19. Oop oë

vigsTydens my hospitaalkuiers het ek baie met die susters gewerk. Daar was een wat veral diep in my hart gekruip het. Suster Sophie (of Dr. Sophie soos ons haar gedoop het) was net ongelooflik. Sy werk al 14 jaar in die NICU en is absoluut fenominaal in haar werk. Haar liefde vir die babatjies is hartroerend en baie spesiaal. Sy het ons altyd in detail vertel hoe dit met Lisa gaan. En sy het altyd ekstra tyd gemaak om ons gemaklik te laat voel. Sy was altyd vol gepaste grappies en het so mooi met die babatjies gewerk.

Terwyl ek eendag met Lisa sit, sien ek hoe twee mammas in ‘n kamertjie ingaan. Dit sê “Pasturising station”. Ek sien hulle stap met hulle botteltjies melk daar in en kook die melk in ‘n potjie. Gedurende die week sien ek hoe omtrent elke ma in die NICU daar ingaan en dieselfde doen. Ek vra toe eendag vir Suster Sophie wat hulle doen en of ek my melk ook moet pasteuriseer. Sy lag vir my en sê: Nee, dis net vir HIV + mammas. My mond val oop en ek is nogal geskok oor die feit dat 80 % van die mammas daar almal HIV + is.

Hoe is dit moontlik? En my oë gaan skielik oop vir die realiteite van ons wêreld. Ek is heeltemal bewus van VIGS en is heeltemal bewus dat baie mense dit het. Dit was net nog nooit so voor my gebring nie. Ek ken nie rerig iemand met VIGS nie en al wanneer ek daarmee te doen het, is wanneer ons in LO vigs strikkies maak of wanneer ons vir die VIGS weeshuis klere vat. Hier is meeste van die mammas HIV+ en hulle moet nog daarmee ook worstel.

Ek het skielik besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Dit het my met nuwe oë laat kyk na ons situasie. Skielik was dit nie meer vir my so erg om ‘n bitterklein babatjie te hê nie. Gelukkig hoef ek nie ook my melk te pasteuriseer nie.

Nog iets wat my oë bietjie oopgemaak het, was toe ons 2 afsonderlike kere ‘n AFBOB man raakgeloop het. Dit is eerstens erg as jy by die hospitaal stop en daar staan ‘n AFBOB voertuig in die parkeerarea reg voor die hospitaal. Dadelik weet mens…iemand is dood. Dan is dit ook nogal erg as jy verby die man/mans van AFBOB in die gang stap terwyl hulle ‘n carrycot, wat toegezip is al die pad tot bo, dra.  Want dan weet mens…die “iemand” wat dood is, is ‘n babatjie. En dan is mens weer dankbaar dat die Here ons gesëen het met ‘n babatjie wat lewe. En dan wonder mens hoe lank sy nog gaan lewe.

Dit is snaaks wat vir mens op daardie oomblik belangrik is. Op daardie oomblik maak dit nie saak dat jy honger is nie, dit maak nie saak of mens heelnag niks geslaap het nie, dit maak nie saak wat ander mense van jou dink nie, dit maak nie saak watter kar jy ry of waar jy bly nie, dit maak nie saak of jy VIGS het of nie, dit maak nie saak of jy getrou het voor jy kinders het nie…al wat dat saakmaak is dat Lisa nog lewe.

Van daardie aand af bid ek sommer baie anders. Ek bid meer vir ander. En dat die Here elke dag my oë sal oopmaak vir die rowwe dinge wat rondom ons baie beskutte bestaan aangaan.

18. Die dinge wat mense sê

imagesCAXAWZ7PIets wat my baie getref het, is hoe min mense regtig ‘n idee het waardeur ons gaan. Mense (sommiges vir wie ek baie lief is) het soms vir my goed gesê wat my regtig ontstel het. Dit was so moeilik, want ek het geweet dat hulle dit nie so bedoel nie…en dat hulle nie regtig daaroor gedink het nie. Maar steeds het dit my soms kwaad gemaak en soms selfs seer gemaak. En as een van julle dit nou lees…en jy kom agter dat dit jy was wat dit gesê het…wees tog asseblief genadig. Ek is nogsteeds baie lief vir elkeen van julle en het julle ondersteuning baie waardeer.

Hier is ‘n lys van die mees algemene goed wat gesê is:

“Waar is jou babatjie? Kan ek haar gaan vashou”  [terwyl ek nog in die hospitaal was]

(nee, jy kan nie…want ek het haar nog nie eens vasgehou nie)

“Ag ek is so bly vir jou dat julle babatjie vroeg gebore is. Dus het jy nooit soos ‘n walvis gevoel nie.”

(ek wou graag soos ‘n walvis voel..en ek wou rerig graag die hele swanger proses deurmaak, dankie.)

“Ag great! Dis eintlik great dat jou babatjie nog in die hospitaal is. Dan kan jy van jou keiser herstel terwyl jy nie na ‘n baba hoef om te sien nie.”

(ja…want gewone keiser mammas herstel mos deur self hospitaal toe te ry en te pomp en te stap hospitaal toe en trappe te klim.)

“Gelukkig hoef jy nie nou elke aand op te staan en jou baba te voed nie…rus nou lekker”

(want as mens elke 2 ure opstaan om te pomp, rus mens vreeslik lekker)

“Dis so nice hoe jy nie hoef te worry oor enige iets nie. Sy is in die hospitaal en jy kan net by die huis ontspan”

(want wanneer mens se babatjie elke dag vir hulle lewe veg, is ontspan presies wat op jou brein is.)

“O…wow. My babatjie was ook prem so ek weet presies waardeur jy gaan. Sy was 3 weke vroeg gebore.”

(nee…seriously?)

Ek het geweet dat hierdie mense dit nie uit kwaaddoen gesê het nie en ek het geweet dit was meestal omdat hulle nie iets anders het om te sê nie. En ek het die geselsies waardeer. En ek was dankbaar vir die omgee…Maar sjoe…dit was moeilik om tussen hakies te dink en dit nie te sê nie. Ek wou soms net skree. Maar dis moeilik om altyd als te verstaan. Ek het ook geweet dat as ek aan die ander kant was…sou ek tien teen een die persoon gewees het wat iets verkeerd gesê het. Want ek’s lief vir praat en sê gereeld verkeerde goed. So in ‘n mate as ek terug dink kan ek wel verstaan.

Wat vir my ongelooflik was, was dat ons soveel mense gehad het wat wel geweet het wat om te sê. Wat elke oggend vir my net ‘n “moed-inpraat”-foto gestuur het. Mense wat net gesê het “Ons dink aan julle.” Mense wat net uit hulle eie uit vir ons goed gedoen het. Mense wat toe, en nou nog net ‘n bybelversie sal stuur. Mense wat nie altyd uitvra en antwoorde terug verwag nie. Mense wat omgee sonder om te veel terug te verwag…engelmense.

17. Vet babas in Wimpy

11128_10154990117740179_2496186777752170661_n

Die week wat volg was nogals ‘n moeilike een. My pa moes terug gaan werk toe en ek moes self hospitaal toe ry. My sny was eina, maar ek kon darem die pedale trap sonder om te veel pyn te hê. Ek het elke dag hospitaal toe gegaan en nou bietjie langer gebly. Ek het die personeel in die NICU beter leer ken en aangesien ek Lisa nou kon Kangaroo, het ek soveel moontlik tyd daar spandeer.

Ek was nou al gewoond aan die roetine en het gevoel asof ek nou weer reg is vir die volgende terugslag. Ek het sterk gevoel en het dit selfs geniet om in die NICU te wees en met die susters te gesels en om almal se stories te hoor. Die Dinsdag het dinge begin sleg gaan. Dit het alles gebeur wanneer ek Lisa optel. Eerstens is dit nogal ‘n proses op sy eie…jy moet haar ontkoppel van die hittemonitor in die incubator, jy moet ‘n mussie vir haar aansit, jy moet ‘n kombersie reghê, jy moet die incubator op ‘n ander stelsel sit (deur die druk van so paar knoppies),  jy moet haar onder jou hemp indruk totdat sy rustig lê en dan ook op een of ander manier die incubator toemaak. Die susters wys jou net een keer en daarna moet jy als self doen.

Sodra ons net rustig raak, begin haar SATS monitor se alarms afgaan. Die SATS monitor meet die hoeveelheid suurstof wat deur die babatjie se liggaam beweeg. Dit is so monitortjie wat aan hulle voetjie gekoppel is met so rooi liggie. Normale mense se SATS moet tussen 95 en 100% wees. Prem babatjies se SATS is normaalweg enige iets tussen 80 en 90%. Indien dit onder 70% gaan, gaan daar ‘n alarm af. Enige iets onder 60% word as gevaarlik gesien. Die dokters het ook vir my verduidelik as hulle langer as 7 of 8 minute onder 60% bly, is die kanse dat hulle kan blind wees baie hoog.

Elke keer wat haar SATS alarm afgaan, kom kyk die suster of sy ok is. Indien sy ok is, los hulle haar nog so paar sekondes om te kyk of dit self stabiliseer en regkom. Indien dit nie regkom nie, moet jy haar so gou as moontlik terug in die incubator kry en dan draai hulle haar op haar maag en lig haar so bietjie op en dan kom dit weer gewoonlik weer reg.

Ek het dit gehaat! Ek wou haar so graag vashou want ek het geweet hoe belangrik daardie Skin-to-skin vir haar ontwikkeling en groei is. Maar terselfdetyd wil ek verseker nie hê sy moet ophou asem haal en blind wees nie. Dit was vir my bitter erg. Elke keer dan sê die suster dat ons haar vir ‘n paar minute moet los en dan oor so halfuur probeer ons weer. Net sodra ons weer probeer, gebeur dit maar net weer. Ek wou haar later nie meer optel nie.

Die susters het my heeltyd aangemoedig om aan te hou en elke keer weer te probeer, maar elke keer gebeur dit. Ek het later so gestres, dat ek bietjie om die hospitaal gaan stap het om vars lug en asem te skep. En ook om my mindset reg te kry, want ek wou nie hê sy moes my ongemaklikheid aanvoel nie. Teen namiddag het ek besluit genoeg is genoeg en ek is met trane in my oë al die pad huistoe. Dis snaaks hoe mens so kan veg teen huil. Ek onthou hoe ek omtrent nie die pad kon sien nie, want daar was soveel trane in my oë, maar ek het myself nie toegelaat om te huil nie.

Ek het besluit ek kort ‘n “pick me upper” en het by Wimpy (van alle plekke) gestop vir ‘n milkshake. Dit sal my verseker laat beter voel. Daar was min mense in Wimpy. En ek is vinnig gehelp. Binne sekondes het die 5 tafels rondom my volgeraak. En sowaar…4 van die 5 tafels was mammas met babas…Vet babas…babas met dubbelkenne en rimpels om hulle arms. Die een ma het ‘n bottel uitgehaal en het haar baba begin voer. Ek het gesien dat daar 180ml melk in die bottel was. En skielik, sonder enige regte rede…verloor ek dit.

Ek het R50 (veel meer as wat die milkshake… wat ek toe nog nie eers gedrink het nie…gekos het) op die tafel gelos en ek het kar toe gestorm. Ek het net betyds die deur toegemaak en toe tjank ek. Dit was verseker nie ‘n huil nie. Dit was dierlik en onbeheers. Hier sit ek…met ‘n baba wat 4ml elke twee ure drink…wat kleiner is as my warmwatersak…wat ek nie kan vashou sonder dat sy ophou asemhaal nie…en vir die eerste keer vandat Lisa gebore is, kry ek myself jammer.

Ek wil ook ‘n normale babatjie hê. Ek wil ook in Wimpy kan sit en my vet baba vir almal kan wys. Ek wil ook ‘n bottel melk vir haar kan gee. Ek wil ook saam met my vriendinne en hulle vet babas gaan koffie drink en lag en skinder en oo en aa. Ek wil ook net my babatjie kan vashou sonder om enige oomblik te dink sy gaan breek of blind raak of ophou asem haal.

Ek skrik groot toe die car guard aan my venster klop en vra of ek ok is. Ek knik en druk ‘n glimlag uit. Ek ruk myself reg en skakel die motor aan en ry huis toe. En op daardie oomblik voel ek beter en rustiger en minder kwaad. Partykeer moet ‘n mens dit maar ‘n bietjie verloor.

16. Onsuksesvolle poging om “normaal” te wees

the lordDis die eerste naweek wat ek en my man alleen is. Geen skoonouers en my pa is terug huis toe…net ons. My man was weer gesond en kon weer saam in die NICU ingaan. Ons is die saterdagoggend hospitaal toe om vir Lisa te kuier en het die middag rustig met die honde op die strand gaan stap. Ons het die aand ‘n vuurtjie aangesteek en ‘n lekker vleisie gebraai. Als het so “normaal” gevoel. So asof ons nie ‘n bitter klein babatjie in die NICU het nie.

Sondagoggend besluit my man om my bietjie te bederf met ontbyt in Kalkbaai. Ons het heerlik geëet by Die Annex en toe deur die boekwinkel gestap soos ou verliefdes. Skielik voel ek naar en duiselig. Ek gaan sit op die bank in die boekwinkel en sê vir manlief dat ek nie te lekker voel nie. Ek dog ek het dalk te vinnig opgestaan, maar ek sal verseker nou nou weer honkiedorie wees. Hy vra of ons moet ry en ek sê nee wat…hy kan maar bietjie rondkyk, ek sal nou beter voel.

Ek voel toe nie gou beter nie. Inteendeel, dit raak net erger. Ek voel hoe ek in ‘n koue sweet uitslaan en hoe ek gaan omkap. My man help my tot buite. Ons het gedink ek sal dit tot by die kar maak, maar ek kon nie verby die trappies by die ingang van die winkel kom nie…toe stort ek ineen. Ons het so paar minute net daar bly sit. Toe dink ons dadelik dis dalk my bloedsuiker en my man hol om ‘n koeldrank te kry. Mense staar na ons in die verbystap en almal vra of ek ok is. Ek is nie, maar ek sê ek is. Seker my Afrikaanse trots wat deurslaan. Ek het nog nooit so simpel en hulpeloos gevoel nie…so patetiese gevoel.

My man gaan haal die kar sodat ons kan hospitaal toe gaan. Weereens het daardie ou bekende “HUH?!” gevoel by my opgekom. Wat is nou weer met my fout? Kan dinge nie nou maar bietjie ophou nie. My man het my op die agtersitplek neergelê en daar gaan ons…ongevalle toe.

By die hospitaal aangekom, is my bloeddruk getoets. Dit was bitter laag en dit was hoekom ek amper uitgepass het. Eers sukkel ons met bitter hoë bloeddruk, nou is dit weer omkapbaar-laag. Hoe nou? Die dokters verduidelik toe vir my dat ek op ander medikasie moet gaan. Hulle het my op hoë bloeddruk medikasie gesit nadat Lisa gebore is omdat my bloeddruk nie gestabiliseer het nadat sy uitgehaal is nie. Hulle het gesê dis omdat my niere so erg beskadig was met die pre-eklampsië. Ek moes die pille nou net verminder en dan sal dit glo beter gaan.

Ek het elke oggend en aand my bloeddruk gemeet met die masjientjie wat my pa gekoop het. Dit was skrikwekkend hoe dit verskil het. Soms was dit hoog, soms perfek en soms bitter laag. Ek het gewonder of dit ooit sal regkom. Of ek ooit weer net my ou Charmé sal wees. Of ek ooit weer sal kan bloedskenk. Of ek vir die res van my lewe op pille gaan moet wees. Of dinge ooit weer net “normaal” gaan wees.

Ek onthou hoe ek gebid het en gevra het vir ‘n antwoord. En ek was nie gereed vir hoe vinnig die Here my sou antwoord nie. Maandagoggend kry ek ‘n watsapp van ‘n spesiale vriendin. Dit is net ‘n foto met die woorde “The Lord will fight for you, you need only be still.”. Daardie middag kry ek ‘n boodskap van ‘n tannie wat vir ons gebid het wat sê sy het ‘n bybelversie vir my: Eksodus 14v14. Ek het dadelik gedink Eksodus? Wie stuur ‘n bybelversie uit Eksodus? Nie Psalms of Effesiers nie, maar Eksodus. Ek het dit gaan opsoek en sowaar: Dieselfde woorde wat ek daardie oggend gekry het: Die Here sal vir julle stry en julle moet stil wees. En daar was my antwoord. Vandag is my bloeddruk weer perfek, sonder pille. Heeltemal “normaal”.

15. En uiteindelik…ek kan haar vashou!

10453472_10154376219865179_7613773521364661476_nDie Vrydag, 1 dag en 1 week nadat Lisa gebore is, kon ek haar vir die eerste keer vashou. Vir ander mammas is die oomblik waar jy jou babatjie op jou bors voel (gewoonlik sekondes na geboorte) ‘n ongelooflike oomblik waar julle onmiddellik ‘n band vorm en dit stel hormone vry wat help met allerhande lekker dinge. Vir my, was daardie oomblik bietjie anders.

My man was nogsteeds siek so ons het sy tannie gevra om saam met my hospitaal toe te gaan. Ons het gejok en gesê sy is my skoonma (skoonma bly in Montagu en kan nie so gereeld kom nie. Die tannie was so betrokke van die begin af (dit was sy wat op D-dag kom kuier het tydens besoektyd) en sy wou so graag vir Lisa sien, maar net oumas en oupas was toegelaat. Soos meeste goed in die hospitaal, is ons nie voor die tyd voorberei dat ek haar juis op hierdie spesifieke dag sou mag vashou nie. Ons het dus net gaan kuier.

Weereens is sy geskuif (sonder dat ons daarvan weet) na ‘n kamer nog nader aan die deur. Nou was sy glad nie meer in die NICU kamers nie, maar slegs in High Risk. Dit het beteken sy doen baie goed en is heeltemal stabiel, maar sy is nog net baie klein en moet net groei. Sy was steeds onder die blou ligte vir die geelsug, maar dit was ook onder beheer. Ons het ‘n bietjie daar rondgehang en ek het vir die tannie verduidelik hoe alles werk. Ek onthou hoe geskok haar gesig gelyk het en hoe sy gesê het dat die foto’s nie enigsins “justice” doen aan hoe klein sy is nie.

Die volgende oomblik kom ‘n verpleegster in en vra of ek haar wil vashou. Van dag een af is dit al iets waaroor ek gedroom het, iets waarna ek so uitgesien het. Ek wou dadelik JA sê, maar was so skrikkerig. Hierdie klein breekbare lyfie met al die drade. Ek kon nie indink hoe ek haar juis gaan ‘vashou’ nie…waar vat ek? Hoe tel ek haar op?

Die suster het vir my verduidelik om my bra uit te trek sodat sy direk op my vel kan wees (van toe af gaan ek sommer elke dag sonder ‘n bra in…net vir ingeval). Sy het ‘n paar knoppies op die incubator gedruk en die deurtjie oopgemaak en woeps waps tel sy haar met een hand op en druk haar onder my hemp in totdat sy tussen my borste op my bors lê. Ek onthou hoe ek probeer kyk en notas vat van hoe sy dit doen, maar dit was so vinnig dat ek als vergeet het.

Dit was die onaardste gevoel. Sy het so bietjie gewriemel en toe rustig geraak. Ek kon hoor hoe haar hartjie vinnig klop en hoe sy asem haal. Sy het haar baie klein handjie opwaarts uitgestrek en haar vingertjies het die hele tyd my lyf gekielie. Haar warm lyfie het gevoel soos ‘n klein hasie wat ek vashou. Haar ogies was toegeplak vir die geelsug. Haar beentjies het in die gleuf onder my borste ingeglip en haar lyfie het net mooi tussen my borste ingepas.

Ek het vir ‘n hele tydjie net gesit, sonder om te praat of te dink of te droom…net gesit. Ek wou heeldag so sit. Maar ‘n paar minute later kom die verpleegster en sit haar weer terug. Sy mag nie vir meer as 10 minute op ‘n slag uit die incubator wees nie, want sy moet onder die ligte bly vir die geelsug. Net so vinnig soos sy uitgehaal is, is sy weer terug gesit.

Ek het soos ‘n nuwe mens gevoel toe ek daar uitstap. Ek kon nie ophou glimlag nie. My arme man het die groot oomblik gemis. Hy kon eers omtrent ‘n week later dieselfde oomblik beleef, toe hy haar mag vashou. Hulle maak haar stelselmatig gewoond aan kieme. So eers mag net die ma Kangaroo Care doen, en dan na so week, mag die pa, en so aan. Toe dit wel gebeur, was hy die trotste pa in die wêreld. 10454536_10154425623625179_5991667548968130305_n

14. Alles in die lewe is relatief

T330_53759_babies_copy

Terwyl ons in die hospitaal was, het ons besef dat ons mal gaan raak as ons nie iets positiefs gaan doen nie. Almal was heeltyd negatief. As mens vir die dokters vra of Lisa goed doen was hulle antwoord altyd dieselfde: “Sy doen vandag goed, maar vat elke dag op sy eie meriete. More kan sy heeltemal anders wees.” Dit was altyd so negatief en het my altyd laat voel asof haar gesondheid enige oomblik gaan draai. Ek verstaan seker hoekom hulle dit sê, want as iets verkeerd gaan en hulle het gesê sy doen great, is dit seker maar moeilik.

Ek en my man het besluit om al die klein dingetjies te vier. Ons het koek gekoop toe sy 1 week oud is. Toe sy 1 kilogram haal het ons vir die NICU personeel doughnuts gevat. Toe sy 2 weke oud was het ons koekies gebak. En ek dink dit het baie gehelp om ons normaal te laat voel. Dit het mens meer positief gemaak en dit het ons laat uitsien na elke mylpaal.

Tydens my tydjie in die NICU het ek baie dinge ervaar. Ek onthou hoe ek ‘n week na Lisa se geboorte in die hospitaalgang vasgeloop het in my kamermaatjie (die een wat heeltyd gospel musiek geluister het). Ons het mekaar ‘n lekker lang stywe drukkie gegee en toe ek haar vra of haar babatjie gebore is, het haar antwoord my bietjie laat dink. Sy het gesê: “Ja, maar hy is vreeslik klein.” Toe ek vra hoe klein, sê sy: “2.1kg”. Ek wou begin lag, want 2.1kg klink vir my na ‘n huge baba! Maar ek het nie. Ek het saamgesels oor hoe klein hy is en ons het gegroet en verder gegaan. Ek het haar nie weer gesien nie, want hulle (albei ma en baba) is ontslaan.

Daardie naweek is my beste vriendin se baba dogtertjie ook gebore. Ek was so bly vir haar en was so opgewonde dat ons twee se dogtertjies (wat 3 maande uitmekaar gebore moes word, toe net ‘n week uitmekaar gekom het). Sy was 2.5kg en almal het op haar Facebook status gecomment oor hoe klein sy is. Weer het ek gedink “klein?”. Ek het al soveel keer by verskillende mense gehoor hoe klein Lisa was. Maar terwyl ons in die NICU was, het ek ‘n kleiner babatjie as sy gesien. Die kleinste enetjie daar was 625g. Veel kleiner as Lisa.

Dit het my laat besef hoe alles in die lewe in perspektief gesien moet word. Ek het gesukkel om na mense se 2kg (selfs 1.5kg) babas te kyk en te dink aan hulle as klein. Ek en my man lag gereeld saggies as ons hoor hoe nuwe ouers praat van hoe klein hulle 3kg babatjie vir hulle voel. En dit is seker ook OK, maar as mens mooi daaroor dink, was hulle seker klein. Want klein is ‘n relatiewe term. Elke liewe mens se storie is anders en almal se babatjies is spesiaal. Of hulle nou 600g of 4.5kg weeg.

13. Home Affairs en siek wees

untitledNormale babatjies word geregistreer by die Departement van Binnelandse Sake en kry so hulle geboorte sertifikate. Prem babatjies het die voorreg om nie al die pad na die kantoor toe te gaan nie, want dis nie fisies moontlik nie. Great, het ek gedink. Minder hassle en die official kom na jou toe in die NICU.

Ek het nog nooit so gesukkel om iemand in die hande te kry nie. Die vrou van Home Affairs is veronderstel om een keer ‘n dag by die NICU om te kom en babas wat in incubators lê te registreer. Die res van die tyd het sy ‘n kantoor in die hoofgebou van die hospitaal langs ontvangs waar sy haar admin moet doen. Dit het vir my redelik eenvoudig geklink. As ek nie by die incubator is wanneer sy haar rondtes doen nie, moet ek net eenvoudig ‘n draai by haar kantoor gaan maak…reg? Nee…toe nie so maklik nie.

Dit het my meer as ‘n week gevat om haar in die hande te kry. Die nommer wat hulle my gee om te bel om te hoor of sy by die hospitaal is, is verkeerd. Die nuwe nommer wat ek toe kry, gaan na iemand wat nie meer daar werk nie. Die ontvangs sê net elke dag hulle het haar nog nie die dag gesien nie. Die Binnelandse Sake kantoor sê sy is definitief by die hospitaal. Ek het elke dag rondgehol om haar in die hande te probeer kry, met geen resultate. My pa was by my en ons twee het maar elke dag met nuwe hoop gaan soek en maar saam vir die situasie gelag. Uiteindelik het sy een dag non-chalant by die NICU ingeloop en gesê: “Where is baby Kriel? I hear I am needed.” Ek het net gedink…Seriously?!. Maar ter selfde tyd was ek bitter dankbaar dat ek haar gekry het of liewer dat sy my gekry het, want binne ‘n dag het ek Lisa se geboortesertifikaat gekry.

Die einde van die eerste week was vir my man baie moeilik. Hy het verkoue gekry en mag nie saam hospitaal toe gegaan het nie. Mens mag glad nie ingaan as jy enigsins siek is nie, want die babas se immuunstelsels is so laag. Dit het vreeslik aan hom geëet om vir 3 dae nie sy dogtertjie te kon sien nie. Hy het my omtrent uitgevra oor haar gewig en haar toetse en al wat ‘n ding. Ek was weer bang dat hy my aansteek, want dan is ons bietjie geskroef.

Die naweek het aangebreek en oumas en oupas het weer kom kuier. Dit was ongelooflik hoe hulle die verandering en groei binne ‘n week kon sien. Lisa was net vir 2 dae op CPAP (die suurstof masjien) [amazing as ek nou sien hoeveel babatjies wat op 28 weke gebore is selfs huistoe gaan met suurstof] en behalwe vir die geelsug, het sy bitter goed gedoen. Na die eerste afval na 740g het sy elke dag omtrent 5-10g opgetel.

Hulle trek elke dag bloed en die arme dingetjie se voetjie is vol gaatjies gesteek. Dit is al wanneer mens haar rerig hoor huil het. So histeriese geskree (klink amper soos ‘n muis wat seerkry…nie dat ek rerig weet hoe dit klink nie…maar anyway…so iets). Ek het nou die dag, toe ek haar skoentjies aantrek, gesien dat al die bloedtrek klein letseltekentjies op haar hakke gelos het. Wonder of dit vir altyd daar gaan bly en of dit ook met tyd saam met die herinneringe gaan verdwyn.

12. Kaal babatjie, Blou ligte, Toegemaakte ogies…Geelsug!

10806378_10154990117985179_7081866913763812285_nNa ‘n heerlike aand by die huis en ‘n nag van min slaap (ek moes elke 2 ure wakker word om melk te pomp… dit vat so 20 minute en dan nog tyd vir steriliseer ook) het my eerste “besoekers”-tog hospitaal toe begin.

My skoonouers is huis toe en my man moes weer by die werk wees. My pa het sy pos as bestuurder en hospitaal-maaitjie kom inneem. Ons het die tog hospitaal toe begin. ‘n Roete wat toe nog redelik vreemd vir my was, maar waaraan ek binne die 3 weke in Grootte Schuur gou gewoond geraak het. As jy buite verkeertyd ry, vat dit 40 minute. Die parkering is ‘n groot probleem. Ons het later agtergekom dat die parkering wat die naaste en goedkoopste was, bo die hospitaal op so oop stuk grond was. Dit kos R10 ‘n dag. Dit is gelukkig afdraend stap na die hospitaal toe…middae was moeiliker en met my keisersnee-eina het dit my bietjie stadiger as gewoonlik geneem. Ek was lekker uitasem teen die tyd wat ek die steil bult uitgeklim het.

Die sekuriteit is streng en ons moes elke dag by die hoofingang inteken en het ‘n plakkertjie wat NICU sê gedra. Ek het my twee bottels melk in ‘n Coolerbag gepak gehad en het ander mammas wat deur dieselfde as jy gaan vinnig raakgesien deur die Coolerbaggies of bottels melk wat hulle ook saamdra. Wanneer mens se oë ontmoet, kyk mens na mekaar met meegevoel en ‘n “I get you” glimlag. Sonder om iets te sê, is daar ‘n band. Ongelooflik hoe sulke krisistye mense uit verskillende wêrelde bymekaar bring.

By die deur ingestap is Lisa geskuif na ‘n toe-incubator. Dit is nou die normale incubators wat almal ken. Voorheen was sy op ‘n oop incubator wat maar net soos ‘n tafel lyk. Dit is nogal ‘n skok as jy verby die glasvenster van die vertrek stap en daar lê ‘n oop tafel waar jou babatjie die aand voor die tyd gelê het. Mens kry so koue gevoel oor jou. Daar is vir my verduidelik dat dit ‘n goeie ding is en dat dit beteken sy doen goed. Met die incubator word sy toe ook geskuif van NICU 1 na NICU 2. Dit is die vertrek reg oorkant NICU 1. Daar is ook vir my verduidelik dat hulle jou elke keer nader aan die deur skuif en dat elke kamer nader aan die deur, ‘n bietjie nader is aan huis toe gaan. Ek kon nie wag vir daardie dag nie en was effens jaloers op die ma’s met aansienlike groter babas wat reeds in die kamer by die deur was.

Toe ons by Lisatjie kom (dit was redelik maklik om haar tussen die klomp incubators raak te sien, want sy was die enigste wit babatjie daar), was sy kaal sonder ‘n nappy en haar ogies was toegeplak. Ek het geskrik en was dadelik bekommerd (al was ek in elk geval die hele tyd bekommerd). Hulle het kom verduidelik dat sy geelsug het en dat dit omtrent met alle prem babatjies gebeur. Sy moet onder die blou ligte bly totdat haar tellings weer normaal is. Dit was gerustellend om te weet dat dit heel normaal is, maar dit was steeds vir my bitter erg om haar so te sien lê.

Dit was egter ook ‘n dag van vele eerstes. Ek is vir die eerste keer gewys hoe om haar melk vir haar te gee. Dit was nogals scary. Hulle bring vir jou die regte hoeveelheid melk in ‘n spuitnaald. Jy moet eers een of ander vitamien aanvulling in ‘n koppie by die melk meng, dan trek jy weer die melk met die spuitnaald op. Daar is ‘n buisie (tube) wat deur haar mond na haar maag gaan. Mens konnekteer dan die spuitnaald (sonder die drukker gedeelte) aan die buisie en hou dit in die lig op sodat die melk (3ml) stadig in die buisie tot by haar maag kan loop. Dit het my laat terugdink aan Mnr. Mostert se Skeinat eksperimente en dit het my hartseer gemaak dat ek hier by my klein babatjie staan en haar met ‘n wetenskap eksperiment vergelyk.

Dit was ook vir my erg om te sien hoe min ma’s daar was. Ek wou soveel moontlik tyd daar  spandeer. Daar is baie incubators en min spasie om rond te staan. Die vertrek waar ek was, het 13 incubators gehad met slegs 2 stoele. So dit was moeilik, want mens het die heeltyd in die pad gevoel. Ek moes elke 2 ure pomp en het dit moeilik gevind, want daar was nie plek nie. Ek het die eerste week maar min daar gebly. Ons het een keer deur die dag gegaan en melk gevat (gewoontlik die oggend) en dan het ons winkel toe gegaan om goed te koop (goed soos maternity pads, breast pads en prem nappies). Ek het nog vreeslik gesukkel met my bloeddruk en my pa het aangedring om vir ons ‘n bloeddruk masjientjie te koop wat ons by die huis kan gebruik.

Saans, sodra my man by die huis kom, het ons twee weer gery sodat hy haar ook kan sien. Hy was baie meer ontspanne as ek in die NICU. Ek was skrikkerig om te vat of te vra, maar hy het net met selfvertroue dinge gedoen en gevra. Hy was my rots…rêrig. Ek was so trots op hom en ek het hom so jammer gekry. Hy moes die sterk een wees en my ondersteun, maar hy self moes ook ondersteuning kry en ek was nie in staat om dit vir hom te gee nie. Hy is ‘n ongelooflike pa en het dit toe vir die eerste keer vir my gewys. Hy het die chart met al haar statistieke aan my verduidelik en ons het na die ander babatjies se geboortedatums en gewiggies gekyk. So het ons babas gekry met wie ons Lisa kon vergelyk.

En elke aand het ons uitgestap met ‘n hoopvolle hart en ons trouringe weer aangesit (jy mag nie met juwele in die incubator werk nie). En dit was asof ons elke aand weer aan mekaar beloftes maak, maar die keer ook aan klein Lisa.

Ons het wonderlike vriende en familie en dit was so spesiaal toe vele vriende ons vrieskas vol kos kom pak het. Dit was so gerustellend om te weet dat daar altyd kos by die huis is om vinnig gaar te maak as ons moeg en laat by die huis aankom. Die Here het so mooi na ons gekyk deur hierdie tyd en ons opnuut laat besef  hoeveel ons het om voor dankbaar te wees.10438636_10154370136510179_5480749855529537531_n

11. Huiswaarts

10504768_551016485010452_7331068765487810502_oBabatjies val almal eers bietjie gewig af as hulle gebore word. Dit is harde werk om self asem te haal en self als te doen. Lisa het dus ook maar afgeval. Die enigste probleem is, dat sy alklaar so min geweeg het. Dit maak enige gram wat sy verloor nogal erg. Ek is die Sondag ontslaan en Lisa het 740g geweeg.

Die idee van HUIS het my vreeslike ‘mixed emotions’ gegee. Aan die een kant was ek so opgewonde, want ek kon stort. En my hare was. En ek kon huiskos eet. En my honde en kat sien. En normaal met my man gesels…terwyl ons tee drink of op die stoep sit. Aan die anderkant moes ek ‘n klein stukkie van my hart in die hospitaal los. Ek wou rêrig graag huistoe gaan, maar ek wou nie vir Lisa daar los nie.

My man het my kom haal en ons het vir Lisa gaan tata sê. Die NICU personeel het aan my verduidelik hoe dinge nou gaan werk. Ek moet elke dag melk bring in ‘n gesteriliseerde glasbottel wat die hospitaal vir jou gee. Dan moet ek soveel moontlik tyd langs die incubator spandeer, want sodra Lisa gereed is (dit kan enige dag wees), kan ons begin Kangaroo Care. Dit is waar jy haar op jou bors tussen jou borste plaas (skin to skin), want dit help met die band tussen ma en baba, maar dit stimuleer ook op een of ander chemiese manier dat die babatjie veiliger voel en dus ook vinniger groei.

Ek onthou hoe ek gewonder het hoe ek gaan bestuur. Want mens mag mos nie met ‘n keiser bestuur nie en ons bly in Simonstad en dit is nogal ‘n entjie se ry hospitaal toe. Gelukkig het my pa klaar gereël dat hy vir ‘n week by sy werk afvat om my te kom  help by die huis en om my rond te ry… Nog ‘n engelmens.

Ek en my man het nie ‘n woord gesê toe ons in die kar klim nie. Die stilte in die kar was aaklig. My man het ‘n groot boks smarties en twee Steri Stumpies (‘n pienke vir my en ‘n caramel een vir hom) uitgehaal. Ons het met trane in ons oë vir mekaar geglimlag en die pad huiswaarts aangepak.

By die huis gekom, het my skoonouers vir ons regte huiskos gemaak. Hoender, rys, groente en ‘n poeding. Dit was hemels en ek het vir ‘n oomblik gevoel asof die afgelope week ‘n nagmerrie was. Dit het gevoel asof Lisa nog in my maag is en dat als nog perfek verloop.

My selfoon se alarm het my skielik uit hierdie fantasie geruk toe dit afgaan om aan te dui dat dit tyd is om melk te pomp. ‘n Goeie vriendin het intussen vir ons ‘n Medela Swing borspomp kom aflaai en die dae van met die hand express was vir eers iets van die verlede…nog ‘n engelmens.

Ek het daarna in die stort geklim en vir omtrent ‘n halfuur daar gestaan. En saam met die vuil, het ek my hart ook gewas. En die trane het saam met die water in die drein afgeloop.

10. Geluk!

10364097_10154349032055179_4694019640332695884_n

Ek het vir 3 dae na die Keiser in die hospitaal gebly. Ek moes herstel, maar dit was rêrig moeilik om te rus as jy weet jou piepklein dogtertjie lê twee vloere ondertoe in die NICU. Dit was ongelooflik om enige tyd van die dag vir haar te kon gaan kuier, maar dit was ook rêrig moeilik. Mens voel jy wil die hele tyd daar wees en langs haar incubator sit, maar ter selfde tyd voel mens erg “useless”. Jy kan nie veel vir haar doen op daardie stadium nie. Die dokters en susters doen als en jy, as ma, is bloot net ‘n bystaander wat soos ‘n koei elke 2 ure gemelk moet word.

Ek het besluit om so veel moontlik by haar te gaan sit en ek het saggies met haar gepraat en vir haar gesing. Al liedjie waaraan ek kon dink op daardie oomblik was Amazing Grace en ek het dit oor en oor saggies vir haar gesing. Elke nou en dan het die dokters omgekom en gepraat oor haar toestand…woorde en terminologie wat ek toe nog nie verstaan het nie: Sats, Cpap, HP-levels, ens. Snaaks hoe daardie woorde nou deel is van my normale woordeskat. En tussen deur dit alles het ek probeer rus en slaap sodat ek ‘n beter melkkoei kan wees. Lisa het elke 2 ure 2ml melk nodig gehad. Dit was vir my vreeslik min, maar ek is gesê om net soveel as moontlik te pomp, want anders gaan mens se melk weg…so pomp het ek gepomp.

Iets wat my vreeslik ontstel het, was mense (vriende, familie en kollegas) se reaksie op haar geboorte. Ek het 100’de boodskappe op Facebook en watsapp gekry wat sê GELUK! Ek weet dis wat mens seker moet sê (en as ek nou terugdink waardeer ek elke boodskap en omgee), maar op daardie stadium was daar absoluut geen geluk nie. Ek het gevoel asof ek wil skree, want op daardie stadium was sy nog nie stabiel nie. Elke dag was ‘n uitdaging en die dokters het elke dag vir ons gesê om nie hoopvol te wees nie, want enige iets kan nog gebeur. Dit het vir my gevoel asof almal net dink sy is ok en dat die stres van haar geboorte nou verby is en dat haar geboorte iets was om te vier… En ek het alles behalwe so gevoel.

Ek het blomme gekry. Dit was mooi, maar ek kon nie daarna kyk nie. Ek het gevoel asof daar iets met my fout is dat ek nie geluk voel nie. Hoe kan almal dink dat ons Lisa se geboorte moet vier wanneer sy eintlik nog vir 3 maande in my maag moes wees. Ek was gelukkig dat sy lewe, maar wou dit nie vier nie, want die kanse was groot dat sy die volgende dag kon sterf.