verseker meer brood en hoender eet…dus was werk nog nooit regtig vir my ‘n opsie nie. Dit was iets wat maar net moet gebeur. En ek was OK daarmee. Ek hou van werk en geniet dit om by te dra tot goed in die huis. Ek voel waardig en hou daarvan om ‘n onderwyser te wees. Dis vir my lekker.

En toe kom Lisa.

Ewe skielik is ek nie seker hoe ek voel oor werk nie. Is my “werk” as vrou nie om na my kind om te sien nie? Het God gedink daaraan dat ons gaan moet werk, toe Hy ons gemaak het? Is dit reg of verkeerd om te werk? Hoekom voel dit so verkeerd as dit eintlik reg is? Wat is reg? O..flip…werkende mamma of huisvrou?

Aangesien die huisvrou ding nie vir my ‘n opsie was nie, moes ek maar die werkende mamma idee aanneem. Maar die gedagte om in November terug te gaan werk toe (toe Lisa 4 maande oud was…en so 3kg) was net nie moontlik nie.  En ek het een maand onbetaalde verlof gevat. Om Desember werk toe te gaan (toe Lisa 5 maande oud was…en so 3.7kg) het nogsteeds vreeslik gevoel. Maar gelukkig was dit Desember vakansie so ek moes net vir 10 dae gaan werk en darem nie ‘n volle maand nie. Desember het dinge dus begin. Maar wie gaan na ‘n 3.7kg baba kyk? En hoeveel siektes gaan so klein dingetjie nie by ‘n skooltjie optel nie?

Dank Vader vir oumas! My ma (wat nog werk) het haar verlof opgebruik om vir die 10 dae by ons te kom bly en vir Lisa op te pas sodat ek kan gaan werk. Dit het dit soveel makliker gemaak om haar by die huis te los. Dit was iemand wat sy ken en iemand wat ek ken. Iemand wat vir haar sal lief wees en iemand wat sal verseker dat sy OK sal wees. Tog was ek skrikkerig. My ma het nooit ‘n prem babatjie gehad nie. Gaan sy OK wees? Gaan sy weet wat om te doen as Lisa dalk ophou asem haal of as sy heeltyd skree? Gaan sy vir haar haar medisyne kan gee? Ek het met al die vrae geworstel, maar moes my hart stil maak, want dit was al wat ek kon doen.

Blend 626

Almal het my voorberei vir die eerste keer wat jy jou baba iewers moet los en dat ek heelpad werk toe gaan huil. En dat dit vreeslik moeilik gaan wees om terug by die werk te wees. Dat ek heeltyd aan haar gaan dink en dat jy elke minuut terug by die werk gaan haat. Ek het vreeslik opgesien na die dag en het myself erg probeer voorberei op hoe ek gaan reageer en of ek sal kan ‘cope’.

Terug-skool-toeVir my was dit toe nie so nie. Ek het nie heelpad in die kar gehuil nie…ek het eintlik glad nie gehuil nie. Ek het nie heeldag (alhoewel gereeld…maar nie heeltyd nie) aan haar gedink nie, want ek was te besig. Dit was toe nie vir my SO moeilik nie. Alhoewel ek bitter moeg was teen 19h00 die aand, was dit eintlik vir my heel lekker. Ek het dit geniet om weer met my kollegas te wees en dit was vir my lekker om met my skoolkinders te gesels. En skielik kruip die skuldgevoelens in. Is daar iets met my fout? Hoekom voel ek nie soos ander mammas nie? Is ek nie so lief vir Lisa soos al die ander mammas wat heeltyd huil nie?

Al wat vir my aaklig was, was die pompery. Ek het elke sekonde van melk pomp…gehaat! Dis so mors van tyd en dit is so moeilik om ‘n ‘gepaste’ pomp-‘stasie’ te vind. En mens moet heeltyd met ‘n coolerbag sakkie rondloop en mens kan nooit net tee drink in die personeelkamer nie. Ek HAAT pomp. En ek het gereeld een of ander meganiese gedeelte van die pomp by die huis vergeet en dan moes ek met die hand ‘express’. Borsvoed is soveel makliker as die baba aan jou drink…pompery is SO nie vir my nie.

Ek is glad nie seker hoekom ek gedink het dat my ma gaan sukkel nie. Seker maar my eie “insecurities” en “issues”. Maar toe ek na die eerste dag terug by die skool by die huis kom, is Lisa en Ouma besig om boekie te lees. Sy was glo stroopsoet en het maklik geslaap en glo ‘nooit’ gehuil nie. Teen die einde van die week het my ma haar alreeds geleer om om te rol en sy was net ongelooflik. Dit was die eerste stap in my reis om mense met haar te vertrou. Iets wat nie vir my maklik was nie. Ek het vir lank gevoel ek is al een wat vir haar sal kan sorg en al een wat sal weet wat sy nodig het. Maar daar is baie mense daar buite wat weet hoe en jy moet net die regte mense vind en leer om te vertou en te glo. Te glo dat hulle haar net so lief sal hê as ek. Dat hulle haar net so sal stimuleer soos ek. Dat hulle na haar sal omsien soos ek.

Lees saam met ouma zetEk het lank met die skuldgevoelens rondgeloop en wonder nogsteeds somtyds hoekom ek nie ‘n tuisblymamma wil wees nie. En ek het nog nie regtig antwoorde op al my vrae gekry nie.

Partykeer, veral as Lisa siek is, wens ek ek kon net by die huis gebly het en na haar gekyk het. Partykeer wanneer dit wild by die werk gaan en ek voel asof ek die onmoontlike regkry, dink ek ook daaraan hoe dit sou wees as ek net ‘n ma was. Maar meestal is dit nie die geval nie. Ek sou verseker nie ‘n goeie tuisblyma wees nie. Ek raak mal om heeldag net ‘ma’ te wees. Ek het net weer die afgelope vakansie besef, dat ek dit nooit sal kan doen nie. Alhoewel ek mal is daaroor om tyd saam met haar te spandeer, raak ek vinniger geiiriteerd met Lisa omdat ek self nie stimuleer word nie. Ek is pootuit teen die tyd wat my man by die huis kom. Ek dink dis baie harder werk om ‘n tuisblyma te wees, as ‘n werkende ma.

Of dit wat ek voel reg is…weet ek werklik nie. En of dit van my ‘n slegte ma maak om so te voel, weet ek ook nie. Maar al wat ek weet…is ek doen wat reg voel vir my en WERK, werk vir ons.

images6TYUKWNK

50. Oordompel met liefde, genade en water

1902081_10155053331440179_8954996182213347266_nDie doop van ‘n baba was nog altyd vir my iets waarmee ek geworstel het. Ek is as ‘n babatjie gedoop en toe ek ouer was en ek self kon kies (en dit was vir my eng NG Kerk brein…’n GROOT dag) was ek grootgedoop in die nuwe “happy-clappy” kerk waar ek myself bevind het. Ek is mal oor die idee om ‘n babatjie in te seën en dan as sy groot is, kan sy self besluit.

10801617_10155053331130179_9216834728078087928_n

Toe ek my man ontmoet, het dinge bietjie verander. Hy ken nie charismatiese kerke nie en is redelik konserwatief as dit by kerk kom. Hy hou van die formele NG kerkdienste en ek is weer mal oor die informele dienste met ‘n orkes en ‘n ontspanne atmosfeer. Ek glo sterk daaraan dat mens as ‘n familie na dieselfde kerk moet gaan en na vele gesprekke, argumente, navorsing, afsprake en besoeke, het ons tog besluit om by die NG kerk in Vishoek aan te sluit.

10847969_10155053333630179_5889328797241713802_n

Dit is ‘n wonderlike gemeente en daar is formele en informele dienste…dus ietsie vir ons albei. Dit is nie die stywe NG kerk waarmee ek grootgeword het nie en ek voel tog asof my hart daar hoort. Hulle het omgee groepe en dit is maklik om vinnig in te skakel. Met Lisa se koms het ons besluit om haar te doop en haar groot te maak volgens die Christelike waardes wat ons albei ken.

Die ding wat ‘n doop bietjie moeilik maak…is wanneer doop jy jou baba? Meeste mense glo binne die eerste 3 maande. Wel…dit was bietjie onmoontlik met klein Lisa. Ons het met die dominee gepraat en op die ou ent besluit om dit voor die einde van die jaar te doen…en op 30 November 2014 is Lisa gedoop.

10801585_10155053336245179_3787390321386285780_n

Wat ‘n affêre! Die eerste probleem het gekom by die dooprok. Ek wou baie graag hê dat ons Lisa in ons gebreide familierokkie moes doop. Maar op amper 6 maande het die rokkie steeds nie vir Lisa gepas nie en het sy omtrent verdrink in die rok. My wonderlike kreatiewe ma maak toe ‘n ander plan. Sy kry ‘n pop dooprok en koop dit onmiddellik. Dit het perfek gepas… my poppie in ‘n poprok. En daar breek ons klein Lisa (alweer) ‘n tradisie.

1526636_10155072465455179_4510852975234978871_n

Die tweede probleem het gekom by die nooi van gaste. Natuurlik was daar die familie, maar daar was soveel ander mense wat so geestelik deel was van ons ondersteuningsraamwerk, dat dit bitter moeilik geraak het om mense te nooi. Ons het besluit op die familie en direkte vriende. My broer en suster bly altwee oorsee en dit was vir my vreeslik hartseer om te dink dat hulle nie by die doop gaan wees nie. Ek mis hulle daagliks, maar op spesiale dae soos Kersfees, Paasfees, verjaarsdae, doop en so aan, mis ek hulle ekstra meer.

Ek was so verras toe my broer my bel en sê hulle wil graag kom. Al die pad uit Mauritius. Ek was super opgewonde en kon sy twee pragtige dogtertjies en my skoonsussie ook weer sien. Dit was heerlik om hulle hier te hê en ek was sommer emosioneel daaroor dat Lisa haar niggies kon ontmoet. Ons het lekker voor die doop gekuier en alhoewel die huis vol mense was, het dit so reg gevoel. Ons het op die opblaasmatras geslaap en dit het my laat terugdink aan die krismisbed by ouma en oupa op die plaas.  10441051_10155053330530179_2842331730438775420_n10802039_10155049681940179_4504569873626117836_nDie diens self was vir ons baie spesiaal. Dit was ‘n kinderdiens, so die kerk was vol kinders en daar was ‘n poppekas en lekkertjies is uitgedeel. Dit was lekker ontspanne en vol bedrywighede. Die dominee het dit vir ons baie spesiaal gemaak. Hy het ‘n foto van Lisa toe sy gebore is op die projektor gesit en die hele gemeente het dadelik deelgeword van ons storie. Hy het vir ons die mooiste rooi kers gegee (sodat ons elke jaar sal onthou) en so mooi gepraat.

10805724_10155053331750179_3168215156642125502_n

Hy het ons albei se ouers ook vorentoe geroep om deel te wees van die doop. So mooi idee om erkenning te gee vir hulle bydrae in ons en Lisa se lewe. Lisa was stroopsoet en het met haar groot ogies vir die mense geloer. My swaer (Lisa se peetpa) het haar vir ons aangegee en dit was regtig vir ons so ‘n wonderwerk dat ons tot hier gekom het. Elke gebed se antwoord het hier voor ons oë in ons arms gelê. En ons kon met dankbaarheid voor ons vriende en familie ‘n belofte maak om hierdie perfekte geskenk van God tot die beste van ons vermoeëns groot te maak.

1536421_10155053332650179_812135637341526205_n

Lisa is 100% ‘n wonderwerk. En Lisa is 100% ‘n geskenk van God. En Lisa is 100% ‘n werklike bewys dat Jesus lewe en dat God soveel groter is as wat ons menslik kan dink. Hoe anders as om haar nie 100% groot te maak volgens wat die Bybel ons leer nie. Doop of nie…Maar een ding is seker: Ek is ewig dankbaar dat ons ‘n lewende God het wat nog wonderwerke doen en wat gebede verhoor.

10629620_10155053707915179_8303705819487324587_n