29. Borsvoeding…onnatuurlik natuurlik!

0311Uiteindelik het die dag aangebreek…Lisa drink direk uit my bors!! Weereens, soos elke GROOT dag in Lisa se lewe, het hierdie dag ook net gebeur. Ek wou altyd voor die tyd weet wanneer hierdie “groot” oomblikke gaan gebeur. Wanneer gaan Lisa uit die incubator kom? Hoe lank bly die geelsug? Hoe lank vat dit vir premies om gewig op te tel? Wanneer gaan sy self begin drink? Wanneer kan ons haar ordentlik bad? Wanneer gaan ons huis toe?

En die antwoord op al my vrae was altyd net: “Wanneer Lisa reg is.”

Dit is wonderlik hoe daardie eenvoudige antwoord my so mooi voorberei het vir nou…wanneer die vrae net verander het: Wanneer kry sy  haar eerste tand? Wanneer gaan sy deur slaap? Wanneer begin sy loop? Wanneer gaan ek ophou borsvoed? Wanneer gaan sy praat? Dis nou so maklik om nogsteeds net te antwoord: “Wanneer Lisa reg is.”

Wel, soos alles anders in Lisa se eerste paar maande, het hierdie “groot” oomblik nie sommer net natuurlik gebeur nie. Ek het altyd hierdie idiliese prentjie gehad van hoe dit gaan wees as my babatjie eendag net na geboorte (wat mos natuurlik was in my droomwêreld) op my bors gaan lê en natuurlik net na my borste soek en natuurlik net begin suig. Ek het altyd gedink dit gaan hierdie perfekte oomblik wees waar God se skepping net perfek saamwerk en ma en baba net ongelooflik en wonderbaarlik saamkom. ‘n Oomblik waar daar nie oordink word nie…waar niemand jou moet wys hoe nie…waar natuur net natuurlik gebeur.

Seker nie nodig om te sê dat hierdie oomblik GLAD nie so gebeur het nie. Inteendeel, dit was vreeslik ONnatuurlik. Na so week van cupfeeding was Lisa 33 weke. Sy het 1.36kg geweeg en die susters het elke middag vir so 4 dae belowe hulle gaan my kom help borsvoed net voor hulle skofte oorhandig. Elke aand het daar iets anders gebeur en die oomblik is weereens uitgestel na die volgende dag. Ek onthou hoe ek gewonder het wat hulle bedoel met “help” borsvoed. Hoe gaan hulle juis “help” het ek gedink. Ek onthou ook hoe my koeimelk-episode uitgedraai het en ek was skielik vreeslik senuweeagtig, maar tog opgewonde oor borsvoed.

Ek was so dankbaar vir die suster wat my uiteindelik kom “help” het. Sy was een van my gunsteling susters en sy was baie “real” (soos ek) oor die lewe en oor hoe dinge werk. Sy vat nie nonsens nie en sê dinge soos dit is. Sy het ingestap en gesê: “Ok…koekie…let’s go!” Sy het vir my verduidelik dat die moeilikste ding met so klein babatjie, is hulle Latch. Hulle mondjies is fisies te klein om oor die hele tepel gedeelte van jou bors te gaan. Dus sukkel hulle om ordentlik te suig. Sy het Lisa op my bors gesit en nogal hardhandig gewerk. Sy het, wat vir my gevoel het, soos my HELE bors in Lisa se klein mondjie ingedruk. Lisa het selfs bietjie naar geraak van die groot bors in haar klein mondjie. Dit het vreeslik onnatuurlik gevoel en ek het gevoel asof ons moet stop.

Die suster het gesê sy is nou nou terug en sy is daar uit. Sy het so tydjie weggebly en het toe teruggekom met ‘n iets in haar hand. Sy het gesê hulle mag nie eintlik vir ons hierdie aanbied nie, maar sy dink eerlikwaar dit gaan haar help en sy dink ons moet dit probeer. In haar hand was ‘n Nipple Shield. Ek het nie eens geweet wat dit was nie, maar dit was my lewensredder!  Dit het dit net vir Lisa makliker gemaak om te Latch. Die Nipple Shield het my tepel langer en dunner gemaak en sy kon soveel makliker suig.

Soos alles was hierdie proses ook maar stadig. Aan die begin het sy net so 2 of 3 suigies gevat. En dan het sy aan die slaap geraak van moegheid. Elke dag het beter geraak en ek was so opgewonde, want as ons kan borsvoed is dit een stappie nader aan huis toe gaan.

Dit was vreemd hoe my onnatuurlike oomblik tog ook spesiaal was. Anders as in my drome, maar nogtans spesiaal. Ek het my trane weggesluk, want ek was so dankbaar vir waar ons nou al was. Dat ons al so ver gekom het. Dat ons kan borsvoed…iets wat ek nie seker was of ons ooit kon doen nie. En ek was onsaglik trots op Lisa, ons wonderwerk fightertjie. Ek was dankbaar en oorweldig. En toe die suster uit die kamer is… en ek met Lisa (vas aan die slaap) op my bors sit…het ek weereens gehuil.

28. “Newborn”-fotosessie

10560553_551276108317823_7433871504376470306_o

Met die besoekers het ek nog ‘n engelmens ontmoet… Megan van Zellaroo Photography. Soos meeste mammas, was ek super opgewonde oor die dag wat my klein babatjie gebore word en terwyl ek nog swanger was, het ons ‘n “newborn”-fotosessie geboek by Megan. Ek wou so graag hê dat ons troufotograaf ons babatjie ook moet afneem, maar sy was self op kraamverlof so ek moes verder soek. Ek het Megan op die internet gevind en het haar sommer dadelik geboek, want sy bly naby ons en sy het ‘n spesiale aanbod aan die gang gehad.

Die spesiale aanbod was geldig indien mens betaal in Junie. Ek was van plan om op die 15de Junie (wanneer ons betaal word), te betaal. Toe Lisa op die 12de gebore is, was alles deurmekaar. Ek het skoon vergeet dat ek Megan belowe het ek gaan betaal en dat dit die laaste was wat sy van my gehoor het. Aan die einde van Junie (nog in Grootte Schuur) kry ek ‘n boodskap van haar wat net wil herinner dat ek nog moet betaal vir die fotosessie wat vir September geboek is.

Ek het haar laat weet dat ons nie meer ‘n “newborn” sessie gaan benodig nie, want Lisa is nou lankal nie meer newborn nie en dat dinge bietjie deurmekaar is. Megan was net amazing. Sy was so vriendelik en oulik oor als. Sy het gesê ons moet nie worry oor die betaling nie. Sy het voorgestel dat sy hospitaal toe kom om vir Lisa in die incubator af te neem. Grootte Schuur was mos bietjie streng met besoekers en dit was dus nie ‘n opsie nie. Sy het toe gesê dat ek haar net moet laat weet wanneer ons gereed is by die huis en dan kom neem sy steeds mooi foto’s.

Sy het tydens my tyd in die hospitaal omtrent weekliks vir my boodskappe gestuur en moed ingepraat en net gehoor hoe dit gaan. Dit was vir my ongelooflik, hoe ‘n wildvreemde vrou, vir wie ek nog nie eens betaal het nie, so baie vir ons kon omgee. Toe sy hoor dat Lisa die dag besoekers (anders as die familie) kon kry, het sy dadelik gevra of sy kan kom foto’s neem in die hospitaal.

Ek was nie heeltemal seker hoe dit sou werk nie, want Lisa was maar nog klein, maar ek was bereid om te probeer. Megan het daar opgedaag met ‘n kamerasak en ‘n groot warm glimlag en in haar hande was ‘n bos blomme en ‘n piepklein hasie. Die blomme (speldekussings…my tweede gunsteling blom na die protea) was vir my en die hasie vir Konyntjie (Megan het nie geweet dis haar bynaam nie). Ek was stomgeslaan en oorweldig deur die “vreemde” mens se liefde, vriendelikheid en omgee.

Ons het bietjie gesels en sy het my vertel hoe sy al vir 10 jaar sukkel om self ‘n babatjie te hê en hoe sy nou al ophou probeer het. Ek het haar jammer gekry en geseënd gevoel dat ek wel ‘n babatjie kon vashou. En toe het sy haar kamera uitgehaal en net begin foto’s neem. Ons het nie ge-‘pose’ nie…ons was net ons. Besig met wat ons elke dag moes doen…cupfeed, doek omruil, toedraai in ‘n kombersie ens.

10448567_551275948317839_3332757183295538324_oDaardie aand het sy vir my foto’s gestuur en ek was stomgeslaan…ek was mal oor hoe sy elke oomblik vasgevang het. Ek was dankbaar dat sy gekom het, want ek is bitter sleg om met ‘n selfoon foto’s te neem en ek bewaar hierdie oomblikke wat sy vasgevang het met haar lens in my hartsalbum. Die hasie wat op die foto’s redelik groot lyk, is nou nog in Lisa se kamer en is eintlik redelik klein…dit pas mooi in die palm van my hand. Ek kyk gereeld na die hasie op die rak en dan na Lisa en staan in bewondering vir hoe ver die Here ons al gebring het.

10333334_551275801651187_3560183864693799768_o

27. Besoekers en ‘n mooi babatjie

leandraVir weke het ek net ‘n handjie vol mense in die hospitaal gesien. Slegs oupas en oumas kon kom kuier en dit was wonderlik dat hulle moeite gedoen het omtrent elke naweek te kom. My man se tannie het so nou en dan kom inloer en sy is net wonderlik. Sy het vir my ‘n lekker warm kamerjas gebring sodat ek maklik daarin kon Kangaroo, lekker eetgoedjies en spesiaal-voel goedjies gebring…deur hierdie hele storie is sy my nr.1 engelmens…by ver.

In die week was dit egter net my man.. Ek is baie lief vir hom, maar ek het my vriendinne vreeslik gemis. Die hartsmense by wie mens bietjie kon stoomafblaas of kan lekker lag of net ‘n bietjie kan skinder. Dit is vreemd…mens praat anders met jou man as met jou vriende. Ek onthou hoe ek nie al die negatiewe goed met hom wou deel nie, want ek het gevoel hy worstel met genoeg. En dis ook moeilk wanneer hy net vir ‘n uur op ‘n dag by jou is. Dis asof mens net oppervlakkig gesels, alhoewel daar stormwaters onder die brug deurloop waaroor mens nie op daardie oomblik praat nie. Later toe Lisa al vir ‘n paar weke by die huis was, het ons eers ordentlik begin praat. En ek dink baie goed wat gebeur het, is nogsteeds nie deurgepraat nie.

Ek wou so graag (soos alle mammas) Lisa aan my vriendinne voorstel. Ek was so trots op hierdie klein babatjie en wou haar met die wêreld deel. Ek het egter ook geweet dat haar immuunstelsel bitter laag is en dat besoekers maar liefs vermy moet word. So ek het verstaan dat ons maar moes wag en dat dit, soos alles anders, op sy tyd sal gebeur.

Toe ons goed aangaan met die cupfeeding, het hulle Lisa se pypie (vir die tubefeeding) heeltemal uitgehaal. Dit was nog ‘n mylpaal wat gehaal is…en sy was mal daaroor. Sy was sommer dadelik meer gelukkiger en het rustiger gelyk (sy het die pypie gehaat en heeltyd daaraan getrek). Met die pypie wat uit is, kon ons toe ook stadig maar seker ander besoekers laat kom kuier. Dit was vir my wonderlik.

Vir weke, sien my vriende vir Lisa slegs op ‘n foto en hulle het geen benul hoe klein sy regtig is nie. Ek was kinderlik opgewonde toe my vriendinne kon kom inloer. Dit was asof ek vir weke ‘n nuwe speelding het wat ek vir niemand mag wys nie. Ek het gestort (iets wat mos maar opsioneel was) en het my hare gekam en selfs bietjie make-up aangesit.

Dit was presies wat ek nodig gehad het. Normale mense wat oor normale goed praat. Mense wat my so goed ken en wat in my oë  kan sien wat binne in my hart aangaan. Mense by wie ek 100% net myself kan wees.

Almal wat kom kuier het se reaksie was omtrent dieselfde…”Sjoe, maar sy’s kleiner as wat ek gedink het.” Party het gesê sy is mooi. En ek onthou hoe ek gedink het hulle jok, want nie eers pasgebore babas is vir my mooi nie…wat nog te sê van ‘n premie met ‘n groot kop en klein maer lyfie.

Vir my man was sy van die begin af mooi. My ma vertel my dat hy die aand toe sy gebore was uit die hysbak in die hospitaal geklim het. Toe hy sy ma en al die ander familie daar in die voorportaal sien het hy glo aan die huil geraak en net gesê: “She is so beautiful”. Vir my was sy nie mooi nie. Vir my het dit nogal lank gevat voordat ek eerlikwaar gedink het sy is mooi. Omtrent 3 maande. Ek het vir lank gedink daar is iets fout met my. Hoe kan my eie dogtertjie nie vir my mooi wees nie. Ek het die bybelversie onthou wat sê “you are beautiful for you are fearfully and wonderfully made.” En toe, net randomly op ‘n dag…het sy vir my mooi geraak. En nou is sy vir my die mooiste klein dingetjie op aarde. beautiful

26. Cupfeeding…een stappie nader aan borsvoed

cupfeeding Die pad na ordentlike normale borsvoeding het vir my soos ‘n leeftyd gevoel. Lisa het die pypie, waarmee sy tubefeeding gekry het, gehaat. Sy het dit gereeld uitgeruk en dit is elke keer teruggesit. Die pypie word met pleisters vasgeplak (om te probeer verhoed dat sy dit kan uittrek) en die pleisters raak so taai en gagga na ‘n dag of wat van al die melk en speeksel. Dan moet hulle dit vervang en hulle gebruik so lappie-dingetjie wat die pleister se trekkrag verminder. Lisa het nogsteeds geskree wanneer hulle dit doen en ek kon sien hoe seer dit is.

Ons het vining agtergekom dat Lisa nogal baie koppig is (seker maar soos haar ma en pa). Sy het dit gehaat as mense met haar karring. Sy wou nie mee gevroetel wees nie. Sy het min gehuil, maar as mens met haar werk (haar omdraai, haar nappy omruil, haar bedlakentjie regtrek, ens), het sy geskree. Maar los haar net uit…en sy was bitter gelukkig.

Die hoofpediater het vir my verduidelik hoe ons op 32 weke kan begin cupfeed. Die idee daarvan was vir my onbekend. Wat dit basies behels, is om vir haar melk met ‘n klein koppie te voer. Sy moet self sluk en dit is nie soos ‘n bottel waar sy net die melk moet suig nie. Dit moedig die suigrefleks (wat normaalweg eers tussen 32 en 34 weke in die mamma se maag ontwikkel) aan. Dit is baie beter vir hulle en die kanse dat cupfeed babas direk van die bors kan borsvoed, is baie groter en word dus bo bottelvoeding aangemoedig. Babas wat na 32 weke gebore word, het dit minder nodig en kan partykeer maklik tussen bottel en bors wissel. Ek het so uitgesien na hierdie konsep van cupfeeding. Min het ek geweet hoe uitputtend en intens dit gaan wees.

Voordat ons begin het met die cupfeeding het die pediater 2 spraakterapeute na my toe gestuur. Hulle was ongelooflik en het vir my oefeninge gewys wat ek elke keer voor ‘n voeding met Lisa moet doen. Klein goedjies…soos om met jou vinger bo-oor haar bolip te trek. En om met jou vinger op haar wange ‘n streep tot by haar mondhoek te trek…sulke eenvoudige goedjies wat beide die “rooting”-reflex (die een waar die babatjie die ma se bors soek) en die suig-refleks stimuleer.

Ons is ook aangemoedig om voor elke voeding vir Lisa by my bors te sit. Net om te kyk wat sy doen. Sy was vir lank min gepla met die heerlike warm melkies in mamma se borste en het maar net so gebly lê. Die beste posisie om in te borvoed was die “football”-hold. Dis waar jy jou baba soos ‘n rugbybal onder jou arm vashou. Ek onthou hoe sy so lig en klein was dat ek haar sommer so in my hand gevat het (waarin sy nog mooi gepas het) en het nie ‘n kussing nodig gehad om haar gewig (wat maar min was) te stut nie.

Toe ons met cupfeeding begin het, het Lisa 14ml melk elke twee ure gedrink. Sy moes op my knie sit (so regop as moontlik) en ek moes die koppie melk by haar lippies hou. Ek moes versigtig wees om nie te veel melk net in haar keel af te gooi nie, want dan verstik sy. Net ‘n druppel op ‘n slag wat aan haar tong raak sodat sy kan sluk. Dit het baie konsentrasie gevat. Die proses veroorsaak dat sy vreeslik baie lug sluk. Na elke paar slukkies het sy ‘n wind gehad. Om winde in ‘n prem baba uit te vryf is ook nogal ‘n probleem. Tik ‘n bietjie te hard en jy maak hulle seer, maar te sag en die wind bly sit.  Om die 14ml melk in te kry (met die winde tussen in) het ons omtrent ‘n uur op ‘n slag geneem.

Moeg het skielik vir my ‘n hele nuwe betekenis aangeneem. Elke 2 ure het ek die volgende gedoen…cupfeeed vir ‘n uur, pomp melk vir 20 minute, piepie/eet/haal asem, reply op watsapps en smse vir so 10 minute, slaap vir 10-15 minute…en tussen in het die peadiaters hulle rondtes gedoen. Saans het die susters een van die skofte gevat (gewoonlik die 2-3 skof)…so ek moes toe net opstaan om vir 20 minute te pomp. Power naps het vir my realitieit geword en slaap was iets van die verlede.

Bid was iets wat in ‘n luuksheid verander het, want ek het elke keer wat ek my oë toemaak aan die slaap geval. Ek het een keer op die toilet aan die slaap geraak. Ek het gekies tussen stort en slaap…en slaap het meestal gewen. Ek het agtergekom hoe min mens regtig hoef te slaap om steeds funskioneel te kan wees. Na dit, was als ‘n breeze. As Lisa nou 4 keer ‘n nag wakker word (wat die norm in ons huis is), is dit niks nie.

Ek het ook besef dat mens nie altyd fisies hoef te bid nie,…dat die Here jou genadig is. Dat Hy verstaan en dat Hy steeds sy hand van beskerming oor jou hou. Ek het ook die bybelversie in Filipense onthou en dit gereeld vir myself gesê. Ek het vasgehou aan die idee dat hierdie net ‘n fase is, en dat alles nie vir altyd hou nie. En voor ek my oë uit kon vee, was dit ook verby. staat

25. Grow baby grow

10494840_551016785010422_2313393402200021000_nDie ding met ‘n prem baba is dat tyd ‘n hele nuwe vorm aanvat. Mens leer bitter vinnig hoe belangrik 5 gram is en mens leer ook bitter vinnig hoe om geduldig te wees. Daar is geen nut daarin om jou baba te probeer aanjaag nie, want hulle doen alles op hulle eie tyd…of seker in ‘n mate op God se tyd.

Lisa was so gelukkig en geseënd. Sy het nie operasies nodig gehad nie…’n wonderwerk in prem-wêreld. Ek hoor daagliks van babas wat selfs groter as Lisa was met geboorte, wat ernstige lewensgevaarlike operasies ondergaan….goed soos ingewandes wat nie geheg is nie, kleppies in die hart wat nie reg toemaak nie, longetjies wat water op het en allerhande rowwe goed. Ek kan myself nie vir ‘n oomblik indink hoe dit moet voel om te weet hulle gaan met messe en toerusting aan daardie piepklein lyfies werk nie. Ek is ewig dankbaar vir die Here se genade, want ek is nie seker  hoe hierdie mammas dit hanteer nie…Ek dink nie ek kon nie.

Alhoewel haar HP levels laag was en hulle haar ekstra ysteraanvulling gegee het, het dit nooit laag genoeg gedaal om ‘n bloedoortapping nodig te hê nie…nog ‘n wonderwerk in prem-wêreld. Bloedoortappings is iets wat met sommige babas tot en met een keer ‘n week gebeur. Dit is nodig om hulle te help oorleef, maar kom ook met sy eie stel gevare en komplikasies. Ons moes 3 keer hoor dat haar bloedtelling so laag is, dat hulle die volgende dag weer gaan toets en as dit nie op is nie, kry sy ‘n bloedoortapping. Dan het ons maar gebid en sowaar die volgende dag is haar tellings op. Net genoeg om ‘n bloedoortapping te vermy. Hiervoor was ons net so dankbaar.

Lisa was net vir twee dae op suurstof….nog ‘n wonderwerk. Sy het ook nooit ekstra suurstof nodig gehad nie. Alhoewel sy aan die begin van die Kangaroo Mother Care (KMC) ophou asem haal het, het sy self daardeur gewerk en het nie weer suurstof gekort nie. Ek sien en hoor ook gereeld van babas wat op 28 weke gebore is, wat selfs met suurstof huis toe gaan. Wat ‘n absolute wonderwerk.

Die dokter het gesê ons moet ‘n breinscan doen net om te seker te maak dat daar nie bloeding op die brein is nie…iets wat gereeld en redelik baie met prem-babas gebeur. Dit het my op my senuwees gemaak om te dink dat daar moontlik iets fout kan wees, maar weereens het haar scan geen bloeding getoon nie. Weereens was ons net dankbaar.

Ons Lisa het so ‘n “maklike” prem-pad gestap. Dit kon soveel erger wees. Ons Lisatjie was net klein. En al wat sy moes doen was groei. Elke oggend is sy geweeg. Hulle het haar uit die incubator uitgetel en verdwyn in ‘n ander vertrek. Ek onthou hoe ek elke oggend my asem opgehou het wanneer hulle terug instap met haar. En dan…het ons die dag se “verdict” gehoor. “Sy weeg 1.125, Sy weeg 1.130. Sy weeg 1.4, Sy weeg 1.38, Sy weeg 1.41…en so aan”.

11707453_10156065596820179_3766275713355354716_n

Ek het soms gewens daar was ‘n formule waarmee mens kon uitwerk hoe lank ons nog gaan vat om by 1.8kg uit te kom. 1.8kg was die gewig waarop sy ontslaan kon word. Daar was ook geen spesifieke patroon in haar gewig nie. Soms was dit 5g op, soms 20g op, soms 10 g af, soms niks nie. Ek het soveel dae gesit en wonder wat ek verkeerd gedoen het as sy gewig verloor het. En ek het probeer dink wat ons anders gedoen het as sy baie opgetel het.

Ek is gereeld daaraan herinner dat ek nie in beheer kan wees nie (iets waarvan ek nogal gewoonlik hou). Dat haar vordering en groei en die spoed waarmee sy dit doen nie in my hande is nie. Dat sy op haar eie tyd groei en ontwikkel. Ek het geweet die Here het sy hand op haar en dat ons moet vertrou dat Sy tyd die regte tyd is. En stadig maar seker…gram vir gram…het Lisatjie gegroei.

24. Die melkery

cowNadat ek vir so dag huilerig was oor my melk wat weg was, het die matrone van die saal by my kom sit. Sy tree aan die einde van die jaar af en is ‘n absolute legende in die hospitaal. Almal ken haar en sy is regtig ongelooflik in haar werk. Sy het my hand gevat en vir my gesê: “Ek gaan nou huistoe. More as ek hier instap, gaan jou melk terug wees. Ek glo dit gaan so wees en nou moet jy net glo.” Nog ‘n engelmens.

My geloof op daardie stadium was nie so sterk nie en ek het uit my swak geloof seker gemaak ek het ‘n backup plan. Mens sal dink dat ek teen die tyd al geleer het om nie net op my eie vermoeëns staat te maak nie. Maar nee…ek moes nog ‘n paar lesse in geloof leer voordat ek regtig volkome kon vertrou en glo. Dis darem erg om partykeer so onafhanklik te probeer wees wanneer die Here net wil hê mens moet volkome afhanklik van Hom wees.

Die suster het vir my man die lys bestanddele vir Jungle Juice gestuur en hy het vir my als gaan koop. Ek het daardie aand net jungle juice gedrink…sommer heeltyd en baie. Dit het so bietjie gewerk en met elke pompsessie het ek so tussen 5 en 10 ml melk uitgekry. Gelukkig het Lisa toe nog net so 7ml gedrink en ek het nog ekstra melk in die vrieskas gehad vir ingeval, maar ek wou steeds seker maak dat my melk terugkom.

Die verpleegsters het gesê hulle sal my help om melk uit te kry. Binne ‘n paar minute is die 2 verpleegsters met ‘n kommetjie warm water en twee waslappe in die kamer. Ek is nie regtig ‘n skaam mens nie, maar na hierdie dag, het ek GEEN skaamte meer oor nie. Hulle het die waslappe op my borste gesit om die melkproduksie te stimuleer. En daar vir die eerste en hopelik laaste keer in my lewe, word ek soos ‘n koei gemelk. Een verpleegster op elke bors besig om my borste stelselmatig te melk. Ek onthou hoe ek gesit en huil het, en hoe hulle so sag en mooi met my gepraat het…nog engelmense. Hulle het my verseker dat ek nie ‘n freak is nie, en dat hulle dit al baie gedoen het…steeds het ek soos ‘n koei gevoel…vet, sonder melk en besig om gemelk te word. Ek het gedog dis erg genoeg, maar toe…net om seker te maak ek is nog nie verneder genoeg nie…stap die bitter aantreklike (hy dra altyd sulke bomber jackets…soos McDreamy in Greys), jong, manlike pediater by die kamer in om te hoor hoe dit met Lisa gaan. Aarde…sluk my in?!

My pediater het vir my Espiride (die generiese pil vir Eglynol) voorgeskryf. Toe ek dit kry en die papiertjie lees het ek bietjie geskrik. Dit was vir erge gevalle van wanaanpassing en sielkundige afwykings. Dit was vir mense met erge gevalle van skisofrenie. Ek het dadelik die dokter gaan vra of dit die regte pille is. Sy het my verseker dat dit help vir melk vermeerdering en dat die melk eintlik ‘n “side-effect” van die pil is. Ek was steeds skrikkerig om dit te drink, maar toe ons bietjie meer navorsing doen, sien ons dat dit op baie mamma-websites sê hoe goed dit is. En dat duisende mammas dit gebruik. En toe drink ek dit…vir melk (en nie vir my histeriese geskree op die nagsuster nie).

Die volgende oggend is my melk alreeds meer…so 20-30 ml op ‘n slag. Ek was so dankbaar en verlig, maar het steeds aanhou drink aan my Jungle Juice. My tannie het my kom optel om my UIF papierwerk te gaan ingee en ek is met ‘n bottel jungle juice en op baie sterk sielkundige medikasie in die kar. Ons het so 10 km gery en ek het begin duiselig voel. Ek het minder begin gesels en net konsentreer om nie op te gooi nie. My tannie gee my so een kyk en sy hol na die naaste winkel om ‘n plastieksak te kry. Ek het weer, soos die dag op die trap in Kalkbaai, yskoud geraak en kon voel hoe ek weer gaan uitpass. Na ‘n tydjie, voel ek weer ok en ons het aangegaan met ons UIF prosedure.

Terug by die hospitaal, het ek self besluit dat ek nou nie meer pille gaan drink vir my bloeddruk nie. Ek het geglo dat dit nou heeltemal reg is, en is nie bereid om een keer ‘n week om te kap as gevolg van lae bloeddruk nie. Ek het myself stadig van die bloeddrukpille afgekry en het nog nie weer probleme gehad nie. My melk het weer na so 3 dae teruggekom na normaal en ek is ook stadig van die sterk skisofrenie pille afge’wean’. En alles was weer ok. Ek het so 50 ml melk op ‘n slag produseer en ek het gevoel soos my ou self.

Die nagsuster van hel het kom jammer sê en ons het mekaar vergewe. Sy het besef dat sy partykeer hulp nodig het en ons het vrede gemaak met die vorige aand se eskapades. Tydens my tyd in die hospitaal het ons eintlik goeie vriende geraak en sy het een van my gunsteling susters geraak.

23. ‘n Stukkie hel

e32b0d9d1b5778b5fb755ef31ee90f30Na die eerste naweek in 2mil, het nuwe weekspersoneel oorgeneem van die naweekskof. Die Dinsdag ontmoet ek toe ‘n nuwe nagskof suster. Sy is vriendelik en lyk heel oulik. Sodra die dag personeel huistoe is, kom sy in my kamer in. Sy kom sit by my en vertel vir my dat sy nog nooit met so klein babatjie gewerk het nie. En dat sy bietjie skrikkerig is om haar op te tel. Ek dink dadelik…O HEL!? Hier gaan ons.

Daardie aand was aaklig en ek dink ek het ‘n stukkie hel beleef. Lisa het teen 3uur die oggend haar pypie (die tubefeeding pypie) heeltemal uitgeruk. Dit lê langs haar in die incubator. Let wel…dit het al seker so 10 keer voor dit gebeur, so ek is nie vreeslik bekommerd nie. Die sustertjie sê toe sy sal gou probeer om ‘n ander een in te sit. Teen die tyd skree Lisa nou al blou moord, want sy moet melk kry en is honger. Die sustertjie het baie op haar senuwees gelyk. Dit het my weer op my senuwees gehad. Maar, ek het al gesien hoe hulle die pypie stadig deur haar keel terug in die maag druk en het nie te ingewikkeld gelyk nie.

Terwyl sy die pypie indruk, begin Lisa sulke opgooi-gagging-geluide maak. En die sustertjie hou net aan druk. Toe die pypie “in” is, toets ons gou om te kyk of die pyp in die maag is (met die lakmoes metode). Die pypie is nie in die maag nie. My brein registreer toe dadelik…dat dit dan in die longe moet wees. Toe sy die pypie uittrek is daar bloed aan die onderkant van die pypie. Rooi ligte gaan in my kop af…want as daar bloed is, druk sy dit iewers (longe) wat eina genoeg maak dat daar bloed is.

Sy sê toe, met bewende hande dat sy gou weer gaan probeer en gaan haal nog ‘n pypie. Sy kom terug en sowaar…dit gebeur weer. Sy lyk nie lekker nie en ek vra toe of daar nie iemand anders is wat die pypie kan insit nie. Sy sê Nee, net die dokter op diens, maar sy wil haar nie laat uitkom vir dit nie, want dis eintlik die suster se werk. Ek was so geskok…sy kan duidelik nie haar werk regkry nie, en trek bloed elke keer uit hierdie bitter klein lyfie wat toe omtrent 1.2kg was. En Lisa is honger en huil aanhoudend in die agtergrond…wat net bydrae tot die spanning in die kamer.

Sy sê toe dat sy die pypie gaan los en dat ons moet cupfeed. Ek onthou duidelik hoe die hoofpediater van die hospitaal net daardie oggend op rondtes gesê het, dat hulle onder geen omstandighede moet begin cupfeed voordat Lisa nie 32 weke is nie, want dit gaan haar suigrefleks negatief beinvloed. Ek keer toe die suster en herhaal wat die dokter gesê het.

Sy sê toe net dat sy haar in ‘n kombersie gaan toedraai en haar na die kraamsaal gaan vat, waar iemand miskien die pypie kan insit. Ek vra toe of sy nie liewer die persoon hierheen wil bring nie, want dis vrek koud en Lisa moet of in die incubator wees of in kangaroo Care…nie in ‘n kombersie buite in die koue gang nie. Haar antwoord was dat sy nie wil nie, want ek maak haar op haar senuwees. EK?! Seriously…Ek maak HAAR op haar senuwees. In elk geval…terwyl ek nog my geskokte oop mond wil toemaak…is sy en Lisa daar uit.

Ek het gelê en wag. En wag. En wag. Hoe later dit geraak het, hoe meer bekommerd het ek geraak. Ek was doodmoeg (al vir dae) en iewers moes ek ingesluimer het, want toe ek wakker skrik, sit die suster met Lisa (nogsteeds in ‘n kombersie buite die incubator) op die stoel besig om te cupfeed. Ek het gedog ek droom!

En toe verloor ek dit bietjie. Ek het Lisa by haar gevat en sy was yskoud. Ek het haar so vinnig moontlik op my bors onder my pajamas ingedruk om haar net warm te kry en toe terug in die incubator. Ek het aangedring dat sy dadelik iemand kry om te help. Hierdie kind het nou al 2 voedings gemis, haar longe is beskadig, en sy het trauma beleef deur koud te wees. Sy is nie ‘n gewone baba wat net buite in ‘n kombersie kan wees in die middel van die winter in ‘n koue hospitaalgang nie. Enige verandering of stres en hierdie babatjies verloor gewig…kosbare gewig.  Ek dink ek het moontlik bietjie geskree.

Sy sê toe dat die dagpersoneel half sewe inkom, en sy dink ons moet wag vir hulle. Dit is teen die tyd al 5 uur. En toe verloor ek dit weer ‘n bietjie. Ek dink ek het moontlik weer geskree. Toe die dokter aan diens daar opdaag, bars ek uit in trane. Weereens nie so sterk soos ek gedink ek ek was nie. Die dokter (wat nou nog Lisa se pediater is) het my ‘n stywe drukkie gegee, my trane afgevee en Lisa se pypie ingesit. Ons het vir nog ‘n uur op die bed gesit en gesels oor die nag se stories en sy het my verseker dat dit nie weer sal gebeur nie…engelmens.

Ek het probeer melk pomp, maar daar was niks. My melk was doodeenvoudig net weg. weggeskrik…weg van moeg wees, weg van kwaad, net weg. En weer het ek begin huil. Die keer oor melk…of die tekort aan melk.

22. Different strokes for different folks

1610748_551016511677116_8442152976498788007_nAlhoewel ek nou in hierdie “luukse” kamer was, was die nuwe hospitaal nogal ‘n groot aanpassing. Ek was so gewoond om alles net op my eie te doen. By Grootte Schuur was daar soveel babas dat die verpleegsters al te bly was as daar ‘n mamma was wat kon help. Ek het haar self gevoer. Ek het haar self gewas. Ek het self haar doek omgeruil. Ek het self haar melk afgemeet. Ek het haar self in en uit die incubator getel. Ek het self als gedoen. En dit was nogal lekker, want dit het my meer verantwoordelikheid as mamma gegee. Ek het gevoel asof ek iets beteken en asof ek NODIG is.

By 2mil was Lisa, die naweek wat ons daar gekom het, die enigste babatjie in die kindersaal. Die ENIGSTE een! Daar was 4 verpleegsters aan diens. Dus het ons ‘n 4 teen 1 ratio gehad. By Grootte Schuur was die ratio 1 teen 14. By 2 mil is dit ook iets vreemds om so klein babatjie te hê. Die laaste prem babatjie (en die een was 1.8kg) wat hulle gehad het, was 2 jaar gelede. By Grootte Schuur het hulle elke 2 minute ‘n nuwe prem babatjie gehad. Dus was dit natuurlik dat dinge so ‘n bietjie anders gewerk het.

My eerste aanpassing was die kangaroo care. Die verpleegsters het ‘n vreeslike hoe-ha gemaak oor die proses. Hulle het my laat sit op die stoel in my kamer en dan het hulle haar saggies uitgetel en haar op my bors neergesit. Dan het hulle die incubator toegemaak en seker gemaak (met baie moeite) dat elke draadjie wat aan haar gekoppel is perfek vas is en dat die kabel nie een kinkel in het nie. Dan het hulle my met ‘n kombersie toegemaak en vir haar ‘n mussie opgesit. Dit was veel anders as my eenhand-vat-die-baba-druk-haar-onder-my-hemp-in-maak-incubator-toe-en-soek-met-los-hand-vir-kombers metode. Hier moes ek net sit. Sit en kyk hoe hulle alles vir my doen. Om haar weer terug te sit…was net so proses.

Die tweede aanpassing was die voedings. Hier het hulle baie meer klem gesit op die proses van tubefeeding. Hulle was vreeslik bang dat die pypie dalk nie in haar maag is nie en moes elke keer voor ‘n voeding eers seker maak dat die pypie wel nog in haar maag is. Om dit te doen moet jy met ‘n spuitnaald van die maagsuur uit die maag trek. Dit word dan op lakmoespapier getoets om seker te maak dat dit wel suur is. (Weereens het ek terug gedink aan Mnr. Mostert se skeinat eksperimente…en hoe ek toe gedink het dat ek nooit in my lewe lakmoespapier gaan gebruik nie). Indien die papiertjie rooi raak, kan jy met sekerheid sê dat die pypie in die maag is. Indien nie, is die pypie heel moontlik nie in die maag nie en het dit dalk geskuif na haar longe. Dit is nogal belangrik, want as mens ‘n klomp melk in haar longetjies inspuit sal dit nogals problematies wees.

Derdens was die doeke anders. By Grootte Schuur het hulle sulke klein groen doekies gebruik. Hier was dit Little Miracle doekies se size 0. Dit was vir my so mooi naam…want dis presies wat hierdie klein babatjies is…klein wonderwerkies. Dit het tot onder Lisa se arms gekom. Hier mag ek ook nie haar doek self omruil nie. Elke 2 ure wanneer dit voedings tyd is, dan kom die verpleegster in en ruil haar doek. Ek het so useless gevoel. Ek het net gesit en elke 2 ure melk gepomp. En dan elke nou en dan het ek gekangaroo care. En dis maar al. Hulle wou alles self doen. En dit het my frustreer.

Hulle het elke 2 ure in die kamer ingekom en hulle rondtes gedoen. Hier het hulle haar koors gemeet, haar SATS gelees en haar doek geruil. Party het verkeerde aflesings neergeskryf en dan terug rapporteer dat sy ophou asem haal het, wanneer die monitor eintlik net vir ‘n oomblik foutief/offline was. Dan wil ek van my kop af raak, want die dokters vra nie vir my nie…en wil dan vir Lisa op suurstof sien. Hulle lees tog maar net die terugvoering wat die verpleegsters hulle gee. Ek was mos heeltyd daar en sou verseker sien of hoor as Lisa ophou asem  haal het.

Ek het geirriteerd geraak met die verpleegsters, want hulle het gemaak asof hulle als weet en ek niks. Ek het die een gewaarsku dat die plakkertjie van die doek net nie aan haar velletjie moet raak nie, want dan skeur dit van haar vel af. Sy het na my gekyk asof ek nie ‘n idee het waarvan ek praat nie. En sowaar…toe die plakkertjie vasplak aan haar maag en sy dit afruk…trek sy ‘n stukkie vel saam…en Lisa skree blou moord. Ek het gevoel asof ek haar wil klap.

Dit was ‘n aanpassing vir my om net terug te staan en soms te sien hoe hulle my babatjie seer maak, as ek van beter weet. Dit was moeilik, want mens wil nie die heeltyd soos ‘n know-it-all klink nie, maar terselfde tyd wil jy jou babatjie beskerm. Ek het nog nooit in my lewe so min gepraat nie. Dis baie moeilik, want jy wil hê die verpleegsters moet van jou hou, want dan hou hulle ook sommer meer van jou baba. Ek het heeltyd op my lippe gebyt en net my mond gehou. Met die tyd, het dit beter geraak. Hulle het gesien dat ek goed op my eie kan doen en ek het weer ‘n bietjie van my waardigheid teruggekry.

21. Eerste wêreld

2milOns is die saterdag oggend terug hospitaal toe met my tassie gepak. Toe ons by die saal instap het dit gevoel asof ek op ‘n toneel uit Grey’s Anatomy is. Hulle is besig om die hospitaal op te gradeer en alles word oorgedoen. Vloer 5 (waar ek was) is eerste oorgedoen en dit lyk fantasties. Alles is wit en grys en skoon en op sy plek. Dit het gevoel asof ek in ‘n 5 ster hotel instap.

Ek het my eie kamer gekry. Ja, net ek…alleen! En die gordyne was so mooi met prentjies van proteas in so funky moderne ontwerp. Die bed was mooi oorgetrek en als was skoon. In die hoek van die kamer was ‘n leerstoel en reg langs die bed was Lisa in haar incubator. In die dak bo die bed was n televisie. Wat ‘n verskil van publieke hospitale. Daar was daar 12 incubators in ‘n klein kamertjie met 2 of 3 plastiek stoele wat tussen die incubators rondstaan. Ek het skielik ekstra jammer gevoel vir al die mammas wat ek agtergelaat het by Grootte Schuur.

Lisa se incubator het heeltemal anders gelyk as by Grootte Schuur. In die plek van die staatsbeddegoed (met property of Western Cape oral geskryf) was sagte kleurvolle baba beddegoed. Die kombersie wat oor die incubator matrassie was, was oud, maar mooi en al sag gewas. Ek het die prentjie van die hasies en die kaboutertjie uit my eie baba-tyd onthou. Dit het my laat rustig voel en ek het gevoel asof Lisa hier soveel gemakliker gaan wees. Oor die incubator was ‘n kleurvolle lappie gegooi sodat die skerp ligte van die kamer haar nie pla nie. Soveel meer moederlik en baba-vriendelik…en dus ook seker meer mamma-vriendelik.

Soos mens by die deur inkom, is daar ‘n skuifdeur. Toe ek dit oopskuif, het ek begin giggel van pure ongeloof. ‘n Stunning badkamer. Met ‘n groot glas stortdeur wat lui na ‘n stort groter as die een wat ons by die huis het. En ‘n mooi groot spieel bo die wasbak. En ‘n skoon wit toilet. Daar was 2 drommetjies…een vir nappies en een vir algemene vullis. Oral was lekker D-Germ seep en als was perfek. Ek kon nie glo dat ek my eie en-suite badkamer ook het nie en ek was so dankbaar vir ons medies.

Nes ek begin om my goed in die kas (o-ja…daar was ‘n dubbeldeur hangkas ook) uit te pak, kom die suster in en vra watter maaltyd ek verkies en of ek enige kosvoorkeure het. Die kostannie kom toe in met sap en ‘n paar koekies. Ek het begin lag, want ek het teruggedink aan die slegte kos sonder geur en die sterk koffie met die baie suiker. En ek was net dankbaar. Baie baie dankbaar.

11059782_10155767962315179_6324549031817916590_n

20. Die groot skuif

10419594_10154990117845179_1259651435154314177_nOns was altesaam vir 3 weke in Grootte Schuur. Alhoewel my persoonlike ervaring in die kraamsaal nie te wonderlik was nie, was die NICU absoluut uitstekend. Hulle was so goed met Lisa en hulle doen dit elke dag vir duisende babatjies en het soveel ondervinding met hierdie ekstra klein en spesiale babas. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir die ongelooflike susters en pediaters wat met Lisa gewerk het. Die bekende gesigte en warm harte het deel van my geword en ek het goeie vriendskappe gemaak.

Ons het selfs begin hou van die simpel gebreide pull-overtjies (wat lyk soos ‘n tea cosy) wat Lisa moes begin dra. Dit is om hulle gewoond te maak aan teksture op hulle baie sagte vel. Ek onthou hoe versigtig ons moes wees elke keer as ons haar nappy ruil. As daardie plakkertjie-dingetjie wat die nappy vasmaak aan haar vel raak, dan kom daar van haar velletjie saam met dit af. Super sensitiewe en dun velletjies. Ek onthou hoe vinnig haar naelstringetjie afgekom het, want die incubator is droog en warm. Ek het gewoond geraak aan my droë skurwe hande wat selfs klein skeurtjies ingekry het van al die was.

Maar ek het ook met elke dag wat ons daar was, meer selfvertroue gekry. Ek het Lisa sommer met so een-hand-twist-beweging uit die incubator getel en haar sonder enige vrees of moeilikheid opgetel en omgedraai. Ek het haar self gevoed (deur die tube) en het gemaklik met die toerusting begin raak. Ek het meer in beheer gevoel en het redelik gemaklik geraak met die prosedures van die NICU. Dit het amper (op ‘n baie weird manier) begin tuis voel. Soos my tweede huis.

Ek het van die begin af geweet ons sal weer een of ander tyd terug moet skuif na 2 Mil (die militêre hospitaal in Wynberg), maar ek het net nie geweet wanneer nie. Daar was sprake dat hulle haar sou skuif sodra sy 1kg is, want dan is 2 Mil bereid om die sorg oor te neem. Sy was die Donderdag 1kg en ons het saam met die personeel koek geëet. Niemand het my enigsins voorberei vir ‘n moontlike skuif nie.

Die Vrydag daarna was koud en nat. ‘n Regte wintersdag. Die wind het stormsterk gewaai en die pad was nat. Ek het soos normaalweg die dag by die NICU gaan deurbring. Tydens die middag rondtes kom die hoofpediater by die incubators om en die pediaters praat almal in mediese taal met mekaar. Die volgende oomblik kom die een dokter daaraan en sê dat hulle haar nou moet prep vir die ambulans.

Weereens (en ook nie die laaste keer nie) het daardie HUH?! gevoel by my opgekom. Ambulans? Vir wat? Hoe nou? Ry ek saam? Wat van my kar? Is 2 Mil gereed vir hierdie klein dingetjie? Hoekom op ‘n Vrydag? Kan ons nie maar wag tot die Maandag wanneer daar nie skeleton-staff in die hospitaal aan diens is nie? Dis nat en koud…en my hele hart voel ek wil skree: “NEE!”

Ek het net my man gaan bel om te sê dat ons geskuif word en binne die tyd wat ek weg was, het die ambulans alklaar opgedaag. Als was net te vinnig vir my. Ek wou vir almal totsiens sê en ordentlik afskeid neem, maar daar was nie tyd nie. Ek moes vinnig my goedjies bymekaar kry en kyk hoe my klein liefielyfie in ‘n “mobile” incubator gesit word. Die ambulansman het gesê ek moet met my eie kar ry en hulle by die hospitaal kry. En binne ‘n paar sekondes, sonder trane, sonder afskeid, sonder dink…is my Grootte Schuur dae verby.

In die kar het ek gedink aan alles wat ek nog vir die personeel wou sê. Maar dit was te laat. Ek het later besluit om maar vir hulle ‘n brief te skryf en ons gaan verseker kuier as Lisa ‘n jaar oud is. Dis snaaks hoe ek my laaste dag by GSH voorgestel het. Ek het gedink ek gaan meer emosioneel wees, maar daar was net doodeenvoudig nie tyd nie. Ek is in my kar en het so gou as wat ek kan na 2 Mil gery. My man het my daar ontmoet.

Daar gekom was ek skielik bang. ‘n Gevoel wat ek voor Lisa min gekry het…’n gevoel waaraan ek skielik, na Lisa se geboorte, so gewoond geraak het. Wat as hulle nie reg is vir haar nie? Wat as die ambulans in ‘n ongeluk is? En wat dit erger gemaak het, is dat die ambulans meer as ‘n uur gevat het om by die hospitaal te kom. Ek was so bekommerd dat iets met hulle gebeur het. Dis Vrydag middag verkeer en dit is nat en koud.

Ek was amper in trane toe die ambulans stop en hulle die ramp laat sak en vir klein Lisa daar uitrol. Ek onthou hoe verlig ek was en terselfdetyd hoe op my senuwees ek was vir wat nou op ons wag. Ons is tot by die Pediatervloer geneem en die suster aan diens was wonderlik. Sy het aan my verduidelik dat hier, by hierdie hospitaal, die mammas moet inbly saam met die babas. En dat hulle vanaand na haar sal kyk, maar dat ek die volgende dag moet inboek met als wat ek nodig sal hê, want die incubator is saam met die mamma (reg langs die bed) in die kamer.

Ek was nie seker hoe ek daaroor gevoel het nie. Aan die eenkant was dit great, want ek kon ‘n voltydse mamma wees…iets waarna ek teen die tyd al gesmag het. Maar aan die ander kant was dit iets vreemds. My arme man sal alleen by die huis moet klaarkom. En na my vorige hospitaal kuier, was ek nie seker wat om te verwag nie. Nadat Lisa ingesettle is, is ek en my man huistoe vir die laaste keer as net ek en hy.