9. NICU – And I get to C U

10428583_10154990117505179_4416678339036061921_nToe ek onder kom, staan my man en sy ma by die deur van die NICU. Hy mag my nie kom haal het nie, want hy word nie buite besoektyd toegelaat op die vloer waar ek was nie. Nog ‘n HUH?! gevoel, maar in elk geval.

Ek was onbewus van die vorige aand se eskapades. Dat sy ma deurgejaag het uit Montagu uit vir die geboorte van haar eerste kleinkind. Ek het ook nie geweet dat my ouers uit die Strand uit deurgejaag het nie. Ook het ek nie geweet dat my beste vriendin wat saam met my skoolgee hulle ook in die wagkamer by die sekuriteit ontmoet het nie. En dat dit is waar die tannie wat my tydens besoektyd kom help het almal ingewag het. Ook het ek nie geweet van my ma se facebook status wat vra dat almal moet bid nie. En dat daardie gebede verhoor is nie. Niemand van hulle was toegelaat om my te sien nie, maar het steeds gebly tot amper middernag om my man te ondersteun toe hy uitkom. Hulle het glo almal gesit en bid en hoop dat alles ok sal wees. Die sekuriteit het hulle telke male gevra om huis toe te gaan, maar my ma het net doodeenvoudig geweier… Nog engelmense.

10425186_10203802009952705_956683600616116642_n10390305_10203802010592721_7613816151433137062_n

My man het my toe verduidelik hoe dinge in die NICU werk. Hoe baie mens jou hande moet was (4 keer om presies te wees) voordat jy naby jou baba kan kom. Daar is 3 kamers met incubators en agter om die draai is ICU 1. Dis daar waar die nuutste, kleinste babatjies lê. Ek sien gesigte van al die verpleegsters en pediaters. Min het ek geweet hoe goed ek hulle nog gaan leer ken.

Dit is moeilik om te beskryf hoe ek gevoel het toe ek haar die eerste keer sien. Ek het altyd gedink dit gaan “liefde” wees, maar dit was nie. Ek dink dit was ‘n bietjie skok, bietjie vrees, bietjie onkende en bietjie onsekerheid.

Daar voor my in ICU 1 in ‘n kamer met 8 ander babatjies, op ‘n oop incubator met masjiene orals lê hierdie klein lewende dingetjie. Oopgevlek soos ‘n hoendertjie met pypies uit haar neus en mond. Haar vel was bloedrooi en vol klein wit droë velletjies. Om haar voet was ‘n monitor en die masjiene maak geluide en het allerhande grafieklyne op…en als voel net so verkeerd. So onnatuurlik. Vir ‘n kort oomblik het ek gedink ek wil huil, maar het toe net besef dat sy so broos en so klein is. Ek kan mos nie nou wil huil nie…ek moet sterk wees. En van toe af het ek sterk probeer wees.

Ons moes besluit op ‘n naam. Gelukkig het ons albei saamgestem dat ons dogtertjie eendag of Lisa of Inge gaan wees. Inge beteken vrugbaarheid en Lisa beteken Toegewy aan God. Dit het ons besluit toe eintlik heel maklik gemaak…en Blobina raak toe LISA…of Lisatjie soos wat sy vir lank genoem is.

Die eerste dag het ek haar net vinnig gesien. Ek mag nie aan haar gevat het nie, so ek het haar rêrig net gesien. Weereens is die erns van borsmelk aan my verduidelik, veral omdat haar immunstelsel so swak was en ek het teruggegaan kamer toe en my borste gedruk om elke moontlike druppeltjie uit te kry. Dit was rêrig seer, maar ek het elke 2 ure gedruk. Ek onthou hoe ek gehuil het soos ‘n baba toe ek per ongeluk ‘n druppel op die bed laat val het. Ek was toe nie so sterk nie. Die vrou wat die kamer met my deel se borste was groter as enige iets wat ek al ooit gesien het…soos groot rypoes waterlemoene. Haar melk het uit haar nipples gestroom. Sy het oral om haar bed geloop en die melkdruppels was oral op die vloer. Normaalweg sou ek gedink het sy is gross, maar nie nou nie…ek het haar bemin.

Ek moes so hard werk om 1ml melk op te vang en hare tap net uit. Ek het my wekker gestel en dwars deur die nag elke 2 ure opgestaan om te express. Die hospitaal gee nie pompe nie, so my hand het my borste later bloukolle gedruk. Dit was asof ek meer vasberade was om te borsvoed aangesien my droom vir natuurlik geboorte gee daarmee heen was. Ek wou en ek sou haar borsvoed. En vandag, 10 maande later borsvoed ons nog…nou gelukkig baie meer natuurlik en pynloos. En dit is die beste besluit wat ek kon maak.

Die naweek kon oumas en oupas ook vir Lisa ontmoet. En haar oupa het haar dadelik “konyntjie” gedoop. ‘n Naam wat toe haar kamer dekor tot gevolg gehad het, want van toe af is als net hasies. Dieselfde oupa het, nadat hy haar die eerste keer gesien het, gesê: “Daar is niks fout met haar nie, sy is net klein.” Iets wat ek van toe af al hoeveel maal gehoor het. Want tot vandag, op 10 maande, weeg sy maar net 6kg en dra nog 0-3 maande klere. Sy kan kruip en opstaan en loop amper. Sy sê pappa en baba en ontwikkel soos ‘n normale babatjie. So sy is maar nogsteeds net klein.

8. post op

10532344_10154990118250179_6566651631125905498_nEk kan eers weer onthou toe ek in ‘n herstelkamer wakker word. My man is daar en die dokters staan om my bed. Hulle sê die baba is gebore, maar baie klein. Sy weeg 850g en is op suurstof om asem te haal. Hulle neem toe my man na die NICU om hom te gaan wys waar die babatjie is. Ek onthou hoe ek gedink het hoe swaar 850g is…en dat ek dit nie kon indink nie. Hoe lyk ‘n baba van 850g?

Ek wou haar so graag sien, maar daardie aand is ek gelos om te slaap. Ek onthou hoe vreeslik droog my keel was en dat ek sulke roggel geluide gemaak het wat my wakker laat skrik het. Ek was dors en daar was geen knoppie om te druk nie. Ek het geroep totdat ‘n verpleegster inkom. Sy sê toe vir my dat daar nie glase beskikbaar is nie. Daar is ‘n kraan in ons kamer, maar ek kon nie bykom nie. Ek was nog nooit so dors nie en die suster bring toe vir my ‘n leë Fanta blikkie wat sy uitspoel en vol water maak. Ek weet tot vandag nie waar sy daardie blikkie gekry het nie, maar ek het maar net oë toegemaak en gedrink.

Die volgende oggend het ek agtergekom dat dit nogal seer is om ‘n keiser te hê. En die Panado’s wat ek elke 4 ure gekry het, het rêrig eintlik niks gehelp nie. Ek het heeltyd net gewonder wanneer iemand my gaan vat om my babatjie te sien. Ek het my selfoon saam met my man huis toe gestuur, want ek was te bang iemand steel dit. So ek het maar net gewag. Die verpleegsters het gesê ek moet wag vir die dokters om my wond te kom sien voordat ek mag afgaan NICU toe. Dit was aaklig. Ek wou weet hoe groot sy is. Ek wou weet of sy die nag oorleef het. Ek wou net weet hoe dit met haar gaan.

‘n Paar ure later het die verpleegster ‘n bak warm water en ‘n waslap op my bed neergesit en gesê: “You need to wash yourself now.” Ek het weer daardie “HUH” gevoel gehad wat ek teen die tyd nou al redelik goed leer ken het. Ek het sukkelend probeer regop kom en dit was baie seer. Ek het so soortvan gewas…maar dink nie ek sal dit eintlik as “was” klassifiseer nie. Dit was te seer en ek het nie geweet waar om te was nie. Ek onthou hoe ek gedink het dat ek maar more kan was en dat ek maar net die bloederigheid van my bene probeer afvee het. Maar ook net tot waar ek kon bykom sonder om te ver oor te buk.

Nog ‘n paar ure later het die dokter na my sny kom kyk. Ek het gedink dit was voor die tyd seer en toe trek die dokter met een trek daardie pleister af. Hulle het my nie in teater geskeer nie, so ek kry toe sommer ‘n wax so saam met die keiser. Ek onthou hoe die een steek aan die pleister vasgesit het, en hoe my hart so oomblik gestop het toe hy daaraan ruk. ‘n Nuwe tipe seer wat ek tot dusver nog nie ervaar het nie. My sny lyk glo goed. Ek was te seer om te buig om dit te sien en hoe sal ek nou in elk geval weet wanneer ‘n sny goed lyk, so ek het maar sy woord  daarvoor gevat.

So ‘n halfuur daarna het ‘n jong pediater by die kamer ingestap met ‘n leë purity botteltjie. Sy het die bottel vir my gegee en gesê: “Hi, Your baby desperately needs your milk to survive. Please express milk and bring it to us in NICU.” My mond het nog oopgegaan om te vra hoe ‘n mens express en of my babatjie lewe, maar sy is uit die kamer voor ek die kans gekry het. Daardie HUH!? gevoel het weer opgekom.

‘n Verpleegster het toe later vir my kom wys hoe om met die hand te express. Sy het my kolostrum met ‘n inspuiting naald gevang en sy was so sag en rustig met my. Sy het verduidelik dat selfs ‘n druppel melk amazing was. Sy het my gerus gestel dat als ok gaan wees en sy was net wonderlik…nog ‘n engelmens.

Ek kon nie wag om NICU toe te gaan om ons babatjie te sien nie. Toe ek opstaan voel ek net vreeslik duiselig. Ek wil net omkap. Seker al die bloed wat ek verloor het. En op daardie presiese oomblik stap nog ‘n engel by die deur in. Een van my man se ander familielede wat hoog op is in die verpleegkunde-wêreld. Sy het gehoor ek is daar en wou net kom inloer. Op die presiese oomblik wat ek haar nodig het. Daar is nie rolstoele op die vloer nie, maar sy ken die matrone wat toe sommer vir my ‘n splinternuwe rolstoel gaan uithaal uit ‘n pakkamer iewers. En so word ek toe in styl ge-escort na die NICU. Die Here weet net wie wanneer op mens se pad te stuur.

7. Die groot dag met die piepklein uitslag

10363871_10154990118425179_746521708157151715_nDonderdag 12 Junie het aangebreek en ek het heeltemal normaal gevoel. Ek het bietjie rondgeloop, gerus en tydskrifte gelees. Besoektyd was 4-5 en my man het gesê hy gaan nie die middag daar kan wees nie, maar sy tannie kom vir my kuier. Die dokters het 3 uur hulle rondtes gedoen en was net by ons kamer uit. Ek het gou opgestaan om my tande te borsel en my hare te vleg sodat ek darem nie te sleg lyk as die tannie opdaag nie. Ek het net my hare gevleg en my tandeborsel opgetel toe voel ek net hoe piepie ek in my broek. Ek kon dit nie glo nie. Ek is amper 30 en ek piepie in my broek!? Seriously…wat nou nog?

Toe ek af kyk sien ek net bloed. Bloedrooi bloed. En baie bloed. En ek voel net hoe die bloed nie ophou vloei nie…dit kom net. Ek het ‘n soort bonatuurlike kalmte oor my voel kom en het rustig in die gang afgestap en gevra dat die suster die dokter moet roep. Binne ‘n paar sekondes was daar 7 dokters om my bed. Die susters was besig om my broek af te knip en om my te prep vir teater. Die dokters het vreeslik gesukkel om ‘n aar te kry vir die drip, want my liggaam het vreeslik opgeswel en hulle het seker 6 keer probeer. Die een oulike doktertjie het heeltyd jammer gesê elke keer wat hy die naald insteek.

Die een dokter het my vertel wat aan die gebeur is en skielik was ek bang. Nie bang soos in ‘n spookstorie nie…Bang-bang, Doodbang. ‘n Gevoel wat ek nog nooit ervaar het nie. Hy vertel my dat dit nou die komplikasie is waarvoor ons gewag het. Dat my plasenta geskeur het. Hulle prep my nou vir ‘n noodkeieser en hulle gaan my man nou laat kom. Ek het gevra of ek self met hom kan praat, want ek weet hoe paniekerig hy sal wees as iemand anders vir hom sê. Dit is so 50 minute se ry en ek wil hê hy moet veilig by my uitkom.

Op daardie presiese oomblik stap die tannie wat besoektyd kom kuier by die kamer in. Sy moes maar net help. Sy het al my goed opgepak en bymekaar gesit. Sy het gesê sy sal wag tot my man kom. Ek het eers later uitgevind dat sy gebly het tot lank na Lisa al gebore was. Engelmens…een van vele.

Die dokter lees toe ‘n lys van moontlike komplikasies vir my uit. Als wat moontlik met my baba verkeerd kan gaan…Sy kan blind wees, Sy gaan heel moontlik nie normale breinontwikkeling hê nie, haar organe gaan moontlik onderontwikkel wees, sy gaan verskeie ontwikkelings probleme hê, ens. Toe ek vra of sy ok gaan wees sê die dokter net: “I don’t know…she is really very small.”En op daardie noot, stoot hulle my by die kamer uit. Ek het die vrees op die ander meisies in die kamer se gesig gesien en ek was dankbaar dat ek nie my eie gesig kon sien nie.

Iets ongeloofliks gebeur toe met my. Twee groot swart vrouens stoot my bed by die hysbak in. Ek was altesaam 2 maande in die hospitaal en het hulle nog nooit weer gesien nie. Die oomblik toe die deure van die hysbak toegaan en ek probeer sin maak van alles wat rondom my aangaan, vra die een vrou: “Can we pray for your baby?” Ek bars toe uit in trane en kon op daardie stadium net ‘n knip van my kop uitkry. Hulle plaas toe hulle hande op my voorkop en op my maag. Die vrou bid toe en breek alles wat die dokter nou net gesê het af. Sy bid dat hierdie babatjie sal kan sien, dat sy normaal gaan wees, dat sy die regte mediese sorg sal kry, dat sy mooi sal wees, dat sy slim sal wees en dat sy ons lewens sal seën. Tot vandag toe glo ek vas dat daardie twee vrouens regte engele was.

Hulle het my ingestoot by soort van ‘n wagsaal. Dit is waar mens wag vir teater. Ek het vreeslike steekpyne gekry. Dit was vrek seer en ek mag nie beweeg het nie. Elke keer as ek beweeg, skuif die hartmonitor en dan kon ons nie hoor of babatjie nog ok is nie. Na die tyd het ek gehoor dit was kontraksies…nice to know vir toekomsplanne. My man het opgedaag en sy gesig was net so gespanne soos myne. Die dokter het met hom in die gang gepraat en verduidelik wat aan die gebeur is.

Dit het gevoel soos ‘n leeftyd se wag. Ek het heeltyd nog gevoel hoe bloed by my uitvloei en hulle het gedurig my linen savers verander. Die nageboorte wat toe voorgeboorte raak. Ek moes harder sukkel om te hoor of ek nog die baba se hartkloppie kon hoor, want dit het al hoe sagter geword. Ek het die dokter gevra of sy nog ok is…en sy antwoord het my geruk. Al wat hy gesê het was: “Ons red haar nie meer nie, ons red jou nou eers.” Vir die eerste keer in hierdie hele storie was ek self nie seker of ek dit gaan maak nie. Die feit dat hulle meer bekommerd was oor my lewe, terwyl ek slegs gedink het ons kan die baba verloor, het my rerig onstel. Ek het maar net gebid, want dis al wat ek oorgehad het om te doen.

Ek het die snydokter ontmoet. Sy het kom kennis maak. Sy was baie jonk, kort en het rooi hare. Sy het met ‘n Red Bull by die kamer ingestap. Sy het my aan die narkotiseerder voorgestel en hulle het aan my verduidelik hoe die keiser gaan werk. Hulle het gesê ek is ‘n goeie kandidaat vir ‘n Epiduraal/Spinaal (kan nie heeltemal onthou nie) en ek het vorms geteken. My man moes inscrub en buite wag terwyl hulle my regkry.

Dit was 19h40 en dit was yskoud in die teater. My liggaam het geruk van koue en ek is oorgeskuif op die yskoue metaaltafel. Ek is voorgestel aan die res van die teater personeel en die pediaters het reggestaan met ‘n incubator. Hulle het 3 keer probeer om die lang naald in my rug te steek en elke keer het dit nie gewerk nie. Hulle besluit toe om my liewer onder algehele narkose te sit, want ons kon nie meer tyd mors nie. My man is gesê om my te kom groet, maar hy is nie verder toegelaat om in die teater te wees nie.

Ek onthou hoe broos en moeg ek gevoel het. Dit is amper asof mens emosioneel heeltemal afgeplat voel. Asof daar soveel emosies is, dat mens eintlik niks voel nie.

6. Sterk koffie

koffieEk ontmoet al die nuwe dokters en hulle sê maar vir my dieselfde as die dokters by my hospitaal…dat ons wag vir ‘n komplikasie. En ‘n komplikasie kan vir my of baba wees. Enige probleme…dan kom babatjie dadelik uit. Ek glo vas in mind-over-matter en het in my kop besluit dat hierdie klein dingetjie so lank as moontlik in my maag gaan bly en ek was seker ek gaan tot en met 34 weke loop. Dus het ek myself gemaklik gemaak.

Daar is ‘n paar dinge wat ek nie van publieke hospitale geweet het nie…wat ek redelik vinnig geleer het. Of miskien is dit nie orals so nie, maar wel hier. Eerste ding is, dat daar geen kussings is nie, want mense steel dit. My man moes vir my ‘n kussing van die huis af bring. Tweede ding is dat die kos na niks proe nie. Rêrig…niks. Want as die kos te lekker is, wil die mense nie huis toe gaan nie. Ek het gelukkig lekker vrugte en snacks by my vriende en familie gekry en dit het die wêreld se verskil gemaak.

Ek het vining gewoond geraak aan die hospitaal roetine…4uur soggens is daar koffie (kampkoffie met baie suiker en melk). Dit was vir my baie erg…want ek het tydens my hele swangerskap net rooibostee gedrink om kafeiene te vermy. Hier is dit al wat hulle jou aanbied…in ‘n maternity ward. Ek het dus elke oggend maar net nee dankie gesê, en water gedrink.

Aangesien dit ‘n opleidingshospitaal is, doen studente elke dag rondtes. Dus kom daar elke dag so 3 of 4 studente om met ‘n vraelys. Hulle doen ‘n ondersoek (druk bietjie aan jou maag) en vrae duisend vrae oor huwelik, sekslewe, voorbehoeding en vigs. Dit vat so uur van jou tyd en laat mens nogal ongemaklik voel (redelike persoonlike vrae)…maar ag wat. Hulle moet ook seker leer.

Die hospitaal self is baie skoon en die kamers en saal word omtrent 3 keer ‘n dag deeglik skoongemaak, maar die pasiente is ongelukkig nie so skoon nie. Die toilette is aaklig. Op die hele vloer was daar net een toilet wat flush…en dié se deurknip is stukkend. Die toilette is bitter vuil en die vrouens draai nie eens hulle pads toe in toiletpapier nie…so oral lê bebloede oop maternity pads. Dis om van naar te raak. Die toiletseat het altyd ou piepie/bloed opgehad en dit was omtrent ‘n beplanning om die toilet te gebruik. Ek het so met my swanger maag ‘n joga posisie ingeneem om met my een voet die deur toe te hou terwyl ek met my hande teen die venster en muur druk en te piepie sonder dat my boude die toilet raak…nogals ‘n snaakse prentjie gewees.

Die storte was vieslik. Nie een het ‘n deur nie en die vrouens sit sommer en was hulle wasgoed in die stort en snuit hulle neuse uit in die waterstroom. Ek het dus ‘n goed deurdinkte besluit geneem om nie te stort nie…Ek en my Wet Wipes het goeie vriende geword en dank vader vir Dry Shampoo en kopbande. Ek was vuil, maar ek en baba was ok.

Mens moet 24 uur uriene opneem in ‘n 5 liter appelsapkan om die vlakke van proteine te monitor. Daar is ‘n uriene kamer met ‘n yskas, waarin almal se uriene bottels gebêre word. Elke keer as jy piepie, dan moet jy jou uriene by die kan gaan bygooi. Ek het een aand 2 uur wakker geword van water wat loop. Toe dog ek die kraan is oop…maar nee. Dit is toe heeltyd die jong meisie in my kamer wat tussen die twee beddens buig om in die kan te piepie…sommer net daar in die kamer op die vloer. Ek het heeltyd net gefokus daarop dat dit die beste plek is vir my ongebore babatjie en dat ek nou maar net moet uithou en die humor in als sien.

My familie, vriende en werk was baie ondersteunend. Ek het elke besoektyd besoekers gehad en het allerhande lekkergoed gekry om my mee besig te hou. Ek het later selfs sleg gevoel, want niemand anders in die kamer het soveel besoekers gehad nie, en hulle het nie eens ‘n tydskrif of lekkertjie gehad nie. Ek het maar myne met hulle gedeel.

Die hospitaal het ‘n baie streng besoektydbeleid en net 2 mense mag 4-5 of 6-7 ‘n dag kom kuier. Enige iemand wat buite dit wil kom kuier moet onder by die sekuriteit sit. Ek het darem my twee beste vriendinne so ontmoet en met red latte’s en cupcakes lekker gekuier op die blou plastiekstoele in die voorportaal van die hospitaal.

Woensdagoggend het die dokters weer hulle rondtes gedoen. Ek moes gaan vir ‘n scan om te kyk of babatjie nog groei en om te sien hoe dinge gaan. Die scan was goed en die babatjie het  volgens die masjiene 925g geweeg. Die arme 20 jarige meisie met die tweeling in my kamer het met ‘n skok agter gekom dat die babatjie wat sy al vir 8 maande in haar maag saamdra…eintlik ook ‘n tweeling is. Hulle het die harkloppie opgetel om die baba te monitor…en toe is daar twee hartkloppies. Die arme meisie…20…met vier kinders. Sy was vreeslik ontsteld en deurmekaar.

10468205_10203802011752750_7435648988961532913_n

5. It’s a hard knock life…

teenpregnancyEk is later die middag geskuif na ‘n saal vir mammas wat probleme tydens swangerskap ervaar. Sommige het bloedklonte, sommige ook pre-eklampsie, sommige is hoë risiko swangerskappe en ander is op bedrus. Daar is ‘n hele vloer vol vrouens. Ek ontmoet die 3 ander vroue in my kamer. Die een is van Kongo. Sy verstaan nie ‘n woord Engels nie…net Frans. Die dokters kom vra vir haar allerhande vrae en sy antwoord net Yes op als. Do you have pain?…Yes. Are you feeling ok?…Yes. Are you pregnant?…Yes. Are you from South Africa?…Yes. Shame, dit moet vreeslik wees om te weet iets is fout met jou, maar niemand praat jou taal om dit aan jou te verduidelik nie.

Oorkant haar is ‘n jong meisie. Sy is 20 en het reeds ‘n tweeling. Twee oulike seuntjies van 4 jaar oud. Sy is tans 8 maande swanger met haar 3de kind. My hart breek sommer vir haar omstandighede. Dat sy die gevolge moet dra van keuses wat sy nie met kennis uitgevoer het nie. Haar seuntjies kom elke aand vir haar kuier en is so lief vir haar. Die pa is nêrens te vinde nie.

Reg oorkant my is ‘n bitter oulike Afrikaanse kleurling vrou van Mitchell’s Plain. Sy is 43 en is 7 maande swanger met haar eerste kind. Sy is op bedrus geplaas as gevolg van erge hoofpyne en bloeding. Sy luister heeldag gospel musiek op haar selfoon en gaan steeds elke oggend en aand op haar knieë langs haar hospitaalbed om te bid. Wat ‘n voorbeeld van die Here dien.

Ek ontmoet almal en raak net rustig toe ‘n verpleegster met blou eye shadow en ‘n goue tand by die kamer instap. Sy kommandeer ons almal na die TV-kamer vir ‘n bespreking. Ek is so moeg en vra of ek mag bly, maar sy maak dit duidelik dat dit nie vrywillig is nie. So stap ons uit ons kamer en stap saam met die sowat 30 ander vrouens op die vloer na die TV kamer. Almal met pajamas, slippers, groot magies en ‘n paar interessante haarstyle. Wat op ons wag is ‘n uurlange bespreking oor Vigs.

Ag yeah! The joys. Ek dog ek raak sommer weer naar. Onderwerpe onder bespreking was: Hoe om ‘n kondoom aan te sit. Is dit aanvaarbaar vir jou suster met VIGS om jou kind te borsvoed? (Ek dink dadelik of dit aanvaarbaar is vir jou suster sonder vigs om jou kind te borsvoed, maar anyway). Hoe om te voorkom dat jy weer swanger raak? Hoe gaan mens terug skool toe met ‘n baba? (skielik besef ek dat ek (29) en my 43 jarige buurvrou die oudste mense in die kamer is). Ek kon nie vinnig genoeg daar uitkom nie. En uiteindelik in die bed te kom om ‘n uiltjie knip voor besoektyd. Maar die idee van die ander meisies in die saal spook by my (seker my juffrou persoonlikheid wat uitkom en almal jammer kry)…en steeds kry ek nie veel geslaap nie.

4. pre-eklampsië…pre-wat?

preeclampsieHulle het my gestabiliseer gekry en gesê dat die baba nie meer vandag uitgehaal gaan word nie. Ek was so verlig en bietjie rustiger. My man is gesê om maar eers huis toe te gaan. Hulle is vreeslik streng met besoektye en hy kon eers weer die volgende namiddag kom. Hy is so teen tienuur daar uit. Ek is gelos om te rus.

Die kraamsaal in Grootte Schuur is een lang gang met afskortings tussen in. Ek was alleen in ‘n gedeelte. Af in die gang reg langs my kamer/vertrek was 2 meisies of vroue besig om te kraam. Ek het heelnag gelê en luister hoe hulle skree en vloek en hoe almal skarrel om hulle te help. Elke halfuur of so het ek maar nogsteeds opgegooi, maar die drip het my bloeddruk bietjie afgebring. Ek het daardie nag maar bitter min geslaap. Die ligte in die kraamsaal bly aan en aangesien dit ‘n gang is, loop daar heelnag mense verby jou bed. Elke uur is my bloeeddruk getoets en my opgooisakkie vervang.

Vroeg die oggend toe die volgende skof verpleegsters oorneem, is ek verskuif na ‘n ander kamer (een waar ma’s wat reeds gekraam het, lê om te herstel). Dit is op dieselfde vloer as die kraamsaal. Al wat ek wou doen is om my tande te borsel en my foon te charge. Ek kon nie wag dat hulle die kateter uithaal sodat ek kon rond beweeg nie. Dit was so ‘n emosionele rollercoaster en teen die tyd wat ek rustig raak, wou ek net huil. Ek is moeg en ek is so deurmekaar. Een oomblik is alles ok en die volgende oomblik kom babatjie vroeg, dan is alles weer ok.

Ek is een van daai mense wat hou daarvan om liewer informasie oor iets te hê en te weet wat aangaan as om in die donker te bly oor iets. Ek het dus dadelik my selfoon gevat en die tyd gebruik om te google. Ek google wat pre-eklampsie is. Ek google wat die kanse vir oorlewing is as baba op 27 weke gebore word. Ek google premature babas. Ek google als wat ek kan kry en ek lees. Ek leer toe so dat dit nie my skuld is dat ek pre eklampsie gekry het nie (Ek het gedog my 10kg oorgewig en die ekstra vet op die steak het dalk die trick gedoen). Dat dit maar net randomly met 6% van swanger vroue gebeur. Ek verstaan vir die eerste keer wat dit rerig moontlik sal beteken om ‘n prem babatjie te hê. Aangesien ek nou weer gestabiliseer is, berei ek myself voor vir ‘n baba wat op 34 weke gebore word. Bitter klein, lang tye in NICU, lae immuunstelsel, ens.

Daar is 2 ander vroue in my kamer. Die swart vrou in die hoek praat maar min, maar huil heeltyd. Ek is nie seker of ek met haar moet praat nie. Die vrou langs my se baba is by haar. Sy is 45 jaar oud en moet onder obserwasie bly vir ‘n week. Later die middag vind ek uit dat die swart huilende vrou daardie oggend haar baba verloor het tydens geboorte. My hart breek vir haar en ek bid en smeek dat die Here vir haar rustigheid en kalmte sal gee. Ek dink hoe ek sou voel as ek nie meer hierdie lewende dingetjie vir wie ek so lief geraak het, kan voel nie. En my hart breek net verder vir haar. En steeds kan ek nie slaap nie.

3. “rus”kans

10374869_10154218009670179_457264916619946763_nEk het in die hospitaal gelê en wag. Ek het ge”rus”. Die dokters het op hulle rondtes vir my verduidelik hoe ernstig my situasie is. My bloeddruk was skrikwekkend hoog en hulle wag toe nog vir my bloeduitslae om aan te dui watter vlak van Pre-eklampsie ek het. Hulle het vir my verduidelik dat my liggaam die baba verwerp en dat my organe nie die swangerskap kan weerstaan nie. My niere en lewer was klaar besig om in te gee en dit is baie gevaarlik. Hulle gaan probeer om die baba so lank as moontlik in te hou, maar op 34 weke, op die laatste, haal hulle haar uit.

Dit het my ontstel, want ek wou regtig graag normaal kraam. Dit was nog altyd ‘n droom van my om te kan sê ek kon dit doen. Sonder pynmedikasie en soos ‘n tawwe tienie van die ou dae. Vreemd watter ideale mens vir mensself stel. Die dokters se doel was om die baba so lank as moontlik in my maag te hou sodat sy kan groei, maar sodra my liggaam tekens begin wys dat my liggaam nie meer kan nie, haal hulle haar uit. So balans storie. Ek het darem biologie op skool geniet en het meeste goed wat hulle gesê het, verstaan. Ek was rustig aangesien ek geen van die ander simptome waarvan hulle praat (sterretjies sien, donker kolle in sig, hoofpyn, naarheid, ens) beleef het nie.

Daardie namiddag kom manlief toe terug hospitaal toe met my “goedjies” en vir besoektyd. Dit was net na aandete en ek het heel ontspanne gevoel. Natuurlik is mens bietjie meer versigtig…aangesien almal so om mens fuss…maar ek het regtig fine gevoel. My man was seker so 10 minute daar toe oorval die naarheid my. Ek het begin opgooi en hy het die suster aan diens gaan roep. Sy het by my op die bed kom sit en my hand vasgehou en gesê: “You know sweetie…this is now escalating to GSH.”

Dieselfde HUH?! gevoel van vroeër die dag het by my gedagtes ingepop. Sy het verduidelik dat sy nou dadelik my ginekoloog moet laat kom. Hulle dink ek gaan stuipaanvalle begin kry en die babatjie moet vanaand uitkom. Omdat sy onder ‘n kilogram is, moet ons skuif na Grootte Schuur hospitaal (GSH) aangesien ons hospitaal se NICU nie babas onder 1kg kan akkommodeer nie. Hulle het die ambulans laat kom, ‘n kateter ingesit en my op ‘n drip gesit wat behoort te keer dat ek nie dadelik stuipaanvalle kry nie. Al wat ek heeltyd gedink het, is hoe is dit moontlik? Ek was dan nou net nog fine.

My ginekoloog het saam met die ambulans daar opgedaag. Hy het vir ons verduidelik dat Grootte Schuur baie mooi na ons sal kyk en dat ons terug na ons hospitaal geskuif sal word sodra die baba stabiel en bo 1kg is. Ek is met die ambulans na Grootte schuur en my arme man is met die kar en al my “goedjies” agterna. By Grootte Schuur se ongevalle gestop, is ek ingestoot slegs om te hoor dat daar ‘n hele aparte gebou is slegs vir Swanger mammas.

Ek was self nog nooit by Grootte Schuur nie en glad nie geweet wat om te verwag nie. Ons is ingestoot en my man was kort daarna langs my bed. Ek het aanhou opgooi. Teen die tyd is ek nie meer mooi seker hoekom ek opgooi nie…dit mag dalk nogsteeds die bloeddruk wees, of dalk net die stres en skok.

2. Hospitaalstories

10247392_10154143455355179_7329365009743144948_nMy vriende het hierdie bondeltjie in my maag Peanut gedoop en later het ons besluit dat aangesien dit net ‘n Blob is…sy naam Bob the Blob gaan wees. Ek het myself nog altyd as meer van ‘n seuntjie ma gesien en ek was vasoortuig dat dit ‘n seuntjie is. Op 13 weke vind ek met skok uit ons bondeltjie liefde is toe al die tyd ‘n dogtertjie. En so verander Bob na Blobina. Ek hou glad nie van pienk nie…so dit het my ‘n hele tydjie gevat om gewoond te raak aan die idee. Ek het selfs nagmerries gekry waar ek haar hele kamer pienk geverf het en pienk fluffy kussings oral. Dankie Vader dit was net ‘n droom.

My man het terug gekom en ek was 25 weke swanger. Dit het hom nogal ‘n tydjie gevat om gewoond te raak aan my met ‘n maag. Hy het omtrent elke aand gevra of ek ‘n glas wyn soek en dan met ‘n skok onthou dat ek swanger is. Op 26 weke het ek bietjie begin kla oor geswelde enkels en voete. Ek het opgelees en gesien dat dit heeltemal normaal is…veral as mens baie op jou voete is. Ek is ‘n onderwyseres en dit was Junie eksamen toesig tyd…so ek was heeldag op my voete. Ek het my dus nie veel gesteur aan my powwerige Moemin voete nie.

Op 27 weke, Maandag 8 Junie, het ek ‘n gewone opvolg afspraak by die ginekoloog gehad. Hy het my die vorige keer belowe dat hy ‘n ekstra scan sal doen aangesien my man vir die eerste keer by gaan wees vir ‘n afspraak. So kan hy ook darem vir Blobina kan sien. Ons was so opgewonde en ek kon nie wag om te sien hoe hy gaan reageer as hy haar die eerste keer sien beweeg en speel in my maag nie.

Soos gewoonlik toets hulle eers my bloeddruk (wat nog heeltyd 100 % was) en toets hulle vir proteiene in my uriene. Die suster het my so een kyk gegee en vir my man gesê: “Jy kan maar solank haar goedjies by die huis gaan haal. Jou vrou kom nie huis toe voordat hierdie babatjie uit is nie.”

HUH? Ek het nog 13 weke oor?! Wat bedoel sy? Ek het dan nog nie eers die babakamer geverf nie? Ek was soos in glad nie voorbereid vir dit nie en my kop het in alle rigtings met my weggehol. My arme man het toe maar (sonder om enige scans te sien) gery en my “goedjies” (wat ek so vinnig vir hom op ‘n tilslippie neergeskribble het) gaan haal. En ek is ingeboek in die kraamsaal. My bloeddruk wat bitter hoog en daar was proteiene in my uriene…albei tekens van Pre-eklampsia.

Hier het ‘n suster vir my kom verduidelik hoe ernstig my bloeddruk is en dat hulle nie kan glo ek het geen ander simptome as my geswelde voete nie. Hulle was bitter bekommerd oor die feit dat ek verkoue simptome gewys het (die hele skool se kinders is mos in Junie siek…so ek het ook ‘n loop neus en keelseer gekry). Dit is glo een van die tekens van Eklampsie; dit is waar die ma stuipaanvalle kry. As dit gebeur is die kanse vir oorlewing vir beide ma en baba redelik skraal. Hulle het my fyn dopgehou. Ek het heeltemal normaal gevoel en gedink hulle oordryf bietjie.

Die suster het my toe dadelik ‘n steroeiede inspuiting gegee. Dit is glo om die baba se longe sterker te maak vir ingeval sy vroeg kom. Tot op hierdie oomblik het ek regtig nie verwag dat sy vroeg gaan kom nie. Ek het aangeneem hulle plaas my nou maar op bedrus en dat ek nou maar moet rustig wees. ‘n Idee wat nogal heel welkom was aan die einde van ‘n baie besige tweede kwartaal. Ek het my pakke en pakke opstelle wat gemerk moet word, laat haal en het myself voorgeneem om heerlik rustig in die bed te lê en merk terwyl ek 3 gekookte maaltye ‘n dag kry en geen huiswerk of skottelgoed hoef te doen nie. Wat ‘n plesier. Min het ek geweet wat op my wag.

1. Eendag lank, lank gelede…

Seremonie & Familie (261)My hele lewe lank dink ek dat swangerskap en babas kry iets is wat so natuurlik en maklik moet gebeur…sonder vreeslike komplikasies, sonder inspuitings, sonder beplanning…sommer net “gebeur”.

Met my mamma-reis het ek besef wat ‘n ongelooflike voorreg en wonderwerk dit is om eerstens swanger te kan raak, tweedens om die babatjie nie in die eerste trimester te verloor nie, derdens om die baba vir die volle 40 weke in jou maag te dra en laastens om ‘n gesonde, lewende babatjie te hê.

Dit het alles begin teen die einde van 2013. Ek en my man was gereed om die hele “kom ons kry kinders”-storie te begin. My man is in die vloot en is redelik gereeld van die huis af weg. Hy het na 2 maande van seil teruggekom aan die einde van November. Na soveel van my vriendinne jare gevat het om swanger te raak, het ek gedink dat ons maar moet begin en dan sal ons seker hopelik oor so 6 maande iets sien. Maar nee wat, ons is sommer vinnig geseënd en op Kersoggend het ons uitgevind ek verwag! Wat ‘n ongelooflike Kersgeskenk was dit nie.

Twee dae later, die 27ste Desember, is my man weer ontplooi vir sogenoemde 3 maande na Mosambiek. Dit was vreeslik om hom te groet. Ons het toe nog net die stokkie toets gedoen en kon eers in Januarie by die dokter uitkom. Ek het geweet die 3 maande gaan vir my ‘n emosionele en moeilike tyd wees om met alles op my eie te worstel. Min het ek toe geweet dat die 3 maande in amper 5 maande gaan verander.

Vroeg in Januarie het ek die slegte nuus ontvang dat een van my beste vriendinne haar babatjie op 12 weke verloor het. En ‘n ander goeie vriendin het uitgevind dat sy nooit natuurlik swanger sal kan raak nie. Ek het die lewe wat binne my groei skielik meer gekoester en het besef hoe geseënd ek is om ‘n werklike mensie binne my te kan laat groei.

My swangerskap was so normaal. Ek was vreeslik naar en het die toilet se rand goed leer ken in die eerste trimester. Ek was moeg en het lus gebly vir kalamari, pienk Steri Stumpies en komkommer tydens die tweede trimester. Al my scans was normaal en baba Kriel was gesond en het mooi gegroei.

Ek is nogals ‘n vrou wat vreeslik trots is daarop om dinge self te kan doen en sal myself as ‘n DIY-persoon sien. Ek huil nie sommer nie en vat meeste dinge so in my stappie. Ek was vir die eerste keer vreeslik emosioneel om dinge sonder my man te doen. Dit was moeilik vir my om heeltyd van ander afhanklik te wees om simpel goedjies te doen wat ek gewoonlik sommer self doen. Goed soos om die 25kg hondekos sak uit die kattebak te laai, was nou skielik ‘n groot operasie waar ek die buurman moet inroep om my te help. My ouers en my vriende het my baie ondersteun en saam met my scans toe gegaan, maar dit was nie dieselfde nie. Ek wou hierdie goed saam met hom doen…en hy kon nie daar wees nie, al wou hy ook so graag.