12. Kaal babatjie, Blou ligte, Toegemaakte ogies…Geelsug!

10806378_10154990117985179_7081866913763812285_nNa ‘n heerlike aand by die huis en ‘n nag van min slaap (ek moes elke 2 ure wakker word om melk te pomp… dit vat so 20 minute en dan nog tyd vir steriliseer ook) het my eerste “besoekers”-tog hospitaal toe begin.

My skoonouers is huis toe en my man moes weer by die werk wees. My pa het sy pos as bestuurder en hospitaal-maaitjie kom inneem. Ons het die tog hospitaal toe begin. ‘n Roete wat toe nog redelik vreemd vir my was, maar waaraan ek binne die 3 weke in Grootte Schuur gou gewoond geraak het. As jy buite verkeertyd ry, vat dit 40 minute. Die parkering is ‘n groot probleem. Ons het later agtergekom dat die parkering wat die naaste en goedkoopste was, bo die hospitaal op so oop stuk grond was. Dit kos R10 ‘n dag. Dit is gelukkig afdraend stap na die hospitaal toe…middae was moeiliker en met my keisersnee-eina het dit my bietjie stadiger as gewoonlik geneem. Ek was lekker uitasem teen die tyd wat ek die steil bult uitgeklim het.

Die sekuriteit is streng en ons moes elke dag by die hoofingang inteken en het ‘n plakkertjie wat NICU sê gedra. Ek het my twee bottels melk in ‘n Coolerbag gepak gehad en het ander mammas wat deur dieselfde as jy gaan vinnig raakgesien deur die Coolerbaggies of bottels melk wat hulle ook saamdra. Wanneer mens se oë ontmoet, kyk mens na mekaar met meegevoel en ‘n “I get you” glimlag. Sonder om iets te sê, is daar ‘n band. Ongelooflik hoe sulke krisistye mense uit verskillende wêrelde bymekaar bring.

By die deur ingestap is Lisa geskuif na ‘n toe-incubator. Dit is nou die normale incubators wat almal ken. Voorheen was sy op ‘n oop incubator wat maar net soos ‘n tafel lyk. Dit is nogal ‘n skok as jy verby die glasvenster van die vertrek stap en daar lê ‘n oop tafel waar jou babatjie die aand voor die tyd gelê het. Mens kry so koue gevoel oor jou. Daar is vir my verduidelik dat dit ‘n goeie ding is en dat dit beteken sy doen goed. Met die incubator word sy toe ook geskuif van NICU 1 na NICU 2. Dit is die vertrek reg oorkant NICU 1. Daar is ook vir my verduidelik dat hulle jou elke keer nader aan die deur skuif en dat elke kamer nader aan die deur, ‘n bietjie nader is aan huis toe gaan. Ek kon nie wag vir daardie dag nie en was effens jaloers op die ma’s met aansienlike groter babas wat reeds in die kamer by die deur was.

Toe ons by Lisatjie kom (dit was redelik maklik om haar tussen die klomp incubators raak te sien, want sy was die enigste wit babatjie daar), was sy kaal sonder ‘n nappy en haar ogies was toegeplak. Ek het geskrik en was dadelik bekommerd (al was ek in elk geval die hele tyd bekommerd). Hulle het kom verduidelik dat sy geelsug het en dat dit omtrent met alle prem babatjies gebeur. Sy moet onder die blou ligte bly totdat haar tellings weer normaal is. Dit was gerustellend om te weet dat dit heel normaal is, maar dit was steeds vir my bitter erg om haar so te sien lê.

Dit was egter ook ‘n dag van vele eerstes. Ek is vir die eerste keer gewys hoe om haar melk vir haar te gee. Dit was nogals scary. Hulle bring vir jou die regte hoeveelheid melk in ‘n spuitnaald. Jy moet eers een of ander vitamien aanvulling in ‘n koppie by die melk meng, dan trek jy weer die melk met die spuitnaald op. Daar is ‘n buisie (tube) wat deur haar mond na haar maag gaan. Mens konnekteer dan die spuitnaald (sonder die drukker gedeelte) aan die buisie en hou dit in die lig op sodat die melk (3ml) stadig in die buisie tot by haar maag kan loop. Dit het my laat terugdink aan Mnr. Mostert se Skeinat eksperimente en dit het my hartseer gemaak dat ek hier by my klein babatjie staan en haar met ‘n wetenskap eksperiment vergelyk.

Dit was ook vir my erg om te sien hoe min ma’s daar was. Ek wou soveel moontlik tyd daar  spandeer. Daar is baie incubators en min spasie om rond te staan. Die vertrek waar ek was, het 13 incubators gehad met slegs 2 stoele. So dit was moeilik, want mens het die heeltyd in die pad gevoel. Ek moes elke 2 ure pomp en het dit moeilik gevind, want daar was nie plek nie. Ek het die eerste week maar min daar gebly. Ons het een keer deur die dag gegaan en melk gevat (gewoontlik die oggend) en dan het ons winkel toe gegaan om goed te koop (goed soos maternity pads, breast pads en prem nappies). Ek het nog vreeslik gesukkel met my bloeddruk en my pa het aangedring om vir ons ‘n bloeddruk masjientjie te koop wat ons by die huis kan gebruik.

Saans, sodra my man by die huis kom, het ons twee weer gery sodat hy haar ook kan sien. Hy was baie meer ontspanne as ek in die NICU. Ek was skrikkerig om te vat of te vra, maar hy het net met selfvertroue dinge gedoen en gevra. Hy was my rots…rêrig. Ek was so trots op hom en ek het hom so jammer gekry. Hy moes die sterk een wees en my ondersteun, maar hy self moes ook ondersteuning kry en ek was nie in staat om dit vir hom te gee nie. Hy is ‘n ongelooflike pa en het dit toe vir die eerste keer vir my gewys. Hy het die chart met al haar statistieke aan my verduidelik en ons het na die ander babatjies se geboortedatums en gewiggies gekyk. So het ons babas gekry met wie ons Lisa kon vergelyk.

En elke aand het ons uitgestap met ‘n hoopvolle hart en ons trouringe weer aangesit (jy mag nie met juwele in die incubator werk nie). En dit was asof ons elke aand weer aan mekaar beloftes maak, maar die keer ook aan klein Lisa.

Ons het wonderlike vriende en familie en dit was so spesiaal toe vele vriende ons vrieskas vol kos kom pak het. Dit was so gerustellend om te weet dat daar altyd kos by die huis is om vinnig gaar te maak as ons moeg en laat by die huis aankom. Die Here het so mooi na ons gekyk deur hierdie tyd en ons opnuut laat besef  hoeveel ons het om voor dankbaar te wees.10438636_10154370136510179_5480749855529537531_n

11. Huiswaarts

10504768_551016485010452_7331068765487810502_oBabatjies val almal eers bietjie gewig af as hulle gebore word. Dit is harde werk om self asem te haal en self als te doen. Lisa het dus ook maar afgeval. Die enigste probleem is, dat sy alklaar so min geweeg het. Dit maak enige gram wat sy verloor nogal erg. Ek is die Sondag ontslaan en Lisa het 740g geweeg.

Die idee van HUIS het my vreeslike ‘mixed emotions’ gegee. Aan die een kant was ek so opgewonde, want ek kon stort. En my hare was. En ek kon huiskos eet. En my honde en kat sien. En normaal met my man gesels…terwyl ons tee drink of op die stoep sit. Aan die anderkant moes ek ‘n klein stukkie van my hart in die hospitaal los. Ek wou rêrig graag huistoe gaan, maar ek wou nie vir Lisa daar los nie.

My man het my kom haal en ons het vir Lisa gaan tata sê. Die NICU personeel het aan my verduidelik hoe dinge nou gaan werk. Ek moet elke dag melk bring in ‘n gesteriliseerde glasbottel wat die hospitaal vir jou gee. Dan moet ek soveel moontlik tyd langs die incubator spandeer, want sodra Lisa gereed is (dit kan enige dag wees), kan ons begin Kangaroo Care. Dit is waar jy haar op jou bors tussen jou borste plaas (skin to skin), want dit help met die band tussen ma en baba, maar dit stimuleer ook op een of ander chemiese manier dat die babatjie veiliger voel en dus ook vinniger groei.

Ek onthou hoe ek gewonder het hoe ek gaan bestuur. Want mens mag mos nie met ‘n keiser bestuur nie en ons bly in Simonstad en dit is nogal ‘n entjie se ry hospitaal toe. Gelukkig het my pa klaar gereël dat hy vir ‘n week by sy werk afvat om my te kom  help by die huis en om my rond te ry… Nog ‘n engelmens.

Ek en my man het nie ‘n woord gesê toe ons in die kar klim nie. Die stilte in die kar was aaklig. My man het ‘n groot boks smarties en twee Steri Stumpies (‘n pienke vir my en ‘n caramel een vir hom) uitgehaal. Ons het met trane in ons oë vir mekaar geglimlag en die pad huiswaarts aangepak.

By die huis gekom, het my skoonouers vir ons regte huiskos gemaak. Hoender, rys, groente en ‘n poeding. Dit was hemels en ek het vir ‘n oomblik gevoel asof die afgelope week ‘n nagmerrie was. Dit het gevoel asof Lisa nog in my maag is en dat als nog perfek verloop.

My selfoon se alarm het my skielik uit hierdie fantasie geruk toe dit afgaan om aan te dui dat dit tyd is om melk te pomp. ‘n Goeie vriendin het intussen vir ons ‘n Medela Swing borspomp kom aflaai en die dae van met die hand express was vir eers iets van die verlede…nog ‘n engelmens.

Ek het daarna in die stort geklim en vir omtrent ‘n halfuur daar gestaan. En saam met die vuil, het ek my hart ook gewas. En die trane het saam met die water in die drein afgeloop.

10. Geluk!

10364097_10154349032055179_4694019640332695884_n

Ek het vir 3 dae na die Keiser in die hospitaal gebly. Ek moes herstel, maar dit was rêrig moeilik om te rus as jy weet jou piepklein dogtertjie lê twee vloere ondertoe in die NICU. Dit was ongelooflik om enige tyd van die dag vir haar te kon gaan kuier, maar dit was ook rêrig moeilik. Mens voel jy wil die hele tyd daar wees en langs haar incubator sit, maar ter selfde tyd voel mens erg “useless”. Jy kan nie veel vir haar doen op daardie stadium nie. Die dokters en susters doen als en jy, as ma, is bloot net ‘n bystaander wat soos ‘n koei elke 2 ure gemelk moet word.

Ek het besluit om so veel moontlik by haar te gaan sit en ek het saggies met haar gepraat en vir haar gesing. Al liedjie waaraan ek kon dink op daardie oomblik was Amazing Grace en ek het dit oor en oor saggies vir haar gesing. Elke nou en dan het die dokters omgekom en gepraat oor haar toestand…woorde en terminologie wat ek toe nog nie verstaan het nie: Sats, Cpap, HP-levels, ens. Snaaks hoe daardie woorde nou deel is van my normale woordeskat. En tussen deur dit alles het ek probeer rus en slaap sodat ek ‘n beter melkkoei kan wees. Lisa het elke 2 ure 2ml melk nodig gehad. Dit was vir my vreeslik min, maar ek is gesê om net soveel as moontlik te pomp, want anders gaan mens se melk weg…so pomp het ek gepomp.

Iets wat my vreeslik ontstel het, was mense (vriende, familie en kollegas) se reaksie op haar geboorte. Ek het 100’de boodskappe op Facebook en watsapp gekry wat sê GELUK! Ek weet dis wat mens seker moet sê (en as ek nou terugdink waardeer ek elke boodskap en omgee), maar op daardie stadium was daar absoluut geen geluk nie. Ek het gevoel asof ek wil skree, want op daardie stadium was sy nog nie stabiel nie. Elke dag was ‘n uitdaging en die dokters het elke dag vir ons gesê om nie hoopvol te wees nie, want enige iets kan nog gebeur. Dit het vir my gevoel asof almal net dink sy is ok en dat die stres van haar geboorte nou verby is en dat haar geboorte iets was om te vier… En ek het alles behalwe so gevoel.

Ek het blomme gekry. Dit was mooi, maar ek kon nie daarna kyk nie. Ek het gevoel asof daar iets met my fout is dat ek nie geluk voel nie. Hoe kan almal dink dat ons Lisa se geboorte moet vier wanneer sy eintlik nog vir 3 maande in my maag moes wees. Ek was gelukkig dat sy lewe, maar wou dit nie vier nie, want die kanse was groot dat sy die volgende dag kon sterf.

9. NICU – And I get to C U

10428583_10154990117505179_4416678339036061921_nToe ek onder kom, staan my man en sy ma by die deur van die NICU. Hy mag my nie kom haal het nie, want hy word nie buite besoektyd toegelaat op die vloer waar ek was nie. Nog ‘n HUH?! gevoel, maar in elk geval.

Ek was onbewus van die vorige aand se eskapades. Dat sy ma deurgejaag het uit Montagu uit vir die geboorte van haar eerste kleinkind. Ek het ook nie geweet dat my ouers uit die Strand uit deurgejaag het nie. Ook het ek nie geweet dat my beste vriendin wat saam met my skoolgee hulle ook in die wagkamer by die sekuriteit ontmoet het nie. En dat dit is waar die tannie wat my tydens besoektyd kom help het almal ingewag het. Ook het ek nie geweet van my ma se facebook status wat vra dat almal moet bid nie. En dat daardie gebede verhoor is nie. Niemand van hulle was toegelaat om my te sien nie, maar het steeds gebly tot amper middernag om my man te ondersteun toe hy uitkom. Hulle het glo almal gesit en bid en hoop dat alles ok sal wees. Die sekuriteit het hulle telke male gevra om huis toe te gaan, maar my ma het net doodeenvoudig geweier… Nog engelmense.

10425186_10203802009952705_956683600616116642_n10390305_10203802010592721_7613816151433137062_n

My man het my toe verduidelik hoe dinge in die NICU werk. Hoe baie mens jou hande moet was (4 keer om presies te wees) voordat jy naby jou baba kan kom. Daar is 3 kamers met incubators en agter om die draai is ICU 1. Dis daar waar die nuutste, kleinste babatjies lê. Ek sien gesigte van al die verpleegsters en pediaters. Min het ek geweet hoe goed ek hulle nog gaan leer ken.

Dit is moeilik om te beskryf hoe ek gevoel het toe ek haar die eerste keer sien. Ek het altyd gedink dit gaan “liefde” wees, maar dit was nie. Ek dink dit was ‘n bietjie skok, bietjie vrees, bietjie onkende en bietjie onsekerheid.

Daar voor my in ICU 1 in ‘n kamer met 8 ander babatjies, op ‘n oop incubator met masjiene orals lê hierdie klein lewende dingetjie. Oopgevlek soos ‘n hoendertjie met pypies uit haar neus en mond. Haar vel was bloedrooi en vol klein wit droë velletjies. Om haar voet was ‘n monitor en die masjiene maak geluide en het allerhande grafieklyne op…en als voel net so verkeerd. So onnatuurlik. Vir ‘n kort oomblik het ek gedink ek wil huil, maar het toe net besef dat sy so broos en so klein is. Ek kan mos nie nou wil huil nie…ek moet sterk wees. En van toe af het ek sterk probeer wees.

Ons moes besluit op ‘n naam. Gelukkig het ons albei saamgestem dat ons dogtertjie eendag of Lisa of Inge gaan wees. Inge beteken vrugbaarheid en Lisa beteken Toegewy aan God. Dit het ons besluit toe eintlik heel maklik gemaak…en Blobina raak toe LISA…of Lisatjie soos wat sy vir lank genoem is.

Die eerste dag het ek haar net vinnig gesien. Ek mag nie aan haar gevat het nie, so ek het haar rêrig net gesien. Weereens is die erns van borsmelk aan my verduidelik, veral omdat haar immunstelsel so swak was en ek het teruggegaan kamer toe en my borste gedruk om elke moontlike druppeltjie uit te kry. Dit was rêrig seer, maar ek het elke 2 ure gedruk. Ek onthou hoe ek gehuil het soos ‘n baba toe ek per ongeluk ‘n druppel op die bed laat val het. Ek was toe nie so sterk nie. Die vrou wat die kamer met my deel se borste was groter as enige iets wat ek al ooit gesien het…soos groot rypoes waterlemoene. Haar melk het uit haar nipples gestroom. Sy het oral om haar bed geloop en die melkdruppels was oral op die vloer. Normaalweg sou ek gedink het sy is gross, maar nie nou nie…ek het haar bemin.

Ek moes so hard werk om 1ml melk op te vang en hare tap net uit. Ek het my wekker gestel en dwars deur die nag elke 2 ure opgestaan om te express. Die hospitaal gee nie pompe nie, so my hand het my borste later bloukolle gedruk. Dit was asof ek meer vasberade was om te borsvoed aangesien my droom vir natuurlik geboorte gee daarmee heen was. Ek wou en ek sou haar borsvoed. En vandag, 10 maande later borsvoed ons nog…nou gelukkig baie meer natuurlik en pynloos. En dit is die beste besluit wat ek kon maak.

Die naweek kon oumas en oupas ook vir Lisa ontmoet. En haar oupa het haar dadelik “konyntjie” gedoop. ‘n Naam wat toe haar kamer dekor tot gevolg gehad het, want van toe af is als net hasies. Dieselfde oupa het, nadat hy haar die eerste keer gesien het, gesê: “Daar is niks fout met haar nie, sy is net klein.” Iets wat ek van toe af al hoeveel maal gehoor het. Want tot vandag, op 10 maande, weeg sy maar net 6kg en dra nog 0-3 maande klere. Sy kan kruip en opstaan en loop amper. Sy sê pappa en baba en ontwikkel soos ‘n normale babatjie. So sy is maar nogsteeds net klein.